Leesvordering:

Terug skool toe: Gesonde leefstyl vir onderwysers, ouers en kinders (Deel 1)

Jan 13, 2021

Onderwysers, ouers en leerders skop jou jaar en gesondheid reg af

In ’n oogwink is 2020 verby. Wat ’n riller van ’n jaar met soveel uitdagings, veranderinge en ’n totale “nuwe normaal”. Daar was baie lesse te leer en struikelblokke wat oorkom moes word, maar vandag pak jy 2021 aan as ’n sterker mens. Die nuwe jaar bring soveel nuwe hoop, nuwe idees, nuwe drome en nuwe verwagtinge. So is dit ook die perfekte tyd om weer in roetine te kom en ’n paar goeie leefstylveranderinge aan te bring.

Alhoewel die COVID-19-pandemie baie verwoesting gesaai het, het dit ’n vergrootglas geplaas op gesondheid; hetsy gesond eet, oefen (al was dit net om uit die huis uit te kom), minder wegneemetes ná kitskostakke gesluit is en meer bewusmaking van die risiko van kroniese siektes wat soms onwetend ’n gevolg kan wees van ’n ongesonde leefstyl vanaf ’n jong ouderdom.

Sosiale media het gegons met foto’s in die kombuis, nuwe resepte en nuwe idees. By party het dit ’n nuwe liefde vir kosmaak gekweek, ander het weer ’n nuwe kreatiewe vaardigheid aangeleer. Hierdie jaar is dit tyd om hierdie liefde vir kos en nuwe kreatiwiteit te gebruik om jou gesondheid te verbeter.

Volhoubare leefstylveranderinge is ’n tydsame proses. Dit verg harde werk, deursettingsvermoë en ondersteuning van jou geliefdes. Jy gaan elke nuwe jaar in met nuwe voornemens, maar hoeveel van jou doelwitte het jy al bereik? Begin jy elke jaar met dieselfde Nuwejaarsvoorneme? Dalk wil jy gesonder eet, oefen of gewig verloor, maar na ’n paar dae of selfs weke verval jy tog weer in jou ou gewoontes. Nou is die vraag: Wat om te doen en waar om te begin om hierdie jaar anders aan te pak en uiteindelik jou doelwit te bereik?

Hier is ’n lys van tien gewoontes wat jy kan verander om hierdie jaar jou jare lange Nuwejaarsvoorneme uiteindelik ’n realiteit te maak. Dit klink dalk na baie en dit gaan tyd neem, maar ek stel voor jy kies elke maand een en sodra jy dit bemeester het, kan jy op die volgende doelwit fokus. Jy as ouer kan hierdie gewoontes sommer vir jou hele gesin aanleer sodat jou kinders van jongs af ’n gesonde leefstyl handhaaf. As jy dalk ’n onderwyser is, verstaan ek hoe besig jou skedule mag wees en hierdie gesonde leefstyl sal jou net meer energie gee om die jaar met al sy uitdagings aan te pak.

  1. Maak tyd vir jou gesondheid

As daar een ding is wat die inperking ons geleer het, is dit om af te skaal, tyd te waardeer en beter te benut. Die lewe is ’n gejaag van een plek na die ander. Mense maak nie meer genoeg tyd vir hulself, geliefdes en vir gesondheid nie. As jy nie tyd gaan maak om na jou gesondheid om te sien nie, gaan jy in die toekoms tyd moet maak vir siektes.

  1. Beplan etes en peuselhappies vooruit

Wanneer jou dag en etes nie beplan is nie, is dit maklik om ’n ete oor te slaan, ongesonde peuselhappies te eet of om ’n wegneemete te bestel wat vinnig en maklik is. Wegneemetes het baie meer kalorieë as ’n toebroodjie of gesonde middagete of slaai wat by die huis voorberei is. As jy nie tyd maak om jou volgende dag se ete en peuselhappies te beplan nie, raak die dag dikwels besig en voor jy jou oë uitvee is dit 17:00 en is jy rasend honger en gryp jy dalk na die ongesonde items in jou huis.

  1. Hou dit eenvoudig

Dit is nie nodig om elke dag ’n driegangmaaltyd voor te berei nie. Koop kruideniersware vir die week en hou dit eenvoudig. Jy kan elke week of maand jou eetplan verander vir variasie. Beplan die week se etes en peuselhappies vir jou en jou gesin, stel ’n inkopielys op en koop slegs wat op jou lys is. Maak ook seker jy het iets geëet voor jy inkopies gaan doen, want wanneer mens honger deur die kosrakke stap, is jy geneig om baie meer ongesonde items te koop.

  1. Hou by ’n roetine

Die COVID-19-pandemie het almal se roetine omvêrgegooi. Dit is dus baie belangrik om steeds ’n roetine by die huis te volg. Probeer min of meer dieselfde tyd gaan slaap, opstaan, eet en oefen. Vermy etes voor die televisie of rekenaar en bêre jou selfoon wanneer jy saam met jou gesin aan tafel sit en gesels oor jou dag. Probeer ook om aandete nie te laat te eet nie en berei etes betyds voor vir die volgende dag.

  1. Moenie etes of peuselhappies oorslaan nie

Wanneer jy ’n ete oorslaan, gaan jy heel moontlik daardie ete later die dag wil inhaal, meer ongesonde peuselhappies eet of met jou volgende ete baie meer eet. As dit iets is waarmee jy sukkel, kan jy altyd opsies oorweeg wat maklik en vining is om te eet soos ’n gesonde vrugteskommel, tuisgemaakte quiche of gesonde beskuitjie of oop toebroodjie met ’n gesonde vulsel.

  1. Drink meer water

Probeer om nie jou water met koffie, tee, gaskoeldrank of vrugtesap te vervang nie. Drankies bevat dikwels baie suiker wat jou kalorie-en-suikerinname onwetend verhoog, maar nie noodwendig voedsaam is nie. As jy sukkel om genoeg water te drink, kan jy ook rooibostee of kruietee (sonder melk en suiker) drink.

  1. Eet ’n verskeidenheid groente en vrugte

Probeer om elke dag gesonde groente by jou middag- en aandete in te sluit. Jy kan vars groente op jou toebroodjie sit, saam met jou vleis gaarmaak of selfs ’n lekker slaai as bykos eet. Vrugte is ook ’n goeie peuselhappie, veral as jy dit saam met ’n bietjie ongesoute neute of kouevleis eet.

  1. Wees aktief

Doen ’n oefening wat jy geniet. Dit kan stap, draf, fietsry, Pilates, dans, gim, swem, aksiesport en soveel meer insluit. As jy dit geniet gaan dit nie ’n straf wees nie en is jy meer geneig om te volhard. Dit help ook as jy saam met ’n vriend of vriendin begin oefen sodat jul mekaar kan motiveer, ondersteun en aanspreeklik hou.

  1. Beperk geprosesseerde kos, kitskos en wegneemetes

Hierdie items bevat baie sout en is in die geheel nie goed vir jou gesondheid nie. Probeer soveel moontlik vars items in jou dieet insluit en maak self kos by die huis met lekker kruie en speserye.

  1. Beperk suiker

Probeer minder suiker by kos, koffie en tee te voeg. Suiker is ’n smaak wat aangeleer word en hoe meer jy byvoeg, hoe meer hunker jy na nog soetigheid. Wanneer jy minder addisionele suiker byvoeg, raak mens vinnig gewoond aan die natuurlike soet smaak van kos en raak die hunkering na suiker en ongesonde soetigheid al hoe minder.

 

Natasha Smit, ’n geregistreerde dieetkundige.

Ek is ’n geregistreerde dieetkundige en bestuur tans my praktyk aan die Wes-Rand. Ek is ’n totale ekstrovert en het ’n groot passie vir mense. Ek is op ’n jong ouderdom gediagnoseer met tipe 1 diabetes, ’n outo-immuunsiekte waar jou liggaam die insulienproduserende selle van die pankreas aanval, dus is ek onmiddellik op insulieninspuitings geplaas en moes ek vining leer watter groot invloed nutriënte op gesondheid het. Alhoewel dit ’n groot skok en aanpassing was, is ek vandag dankbaar omdat dit ’n groot rol gespeel het in my besluit om dieetkunde te studeer. Ek het my BSc-graad in Dieetkunde by Noordwes-Universiteit voltooi en sedertdien verskeie kursusse in diabetes, DNA en funksionele medisyne voltooi. Ek het ook die geleentheid gehad om ’n kursus in funksionele medisyne in Londen by te woon waar ek soveel meer geleer het oor inflammasie, kroniese siektes en hoe om die oorsprong van ’n probleem te vind en nie net die simptome te beheer nie. Ek werk ook deeltyds as ’n kliniese dieetkundige in die hospitaal, lewer graag gesondheidspraatjies en is betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte binne en buite my veld. Ek geniet wat ek doen en streef daarna om ander se gesondheid en lewenskwaliteit positief te beïnvloed.

Meer oor die outeur

Natasha Smit

Natasha Smit is 'n geregistreerde dieetkundige met haar eie praktyk in Roodepoort.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest