Leesvordering:

Die dorpie Reculver

Jun 30, 2021

Deur Pieter de Lange

Ons het al dikwels Herne-baai toe gestap of daar gaan swem, maar hierdie keer het ons dit op ’n lieflike lentedag verder teen die kus op gewaag toe ons twee torings in die verte sien. By nadere ondersoek blyk dit toe die dorpie Reculver te wees. Die naam “Reculver” het vaagweg bekend geklink, maar ons het nie besef dit is omdat dit so ’n ryk antieke geskiedenis het nie. Die Romeine het aanvanklik ’n fort daar gebou teen Saksiese strooptogte. Die indrukwekkende, hoë torings was eeue lank ’n navigasiemerker vir skepe ter see. Dit is ’n hermodellering van die oorspronklike Anglo-Saksiese klooster wat in die 12de eeu ’n gemeentekerk geword het.

Langs die torings is die verwoeste oorblyfsels van ’n fort wat die Romeine in 43 n.C. daar gebou het toe hulle Brittanje verower het. Daar is ook ‘n Romeinse pad na Canterbury, ongeveer 14 km daarvandaan. In die 2de eeu het hulle ’n groot fort of castrum, genaamd Regulbium, gebou waarin ongeveer 480 mans gestasioneer was. Regulbium was een van ’n reeks Saksiese forte aan die kus waar gereeld kuspatrollies gehou is om handel te beskerm en belasting in te vorder. “Regulbium” is die Latynse naam; in Common Brittonic (’n Keltiese taal wat in Brittanje gepraat is) het dit “uitsteeksel” of “groot landpunt” beteken. In Oud-Engels is die naam vervorm tot “Raculf”, wat aanleiding gegee het tot die moderne “Reculver”. Destyds was hierdie fort strategies geleë aan die noordwestelike punt van die Wantsum-kanaal, ’n seestraat wat die Thanet-eiland van Kent op die vasteland geskei het tot die kanaal in die laat Middeleeue heeltemal toegeslik het.

By die Romeinse forte was normaalweg ’n burgerlike nedersetting of vicus. Die nedersetting by Reculver het ongeveer tien hektaar beslaan, waarvan ’n groot deel nou deur die see oorspoel is. Ten minste tien kindergraffies is in die fondamente en mure van die geboue gevind, asook munte wat dateer uit 270 n.C. tot 300 n.C. Die babas is waarskynlik tydens offerrituele in die geboue begrawe, maar dit is nie bekend of hulle reeds dood was, doodgebore is, dalk lewend begrawe is of vir die doel doodgemaak is nie. Volgens ’n plaaslike legende spook daar glo ’n huilende baba by die fort.

Toe die Romeine Brittanje vroeg in die 4de eeu verlaat het, kon die “Brythons” (Keltiese stamme) weer die land beheer totdat die Anglo-Saksiese invalle begin het.

Teen die 7de eeu het Reculver die eiendom van die Anglo-Saksiese konings van Kent geword. In die plek van die vervalle Romeinse fort is ’n klooster opgerig wat in 669 n.C. aan St. Mary gewy is. Koning Ethelbert van Kent is omstreeks 760 daar begrawe.

Gedurende die Middeleeue was Reculver ’n bloeiende stad met ’n weeklikse mark en ’n jaarlikse kermis. Die nedersetting het egter al kleiner geword namate die Wantsum-kanaal toegeslik het, en die voortdurende erosie aan die kus het baie geboue wat op die sagte, sanderige kranse gebou is, vernietig. Teen die laat 18de eeu was die dorpie feitlik verlate en die grootste deel van die kerk is in die vroeë 19de eeu gesloop.

Dambusters

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is hierdie deel van die kuslyn gebruik om prototipes van Barnes Wallis se bonsende bom te toets. Dié area is gekies omdat dit afgesonder was, omdat die kerktorings ’n duidelike baken was, en omdat prototipes maklik uit die vlak water gehaal kon word. Verskillende onaktiewe weergawes van die bom is by Reculver getoets. Dit het gelei tot die ontwikkeling van die operasionele weergawe wat bekend staan as “Upkeep”. Die Royal Air Force het hierdie bom gebruik in Operasie Chastise, ook bekend as die Dambuster-invalle, waartydens formasies Lancaster-bomwerpers in die nag van 16 Mei 1943 damme in die Ruhr-distrik in Duitsland aangeval het. Twee prototipe bonsende bomme het in die moerasland agter die seemuur gelê tot ongeveer 1977 toe die weermag dit verwyder het.

Die Millenniumkruis is saamgestel uit dele van vroeëre kruise om 2 000 jaar van Christendom te herdenk.

Eeue se wind en reën

Meer oor die outeur

Pieter de Lange

Ek is in Kroonstad gebore neffens die rustige ou Valsrivier en matrikuleer aan die Hoërskool Kroonstad in dieselfde era as skrywers soos Antjie Krog en Max du Preez. Ek studeer op Tukkies, speel o.19-rugby vir hulle en boks vir die SA Universiteitespan, waarna ek Protea-kleure in dié sport verwerf. In 1974 begin ek in Londen praktiseer, word deur die Ferrari-gogga gebyt en keer ná drie jaar na Pretoria terug met ’n rooi Ferrari Boxer. In 1981 trou ek met Mariaan en ons verhuis Londen toe vir 18 maande. Ek begin in 1990 met ’n MBL-kursus en geniet die navorsingsprojek die meeste, en kry tot my verbasing die hoogste punte. Ek skryf baie artikels oor SA se Olimpiese bod vir die Sunday Times, Beeld, Business Day en Rapport. Ek publiseer ook my Olimpiese boek The Games that Cities Play, wat voorgeskryf was vir BA MBK (Menslike Bewegingskunde) asook B Com Sportbestuur se eerstejaars, (Sportgeskiedenis en Sportfilosifie) studente by Tukkies, vir 1999 tot 2003. In 1999 verhuis ons sak en pak Londen toe met ons kroos René, Christiaan en Simon. Ek begin ’n navorsingsprojek oor oorsese Suid-Afrikaners en skryf ’n reeks artikels vir The South African. Ons sien die wêreld saam met ons kinders, van ’n ysige St. Petersburg tot die snikhete Rooisee in Egipte. Ons het nou ’n pragtige kleinseun Arlo en woon in Kent, waar ek steeds praktiseer en gereeld aan parkwedlope deelneem om die ou karkas aan die gang te hou.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest