Leesvordering:

Hoe gemaak met sibbe oor die see?

Aug 31, 2023

Deur Sulette Ferreira

Luidrugtige gesinsbyeenkomste het gedempte affêres geword. Die jolige jongspan en hul ouers is nie meer op eie bodem nie: Jou broer en sy gesin sit nou in Londen, jou suster in Dubai, en al wat die verhouding aanmekaar hou, is om mekaar nou en dan te FaceTime.

Dit is vanselfsprekend dat emigrasie ’n onherroeplike invloed op gesinsdinamika het, met bande tussen ouers en kinders wat oor lang afstande al hoe dunner gerek word. Navorsing oor die uitkringeffek van hierdie verskynsel neem trouens toe, maar die uitwerking wat die emigrasie van sibbe op mekaar het, geniet minder aandag. In my praktyk ervaar ek al hoe meer vrae en gesprekke daaroor.

Die verhouding tussen sibbe: ’n Unieke ervaring

Soos elkeen met broers en susters weet, is sibbeverhoudings ’n ingewikkelde saak wat van die gesinsdinamika afhang en elke gesin is uniek. Jy bring omtrent een derde van jou lewe saam met jou sibbe deur. Vir ’n gesonde sibbeverhouding, hou emigrasie dus ’n essensiële verandering in omdat die aard van een van ’n mens se langste en nouste verhoudings fundamenteel verander. Boonop het mense deesdae selde meer as een of twee sibbe, dus is die verhouding meer intiem.

Niemand beïnvloed ons so intens soos ons broers en susters nie – nie ons ouers nie, nie ons kinders nie, en ook nie ons vriende nie. Vanaf geboorte deel ons as broers en susters ’n gemeenskaplike geskiedenis en ’n toekoms. En dan emigreer hierdie spesiale persoon …

Juis hierom is die uitwerking van ’n sib se besluit om te emigreer so intens.

Die oorspronklike gesinsdinamika verander en moet op ’n heel nuwe wyse herskep en gedefinieer word. Hierdie radikale verandering skep die ideale omstandighede vir ’n warboel gemengde emosies wat elke rolspeler in hierdie verhouding anders beïnvloed.

Die emosionele driehoek van emigrasie

Vanweë die onderlinge afhanklikheid tussen gesinslede kan die besluit van een sib om te emigreer ingrypende gevolge vir die gesin inhou. Die sibbe wat emigreer, die ouer en die sibbe wat bly word elk uniek geraak.

Die sib wat emigreer ervaar kommer én opgewondenheid oor wat die toekoms inhou. Saam met die talle verandering en uitdagings van emigrasie, kan hulle verskeur voel tussen die skep van ’n nuwe lewe en om steeds betrokke te bly by die gesin van herkoms – ’n soort in limbo-ervaring. Hulle ervaar veral skuldgevoelens teenoor die gesinslede wat agtergelaat word. Daarby ervaar hulle ook druk om ’n sukses te maak van hulle nuwe omstandighede.

Die ouers ervaar hartseer oor die verlies van die daaglikse interaksie en die fisieke teenwoordigheid van die kind. Die ouers is egter ook trots op die geleenthede wat die kind aangegryp het, op die kind se prestasies en die strewe na ’n moontlike beter toekoms.

Sibbe wat agterbly ervaar ook gemengde emosies: verlange, magteloosheid, tot by in-die-steek-gelaat gevoel. Hulle mag aanvanklik jaloesie ervaar as hulle hoor hoe lekker en veilig die lewe daar ver is. Andersyds kan hulle ook bewondering vir die emigrerende sib hê: dit kos immers moed om ’n nuwe lewe in die vreemde te begin. Dit bewys vir die sib wat agterbly dat dit moontlik is om suksesvol te emigreer, sou hulle ook die proses aanpak.

Die sib wat hier bly is heel dikwels betrokke by die versorging van die ouers en dit veroorsaak ambivalente gevoelens vir al die partye. Veral wanneer ’n ouer gehospitaliseer word en fisies meer versorging benodig asook belangrike besluite geneem moet word, is die fisiese afwesigheid van broers en susters ’n gemis.

“Wanneer my broer-hulle kom kuier word hulle soos eregaste behandel” is ’n ervaring wat talle sibbe beskryf rakende die besoeke van sibbe wat geïmmigreer het. Ouers moet bedag wees daarop om die balans te bewaar.

Hierdie kringloop van emosionele belewenisse het dan natuurlik ’n onderlinge wisselwerking. Die ouers se emosies soos byvoorbeeld hartseer, beïnvloed beide die emigrante en die agterblywende sibbe, en die emosies van al die sibbe beïnvloed hul ouers en ook mekaar.

Versterk al drie hoeke

Om die verandering in gesinstruktuur, wat emigrasie teweegbring, te verwerk, moet hierdie emosies erken word en die nuwe situasie aanvaar word. Emigrasie vereis ’n nuwe perspektief van al die gesinslede.

Die band tussen sibbe kan oor landsgrense heen, behoue bly en selfs groei, wanneer sibbe aanhou deel wat in hul lewens gebeur, mekaar bemoedig en prestasies vier. Gereelde en konsekwente kommunikasie vestig ’n roetine wat sibbe se emosionele verbinding help handhaaf. Hiervoor hou die virtuele wêreld baie moontlikhede in, soos om aanlyn speletjies te speel of om aan gemeenskaplike stokperdjies deel te neem. Daar is niks soos ’n gereelde familievasvra om gesonde kompetisie onder sibbe aan te moedig en om ’n lekkerlaggeleentheid te skep nie. Sekere sibbe reis saam, hou saam vakansie, gesels virtueel of deel in mekaar se lewens deur WhatsApp-groepe.

Hoe ’n mens dit ook al doen, die belangrikste is dat doelbewuste kommunikasie en tyd vir mekaar ’n prioriteit moet bly. Moenie toelaat dat geografiese afstand en verskillende tydsones ’n verskoning word om mekaar af te skeep nie.

’n Sib wat in Suid Afrika bly kom tot dié slotsom:

“Ek kan my besluit hoekom ek hier bly rêrig regverdig. Ja. Niemand gaan my anders oorreed nie. Ek lees dieselfde goed as julle en sien dieselfde goed – ek is nie blind daarvoor nie, ek’s nie naïef nie. Maar ek is ‘happy’ – ek is rêrig gelukkig hier en ek gun dit vir hulle. Mens verstaan nie altyd hoe jy in een huis kan saam grootword en dieselfde gene en bloedlyne en ma en pa en vakansies en herinneringe en goed hê wat jou maak tiek, en dan kan hulle net so gelukkig wees op ’n ander plek en net nou en dan hier kom “reset” nie.

Jy weet dit, jy verstaan dit nie, maar jy hoef dit nie te verstaan nie. Jy hoop maar net hulle is rêrig ook gelukkig, het vrede met waar hulle is.”

Dr. Sulette Ferreira is ’n sosiale wetenskaplike navorser en familieterapeut wat spesialiseer in berading rondom emigrasie. Kontak haar by sulette.ferreira@gmail.com of besoek www.drsulette.com.

Hierdie artikel het oorspronklik in Rapport verskyn.

Foto: Getty Images/ Unsplash

Meer oor die outeur

Dr. Sulette Ferreira

Dr. Sulette Ferreira (PhD), ’n berader en navorser in sosiale wetenskappe in privaat praktyk in Suid-Afrika,/ (wat) spesialiseer in die emosionele uitwerking van emigrasie. Baie volwasse Suid-Afrikaanse kinders het in die laaste dekade geëmigreer terwyl hulle ouers steeds hier bly. As gevolg hiervan beleef baie ouers ’n tweeledige verlies – ’n soort verlies wat dikwels nie erken word nie. Emigrasie is ’n komplekse sielkundige en sosio-ekonomiese verskynsel met ’n ernstige impak, nie slegs op die emigrant nie, maar ook op diegene wat agterbly en met die gevolge daarvan moet saamleef. As ’n professionele geregistreerde gesondheidswerker doen sy voor- en na- transnasionale berading met die fokus op die verdieping van gesinsverhoudings. Sy doen navorsing oor transnasionalisme en die uitwerking daarvan op die verhoudings tussen ouer en jonger geslagte binne families. Sy deel bewustheid onder die algemene publiek oor hierdie verskynsel wat aan die toeneem is, deur artikels te skryf en werkswinkels aan te bied.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest