Toweragtige Brugge was verseker ’n wondermooie reisbestemming. Dié bekoorlike klein stadjie bring al die hartverwarmende goed tesame: Goeie kos, koffie, sjokolade en asemrowende tonele. November is ’n goeie tyd om ’n besoek te bring, want dit is nóg te koud, nóg te besig. Om met ’n baba te reis het nogal ’n paar uitdagings geskep, maar dit was steeds die moeite werd. En alles in ag genome, was dit inderdaad heerlik!

Brugge, België. Aankomstyd 16:30 op ’n Maandagnamiddag. Op ’n drafstap op pad na ons Airbnb-woonstel loop ons verby ’n kwetterende groep tieners en maak so paar woorde uit van die dialek wat hulle praat. Dis een van die redes waarom ons na België gekom het. Die taal was ’n sterk trekpleister vir my man, want waarom sal mens nou nié na ’n plek wou gaan waar hulle ’n taal baie na aan jou eie praat nie? Of om ’n plek na aan jou eie tuiste te besoek – en wat tog wêrelde van mekaar verwyder is? Opgewonde en moeg, maar afwagtend op alles wat dié toweragtige stad bied. My man doen gewoonlik die vakansiebeplanning, wat beteken dat alles gewoonlik tot in die fynste besonderhede beplan is. Ek is ietwat minder voorbereid, en hy weer meer as voorbereid. Ek word ook nie sommer teleurgestel nie, want ek het al aanvaar dat dinge in die lewe nie altyd uitwerk soos mens dit graag sou wou hê nie. Veral met ’n baba!

Een ding wat ek weereens geleer het, is dat daar ’n nimmereindigende pad van mislukkings en sukses met jou kind is. Een oomblik werk alles klopdisselboom en die volgende val alles uitmekaar. Ek verkies om die klein oorwinnings te vier, hoewel mens dit eers ’n paar maande later waardeer. Reis beklemtoon al die onaangename van ouerskap, en dit daag verseker jou uithouvermoë uit as dinge begin rof raak. Ons klein pienkvoet het erg begin tande sny net voor ons met vakansie gegaan het, maar dit het gelukkig opgeklaar ’n dag of wat voordat ons vertrek het. Ek neem aan dat elke ouer dit sê, maar hy is nogal ’n moeilike tandesnyer. Slaapreëlings is altyd ’n uitdaging, so pak maar die opslaanbababedjies, Skatties! Ons Airbnb-woonstel was wonderlik; ek sou egter voorstel dat mens ’n bietjie meer aandag aan die slaapreëlings bestee as mens reis, want uiteraard is ’n goeie nagrus die sleutel tot ’n heerlike vakansie!

Die eerste dag was in wese niks meer as ’n reisdag nie. Ons vlug na België het ’n uur geduur, gevolg deur nog ’n uur en ’n half op die trein. Dit het soos ’n ewigheid gevoel omdat ons baba oral heen wou kruip en “gesprekkies” met vreemde mense wou aanknoop. Hy ontwikkel vinnig en word so gou groot dat ek amper nie kan byhou nie. O ja – en hy is glad nie sosiaal ongemaklik soos sy ma nie, so dit dwing my om uit my gemaksone te kom en met vreemde mense te praat. Hy sien geen gevaar in vreemde mense raak nie, terwyl ek ’n grillerige gevoel vir elke alleenlopende kry. Is dit ’n ma-ding, of is ek maar net vreemd?

Ons tweede dag was ongelooflik. Ons het ontbyt by Li O Lait geëet, wat nogal  lekker was as mens in ag neem dat ek per ongeluk ’n enorme ontbyt-bagel en ’n muesli-joghurt-parfait bestel het. My swangerskapbrein kry my steeds onder selfs nege maande later. Ek het ‘n paar koppies koffie gedrink, wat die domme ma-brein vir die res van die dag aan die gang gehou het. Ek was versot op die plek met sy oop vensters en jazz-musiek, maar ongelukkig vir my man het ons seuntjie so halfpad deur die ontbyt wakker geword ná slegs ’n halfuur se slaap. Ontbyttyd was oor en verby en hy gereed om te speel – so gaan ons vort!

Brugge was snags nogal koel. Almal was óf iewers aan die aandete eet, óf snoesig in hul beddens opgekrul. Ons het uitgegaan om te gaan eet en toe besluit om ’n entjie te gaan wandel. Nie so goeie idee nie, want dit was yskoud, maar ons seuntjie was vas in die stootkarretjie aan die slaap en ons het die geleentheid aangegryp – keisteenstraatjies ten spyt. Ek sou beslis nie dié geleentheid wou laat verbygaan het om saam met manlief ’n cappuccino en ’n mochi-karamelroomys in die koue te geniet nie. Ek bedoel: Wat is mochi-karamel in elk geval? (Dit was heerlik, so tussen hakies.) Ek was beslis te lank uit die koskringe gewees. Die enigste “nuwe” superkos wat ek in my spenskas in voorraad het, is geaktiveerde houtskool en dit proe geensins na karamel nie, glo my vry!

Middagetes was redelik onopvallend omdat ons altyd ’n groot ontbyt geëet het en ’n middagslapie geniet het – of kom ek erken maar: inkopietyd vir mamma!  Ek is mal daaroor dat Brugge soveel het om te bied: Plekke om by te eet, dinge om te sien en vele goeie inkopieplekke. Net wat elke meisie of mamma wil hê. Ek het net ’n uur of twee benodig om te ontspan – selfs al was dit maar inkopies met die oë (wie flous ek hier?). Daar was gans te veel winkels om in so kort tydjie in te pas voordat ek weer moes terugkeer huis toe, maar Dille et Kamille het my werklik verbaas (hulle het ook ’n aanlyn winkel), asook Sissy boy Home. Dié twee huishoudinghandelsmerke het my dag gemaak: Ek was heerlik verras deur hul keramiekgoedere. My sakke was so effens swaarder toe ons teruggaan. Daar was ’n aantal koffiewinkels wat ons ná pienkvoet se middagslapie op die proef gestel het: Espresso barLe Pain Quotidien (my gunsteling met sy gesonde en streng vegetariese keuses) en Tonka. Toe ’n moes-doen: Koop sjokolade by The Chocolate Line as jy van ietsie anders hou. Ons het ’n hele houer spek-, wasabi-, appel-tarte Tatin-, saki-, brandrissie-, rum- en ganache-gegeurde sjokolade gekoop. Daar is ’n legio geure om van te kies en dit is elkeen heerlik!

Brugge bied so baie waaruit mens kan kies as dit by koffiewinkels, sjokolade en Belgiese wafels kom dat mens se aandag so ietwat afgetrek word. Ons het elke dag ’n ander koffiewinkel op die proef gestel en elke aan bloot die naaste restaurant besoek. Verskeie plekke was vir welke duistere rede ook al op Dinsdae en Woensdae gesluit. En skynbaar is daar ’n waarvan ons nie geweet het nie, so dit is beslis ’n oplossing vir as jy kinders het.

My wenke en notas vir Brugge:
  • As jy ’n baba het, wees maar bedag op die keisteenstrate – pak liewer ’n bababuidel (baby carrier) in.
  • Doen genoegsame navorsing oor eetplekke. Dit mag dalk bietjie beplanning vereis, maar dit is die moeite werd.
  • Laat genoeg tyd in jou eie en baba se skedule toe. Soms werk dinge eenvoudig nie uit soos jy beplan nie. Ons het byvoorbeeld ons trein op pad terug verpas en moes vir drie ure lank op die lughawe wag vir ’n vlug na Toulouse.
  • Haal diep asem, want jy gaan heel moontlik gefrustreerd wees dat jy al die pad gereis het om so ’n wonderlike plek te beleef en nie genoeg tyd het om alles te doen wat jy graag wou nie. Dis maar hoe die lewe met kinders is. En weet jy wat? Dis ook aanvaarbaar.
  • Pak lae klere in as jy in November gaan!
  • Pak maar happies en selfs babakos in as jy kan, want mens weet nooit wat jy op jou reise oorsee gaan teëkom nie.
  • Weet maar dat jy moeg gaan wees as die reis verby is, maar dis die moeite werd. Anders gaan mens nêrens heen nie!

Deel asseblief enige reis-met-kinders-wenke!

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Mariza Ebersohn
Mariza Ebersohn

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest