Leesvordering:

Kom ons reis na Suid-Afrika. Wat moet jy weet?

Feb 23, 2022

Die laaste twee jaar het lank gevoel vir dié wat terugverlang huis toe. Daar is natuurlik jou mense wat jy wil sien. En dan mis ’n mens natuurlik ook die reuk van ’n tjoppie op die vuur, of potjiekos wat borrel op die kole. ’n Mens mis Suid-Afrikaners se sin van humor en daardie lekkerte om jou eie taal in jou ore te hoor.

Noudat die reismaatreëls weer verslap het, kan jy begin uitsien na ’n Suid-Afrikaanse vakansie. Hier is ’n paar wenke wat jou kan help met jou reëlings.

Ken jou Covid-regulasies

Suid-Afrika is tans op vlak 1 van inperking, die vlak waarop mense die meeste vryheid geniet.

Die grootste Suid-Afrikaanse lughawens, soos OR Tambo en Lanseria in Gauteng, King Shaka in Durban, en Kaapstad Internasionale Lughawe, is oop vir internasionale reisigers. Die Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe is ook oop vir mense wat graag ’n safari wil inwerk.

Onthou om jou Covid-toets vooraf te doen en die bewys dat jy negatief is byderhand te hou. Jy gaan dit op die lughawe moet toon. Neem kennis dat jou toets moet erken word deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), en dit moet binne 72 uur voor jou vertrek gedoen word. Ouer toetse is nie geldig nie.

As jy nie ’n sertifikaat het nie, sal jy by die lughawe gevra word om ’n antigeentoets te doen, en as jy positief toets sal jy eers vir tien dae moet isoleer. Jy sal self verantwoordelik wees vir al hierdie kostes.

Hoe werk reis in die binneland?

Die meeste Suid-Afrikaanse lughawens is oop vir binnelandse vlugte, dus kan jy ’n toer deur die land beplan! Maak net mooi seker al jou bestemmings voldoen aan die vereistes van die nuutste inperkingsmaatreëls.

Openbare vervoer soos treine, busse, privaat taxi’s en dienste soos Über of Bolt kan gebruik word. Vir lang afstande mag busse en taxi’s slegs 70% vol wees, maar oor kort afstande kan hulle 100% van hul kapasiteit neem.

Wil jy bietjie na Suid-Afrika se buurlande reis? Nie alle landsgrense is oop nie, so doen vooraf navorsing om seker te maak jy stop nie voor ’n grenspos wat gesluit is nie.

Wat is die algemene Covid-regulasies?

Onthou dat die dra van gesigmaskers in hierdie stadium steeds verpligtend is volgens wet, en jy mag glad nie geboue binnegaan of openbare vervoer gebruik sonder een nie. Druk dus ’n masker in jou tas, handbagasie en broeksak – ’n mens is alewig op soek na ’n masker.

Let wel, kinders onder ses jaar hoef nie maskers te dra nie.

Wat moet jy weet oor paspoorte?

Maak dubbel seker jou paspoort is nog geldig voordat jy vliegtuigkaartjies koop. Jou paspoort moet geldig wees vir minstens 30 dae voor jou reisdatum, en jy moet ten minste twee skoon blaadjies in jou paspoort hê vir stempels.

’n Verdere vereiste wat geld, is dat ’n burger van Suid-Afrika wat meerdere burgerskappe het, altyd moet sorg dat sy/haar Suid-Afrikaanse paspoort geldig bly, en wanneer na Suid-Afrika gereis word, moet die Suid-Afrikaanse paspoort sonder uitsondering gebruik word om Suid-Afrika binne te kom en die land weer te verlaat.

Het jou paspoort verval? Jy gaan persoonlik vir jou paspoort aansoek moet doen, hetsy jy hier in Suid-Afrika is of oorsee.

As jou kinders jonger as 15 is en Suid-Afrikaanse burgers is, kan hulle ’n toeristepaspoort kry wat vir vyf jaar geldig is. Suid-Afrikaanse burgers wat 16 jaar en ouer is kan ook vir toeristepaspoorte aansoek doen. Hierdie paspoorte is vir tien jaar geldig.

Daar is streng regulasies rondom reisdokumente vir kinders, doen dus behoorlik navorsing voor jou aansoek. Albei ouers en die kinders moet saam by Binnelandse Sake of die konsulaat wees daarvoor, en beide ouers moet die aansoekvorms teken.

Daar is altyd ’n klomp papierwerk as ’n mens oorsee wil reis, maar hou moed. Op die ou end kan jy jou skoene uitskop op Hermanus se strand; Klippies & Cola drink terwyl jy uitkyk oor die Bosveld; of die natuurskoon inasem in Knysna se woude. Dit verryk mos die siel.

Hou ook die volgende in gedagte as jou tasse gepak is vir ’n reis na Suid-Afrika:

● Hou jou inentingsertifikaat byderhand wanneer jy sportbyeenkomste, feeste of byeenkomste wil bywoon om te bewys dat jy ingeënt is. Dit sal die bywoning van verskeie aktiwiteite vergemaklik tydens jou besoek aan in Suid-Afrika.
● Dit is belangrik om ’n paar randjies in jou sak te hou vir besienswaardighede en besighede wat kontant aanvaar. Sommige kleinhandelaars en selfs besienswaardighede soos SANParke het betaling met kontant gestaak, en maak nou gebruik van stelsels soos Yoco en Snapscan vir vinnige, veilige transaksies.

LEES OOK: Wat hou die toekoms van internasionale reis in?

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest