Leesvordering:

Holderstebolder

Okt 15, 2020

Uiteindelik! Ons is veilig in Kanada! En soos dit my en my man betaam, was die hoogtepunt van ons jaar tot dusver nét só – holderstebolder. My ma het later gesê dit het letterlik gelyk asof ons oornag gevlug het. Ons twee is bekend daarvoor dat ons oorhaastige besluite neem en nie altyd deeglik beplan voor ons iets aanpak nie, maar ’n mens sou reken dat ons die laaste stap van die ontworteling met meer voorsorg sou aanpak. Ons lewe tans egter midde in ’n pandemie, so ek reken in hierdie geval het ons aanpasbaarheid handig te pas gekom.

Die emosies is dalk nie meer so vars nie, maar ek deel graag die gebeure rondom ons vlug na ons nuwe tuiste.

Ek het vroeër genoem dat ons kandidate was vir die nuwe Rural Immigration Pilot. COVID-19 het dit egter, soos baie ander dinge, in die wiele gery en daar was geen duidelikheid oor wanneer ons aansoek verwerk sou word nie. Ons enigste alternatief was dus om aansoek te doen vir ’n werkspermit. Onder COVID-19-regulasies was die wagtydperk vir ’n werkspermit vanuit Suid-Afrika 17 weke, maar ons was besonder bevoorreg dat my man s’n binne ’n maand goedgekeur is.

Die feit dat my man ‘n noodsaaklike diens lewer en ’n geldige werkspermit het, gee hom toestemming om Kanada binne te gaan. Die vraag was egter of ek en die kinders, wat met besoekersvisums sou reis, ook toegelaat sou word. Ek het nagmerries gehad oor hoe ons drie by die grenspos weggewys word.

Ons was bewus van die vergunning dat jy met ’n besoekersvisum mag reis indien jy by ’n familielid wil aansluit, maar ek was nie bereid om alleen met die kinders te vlieg nie. Nog nagmerries. Ons kontakte in Kanada was ook glad nie ten gunste daarvan nie en ons is aangeraai om ’n motiveringsbrief vir die immigrasiekantoor te skryf wat noem dat dit in ons gesin se beste belang is dat ons almal saam reis. Boonop is jy verplig om vir 14 dae totaal te isoleer wanneer jy Kanada se grens oorsteek, en jy moet kan bewys hoe en waar jy dit gaan doen. Dit klink soos ’n vonnis. (Dit het amper soos een gevoel …)

Gedurende hierdie tyd het my man die versoek gekry om sy paspoort vir die werkspermit in te dien asook die kinders s’n vir hulle besoekersvisums. Ek het reeds ’n visum gehad wat vir 10 jaar geldig is. Ons het ons voorberei vir nóg weke se wag, maar is verbasend vinnig in kennis gestel dat die paspoorte binnekort afgelewer sou word. My man het die motiveringsbrief geskryf en dit vir sy kontakpersoon gestuur vir advies. Toe die paspoorte twee dae later opdaag, was daar twee briewe ook by die pakkie ingesluit: een wat my man toestemming gee om Kanada binne te gaan en een wat my en die kinders ook toestemming gee omdat ons ’n familielid met ’n werkspermit vergesel. Ons was oorstelp van vreugde! Nie net oor die onwaarskynlikheid dat die Kanadese twee en twee bymekaar gesit het nie, maar oor die verligting dat ons almal saam as ’n gesin mag reis.

Ons volgende groot struikelblok was Suid-Afrika se inperking en die feit dat ons ’n repatriasievlug sou moes neem. Dié vlugte is skaars en boonop uitspattig duur. Dit sou vreet aan ons begroting waarmee ons in Kanada wou huis opsit, maar ons was desperaat genoeg om dit te oorweeg. Gelukkig het ons kontak gemaak met ’n reisagent wat die beskikbare vlugte gereeld dopgehou het en vir ons vlugte kon reël vir die helfte van die prys waarop ons ons voorberei het. Die beste moontlike prys vir die beskikbare roete sou egter binne net vyf dae vertrek en ons sou moes gou spring om plek te kry. Dus het ons diep asem gehaal, die logiese besluit geneem, en holderstebolder begin pak. Ons het ons aardse besittings in agt tasse en vier rugsakke geprop.

Ons is in kennis gestel dat ons die middag van 1 September by Qatar se ambassade moes wees en vandaar sou ons met busse na die lughawe vertrek. Wat ons nie geweet het nie, is dat ons deur twee polisievoertuie en ses polisiemotorfietse vergesel sou word – sirenes en al. Ons het soos BBP’s gevoel! Die lughawe het soos ’n spookdorp gelyk; slegs die paar mense wat iets met ons vlug te make gehad het, was teenwoordig. Dit was aardig! Maar nou ja, dis vreemde tye.


Die gemaskerde Steenkamps by Qatar se ambassade

Die eerste vlug van Johannesburg na Doha was omtrent leeg en het ongeveer agt uur geduur. Daarna is ons op ’n stampvol 14 uur lange vlug na Montréal. Dit was ’n uitdaging met die twee seuntjies, maar as ek eerlik moet wees, het dit onder omstandighede baie goed gegaan. Montréal (die lughawe waar ek met my vorige besoek aan Kanada vir 24 uur gestrand was) was ook die plek waar ons die grenspos moes trotseer en met elke tree nader aan die kwaai vrou agter die toonbank het ek meer benoud geraak. Ek en my man was teen daardie tyd heeltemal gedaan omdat ons nie op die vliegtuig kon slaap nie en die kinders was ook al keelvol vir die hele affêre. Ons het egter die groen lig gekry en toe ek eers daai stuk papier in my hand vashou – ons amptelike bewys dat ons wettig in Kanada mag woon – kon ek ontspan. Ons het dit gemaak!

Ons laaste vlug na Winnipeg

Ons laaste vlug was nóg drie uur na Winnipeg in nóg ’n stampvol vliegtuigie. Klaarblyklik is Qatar en Kanada nie so paranoïes oor COVID soos Suid-Afrika nie, al moes ons al die pad met maskers en gesigskerms reis. Om 22:00 kon ons eindelik in ons huurmotor klim en die pad na Altona toe in die reën aandurf. En om 23:30 was ons uiteindelik in ons hotelkamer en kon ons amptelik met ons kwarantyn begin.

Daar was eenvoudig nie tyd om al ons geliefdes persoonlik te groet nie. Adrenalien en goddelike genade het ons daai vyf dae aan die gang gehou en ek het verbasend genoeg, vir iemand wat vir enige onbenulligheid tjank, nie ’n traan gestort met die afskeid nie. Dit was nie vaarwel nie, net totsiens.

Al het ek reeds ’n lysie items wat ek in my haas in Suid-Afrika vergeet het, was dit dalk juis ’n bestiering dat ons so holderstebolder vertrek het dat daar nie tyd was om enigiets te oordink nie. Nou kan ons gesin uiteindelik wortelskiet in Kanada se swart grond. Ons sal geduldig moet wag en kyk hoe die aanpassing vorder, want ek gaan nie jok nie – dit is ‘n ingrypende proses. Maar my hart is vol en my angs is weg.

Altona, ons nuwe tuisdorp

Besoek gerus Hesti se blog Ingedagte by https://ingedagte.blogspot.com/ waar sy dagboek hou van hul gesin se emigrasie na Kanada. Sy sê: “Met só ’n groot verandering op jou voorstoep word ’n mens maklik deur jou gedagtes oorweldig. Ek hoop my dagboek sal help om al die emosies wat daarmee gepaard gaan te verwerk.”

Meer oor die outeur

Hesti Steenkamp

Besoek gerus Hesti se blog Ingedagte by https://ingedagte.blogspot.com/ waar sy dagboek hou van hul gesin se emigrasie na Kanada. Sy sê: “Met só ’n groot verandering op jou voorstoep word ’n mens maklik deur jou gedagtes oorweldig. Ek hoop my dagboek sal help om al die emosies wat daarmee gepaard gaan te verwerk.”

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media is ʼn Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela-gemeenskap wil wees. COVID-19: Twee derdes van staat se besteding dalk...

Saai stel Die Wynboer bekend om druk op familiewynboere te verlig

Saai stel Die Wynboer bekend om druk op familiewynboere te verlig

Saai (Suider-Afrika Agri Inisiatief) se wynbemarkingsprojek, Die Wynboer, is op 22 Oktober 2020 by die Marianne-wynlandgoed in Stellenbosch bekend gestel. Die Wynboer is ’n aanlyn wynwinkel wat daarop gemik is om familieboerwyne teen kelderdeurpryse aan verbruikers...

AfriForum versoek dringende vergadering met Ramaphosa

AfriForum versoek dringende vergadering met Ramaphosa

AfriForum het vandag ’n ope brief aan president Cyril Ramaphosa gerig waarin dié burgerregteorganisasie ’n dringende vergadering met hom versoek om plaasmoorde en die toekoms van Afrikaners as kultuurgemeenskap in Suid-Afrika te bespreek. Die doel van die brief is om...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Pin It on Pinterest