Sedert die ontstaan van AfriForum, word hegte bande met Suid-Afrikaners in die buiteland gehou. AfriForum se Wêreldwyd-inisiatief is juis met dié doel geskep. Toe die inperkings weens COVID-19 vroeg in 2020 oor die aardbol aangekondig word, was een van die tragiese gevolge dat landsgrense binne enkele dae gesluit het en heelwat Suid-Afrikaners in die buiteland gestrand geraak het.

Hulle gespook om gerepatrieer te word, is ’n artikel op sy eie werd. Ongelukkig het hulle avonture nie die oomblik opgehou wanneer hulle die grens oorsteek en voet op eie bodem sit nie. Dikwels het dit dan eers begin, want die Suid-Afrikaanse owerhede het besluit almal wat uit die buiteland kom, moet vir 14 dae in ’n staatsfasiliteit in aanhouding bly.

Aanvanklik was die betrokke owerhede nie almal ewe goed voorberei nie. Kort voor lank het klagtes begin oor die fasiliteite, asook inwoners se gerief, veiligheid en geestelike ontberings. Berigte hieroor het toenemend media-aandag geniet.

Min lande ter wêreld het besluit op staatskwarantyn. Die meeste het ’n vereiste van self-isolering vir ’n aantal dae (meestal veertien) voorgeskryf. Suid-Afrika het egter onwrikbaar by die voorskrif van kwarantyn in ’n staatsfasiliteit gehou, wat aan die een kant siniese kommentaar by sommige ontlok het dat dit is omdat Suid-Afrikaners berug is daarvoor dat hulle nie by reëls hou nie, terwyl ander hardop gewonder het wie room afskep wanneer staatsfasiliteite gehuur word.

Die plekke wat aangewys is, was wyd uiteenlopend – van luukse hotelle in stede, tot kampterreine, ’n heringerigte hospitaal, sowel as geriewe van Transnet, Eskom en Telkom aan die Oos-Rand.

Mense se reaksie op kwarantyn was ewe uiteenlopend. Sommige was eerlik daaroor dat hulle nie kan self-isoleer nie en dus in so ’n fasiliteit moet bly. Ander was selfs opgewonde oor die geleentheid om in ’n hotel tuis te gaan wat hulle normaalweg nie sou kon bekostig nie. Vir mense met onderliggende toestande soos depressie, of wat teruggekeer het om sterwende geliefdes by te staan, was die tyd in eensame afsondering in die fasiliteite uiters traumaties. Ander mense het eenvoudig die sinvolheid hiervan en die onnodige spandering wat die maatreëls vir Suid-Afrikaanse belastingbetalers veroorsaak, bevraagteken.

AfriForum se betrokkenheid het begin met mense wat die kwarantyn tydens Vlak 5 aanvaar het, maar dan onverwags toegelaat is om huis toe te gaan en inderhaas vervoer moes reël om tuis te kon kom. Gou was dit duidelik dat kommunikasie tussen die oorhoofse owerhede, die afsonderlike fasiliteite se besture en die inwoners oor die algemeen swak was. Daar was min eenvormigheid – mense het byvoorbeeld op dieselfde vlug in die land aangekom, maar is in twee verskillende hotelle gehuisves en dan is die een groep dae langer in kwarantyn gehou as die ander.

Na gelang maatreëls aangepas is, het dit nog meer verwarrend geraak. So is die vergunning later gemaak dat minderjariges wat uit buurlande na skole in die land terugkeer, nie in kwarantyn hoef te bly nie, maar die ouers en kleuters wat hulle terugbring, wel, selfs al wou hulle dadelik weer na die buurland teruggaan. Dié onvoorspelbaarheid het mense se weerstand teen verpligte kwarantyn net verder verhoog.

Een van die mees opspraakwekkende gevalle, was die groep wat in ’n vakansieoord, Zithabeseni, gehuisves is. Van die lede in die groep het beswaar gemaak teen die onhigiëniese toestande waaronder hulle moes bly. Foto’s van die vervalle en vuil akkommodasie het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. AfriForum het hulle vrylating met regsaksie bewerkstellig.

Ten spyte van die media-aandag, wat ’n mens sou hoop ander fasiliteite sou waarsku om by die gesondheidsvereistes wat vir hulle geld, te hou, het net meer klagtes opgeduik. AfriForum en ander betrokkenes moes onder meer inspring om hulp te kry vir mense met ernstige gesondheidsprobleme, dieetvereistes waarvoor nie voorsiening gemaak is nie en selfs vir alternatiewe akkommodasie waar verblyf net geheel en al onveilig vir die inwoners was.

Die bestuur van inligting hieroor het ook uitdagings gebied. Na die Zithabeseni-geval, was daar mense wat op repatriasie in die buiteland gewag het, wat nie meer wou terugkom nie, omdat hulle gemeen het hulle gaan in “konsentrasiekampe” aangehou word. Aan die ander kant het mense wat hulle kwarantyntyd aanvaar of selfs geniet het, enigeen wat nie met hulle ervaring saamgestem het nie, summier veroordeel, sonder om die uiteenlopende toestande in ag te neem.

AfriForum het by die standpunt gehou dat mense wat kan self-isoleer sonder om hulleself of die publiek in gevaar te stel, die reg moet kry. Daar is met regsaksie in die verband begin, maar dit het tyd geneem om uiteindelik in die hof aangehoor te word. Die feit dat mense met ernstige klagtes intussen hulle kwarantyntye voltooi het en huis toe is, en dat reëls heeltyd verander het, het sake nie bespoedig of vergemaklik nie.

Sake het versleg toe regulasies op 25 Mei 2020 in die Staatskoerant gepubliseer is wat ’n verblyf van ’n minimum van 14 dae in ’n staatsfasiliteit verpligtend gemaak het en die moontlikheid dat kwarantyngangers selfs dalk hiervoor sal moet betaal, geopper het. Mense wat reeds deur fasiliteite in kennis gestel is dat hulle huis toe mag gaan sodra hulle “skoon” toets, moes skielik hoor hulle gaan ’n week langer aanbly.

Aanpassings moes vir die soveelste keer aan AfriForum se hofstukke gemaak word. Gedeeltes is deur die regter verwerp, en die saak is opnuut uitgestel. Gerugte is verneem van nuwe regulasies wat opgestel word en AfriForum het besluit om die saak terug te trek, te kyk of nuwe regulasies inderdaad verskyn en wat dit bepaal.

Op 17 Julie 2020 het ’n Staatskoerant verskyn met regulasies wat inderdaad die opsie van self-isolasie moontlik maak. Dit het enkele dae geneem vir die aansoekproses, kontakadres en vorms om beskikbaar te word (sien https://www.wereldwyd.co.za/regulasies-vir-self-kwarantyn/) en tans weet mense wat in kwarantyn is, steeds nie of hulle die volle 14 dae sal moet bly, of net vir 10 dae, of moontlik vroeër mag huis toe gaan nie.

Weer is daar uiteenlopende reaksies. In een van die instellings het ’n groot groep mense bewyse van ernstige probleme aan AfriForum gestuur en dringende ingryping gevra. Na ’n prokureursbrief aan die betrokke owerhede gestuur is, het hulle berig dat die probleme uitgesorteer word. Ander groepe wat in dieselfde fasiliteit was, het weer getuig dat hulle ervaring positief was.

Etlike geriefsklagtes duik ook deurentyd van oor die land op, byvoorbeeld oor verblyf in beknopte kamers sonder toegang tot vars lug of die kans om bene te rek, onsmaaklike etes, onvoldoende porsies, stukkende elektriese toestelle, beperkte of geen data en swak internettoegang. Vir mense wat aanlyn studeer of werk, is laasgenoemde ’n krisis, vir die verveelde persoon op verlof, minder ernstig maar ewe frustrerend.

Ten slotte kan ’n mens maar sê dat geen pasgemaakte oplossing bestaan wat vir almal wat repatrieer, gaan werk nie. Mense wat lank van die huis weg was en moet terugkom omdat werkskontrakte eindig, studies ten einde geloop het, hulle verblyfpermitte verval het, hulle buitelandse vakansie verby is, of hulle hulle familie hier moet kom bystaan met een of ander ernstige nood, beleef alreeds die spanning van ingewikkelde reisreëlings, aansienlike hoër vervoerkoste, streng grensbeheer en lang wagtye. Wanneer hulle eers in die land aangekom het, behoort hulle menswaardig behandel te word en opsies te hê om op so ’n wyse te isoleer, dat hulle eie fisiese én geestelike gesondheid, maar ook dié van almal wat met hulle in aanraking kom, so ver as moontlik beskerm word.

Die nuwe regulasies is al ’n tree in die regte rigting, maar moet nog verder verfyn word. AfriForum bly verbind tot hulp aan alle gerepatrieerdes om ook so gou, vinnig en veilig as moontlik deur hierdie tydperk te kom.

Vir navrae stuur ‘n e-pos aan wereldwyd@afriforum.co.za of vir meer inligting besoek www.wereldwyd.co.za.

Hierdie artikel is ook beskikbaar in: English

Alana Bailey
Alana Bailey
Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Pin It on Pinterest