Leesvordering:

AfriForum- en Tshwane-munisipaliteit-ooreenkoms lui nuwe era van gemeenskapsfederalisme in

Mar 5, 2024

’n Nuwe era van gemeenskapsfederalisme is vandag ingelui met die ondertekening van ’n unieke vyfjaarmemorandum van verstandhouding. Dié memorandum, wat vandag in ’n openbare park in Valhalla, Centurion, onderteken is deur die burgerregteorganisasie AfriForum en die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit, moedig nou op ’n amptelike wyse wedersydse steun en gemeenskapsbetrokkenheid in die aanpak van uiteenlopende ooreengekome projekte in dié hoofstad aan.

Cilliers Brink, burgemeester van die Tshwane-metro, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het vandag prakties gestalte gegee aan die vennootskap en self hande vuilgemaak in die opknapping van Furmanpark, Valhalla. Hulle het boonop geen gras oor die saak laat groei nie en self ingespring om gras in dié openbare parkie te sny.  

Met die ondertekening van die memorandum kom AfriForum en die Tshwane-metro onder meer ooreen om, in die gees van samewerkende regering en ontwikkeling, uitdagings ten opsigte van beveiliging en beskerming van eiendom en die omgewing in die stad se gemeenskappe te takel. Die metro stel dit in die memorandum ook duidelik dat dit die steun verwelkom van organisasies, soos AfriForum, wat die instandhouding van infrastruktuur, die beveiliging van gemeenskappe en die volhoubare omgewingsbestuur vir toekomstige generasies wil bevorder.    

Die behoefte aan groter gemeenskapsbetrokkenheid in die instandhouding en beskerming van infrastruktuur en die lewering van basiese munisipale dienste het in die afgelope paar jaar dringend geword weens toenemende druk op infrastruktuur en dienslewering in dié metro. AfriForum en die Tshwane-metro hoop dus om deur middel van dié memorandum hierdie uitdagings meer doeltreffend die hoof te bied.

Dienste en projekte wat deel vorm van die fokus van die betrokke partye se samewerking sluit onder meer in:

  • die bevordering van gemeenskapsgebaseerde vullisverwyderings- en skoonmaakaksies
  • grassnyprojekte
  • verwydering van indringerplantspesies
  • die identifisering van onwettige stortingsterreine
  • gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe
  • verhoogde sigbaarheid, monitering en aanmelding van verdagte aktiwiteite aan die munisipaliteit
  • bystand ten opsigte van die ontmoediging van grondbesetting

“Ek wil AfriForum namens die Stad Tshwane bedank vir hul volgehoue steun aan ons stad, bystand met die beskerming van ons infrastruktuur en die beveiliging van ons gemeenskappe. Hierdie memorandum van verstandhouding sal nou ons gewaardeerde verhouding formaliseer en help om ons werksverhoudinge voortaan te verbeter,” sê Brink.

Dié soort samewerking vorm deel van die Tshwane-metro se totale gemeenskapsbenadering, waar die stad daarna streef om met ondernemings, die burgerlike samelewing en gemeenskappe saam te werk om dienslewering te verbeter en vennootskappe tussen verskeie belanghebbers oor die hele Tshwane-metro heen te formaliseer.

Die stad moedig alle ondernemings, gemeenskappe en inwoners aan om saam met die metro te werk om ’n stad te bou waarop ons almal trots kan wees. Daarbenewens het die stad onlangs die Gemeenskapsopheffingsgebied-inisiatief (CUP) afgeskop. Die CUP-inisiatief is daarop gemik om inwoners, ondernemings en gemeenskappe by te staan om ’n formele ooreenkoms met die stad aan te gaan vir die instandhouding en verbetering van openbare infrastruktuur in hul residensiële, sake- en industriële gebiede.

Volgens Kriel is die memorandum wat vandag met die Tshwane-metro onderteken is, ’n belangrike stap in AfriForum se strewe na die afwenteling van mag na gemeenskapsvlak en die vestiging van gemeenskapsgebaseerde federalisme. “Georganiseerde gemeenskappe wat na die belange van hul eie gemeenskappe omsien, skep ’n nuwe realiteit waarbinne ’n selfdoenkultuur nie net aangemoedig word nie, maar ook kan floreer. Beperkte hulpbronne noodsaak dit dat kundigheid en energie vanuit die plaaslike gemeenskappe optimaal en tot voordeel van die gemeenskap gebruik word,” verduidelik Kriel. “Deur hierdie benadering neem gemeenskappe die toekoms in hul eie hande en vervul as’t ware die rol van ’n de facto vierde regeringsfeer en neem self die verantwoordelikheid om hul eie gemeenskappe te verbeter. Dit is ’n beproefde praktyk wat baie suksesvol elders in die wêreld toegepas word, en vandag het AfriForum en die Tshwane-metro ’n reusesprong in die toekoms ingeneem om inwoners van dié metro te betrek by die vestiging van ’n moderne en suksesvolle gemeenskapsgebaseerde stad,” benadruk Kriel.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest