Leesvordering:

Die onweerstaanbare vreugdes van die lente

Jun 4, 2019

Ons het die National Trust-kaartjie al amper ’n jaar gehad, Mariaan het dit maande gelede as ’n geskenk ontvang en dit het in die donker maande in ’n laai bly lê, soos ’n dier in sy winterslaap. Eers toe die opwindende kleure, klanke en geure van die lente rondom ons ontplof, het ons begin kennis neem van die bestemmings wat daar is. Sissinghurst Gardens was een naam wat ons onthou het, en toe is Scotney Castle deur iemand aanbeveel. Albei hierdie bestemmings is in of naby die rustige dorpies van ’n meer landelike deel van Kent waar klein buurtwinkeltjies nog goed sake doen. Terwyl ons deur die kleurryke dorpies met hulle alomteenwoordige kerke van plaaslike sandsteen en tradisionele kothuise van baksteen en vuursteen ry, het ’n gevoel van vrede en rustigheid oor ons gekom en moes ons eers stop vir koffie in die pragtige dorpie Biddenden, naby Sissinghurst Castle Gardens. Biddenden is bekend vir die Biddenden Maids, ’n tweeling wat aan mekaar verbind was en na bewering in die jaar 1100 in die dorpie gebore is.

Sissinghurst Castle Gardens het ‘n boeiende geskiedenis. Oorspronklik was dit ’n Saksiese varkplaas, ‘Saxenhurst’ genoem; later is die Tudorgeboue gebruik as ’n tronk vir Franse matrose wat gedurende die Sewejaaroorlog van 1756-1763 gevang is en maande lank hier aangehou is in afgryslike, vuil toestande met min toegang tot vars lug, genoeg kos en skoon water. Daarna is dit as ’n armehuis gebruik. Gedurende die Victoriaanse era is Sissinghurst as ideaal vir gevorderde boerdery beskou.

In die vroeë 1930’s het die plaas in die besit gekom van die eksentrieke Vita Sackville-West en Harold Nicolson. Mary Sackville West, bekend as Vita, was ’n produktiewe fiksieskrywer, ’n bekroonde digter en ’n geesdriftige tuinier. Haar man, Harold Nicolson, is in Teheran gebore en was ook ’n diplomaat, politikus en belangrike dagboekskrywer. Vita is op Knole gebore as die enigste dogter van Lionel en Victoria Sackville-West. As ’n jong meisie het Vita graag besoekers rondgeneem op Knole en sy het altyd ’n diepe gehegtheid aan die landgoed getoon. As ’n vrou in daardie era kon sy ongelukkig nie haar ouerhuis erf nie.

Scotney Castle

’n Week later het ons vertrek na Scotney Castle, in dieselfde gegoede deel van Kent. Die tuine is nie so groot nie, maar daar is ’n heerlike rustige en geborge gevoel op die landgoed.

Scotney Castle bestaan uit ’n ou kasteel omring deur water en ’n ‘nuwe kasteel’ wat bo op die heuwel gebou is. Die vroegste rekords van die landgoed kom uit 1137, maar bouwerk aan die oorspronklike kasteel het in 1378 begin.

Die Hussey-familie het die kasteel tot in 1970 bewoon, en dit is toe aan die National Trust nagelaat. Dit was destyds nie algemeen bekend nie, maar Margaret Thatcher het langer as 10 jaar hier ’n woonstel gehad tydens haar ampstermyn. In 1979 is ’n film met die titel Yanks hier gemaak, met Richard Gere in die hoofrol.

Meer oor die outeur

Pieter de Lange

Ek is in Kroonstad gebore neffens die rustige ou Valsrivier en matrikuleer aan die Hoërskool Kroonstad in dieselfde era as skrywers soos Antjie Krog en Max du Preez. Ek studeer op Tukkies, speel o.19-rugby vir hulle en boks vir die SA Universiteitespan, waarna ek Protea-kleure in dié sport verwerf. In 1974 begin ek in Londen praktiseer, word deur die Ferrari-gogga gebyt en keer ná drie jaar na Pretoria terug met ’n rooi Ferrari Boxer. In 1981 trou ek met Mariaan en ons verhuis Londen toe vir 18 maande. Ek begin in 1990 met ’n MBL-kursus en geniet die navorsingsprojek die meeste, en kry tot my verbasing die hoogste punte. Ek skryf baie artikels oor SA se Olimpiese bod vir die Sunday Times, Beeld, Business Day en Rapport. Ek publiseer ook my Olimpiese boek The Games that Cities Play, wat voorgeskryf was vir BA MBK (Menslike Bewegingskunde) asook B Com Sportbestuur se eerstejaars, (Sportgeskiedenis en Sportfilosifie) studente by Tukkies, vir 1999 tot 2003. In 1999 verhuis ons sak en pak Londen toe met ons kroos René, Christiaan en Simon. Ek begin ’n navorsingsprojek oor oorsese Suid-Afrikaners en skryf ’n reeks artikels vir The South African. Ons sien die wêreld saam met ons kinders, van ’n ysige St. Petersburg tot die snikhete Rooisee in Egipte. Ons het nou ’n pragtige kleinseun Arlo en woon in Kent, waar ek steeds praktiseer en gereeld aan parkwedlope deelneem om die ou karkas aan die gang te hou.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest