Leesvordering:

Solidariteit stel aanlyn platform vir opleiding en werk bekend

Sep 1, 2023

Solidariteit swaai vandag die digitale deure na die toekoms wawyd oop met die bekendstelling van sy splinternuwe Afrikaanse aanlyn netwerkplatform wat op opleiding en werk fokus.
Solidariteit-lidmaatskap gaan jou voortaan in die middel van hierdie aanlyn arena plaas – en beslis nie nét as toeskouer nie.


Bestaande én nuwe Solidariteit-lidmaatskap word van nou af ʼn sleutel tot hierdie digitale bymekaarkomplek. By die bymekaarkomplek word leerders, onderwysers, studente of werksoekers, werknemers en werkgewers almal in een fynbeplande netwerk saamgebind. 
Selfs nielede kan gratis profiele skep om deur die venster te loer om te sien hoe die volledige aanbod van lidmaatskap lyk. Deur hierdie aanlyn gemeenskap word geleenthede ontsluit en mense in staat gestel om mekáár te help en te ondersteun. Só word Solidariteit se beginsel van #ElkeenHelpEen nou op sy heel beste uitgebeeld. 


Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, kan Afrikaanse gemeenskappe danksy hierdie soort innovasie die juk afskud van die regering wat hulle al vir so lank toegang tot werk ontsê en hulle probeer onderdruk.


“Dit is ʼn veeldoelige, moderne platform wat eenvoudig onder die naam “Solidariteit” gaan bekend staan. Dit is egter veel, veel meer as dit, en is ʼn bevrydende bewys daarvan dat ons nie van die regering afhanklik is om te kan werk nie,” sê Hermann.


Hermann sê dit kan ook beskou word as ʼn tydige teenvoeter wat intree juis wanneer die regering mense, en spesifiek Afrikanermense, wil uitskop. “Ons gaan beslis nie deur die regering van werk weerhou word nie. In hierdie nuutgeskepte digitale gemeenskap verseker ons dat almal wat wíl werk, die geleentheid kry om te kán werk. 

“Ons wil só toesien dat almal hulle volle potensiaal bereik. Dit is ons doelwit,” sê Hermann.


Die totstandkoming van die aanlyn netwerk is die gevolg van jare se visualisering, beplanning en bou. Lede gaan nou individuele profiele op Solidariteit kan skep waar slimtegnologie gebruik word om verpersoonlikte oplossings vir elkeen te vind – of jy wil leer, studeer, werk of werf.


Vanaf die besoekersportaal op www.solidariteit.co.za kan verskeie deure oopgemaak word:
–    Leerders: Hulp aan hoërskoolleerders in die vorm van omvattende e-leerkursusse vir elke graad, toegang tot ʼn omvangryke vakkeuse-videoportaal en verskeie loopbaanvoorligting-hulpmiddels.
–    Studente: Geleenthede vir skaduwerk en internskappe, sowel as inligting oor, en skakels na opleidingsinstellings as vennote – Akademia, Sol-Tech, Bo-Karoo Opleiding en die opleidingsinstituut onder Solidariteit Helpende Hand. 
–    Voortgesette leer: Die wêreld se grootste aanlyn aanbod van Afrikaanse leerkursusse vir voortgesette leer wat tot werknemers se beskikking is.
–    Werksfasilitering: Toegang tot ʼn werksoekportaal van wêreldgehalte waar mense werk kan soek wat wissel van voltydse tot tydelike werk of internskappe. Organisasies kan ook poste hier gratis adverteer.
–    Beroepsnetwerke: Toegang tot beroepspesifieke groepe waar werkgewers en werknemers gesprek voer oor geleenthede, oor die beroep sélf, en oor die organisering en beskerming daarvan.
–    Werksbeskerming: Solidariteit bied nou selfs vinniger toegang tot persoonlike beskerming van werk en inkomste, en tot relevante regsdienste. Lede met hangende sake sal binnekort ook die vordering wat met hulle sake gemaak word, op die platform kan dophou en sal weet wanneer die saak afgehandel is.
Solidariteit is immers lankal nie meer nét ʼn vakbond nie. Die ontstaan en uitbreiding van verskeie instellings van leer en werk het sy aanbod oor die jare aansienlik uitgebrei.
Die koms van hierdie aanlyn platform gaan hierdie uiteenlopende aanbod onder net een handelsnaam byeenbring – Solidariteit.


Lede gaan kan werk soek óf werk aanbied, of vaardighede kan uitbrei of ontwikkel. Ook word dit ʼn betroubare en veilige tuiste vir beroepsgemeenskappe deur die vestiging van die beroepsnetwerke – ook as ʼn persoonlike waghond vir jou beroep, in die hartjie van hierdie aanlyn gemeenskap.
Hermann sê die bekendstelling van die platform is ʼn belangrike en trotse oomblik vir Solidariteit.


“Danksy die gebruik van tegnologie word gemeenskappe nou toegerus om meer as net te droom van ʼn mooi toekoms vir ons, en veral vir ons kinders. “Werkbeskerming, soos wat die Solidariteit-vakbond nog altyd gebied het, bly steeds ʼn kernelement van hierdie aanbod – die hart van Solidariteit. Tog span ons nou die net duidelik veel wyer. Ons het immers gesê ‘as ons onseker voel oor die toekoms, dan bóú ons dit self’”, sluit Hermann af.
“En kyk net híér.”

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest