Leesvordering:

Geloof: Stukkies hemel op aarde

Aug 5, 2016

CaptureDeel 1: Laat u koninkryk en u wil ook op aarde ‘n werklikheid word

Bill Johnson van Bethel Church in Redding, Kalifornië, skryf die volgende: “I could not limit my values and pursuits to what makes other comfortable. Being possessed by a promise, I live without options. I will spend the rest of my life exploring what could happen through the life of one who is willing to cultivate the God-given appetite to see impossibilities bow to the name of Jesus. All my eggs are in one basket. There is no ‘Plan B’.”

Is dit nie merkwaardig dat Jesus Sy dissipels leer om soos volg te bid nie: “Ons Vader wat in die hemel is, laat U Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil op aarde geskied, soos in die hemel.” (Mat. 6:9 – 10)

Het jy mooi gelees wat hier staan? Laat u koninkryk kom. Laat u wil op aarde geskied… soos dit reeds waar en ʼn werklikheid in die hemel is.

In die hemel hoef niks verder te gebeur nie. God se wil geld reeds daar. God, Jesus die Christus, is reeds Koning daar. Die moeilikheid is hier op aarde. Dit is hier waar dinge moet gebeur. Dit is hier waar dinge moet verander. Dit is hier waar dit wat in God se hart is, ʼn sigbare werklikheid moet word.

Daar in Joh. 8:38 sê Jesus: “Dit wat Ek by my Vader gesien het, praat Ek van, maar julle doen wat julle by julle vader gehoor het.”

As ek dit sommer in my eie woorde moet probeer oorsê, sê Jesus hier dat dit wat Hy Sy Vader sien doen en hoor sê, dit is die dinge wat Hy hier op aarde doen en sê.

Dink ʼn bietjie hieroor na.

Detoks na gees, siel en liggaam

So ʼn paar maande gelede het die Here my baie bewus gemaak van hoe ek my eie lewe vergiftig deur my gedagtes. Ek het besef, in die taal van Deut. 30, elke dag, elke minuut van elke dag, elke sekonde van elke dag, het ek die keuse om te kies tussen lewe en dood. Ek kan besluit of ek lewe aan myself wil bedien en of ek myself na gees, siel en liggaam wil vergiftig. Alles… hang af van wat in my gedagtes aangaan.

Daarom het ek gekies om die Here toe te laat om my op ʼn detoksifikasie te sit. Na gees, siel en liggaam.

Ek het gekies om van nou af verantwoordelikheid te neem vir elke ding wat in my mond ingaan. Ek weet mos dat deur my eie toedoen en die keuses wat ek oor die jare gemaak het, het ek my eie liggaam geleer om in plaas van die normale Godgegewe patroon van sy energie uit vette te verkry, het ek my liggaam geleer om sy energie in koolhidrate te gaan soek. So het my liggaam siek geword en insulienweerstandig geword.

Van nou af, egter, gaan ek lewe aan my eie liggaam bedien deur onnodige en ongesonde koolhidrate so ver moontlik te vermy. Ek het gekies om geen verfynde, moderne suiker, meel en pastas verder te eet nie. Gewone tees en koffie, gaskoeldranke en al hierdie gebottelde vrugtesappe met al hulle suiker is vir my taboe. Rooibostee en water is my keuse-drankies van nou af.

Stelselmatig is ek weer besig om terug te gaan na die ou eenvoudige, natuurlike lewenstyl en eetgewoontes van ons voorsate, sonder al die voedsel en produkte wat as gevolg van die eise van massaproduksie stelselmatig verfyn, verarm en in die proses vergiftig is.

Dan gaan ek ook weer gedissiplineerd oefen ten minste drie keer ʼn week; tyd maak vir myself en vir genoeg slaap. Al hierdie laataande tot laat werk, is nie meer deel van my leefwyse nie. Tienuur in die aand sorg ek dat ek begin bed toe gaan, sodat ek vroegoggend self kan wakker word sonder ʼn wekker om tyd met die Here te kan deurbring.

Dit bring my by die tweede gedeelte van my detoksifikasie. Elke oggend vroeg begin ek my dag met twee ure aan die Here se voete. Wat ek na Hom kan luister en met Hom kan gesels. Dit is my tyd om Sy Woord te lees en te bestudeer. Dit is ook my tyd om Hom beter te leer ken en om Hom toe te laat om my met Sy liefde te bedien. Dit is ons tyd saam.

Dit is dan ook die tyd vir die derde deel van my detoksprogram, want dit is ook my tyd dat ek Sy Gees toelaat om aan die hand van die 21-dae breindetoksprogram van dr. Caroline Leaf, SWITCH ON YOUR BRAIN, my eie manier te ondersoek van hoe om krities te dink.

Soos God se Gees self daar in 2 Kor. 10:3 – 5 vir ons leer, om letterlik elke gedagte aan die bors te gryp en seker te maak wat die oorsprong daarvan is. Kom dit van God af of is dit vlees of van die bose? Is dit waarheid of is dit leuens? Bedien dit lewe aan my of vergiftig dit my en my lewe?

Rom. 12:1 – 2

Iets merkwaardig het met my begin gebeur toe ek die Here toegelaat het om my te detoks na gees, siel en liggaam.

Dit is moeilik om dit eenvoudig in gewone Afrikaans te verduidelik. Die beste manier hoe ek dit kan verduidelik is in die woorde van Rom. 12, vers 1 en 2, maar in die besonder die laaste gedeelte van vers 2 waar die NAV vertaal: “… laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Jesus Christus is besig om my kop reg te kry. Hy is besig om my te oortuig dat Hy ernstig was toe Hy daar in Rom. 7:6 aan ons gesê het “ʼn nuwe era het aangebreek”!

Hy was ernstig toe Hy vir ons in Joh. 14 gesê het dat wanneer die Gees van God in die nuwe era kom, kom woon Hy wat Jesus is self in elkeen van Sy mense en dan gaan en kan ons verwag dat Hy wat Jesus is, deur die werking van Sy Gees in ons, dieselfde en nog groter dinge gaan doen as wat Hyself hier op aarde gedoen het voor Sy kruisiging.

Jesus is besig om my te oortuig dat Hy ernstig is as Hy vir ons deur profesie kom sê: Herlewing is hier!

Ek weet nie van jou nie, maar ek moes daar aan Jesus se voete in hierdie tyd van detoks bely dat ek nie altyd dit werklik geglo het nie. Ek het dit altyd uitgestel na môre of oormôre of êrens in die toekoms wat dit seker sal of kan gebeur.

Daar aan Sy voete het iets met my gebeur wat my laat kies het om te glo God se Woord is vir NOU! Dat as God dit NOU vir ons profeties kom sê, dan wil ek kies om dit te glo dat dit werklik vir NOU is.

Daarom moet ek Hom vra: Here, wil u nie my gedagtes, my hart, sinkroniseer met u gedagtes, hart en planne nie! Doen dit asseblief, Here, nou in my lewe.

Luister hoe vertaal The Message Rom. 12:1 en 2:

“So here’s what I want you to do, God helping you: Take your everyday, ordinary life – your sleeping, eating, going-to-work, and walking-around life – and place it before God as an offering. Embracing what God does for you is the best thing you can do for him.

“Don’t become so well-adjusted to your culture that you fit into it without even thinking. Instead, fix your attention on God. You’ll be changed from the inside out. Readily recognize what he wants from you, and quickly respond to it. Unlike the culture around you, always dragging you down to its level of immaturity, God brings the best out of you, develops well-formed maturity in you.”

Mat. 4:17

Het jy al mooi geluister na Jesus se eerste “preek”? In werklikheid was dit die hart van Sy totale bediening se boodskap gedurende die meer as drie jaar wat Hy mense in die openbaar bedien het.

Luister hoe verwoord Matteus dit hier in hoofstuk 4 vers 17: “… Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

“Bekeer julle” beteken nie net dat ons ons sonde en sondige lewe moet laat staan, omdraai en anders begin lewe nie.

Ja, natuurlik beteken bekering dit ook, maar in werklikheid is dit eintlik die resultaat van ʼn ware bekering. Ware Bybelse bekering bestaan in werklikheid daaruit dat ons God toelaat, soos Rom. 12:2 dit stel, om ons “gedagtes te vernuwe”.

Ware bekering is wanneer God ons hele manier van dink oor dinge kom verander en dit laat sinkroniseer met hoe God daaroor dink en dit bedoel het.

Daarom is bekering nie net ʼn eenmalige ding nie, maar ook ʼn lewenslange proses wat in ons lewens gebeur. Dit sluit ook daardie “heiligmaking” in waarvan die Hebreërskrywer daar in Heb. 12:14 praat waarsonder niemand God sal sien nie.

Ware Bybelse bekering is dus om te ontdek dat toe Jesus aarde toe gekom het, het Hy Sy koninkryk (soos dit in die hemel geld) saam met Hom aarde toe gebring.

Ware bekering is meer as net ʼn sondebesef en trane oor ons sonde en sondige lewenswyse. Dit is ook om te ontdek die koninkryk van die hemele het aarde toe gekom. Jesus het nie net gekom om ons sondes weg te neem nie. Hy het gekom om die Koninkryk van God, van die hemel, hier op aarde ʼn werklikheid te maak. Daarvoor het Hy Sy lewe gegee. Sy opstanding uit die dood is die beste bewys dat Hy presies gedoen het wat Hy moes doen. Nou moet Sy Liggaam hier op aarde, onder die leiding van Sy Gees in hulle, doen wat hulle moet doen.

Julle is medewerkers van Christus

In 1 Kor. 3:9 staan die volgende: “Ons is medewerkers in diens van God…”

ʼn Ware Bybelse bekering het nog nie sy volle pad in ons lewens geloop as ons nog nie toegelaat het dat God ons oortuig dat Sy koninkryk reeds hier op aarde moet kom nie.

Die Here konfronteer my die afgelope tyd daarmee dat ek nie werklik alles glo wat Hy vir my in die Woord sê en belowe nie. Daar in Mat. 16:19 belowe Hy aan ons as Sy Liggaam dat Hy aan ons “… die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

Daardie “sleutels” wat in ons hande is, is deels ook die outoriteit om, hoe staan dit daar in Luk. 10:19, “… om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.”

Daarom gaan ons beleef, soos vers 20 in daardie selfde hoofstuk sê, dat “… die geeste hulle aan julle onderwerp”, asook die seker wete dat ons “… name in die hemel opgeskryf is”.

Die “sleutel van Dawid” wat dus in ons hande geplaas is (sien Jes. 22:22; Op. 3:7) is dus om as medewerkers van Christus hier op aarde, in die lig en op grond van Christus se volkome verlossingswerk, iets van die hemel hier vir mense oop te sluit dat hulle dit reeds hier kan sien, beleef en ervaar in hulle eie lewe.

Die koninkryk beteken in werklikheid “daar waar Christus as Koning heers”.

Met die sondeval het sonde en daarmee saam die magte van die duisternis, Satan en al sy demoniese magte, hierdie aarde wat God “goed” en volmaak geskape het in alle opsigte, geannekseer en hier begin heers. Daardie oomblik het al die duisternis van die hel hierdie aarde begin deursuur en geïnfekteer. Daarom kry ons nou hier siektes, gebreke, demoniese geeste, gebrek en armoede, liefdeloosheid, misdaad, ensovoorts.

As Jesus dan Sy Liggaam leer bid: “Verlos ons van die bose”, dan impliseer dit ook dat hulle “as Liggaam van Jesus en as Sy medewerkers” gaan beleef hoe die God van vrede Satan (en sy magte en werk) “… onder ons voete” gaan vertrap. (Rom. 16:20)

In 1 Joh. 3:8 staan dat Jesus hier op aarde besig is om “… die werk van die duiwel tot niet te maak.” As ons Sy medewerkers is, dan word dit ook die dinge waarmee ons moet besig wees.

Verlos ons van die bose

Ek is van harte oortuig dat die verlossing wat Christus Jesus aan die kruis bewerk het, werklik ʼn verlossing is wat gees, siel en liggaam in totaliteit aanraak en aanspreek.

As Jesus daar in Mat. 6:13 Sy volgelinge leer om te bid, “Verlos ons van die bose”, omvat daardie woord “bose” die duisternis in al sy vorme en gevolge wat die aarde met die sondeval binnegedring het. Dit sluit dus sonde en al sy gevolge in.

Die woord, bose, in die Grieks is die woord poneros. As ons dit etimologies bekyk sien ons ʼn woord wat die Griekse woord, ponos, wat “pyn” beteken, en die Griekse woord, penes, wat “arm” of “armoede” beteken, as wortels het.

Dit help ons om ʼn beter vat te kry oor wat die “bose” dan alles omvat waarvan ons wil hê God moet ons van “verlos”.

Hierdie “bose” sluit dan alles in wat as gevolg van sonde en sy gevolge ons lewe hel hier op aarde maak, maar ook die bose wat alle siekte en pyn tot gevolg het, asook die bose wat alle gebrek en armoede hier op aarde tot gevolg het.

Dit lyk dus vir my dat as ons werklik iets verstaan van die feit dat ons “medewerkers is van Christus” en as Christus werklik gekom het om Sy koninkryk hier op aarde te kom herstel soos die Vader dit oorspronklik bedoel het, dan sal die “bose” wat ons in Sy Naam onder ons voete moet vertrap baie beslis insluit dat ons die Evangelie van Sy verlossing aan alle mense sal verkondig.

Dit sal beslis ook moet insluit dat hierdie “verlossing” baie besliste implikasies inhou vir alle vorms van “sonde en boosheid”, asook vir die gevolge van sonde en boosheid. Jesus het immers ook gekom om “ons van ons siektes te verlos” en om ons in te lei in ʼn lewe van oorvloed.

Het Jesus dan nie self gesê dat Hy gekom het om “lewe en dit in oorvloed” aan ons te bedien nie? (Joh. 10:10b)

1 Joh. 3:8

“En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.”

As ons dan werklik “medewerkers is van Christus”, kan ons verwag dat Christus Jesus deur die werking van die Gees van God wat in ons woon, ons gaan gebruik om die werk van die duiwel tot niet te maak.

Daar in Joh. 16 is Jesus besig om Sy volgelinge te vertel van Sy Gees wat kom om in elkeen van ons te woon. Ons weet dit het van Pinksterdag af, 31 Mei 32 n.C., begin gebeur in elkeen wat Jesus Christus aanneem as Verlosser en Here.

Die Heilige Gees kom woon in elkeen van ons en kom doen dan deur ons dit waarvoor Christus gestuur is na hierdie wêreld, naamlik om Christus se koninkryk ook hier op aarde te laat gebeur.

Luister wat sê Jesus is die werk van die Heilige Gees in mense se lewens. Ek haal vir jou uit die vertaling van The Message uit Joh. 16:8 – 11 aan, sodat jy ʼn bietjie op ʼn ander wyse hierdie bekende woorde op ʼn meer verstaanbare wyse kan hoor:

“When he comes, he’ll expose the error of the godless world’s view of sin, righteousness, and judgment: He’ll show them that their refusal to believe in me is their basic sin; that righteousness comes from above, where I am with the Father, out of their sight and control; that judgment takes place as the ruler of this godless world is brought to trial and convicted.”

Daar waar ek en jy dan deur die Gees van God gebruik word om teenoor mense te getuig deur ons stories van wat God in ons lewe gedoen het of wat Hy vir ons gesê het, of daar waar Hy ons gebruik om deur die gawes van die Gees mense in hulle nood te bedien, gaan die Heilige Gees self hierdie dinge waarvan Joh. 16 praat, in daardie mense se lewens terselfdertyd laat gebeur.

Hy gaan hulle oortuig van sondes in hulle lewens. Hy gaan aan hulle openbaar dat Christus en Hy alleen deur Sy dood en versoeningswerk, ons as sondige mense in regverdige mense kan verander. Anders, sonder die kleed van die versoeningswerk van Christus, is en bly ons onder God se oordeel en is ons op pad hel toe.

As mense wat Jesus aangeneem het as Verlosser, is ons nou toegedek deur die bloed van Jesus, omdat ons glo dat Hy gekom het om ook die skuld en straf vir ons sondes te dra. Daarom het ons vrymoedigheid om in die teenwoordigheid van die lewende God te verskyn en om te glo dat ons werklik Sy kinders is.

Daarom kan ons ook nou medewerkers van Christus wees deur wie se lewens Jesus self deur Sy Gees nou hier op aarde kan doen wat Hy wil doen.

Heb. 12:1 – 2

In Heb. 12:1 en 2 staan die volgende: “… Laat ons ontslae raak van elke hindernis en die sonde wat ons maklik verstrik, en laat ons met volharding die wedloop wat vir ons voorlê hardloop, en ons aandag vestig op Jesus, die Grondlegger en Voleinder van die geloof, wat ter wille van die vreugde wat vir Hom in vooruitsig gestel is, die kruis verduur en die skande daarvan geminag het, en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.”

André Roebert van FaithTV skryf die volgende een oggend in die lig hiervan: “Looking unto Jesus will mean looking away from current circumstances and negativities; where focus goes, power flows. We are encouraged today to stay fixed on Him and know that He has conquered for us.”

Soos wat ek leer om te fokus op Jesus en luister na Sy hartklop, gebeur hier iets nuuts in my.

Sy liefde vir my en ander is besig om my te verander. Na gees, siel en liggaam. Dit word hierdie Gees-krag in my wat opborrel in my gees, wat buitentoe beur en deur my, soos deur ʼn tuinslang, wil begin spoel en mense se nood wil bedien.

In die proses gebeur wonders en genesing in my, met my. Ek word genees. Ek beleef hoe die onmoontlike in my eie lewe moontlik en ʼn werklikheid word.

Ek begin iets sien van God se groter prentjie, van Sy koninkryk en van Sy wil, wat hier op aarde kan en moet gebeur.

Ek sien hoe iets hemels begin deurbreek waar ek en ander van Sy volgelinge dit waag in Sy Naam, deur Sy Gees wat in en deur ons werk, om te doen en te sê en uit te lewe wat ons daar aan Sy voete beleef het.

Lees ook: Nog ‘n slukkie nuwe wyn

Jy kan dr. Christo by 082 770 2397 skakel of ‘n e-pos aan hom stuur by nchristo@lantic.net. Besoek ook gerus sy bedieningswebtuiste deur op die skakel www.nuwewyn.co.za te klik.

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest