Leesvordering:

Is Suid-Afrikaners harde werkers?  

Sep 19, 2018

Dit kom soms voor asof sekere lande meer as gelukkig is om Suid-Afrikaners aan te stel, maar het Suid-Afrikaners werklik ’n beter werksetiek as ander lande? Die onlangse data van die Organisation for Economic Cooperation and Development (OECD) gaan ’n ver pad om dié sienswyse te ondersteun.

Navorsing toon dat Suid-Afrikaners veel meer ure werk as wat die wetgewing vereis, met ’n gemiddeld van 43,3 ure per week. Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) is daar maar 16 miljoen mense in Suid-Afrika wat werk, maar 85% van hulle werk meer as 40 ure per week en 30% daarvan werk meer 45 ure per week.

Top vyf in die wêreld

Suid-Afrikaners is gelys as die 5de hardwerkendste land in die wêreld. Costa Rica, Mexiko, Colombia en Turkye is die enigste lande wat langer tyd aan hul werk spandeer. Israel is kort op Suid-Afrika se hakke met 40,4 ure per week. Volgens die Universiteit Stellenbosch (US) se Buro vir Ekonomiese Navorsing is die hardwerkendste sektore in Suid-Afrika die mynbedryf, die groot- en kleinhandelsektor, die finansiële sektor en die versekeringsektor.

Australië, Nederland, die VSA en Nieu-Seeland

Nieu-Seeland en die VSA werk ook amper 40 ure per week met onderskeidelik 37,6 en 38,6 ure, terwyl Australiërs sowat 35 ure werk. Nederland is een van die lande wat die minste ure per week werk met ’n gemiddeld van 29,2 ure.

Suid-Afrikaners spandeer ook nie noodwendig al hulle tyd by hulle hoofsaaklike werkgewer nie en dit kan beteken dat Suid-Afrikaners bereid is om ekstra te werk vir ekstra inkomste. Talle Suid-Afrikaners sit natuurlik die ure in maar meet ook nie noodwendig goed op die produktiwiteitglyskaal nie. In terme van samewerking tussen werkgewers en werknemers is Suid-Afrika volgens die WEF Global Competitiveness Index 134ste uit 144 lande gelys. Dit gaan gepaard met Suid-Afrika se hoë syfer van ongeskoolde werknemers en toenemende misdaadsyfers.

Etiek in die werkplek

Besigheidsetiek is weer iets heeltemal anders. Dit gaan nie eens oor die impak daaraan verbonde indien iemand met sy hand in die koekieblik betrap word nie, maar die persepsie daarvan in die maatskappy. Suid-Afrikaners wat in die buiteland werksaam is sal dalk hiervan getuig. Sekere lande het ’n baie hoë besigheidsetiek en skep ’n omgewing waar groepsdruk onetiese gedrag amper onmoontlik maak. Suid-Afrika het ongelukkig nie ’n goeie reputasie wanneer dit kom by etiek nie.

Die pas van korrupsie in die regering neem toe, selfs al word meer individue vasgetrek. In die privaat sektor eis gierigheid ook sy tol. Maar lande soos Australië voel ook die druk indien ekonomiese groei aan die afneem is. Volgens Business Insider glo 27% van Australiers dat dit algemene gebruik in hulle industrie is om mense om te koop vir kontrakte en 31% is daarvan oortuig dat maatskappye hulle finansiële verslae beter probeer voorhou as wat dit werklik is. ’n Skokkende 17% van mense glo dat dit aanvaarbaar is om verslae te verdraai ten einde finansiële doelwitte te haal. Besigheidsetiek is ’n stryd wat wêreldwyd gevoer word.

Mees etiese lande ter wêreld

Die lande waar werknemers die minste die wet oortree, wat positiewe organisatoriese waardes handhaaf en dit regkry om universele etiese beginsels soos regverdigheid en eerlikheid te beoefen, is:

  1. Japan
  2. Spanje
  3. Duitsland

En volgens die Global Business Ethics Survey is die lande heel onder aan die lys Rusland, Brasilië en Indië. Een van die faktore wat in ag geneem is, is werknemers wat leuens vertel. Slegs 11% van Japanese werknemers sal ’n leuen vertel terwyl 37% van werknemers in Brasilië dit as aanvaarbaar beskou.

Werkgedrag in ander lande

Vir Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk is daar talle uitdagings. Behalwe om aan ’n nuwe werkplek se besigheidsetiek gewoond te raak, moet daar ook rekening gehou word met die gedrag en gewoontes wat deel is van die nuwe werkkultuur. Die eerste stap is om ooreenkomste te vind tussen jou eie werkgewoontes en iemand anders s’n. As jy agterkom dat jou nuwe werknemers net so taakgeoriënteerd soos jy is of ook bereid is om tot ná vyf te werk, gee erkenning daaraan. Verder moet jy leer om oop te wees vir nuwe positiewe gebruike, soos byvoorbeeld om daaraan gewoond te raak om middagetes te neem of meer direkte en oop kommunikasie aan te leer.

Pas só aan

Om in die buiteland te werk is ’n reusegeleentheid om jou horisonne te verbreed. Gebruik elke geleentheid om nie net met jou Suid-Afrikaanse hardwerkendheid te spog nie, maar ook om jou eie gedrag en gewoontes in die werkplek te verbeter. Etiek kan ook in een land iets anders beteken as in ’n ander. Dit is dus jou eie verantwoordelikheid om jou pad te vind en vir jouself te besluit waar jy die lyn trek. Dit is maklik om met ’n negatiewe kultuur meegesleur te word. Kyk daarom die kat mooi uit die boom voordat jy ’n werksgeleentheid aanvaar. Die beste manier om jou eie etiek te bewaar is om te verseker dat jou waardestelsel in lyn is met jou werkgewer.

Meer oor die outeur

Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Meat Point Switserland

Onderneming in die Kollig: Meat Point Switserland

Wêreldwyd se Wêreldgids skep ’n suksesvolle netwerk om Suid-Afrikaners in die buiteland met mekaar in aanraking te bring sodat jy Suid-Afrikaanse ondernemings in jou omgewing kan ondersteun. Vat die kans en word deel van hierdie netwerk. Netwerke is nie net vir...

Leesgenot vir die jongspan: ʼn Boek vir Desember

Leesgenot vir die jongspan: ʼn Boek vir Desember

Hou die kinders besig gedurende die skoolvakansie! Briewe van Mieliepit Ontmoet vir Mieliepit: ’n baie pittige troetelhoender van Bloemfontein. ’n Bietjie lui (sal sy self erken), en baie lief vir gesels, skryf sy die allersnaakste briewe aan ene Liefsteling. Sy...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest