Leesvordering:

Kuberafknouery – Wat ouers moet weet

Nov 29, 2022

Deur Leandie Bräsler

Tegnologie ontwikkel op ’n daaglikse basis. Dieselfde kan gesê word van kinders se vermoë om te boelie: Boeliegedrag wat eens net op die skoolterrein of op die skoolbus plaasgevind het, het nou beweeg na boeliegedrag deur die gebruik van tegnologie en sosiale media, genaamd kuberafknouery. Kinders se behoefte om met hulle maats te kommunikeer is nog steeds dieselfde, maar die maniere hoe hulle kies om met mekaar te kommunikeer het geweldig verander. Kinders vra reeds van ’n jong ouderdom af vir elektroniese toestelle, soos selfone, tablette of speletjies. Dit bly immers nie net daar nie, want hulle wil ook toegang hê tot sekere sosialemediaplatforms, om aanlyn speletjies te speel en om persoonlike inligting te deel.

Wanneer boeliegedrag aanlyn plaasvind kan dit vir jou kind voel asof hy/sy van alle kante af aangeval word. Dit kan langtermyngevolge in die volgende drie areas veroorsaak:

  1. Geestelik (ontsteld, verleë, bang, kwaad)
  2. Emosioneel (skaam, verloor belangstelling in dinge waarvan jy hou)
  3. Fisies (moegheid, ervaar simptome soos maagpyn en hoofpyn)

Definisie van kuberafknouery

Kuberboelie is waar tegnologie gebruik word om iemand herhaaldelik of doelbewus seer te maak, te teister, te verneder, in die verleentheid te stel, of om iemand te intimideer.

Gevolge van kuberafknouery

  • Kinders sukkel met konsentrasie wat dan weer ’n invloed op akademiese prestasie kan hê, soos daling van punte.
  • Kuberafknouery wat ernstig is en oor ’n lang tydperk plaasvind kan lei tot angstigheid of depressie.
  • In sommige gevalle vind selfdood of pogings tot selfdood plaas.

Tekens dat kinders kuberafknouery beleef:

  • Hulle is ontsteld of emosioneel nadat hulle van die toestelle of die internet gebruik gemaak het.
  • Hulle bring meer tyd as gewoonlik in hulle kamers deur.
  • Hulle is geheimsinnig of beskermend oor hulle elektroniese toestelle soos bv. selfone.
  • Hulle onttrek van vriende, familie of sosiale aktiwiteite.
  • Hulle vermy skool- of groepsbyeenkomste.
  • Daar is ’n verandering in gedrag, buie, eetgewoontes of slaappatrone.
  • Hulle is senuweeagtig wanneer hulle ’n boodskap ontvang.

Hoe kan ouers help?

Wanneer jou kind ’n slagoffer van kuberafnouery is, kan jy die volgende doen:

  • Bied ondersteuning: Gesels met jou kind deur dalk van jou eie boeliestories met hulle te deel. Op so ’n manier kan jy ook jou kind meer oor empatie leer. Hulle moet weet dat hulle nooit alleen is nie.
  • Luister: Luister na wat jou kind te sê het sonder om enige oordeel te vel. Dit is belangrik dat hy/sy gemaklik voel met jou optrede en dat hy/sy ’n sekere gevoel van mag en beheer het oor die situasie.
  • Hou rekord: Neem skermskote van dreigende of onvanpaste boodskappe of foto’s. Dit kan as bewysstukke gebruik word wanneer daar met die skool, die boelie se ouers, of selfs die polisie gekonsulteer word. Maak seker dat jy die bewysstukke iewers stoor vir wanneer jy dit nodig gaan kry.
  • Stel die skool in kennis: Gesels met jou kind se onderwyser, die skool se sielkundige/ berader, of die hoof oor die probleem. Vra die skool se boeliebeleid aan, want op so ’n manier kan ouers en onderwysers saam werk om oplossings te bied vir kuberafknouery. Voordat jy met die skool kontak maak, laat weet jou kind ook dat jy dit gaan doen en werk saam met jou kind aan ’n plan oor hoe julle die situasie gaan hanteer – dit sal hulle bemagtig.
  • Laat jou kind weet dat dit nie sy/haar skuld is nie: Boeliegedrag sê meer oor die boelie as oor die slagoffer. Stel jou kind gerus en maak seker dat hy/sy weet dat jy altyd daar is dat julle saam hierdie situasie sal hanteer. Bedank ook jou kind vir sy/haar eerlikheid en openlikheid oor die feit dat hulle geboelie word. Vertroue tussen ’n ouer en ’n kind is baie belangrik en dit begin by ouers om daardie openlikheid en eerlikheid te kweek.
  • Moedig jou kind aan om nie op die boeliegedrag te reageer nie: Wanneer ’n kind op boeliegedrag reageer, gee hy eintlik vir die boelie wat hy wil hê. Dit is beter om die boelie te ignoreer, want die boelie sal vinnig agterkom dat hy geen reaksie uit sy optrede kry nie.
  • Kry hulp: Wanneer jou kind emosioneel of angstig is en kuberafknouery ervaar, kan jy hulle aanmoedig om met iemand soos ’n berader of ’n sielkundige te gesels.

Ander prosesse wat jy as ouer kan volg om proaktief op te tree as dit kom by kuberafknouery:

  • Moedig jou kind aan om die boelie te blok.
  • Monitor jou kind se sosiale media verbruik. (Jy is die ouer wat die elektroniese toestel of selfoon vir jou kind gekoop het, daarom het jy die reg om enige tyd daardie toestel te vat sodat jy kan sien wat daar aangaan en om die wagwoord te weet.)
  • Wees vertroud met die webtuistes, speletjies en toepassings wat jou kind gebruik.
  • Wees deel van jou kind se aanlyn wêreld, soos byvoorbeeld om hulle op Instagram of op TikTok te volg of te bevriend.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en om die teenboeliegids gratis af te laai, besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Meer oor die outeur

Leandie Bräsler

Leandie Bräsler is bestuurder van junior leierskapontwikkeling by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Die jaar wat my lewe verander het!

Die jaar wat my lewe verander het!

Deur Clarice de Jonge Wanneer jy voel asof die wêreld te klein is vir jou en jy soveel meer betekenis aan jou lewe wil gee, is dit ’n teken om ’n groot wilsbesluit te neem en jou horisonne te verbreed. Aan die einde van 2021 het ek ’n gewaagde besluit geneem om my...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees in Richmond

Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees in Richmond

Hallo, Jaco! Dit is lekker om met jou te gesels. Die Suid-Afrikaanse Braai-en-potjiefees het op 19–21 April 2024 plaasgevind. Vertel ons meer. Verlede jaar het ons 500 feesgangers gehad, wat dit die grootste byeenkoms van Suid-Afrikaners in die VSA gemaak het. My doel...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest