Leesvordering:

In Ingeland Kersfees 2022

Jan 12, 2023

Deur Anton van Zyl

Daar sit ons toe by Knoll Beach langs Studland Bay, vyf dae ná Kersfees. Dit is ons gebruik vir meeste van die laaste vyftien jaar om tyd deur te bring in Bournemouth en omgewing, waarvan Knoll Beach ’n gunsteling is, wat ook al die weer doen.

(Die breek tussen Kersfees en Nuwe Jaar is maar kort hier, en almal moet verlof neem om die tyd af te kry).

Terug by Knoll Beach langs Studland Bay – daar is mense orals, die man wat in die somer kajakke en seilbootjies uithuur het in die winter ’n sauna op die strand, vanwaar mense direk die ysige see in hardloop. Almal is in ’n rustige bui, en stap ver, daar is immers niks verkeerd met ’n dik jas en mus op die strand nie.

Ons is altyd verbaas oor hoeveel mense buite is tydens hierdie koue seisoen. Die kinders hardloop en baljaar op die strand, die honde swem asof dit hoogsomer is, nie in die minste gepla oor die nat koue nie. Uitbundigheid vier hoogty, al dreig ’n storm, wat toe inderwaarheid later uitgebreek het, en ons genoop het om in ’n hotel daar naby “heisse sjokkies” te gaan soek, warm en knus teen die wind en die reën buite die vensters, voor die kaggelvure.

By die hotel aangekom het ons ’n ander sy van die mense van Ingeland gesien. Hele families, met honde en al, het in die verskeie sitkamers gesit en bordspeletjies speel, saam, met min tekens van die alomteenwoordige elektronika wat ons lewens so oorheers. Daar was ook geen teken van die normale enorme TV-stelle met blêrende musiek orals teen die mure nie, net mooi ou skilderye. In sommige kringe is familie nog steeds die band wat die samelewing bind en sterk hou.

Merkwaardig hoe aanpasbaar ’n mens is, selfs in ’n ander land, wat oor die jare verander het van ’n vreemde plek tot huis, ongeag die omgekeerde seisoene.

Hier kry Kersvader koud en is bly oor sy rooi woljas. Hy gaan heel waarskynlik nie met ’n rooi Speedo uit die branders swem nie, behalwe vir die een in South Sea wat dit wel gedoen het tydens die Kersdagswem.

Soos die jare aanstap voel Ingeland al hoe meer soos huis, en hoewel die verlange na familie en vriende groter word, voel dit maar vreemd wanneer ons gaan kuier. Stelsels het verander, baie vriende is nou net soos ons oor die wêreld verspreid en deel die ondervinding van heimwee met ons.

En nou gaan ons 2023 binne met alles wat die nuwe jaar gaan bring, hier in Ingeland.

Anton van Zyl

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

Ramaphosa se seremonie niks anders as die ondertekening van ’n gevaarlike verkiesingsfoefie Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel ten sterkste President Cyril Ramaphosa se besluit om die NGV-wetsontwerp Woensdag deur te druk. AfriForum is oortuig dat dié...

’n Padkaart vir jou geestesgesondheid

’n Padkaart vir jou geestesgesondheid

Deur Derika de Villiers Om oor geestesgesondheid te praat is nog steeds ’n uitdagende aktiwiteit vir baie mense. Ons het in ’n kultuur grootgeword in Suid-Afrika waar jy “gesien en nie gehoor moes word nie”, of “jou sokkies moet optrek” en jou “trane moet sluk”. Die...

Onderneming in die Kollig: AVW Media Worx

Onderneming in die Kollig: AVW Media Worx

Hierdie week se kollig is op AVW Media Worx. AVW Media Worx is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van reg oor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier raak hulle deel...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest