Leesvordering:

Kultuuretiket waarvan jy bewus moet wees as jy reis

Mar 30, 2022

Dit is altyd goed om ingelig te wees oor ander lande se kultuuretiket en dit te verstaan, hetsy jy iewers heen reis om vakansie te gaan hou of vir besigheid. Hoe anders gaan jy weet wanneer jy in Sub-Sahara Afrika kom dat iemand groet wanneer hulle voor jou spoeg, of dat jy nooit jou skoensole sigbaar moet maak in Arabiese lande nie?

Jy kan jouself baie vernedering spaar deur jou kennis op te skerp oor wanneer jy iemand ’n ekstra fooitjie moet betaal en hoeveel hulle eintlik verwag, hoe hulle verwag jy hulle moet groet, en wat hulle beskou as goeie maniere aan die etenstafel.

Hier is ’n paar etiketriglyne van regoor die wêreld waarvan jy dalk nie bewus is nie:

Australië

Australië is ’n diverse land met meer as 5 miljoen immigrante uit 160 lande. Stigtelikheid is uiters belangrik in Australië en ’n handskud is net so noodsaaklik soos in Suid-Afrika. ’n Vrou se hand word ook geskud, alhoewel vroue nie ander vroue se hand skud nie. Die “V”-teken (die gebruik van jou wysvinger en middelvinger met jou palm na vorentoe) word beskou as ’n vulgêre teken, so ook om jou duim op te hou. Wanneer ’n man alleen met ’n taxi ry, word daar van hom verwag om op die voorste sitplek te sit.

China

Familie is die meeste Chinese se hooffokus en ouderdom en rang word baie belangrik geag. In China kan jy mense gerus groet met ’n handskud. Drukkies is nie aanvaarbaar nie. As jy in ’n vergadering is, gee altyd die ander mense eerste geleentheid om die vergadering te verlaat en wees voorbereid daarop dat vergaderings lank aanhou. Onthou ook dat wanneer jy ’n vrou groet, hulle altyd hul nooiensvan behou. As iemand vir jou ’n geskenk gee, neem dit in ontvangs met beide hande. Dit is ook goeie maniere om ’n bietjie kos in jou bord oor te los en nie alles op jou bord te eet nie.

Frankryk

Die Franse is trots op hulle kultuur, taal, geskiedenis en hul waardes. As jy nie Frans praat nie, of dit nie vlot praat nie, is dit gepas om verskoning daarvoor te vra. Spreek iemand op hul gepaste titel en van aan, eerder as op hulle voornaam. Wag eerder totdat die persoon aandui dat jy hom of haar op hulle naam kan noem. Dit is belangrik om netjies aan te trek en professioneel voor te kom. Franse hou nie van debat of konflik in ’n openbare ruimte nie en wil ook nie voel jy probeer hulle dwing om iets by jou te koop nie. Dit is aanvaarbaar om wyn saam met jou ete te drink, maar moet verkieslik nie besigheid bespreek tydens ete nie.

Duitsland

Duitsers waardeer orde, privaatheid en stigtelikheid. In ’n besigheidskonteks word humor nie waardeer nie en jy moet ook nooit met jou hande in jou sakke staan nie. Jy moet jouself by ’n sakegeleentheid met jou titel en jou van voorstel, nie jou naam nie. In Duitsland is dit ongeskik om die “goed so” teken te wys waar jy jou wysvinger en duim saambring om ’n sirkel te maak, aangesien dit nie ’n aanvaarbare gebaar is nie. Om jou duim in die lug te hou beteken om iemand sterkte toe te wens, wat wel aanvaarbaar is. Onthou ook om jou kop te knik as jy iemand se hand skud, dit sal ’n goeie indruk laat!

Japan

Moenie ’n fooitjie gee wanneer jy by ’n restaurant eet of as ’n taxibestuurder jou help om jou tasse uit te laai nie. Dit word as ’n belediging gesien aangesien hulle uitnemende diens as die standaard beskou. As iemand met jou ’n gesprek voer, is dit belangrik om jou kop te knik sodat die persoon sien jy luister. Moet nooit na iemand wys met vier vingers platgestrek voor jou uit met jou duim ingevou nie. Japanese waardeer dit as jy enige kennis wys van hulle kultuur. Moenie ’n drankie weier wanneer jy saam met hulle eet nie. Laat ook altyd die ander persoon toe om vir jou ’n drankie in te gooi, eerder as wat jy vir jouself skink. Probeer ook vermy om die woord “nee” te sê. Dit word in sowel Japan as Indië beskou as baie ongeskik.

Nog unieke etiketreëls van oor die wêreld:

  • In Brittanje hou mense nie sommer met mekaar oogkontak nie.
  • In Amerika is dit aanvaarbaar om oor besigheid te praat tydens ete – of dit nou ontbyt, middagete of aandete is.
  • In Griekeland word enige handgebaar waar jou palm na buite wys (soos om “stop” te wys of om te waai) as onaanvaarbaar beskou. As jy vir iemand totsiens wil waai, moet jy eerder jou palm na binne wys.
  • Wanneer jy in Indië ’n huis binnegaan, sal daar dikwels van jou verwag word om jou skoene uit te trek.
  • As jy in Indië is, moenie vir jou gasheer dankie sê ná afloop van ’n ete nie. Dit word gesien as ’n vorm van betaling en is daarom beledigend.
  • In Amerika is dit in ’n besigheidskonteks nie altyd aanvaarbaar om ’n dankie-sê geskenk te gee nie, aangesien dit as omkopery gesien kan word.

Alhoewel die meeste mense verstaan dat jy ook volgens jou eie kultuur gaan optree, bou dit net vinniger vertroue as jy ander se kultuur probeer verstaan. Doen jou bes om respek te wys met jou liggaamstaal. Maak dit duidelik dat jy jou kollegas wil tegemoetkom tydens formele vergaderings en laat elkeen wat jy teëkom, gemaklik voel in jou teenwoordigheid!

Is daar enige interessante kultuuretiket wat jy in die buiteland moes aanleer? Laat weet ons by wêreldwyd@afriforum.co.za.

LEES OOK: Kultuurskok – jy is nie immuun daarteen nie

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest