Leesvordering:

Geloof: Nog ‘n slukkie nuwe wyn

Aug 12, 2016

Stukkies hemel op aarde
Deel 2: Die koninkryk van God is hier

Volgens die nuutste navorsing is die Evangelie van Markus die eerste van die vier evangelies wat geskryf is aan die einde van die jare vyftig na Christus.

Markus 1:14 en 15 vertel die volgende: “Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig.

“Hy het gesê: ‘Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.’”

Met ander woorde, volgens Markus was die eerste ding wat uit Jesus se mond gekom het die volgende: Die tyd is hier! God se koninkryk is hier.

As mense hierdie woord glo, verander dit hulle lewens, het Jesus gesê.

Is dit nie die beste nuus ooit nie! Dit naamlik, dat God self Sy Seun, Jesus die Christus, aarde toe gestuur het as die nuwe Koning. Sy woord is van nou af wet hier. Hy gaan elke ander mag of heerskappy wat tot nou toe mense gemanipuleer en hulle lewens probeer beheer het, teenstaan, verdryf en hulle mag verbreek.

Van nou af geld Sy Woord. Sy hart het ons nuwe wet geword.

Soos ek gesê het, dit is mos wonderlike goeie nuus! Die vraag is net of jy dit werklik glo? Of kyk jy jou so vas teen die realiteite wat jou gewone oë kan sien, dat jy dit wat die Hemel jou van verseker, miskyk en nie werklik glo nie.

Bekeer julle, want die koninkryk is hier

“Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” (Mat. 4:17)

So begin Jesus Sy prediking en dit is, volgens Hom, die hart van die Goeie Nuus van die Evangelie en die rede waarom Hy gekom het.

Blaai jy deur veral die Evangelie van Matteus, hoor jy telkens hoe Jesus dan vir Sy dissipels uitspel wat dit beteken. Wat beteken dit dan as die “koninkryk van God” of die “koninkryk van die hemel” nou hier op aarde is?

Ons hoor hoe God die Vader wat die Koning is, Jesus, Sy Seun, nou planeet aarde toe gestuur het om die nuwe Koning hier te wees en om Sy Koninkryk hier te kom vestig. Omdat Hy nou die nuwe Koning hier is, verteenwoordig Hy nou Sy Vader en Sy Vader se heerskappy hier. Oral waar Hy kom, vertel Hy dan vir die mense hoe lyk dit as Sy Vader se wil op ʼn plek of in ʼn situasie geld.

Hy praat nie net nie. Hy illustreer dit. Hy doen dit. Hy pas dit toe. Hy sorg dat ʼn stukkie hemel daar op daardie plek, in die stukkendheid en nood daar, deurbreek.

Daarom lees ons in Matteus 4:23 en 24: “Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak.

“En berigte oor Hom het deur die hele provinsie Sirië versprei. Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak.”

Sien, dit is hoe dit lyk as die hemel hier op ʼn stukkie aarde deurbreek. Siekes word genees, want in die hemel is daar nie iemand wat siek is nie. Pyn van mense word bedien, want in die hemel is daar nie pyn nie. In die hemel is God alleen die Koning en daarom is daar nie plek vir die bose en die magte van die duisternis en hulle praktyke nie. Daarom moet demone uit mense onmiddellik padgee as Jesus daar instap. Verlamdes begin loop, blindes sien, dowes hoor. Onreg en sonde het hier geen plek nie en word hanteer. Hier het niemand tekort nie.

Sjoe, g’n wonder nie dat Jesus Sy volgelinge leer om tot die Vader te bid: Vader, laat U Naam geheilig word, laat U koninkryk kom, laat U wil geskied… ook hier op aarde, soos dit reeds in die hemel waar is!

Lyk vir my ons sal God moet vra om ons koppe reg te kry hieroor, sodat ons reg hieroor kan dink!

Die Evangelieboodskap word die Evangelie oor die koninkryk genoem

Die eerste sin van Jesus se prediking en lering hier op aarde was: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel is naby (of hier)!

Lees jy Sy lering oor die nagenoeg drie jaar noukeurig deur, val dit jou op hoeveel keer Hy vir Sy dissipels sê: So lyk die koninkryk van God óf dit is hoe dit werk in die koninkryk van God.

Wanneer Matteus en die ander skrywers van die Evangelies opsommend na Jesus se openbare bediening verwys, dan beskryf hulle dit soos wat Matteus dit daar in hoofstuk 4, vers 23, doen: “Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak.”

Jesus het aan die eenkant vir die mense die goeie nuus vertel dat die koninkryk van die hemel en van God, soos wat dit reeds in die hemel waar is, ook nou hier op planeet aarde gekom het om te bly. Hy vertel vir hulle wat dit beteken en hoe dit lyk as dit gebeur.

Hy praat egter nie net daaroor nie. Hy wys ook vir hulle hoe dit lyk deur prakties dit aan mense te bedien. Daar waar mense hulle nood en uitdagings na Hom toe bring wat nie klop met die realiteite van hoe dit in die hemel lyk nie, bedien Hy met die krag van God wat in en deur Hom gevloei het.

Later leer Hy ook Sy dissipels om presies dieselfde te doen.

Die keer toe Hy die 12 uitgestuur het, op hulle eerste oefenlopie, lees ons dat Sy opdrag aan hulle die volgende was: “Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’

“Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet.” (Mat. 10:7 – 8)

Ook vir die 72 wat Hy uitgestuur het, gee Hy die volgende opdrag: “Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense: Vir julle is die koninkryk van God baie naby!” (Luk. 10:9)

Dit is so belangrik vir Jesus dat Hy gedurende daardie laaste 40 dae op aarde, net ná Sy opstanding tot en met Sy hemelvaart, aan Sy volgelinge by verskeie geleenthede verskyn en “… met hulle oor die dinge van die koninkryk van God” gepraat het. (Hand. 1:3)

Here, leer ons reg bid!

Hoe bid ʼn mens dan as jy iets begin verstaan dat God iets van die hemel hier tussen ons op aarde wil realiseer en dat ons Sy instrumente gaan wees om dit te laat gebeur?

Ons is nou God se lig. Ons is nou die sout wat ʼn baie lawwe wêreld om ons moet smaak gee.

Daarom vra Jesus se volgelinge Hom, in die middel van Sy Bergrede: Here, leer ons dan asseblief om reg te bid as dit is hoe u ons nou wil gebruik!

Dan leer Jesus hulle: “So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

“Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.”

Omdat iets van die hemel hier tussen ons is en in ons lewe gebeur, is dit net logies dat ons wat nog hier op aarde is, tussen al hierdie stukkende en donker dinge, ʼn hemelse perspektief nodig het.

Ons het nodig om by die Vader te hoor, want Hy weet immers hoe dit daar in die hemel reeds lyk en Hy weet wat in Sy hart is vir die hier en nou rondom ons.

In die volgende gedeeltes gesels ons hieroor.

Laat u Naam geheilig word!

Wie verstaan dat die koninkryk van die hemel in Jesus aarde toe gekom het, leer om te bid soos Jesus ons geleer het.

U weet presies hoe lyk en werk dit in die hemel. Dit is immers waar u alleen God is en waar geen ander teëstanders en ander kandidate is wat met U kompeteer vir ons stemme en ons harte nie.

Vader, laat dit ook hier op aarde, in ons harte en rondom ons, ʼn werklikheid word.

Laat hier in ons harte, as u volgelinge en u kinders, ʼn wonderwerk gebeur sodat ons iets kan beleef van hoe dit gaan wees as u alleen God is, as u alleen die sê het, as u al is waaroor dit gaan, as u sonder opposisie is, as u die enigste stem is waarna ons harte luister.

Here, u is ons Vader en ons is u kinders, maar u is ook die Heilige God wat sonde nie kan verdra nie. Hemel is tog ook waar daar geen sonde is nie en waar u geen opposisie het nie.

O Here, laat daardie wonder ook hier in ons harte gebeur! Laat dit ook hier tussen ons gebeur! Laat ʼn wonderwerk hier tussen ons gebeur wat sal maak dat as mense hier instap, as hulle waag om hierdie adres en plek te betree, dat die eerste ding wat hulle hier sal beleef, u heiligheid sal wees! Laat hulle teen u heiligheid vasloop!

Laat u koninkryk kom!

Vader, deur die wonder en openbaring van u Gees in ons lewe, het ons ontdek dat Jesus werklik die nuwe Koning op planeet aarde en nou ook in ons lewe is.

Ons moet egter bely dat ons vir so lank deur die vyand belieg en bedrieg is. Ons het gewoond geraak om heeltyd net te doen soos almal rondom ons doen en om met die stem van die gemeenskap en die meerderheid saam te loop.

Ons het so gewoond geraak om ons eie kop te volg en om aan elke gevoel en begeerte van ons eie vlees en hart toe te gee en daarna te luister.

Lei en leer ons deur u Gees. Dankie dat Hy nou in ons woon as ons raadgewer, leidsman en as ons nuwe wetgewer. Leer ons nou in die detail van ons lewe presies wat in u Grondwet staan.

Ons glo immers dat daar waar ons u Grondwet en Sy bepalings in elke duimbreedte in elke area van ons lewe tot in die fynste detail volg, daar beleef ons lewe en oorvloed.

Waar en wanneer u alleen ons enigste Koning is en ons hele lewe deur u Gees beheer word, alleen dan gaan ons lig en sout kan wees.

Laat u koninkryk, asseblief, hier tussen ons kom!

Laat u wil geskied!

Here, in die hemel is u wil die alfa en omega, die eerste en die laaste woord wat geld!

Daar het u geen ander opposisie nie. Daar is geen ander stem wat tel nie.

O Here, maar hier op aarde en in my eie hart is daar heeltyd baie ander stemme wat hulle aan my opdring en soek na my aandag en wat my hart wil hê.

Here, daar in Jakobus 1 sê u dat “… ʼn mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos ʼn brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.”

U sê: “So ʼn mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.”

Here, daar is heeltyd hierdie ander stemme in my lewe wat my probeer oortuig dat hulle waarheid en wat hulle vir my lewe wil hê, my gelukkig sal maak. Help my om eerder U stem te volg!

Laat u stem, u wil, die enigste wees wat ek sal volg!

Here, ek wil elke oomblik weet wat in u hart is, wat u in elke bepaalde situasie wil doen! Ek wil sien en hoor, soos Jesus destyds op aarde, wat u as Vader, in elke situasie wil doen en wat u sê u wil in daardie situasie is.

Dit is daardie dinge wat ek in u Naam agter u aan wil doen. Dit is daardie dinge wat ek dan agter u aan wil sê.

Gee ons vandag ons daaglikse brood!

Here, die meeste van die tyd is dit vir my maklik om te onthou dat u my Vader is wat presies weet wat ek nodig het. Daar kom egter dae wat ek twyfel en u maar weer begin wantrou.

Ek weet dit is omdat ek maar geluister het na my eie hart en vlees en toegelaat het dat die vyand my kon belieg en manipuleer met al sy leuens en bedrog.

Daarom wil ek kies om u as my totale Voorsiener en Here te vertrou vir alles wat ek en my geliefdes mag nodig kry.

Ek kies om te glo dat u lankal alles op plek neergesit en reggesit het om vandag vir ons te gee wat ons nodig het. Wanneer U ons wil gebruik om in ander se nood en behoeftes te voorsien, gee vir ons daardie meer as genoeg.

Ons beloof ons sal dit aan hulle gee sodat hulle ook u kan ontdek as ʼn getroue, liefdevolle Vader, wat presies weet wanneer ons wat nodig het.

Vader, ons kyk vandag op na u alleen as ons totale voorsiener!

Daar waar ons paar vissies en paar broodjies te min is, dank ons by voorbaat u om dit te vermeerder sodat daar vir almal in ons lewe vandag genoeg sal wees sodat hulle saam met ons iets van die hemel vandag kan beleef!

Dankie, dat u in u heerlikheid en grootheid, hier by ons vandag is as Immanuel, God by ons!

Vergewe ons sonde!

Here, waar ons faal en maar weer kies vir die gewoon en alledaagse waarmee ons vir so lank tevrede was voor ons bekering, vergewe ons asseblief!

Daar waar ons u verloën en agter ander stemme aan loop, vergewe ons!

Daar waar ons ons eie kop volg en maar weer koning in ons eie lewe word, wat self ons eie lewe wil beheer en dink ons weet beter, vergewe ons!

Daar waar ons maar weer lojaliteit aan ʼn ander agenda as u agenda gegee het en toegelaat het dat ons vir ander sake as u koninkryk op sleeptou geneem is, vergewe ons!

Daar waar u liefde en die behoeftes en omgee vir ander nie die hoofdryfvere in ons lewe was nie, vergewe ons!

Daar waar ons toegelaat het dat bitterheid en onvergewensgesindheid ʼn houvas kry, vergewe ons!

Dankie vir u vergifnis!

Dankie vir die versekering in U Woord: “… as ons ons sondes bely” is u getrou en regverdig. U vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. (1 Joh. 1:9)

Verlos ons van die bose!

Here, u het in u genade, deur die werking van u Gees, ons gees nuut en oor gemaak! Heilig en vernuwe nou die res van ons!

Kom en vernuwe ons denke, emosies en daar waar ons elke dag keuses moet maak!

Tot ons skok en skaamte ontdek ons telkens daar hoe springlewendig die tier in ons kelderverdieping nog is waar niemand kan sien nie. Maar ook hoe ons telkens toegee aan ons eie begeertes en planne.

O Here, verlos ons ook daar van die bose!

Help ons onderskei tussen al die stemme in ons lewe! Help ons ontdek wanneer is dit ons eie vlees, of die stem van die gemeenskap, of die stem van die bose wat met ons praat en wat ons probeer belieg en bedrieg!

Verlos ons van die bose!

Here, U het ons gewaarsku dat ons elke dag hier op aarde, vir solank dit nog nie volkome hemel op aarde is nie, oorlog gaan belewe! Ja, dat daar in ons eie hart en lewe en rondom ons elke dag, ʼn worstelstryd aan die gang is tussen lig en donker, tussen magte wat ons nie kan sien met ons gewone oë nie.

Daarom kom prop ons vandag by u in.

Daarom kom trek ons hier by u die volle wapenrusting aan wat ons nodig het vir hierdie dag se gevegte.

1 Kor. 15:24 – 28

Die hart van die Evangelie of Goeie Nuus is dat Jesus die Christus die nuwe Koning hier op aarde is. Daarom moes Hy nie net gekruisig word nie, maar moes Hy ook opstaan uit die dood, as bewys dat Hy die vorige magte, die koninkryk van die duisternis wat voorheen aan bewind was, se mag gebreek het.

Luister hoe sê God se Gees dit deur die skrywe van ʼn Paulus daar in Kol.2:14 -15: “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.

“Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.”

Dat die koninkryk van God hier op aarde aangebreek het, is die boodskap van baie gedeeltes in die Nuwe Testament.

Dit is presies wat daar ook in 1 Kor. 15:24 – 28 in ander woorde staan: “Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het.

“Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het.

“Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.

“Daar staan immers geskrywe: ‘Alles het Hy aan Hom onderwerp.’ Maar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is, is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is.

“Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles.”

As Jesus ons dan as Sy volgelinge vra om te bid, dan moet ons bid dat dit gebeur. Dit is wat moet gebeur om “hemel”, waar Jesus die Christus, in elke sin van die woord reeds die Koning is, ook hier “op aarde” laat gebeur.

Daarom moet ons bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil ook hier op aarde geskied, soos dit reeds in die hemel gebeur.”

Waarom moet ons bid dat die hemel ook hier moet kom?

Ek het jou mos vertel van die maandelange detoksifikasie na gees, siel en liggaam waarop die Here my gesit het. ʼn Groot deel van hierdie tyd het ek in gesprek met die Here deurgebring. Daar het ek ook geleer waarom ons “moet bid” dat die hemel ook hier op aarde, in ons eie lewe en rondom ons moet gebeur.

Die Here het my na Ef. 3:14 – 21 geneem waar Paulus die volgende bid (en ek gaan net klein gedeeltes hier vir jou aanhaal):

“Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.

“Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.

“Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.

“Aan Hom wat deur Sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.”

Die Here het dit so aan my verduidelik: Julle, as My Liggaam, is verteenwoordigers en ambassadeurs van die “franchise”, Hemel Onbeperk, op aarde. Julle het egter eintlik geen idee hoe “hemel” lyk en wat “hemel” alles behels nie. Die meeste van julle het nog nie eers werklik in die volle sin van die woord “hemel” beleef en ervaar nie.

Daarom moet Ek, deur My Gees wat in julle woon, julle koppe regkry sodat julle self eers iets daarvan kan begryp en self iets daarvan in julle eie lewens en rondom julle ervaar.

Hier, terwyl jy met My gesels (in gebed), wil Ek dit ook in jou lewe doen, want jy kan net bemark en verteenwoordig wat jy self al iets van beleef het.

Lees ook: Nog ‘n slukkie nuwe wyn

Jy kan dr. Christo by 082 770 2397 skakel of ‘n e-pos aan hom stuur by nchristo@lantic.net. Besoek ook gerus sy bedieningswebtuiste deur op die skakel www.nuwewyn.co.za te klik.

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest