Leesvordering:

Hoër belasting vir groot boedels, maar oorrolverligting bly

Mar 15, 2018

Belastingkommentators het die feit verwelkom dat Malusi Gigaba, voormalige minister van finansies, nie ’n aanbeveling deur die Davis-belastingkomitee oor oorrolverligting vir gades in sy laaste begroting as minister geïmplementeer het nie.

Die komitee het in sy finale boedelbelastingverslag in 2016 aanbeveel dat die oorrolverligting vir gades geskrap word om die speelveld vir almal gelyk te maak. In beginsel het die komitee gesê dat almal op dieselfde wyse belas moet word – hetsy hulle getroud is of nie, en hetsy hulle gades nog leef of nie. Gigaba het egter die komitee se aanbeveling aanvaar om die huidige boedelbelasting op boedels bo R30 miljoen van 20% tot 25% te verhoog.

Hendrik van der Walt, finansiële konsultant by Talaria Wealth, verwys na die Davis-verslag wat beraam dat 48 boedels geraak sal word. Die verwagte inkomste uit die verhoging, wat in Maart vanjaar van krag geword het, beloop R150 miljoen. Die nasionale tesourie het ook maatreëls aangekondig om die opeenhoping van skenkings te beperk om die hoër boedelbelasting te vermy. Enige skenkings bo R30 miljoen in een belastingjaar sal ook teen 25% belas word in stede van die huidige skenkingsbelastingkoers van 20%.

Van der Walt sê tot dusver het hulle nie veel donasies in dié orde gesien binne een jaar nie. “Ons het geen verwysing vir die voorgestelde verandering in skenkingsbelasting nie en verwag dat die wetgewing kumulatiewe leeftydskenkings sal kombineer om te bepaal of die skenkings R30 miljoen oorskry.”

Hanneke Farrand, belastingdirekteur van Edward Nathan Sonnenbergs, sê hoewel die oorrolverligting tussen gades nie geskrap is nie, is ons boedelbelasting redelik hoog. Die Davis-verslag het ’n toename in belasbare boedels van die huidige R3,5 miljoen tot R15 miljoen aanbeveel vir alle belastingbetalers, ongeag hul verhoudingstatus. Farrand sê hierdie aanbeveling is geensins in die begroting toegepas nie. Sy sê in lande soos die VSA en die Verenigde Koninkryk is die tariewe 40%, maar die verskil is dat daar verskeie vrystellings is wat die effektiewe koers verlaag. Dit is nie die geval in Suid-Afrika nie.

Die kwessie wat nooit geopper word nie, is dat ’n effektiewe kapitaalwinsbelasting van 18% gehef word op die geagte verkoop van bates ná afsterwe van die eienaar. Farrand sê dit beteken dat twee tipes belasting op dieselfde bron van geld gehef word. Volgens die Davis-komitee is boedelbelasting van tussen 20% en 25% en ’n kapitaalwinsbelasting van 18% nie dubbele belasting nie. “Kapitaalwinsbelasting word wyd beskou as ’n inkomstebelasting op kapitaalinkomste en nie ’n welvaartbelasting nie. Boedelbelasting en skenkingsbelasting is welvaartbelasting,” het die komitee in sy finale verslag aangevoer.

Patricia Williams, voorsitter van die belastingadministrasiewerkgroep van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingkundiges, sê indien oorrolverligting geskrap word, sal transaksies tussen gades binne die belastingnet begin val, wat moontlik tot kapitaalwinsbelasting en skenkingsbelasting kan aanleiding gee. Die oorrolverligting beteken tans geen boedelbelasting, skenkingsbelasting of kapitaalwinsbelasting indien die bate van die oorledene aan die oorlewende gade oorgedra word nie. Belasting tree eers in werking met die dood van die oorlewende huweliksmaat.

Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, gaan steeds anders belas word op hul buitelandse inkomste vanaf Maart 2020. Die aanvanklike voorstel om die vrystelling op buitelandse inkomste te skrap (indien sekere kriteria nagekom word) is vervang met ’n besluit om slegs die eerste R1 miljoen van buitelandse vergoeding vry te stel van belasting in Suid-Afrika. Individue moet steeds aan die dagtoets voldoen, wat beteken dat hulle buite Suid-Afrika moet wees vir meer as 183 dae, asook vir 60 opeenvolgende dae binne ’n tydperk van 12 maande.

Suid-Afrikaners sal op die oorblywende vergoeding belas word en sal ’n belastingkrediet moet verkry ten opsigte van die belastingbedrag wat hulle in die gasheerland betaal het. Williams verwag dat slegs hoë-inkomsteverdieners geraak sal word indien hulle nie binne die volgende twee jaar nie-inwonersbelastingstatus in Suid-Afrika kon kry nie.

Meer oor die outeur

Amanda Visser

Amanda Visser werk sedert 1986 as ’n joernalis vir radio en televisie, asook gedrukte en aanlyn media. Sedert 2003 lê sy haar op finansiële joernalistiek toe en was nog nooit spyt nie. Sy spesialiseer in belasting en het al oor handelsreg, mededingingsreg en regulatoriese kwessies geskryf.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest