Leesvordering:

Individue moet kennis neem van veranderinge in vanjaar se belastingseisoen  

Jul 14, 2020

Deur Amanda Visser

In 2020 gebeur niks soos wat ons daaraan gewoond is nie; selfs die jaarlikse belastingseisoen vir individue word anders hanteer.

Vanjaar volg die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ‘n fasebenadering met meer klem op outo-assesserings as in vorige jare. Die SAID se outo-assesserings word gebaseer op die derdepartyvoorlegging van inligting deur werkgewers, aftreefondse, mediese skemas en versekerings- en finansiële instellings. Dit stel die SAID in staat om die aantal besoekers aan sy takke te verminder en sodoende die risiko vir die oordrag van Covid-19 te verklein.

Die SAID is tans besig om die derdepartyinligting wat teen einde Mei ingedien moes wees te valideer. Hierdie inligting sal gebruik word om geselekteerde belastingbetalers se belastingopgawes vooraf in te vul. Sodra dit voltooi is, sal die belastingbetalers per SMS in kennis gestel word van die uitslag. Hulle kan die assessering aanvaar of op een van SARS se digitale platforms – eFiling en die MobiApp – wysig. As hulle nie die uitslag aanvaar nie, sal hulle egter ‘n opgawe moet indien wanneer die werklike belastingseisoen op 1 September begin.

Beatrie Gouws, hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingkundiges (SAIT), sê belastingbetalers wat onseker is of hul outomatiese belastingopgawes ‘n ware beeld is van hul persoonlike inkomste moet ‘n geregistreerde belastingpraktisyn vir advies vra. Belastingbetalers moet toesien dat die derdepartyinligting wat by die SAID ingedien is korrek is. Indien inligting verkeerd is, moet die belastingbetaler die derde party versoek om die fout reg te stel en nie die SAID nie. Die derdepartyopgawe moet gewysig en weer by die SAID ingedien word waarna die SAID se outo-assessering opgedateer sal word.

Joon Chong, vennoot by die prokureursfirma Webber Wentzel, sê belastingbetalers wat vir outo-assessering gekies word en wat uitgawes het wat nie in die derdepartyopgawes verskyn nie, moenie die outo-assessering aanvaar nie. Hulle moet liewer hul jaarlikse opgawe vanaf 1 September indien.

Belastingbetalers moet kennis neem van die nuwe indieningstydperke. Dit is aansienlik korter is as in vorige jare:

  • Nievoorlopige belastingbetalers (meestal salaristrekkers met geen ekstra inkomstes of uitgawes nie) kan hul opgawes net van 1 September tot 22 Oktober by ‘n tak indien. (Verlede jaar was dit tot 31 Oktober.) Indien hulle hulp benodig van ‘n SAID-beampte by die tak, moet hulle vooraf aanlyn ‘n afspraak maak.
  • Nievoorlopige belastingbetalers kan hul opgawes van 1 September tot 16 November op die SAID se digitale platforms indien. (Verlede jaar was dit tot 30 November.)
  • Voorlopige belastingbetalers wat eFiling gebruik, kan hul opgawes tot 29 Januarie 2021 indien.

Gouws sê: “Die tyd wat belastingpraktisyns het om nievoorlopige belastingopgawes vir persoonlike inkomste in te dien, het drasties afgeneem.” Volgens SAIT is die meeste belastingopgawes wat normaalweg deur SAIT-lede hanteer word – volgens ‘n SAIT-opname 74% – nie geskik vir outo-assessering nie.

Chong sê belastingbetalers met kwalifiserende mediese uitgawes wat nie op hul mediesefondsertifikate verskyn nie moet ook nie ‘n outo-assessering aanvaar nie. Sy raai sodanige belastingbetalers aan om ‘n skedule van hul uitgawes op te stel en gereed te hou vir indiening. Hulle moet sorg dat die dokumente (soos fakture) wat hulle as bewys van die uitgawes moet indien ook gereed is om opgelaai te word.

Persone met inkomstestrome, soos huurinkomste of -verliese, rente- en dividendbetalings, moet ook ‘n opgawe indien wat hul inkomste en uitgawes (byvoorbeeld instandhouding van die huureiendom) weerspieël.

Ander uitgawes wat ‘n verskil kan maak aan ‘n belastingbetaler se belastingpligtigheid en wat nie noodwendig deur derdepartyinligting weerspieël word nie, is donasies aan openbare welsynsorganisasies, kapitaalwinste en -verliese wat nie aangeteken is nie, reiskoste en uitgawes vir tuiskantore. Volgens Chong sal belastingbetalers met sodanige uitgawes as gevolg van hul opgawegeskiedenis waarskynlik nie gekies word vir outo-assessering nie. Sy voeg by dat belastingbetalers en belastingpraktisyns opgawes so gou as moontlik moet voorberei met die oog op die vervroegde spertye.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest