Leesvordering:

Liefde vier hooggety in nuwe Wynand en Chereé-duet en –musiekvideo!

Mar 23, 2020

Nadat sy vir amper tien jaar tjoepstil was, het Suid-Afrika se Country-liefling, Chereé, in 2019 ’n splinternuwe album – Wilde Waters – uitgereik. Hierdie album is ongelooflik goed ontvang en kan beskryf word as een van die mees suksesvolle vrystellings van haar loopbaan.

Nie net is dié pragtige sangeres – kort na die bekendstelling van haar nuwe album – aangewys as  Sangeres van die Jaar by die 2019 Bokkie-toekennings nie, maar Wilde Waters (die titelsnit en album) is ook benoem as Liedjie van die Jaar en Album van die Jaar. Die musiekvideo van hierdie treffer, wat deur Christian Wolf verfilm is, is ook deur duisende mense op YouTube gekyk.

Nou is dié brunet; en haar ewe-talentvolle man en sangmaat, Wynand Strydom; terug in die kollig met ’n splinternuwe enkelsnit en musiekvideo wat beslis musiekharte gaan laat smelt.

HIERDIE HART VAN MY is ’n pragtige liefdesballade uit die pen van, Tony Ridgeway, wat ook dié glanspaar se heel eerste duet, Dit Is Ons Lewe, geskryf het. Volgens hulle som dit presies op hoe hulle oor mekaar voel, omdat hulle harte altyd aan mekaar sal behoort.

“Ons sit al vyf jaar met hierdie liedjie, maar wou wag vir die perfekte oomblik om dit met aanhangers te deel. Vanjaar is ons tien jaar getroud en hierdie goedvoel-snit is die perfekte manier om dit te vier,” verklap die sangeres. “Ons leer nog elke dag oor die huwelik en ons sê ook altyd dat ons beslis nie perfek is nie, maar dat ons perfek vir mekaar is!”

Chereé glo verder dat luisteraars sal aanklank vind by die boodskap en die lekkerluister wysie terdeë sal geniet. “Ons het oor die jare geleer dat ’n verhouding nie sonder probleme of struikelblokke kom nie, maar ons geheim is dat ons oor alles gesels en dat daar niks is wat ons nie saam kan oorwin nie. Ons huwelik is vir ons belangrik daarom is dit die moeite werd om seker te maak ons bly altyd bymekaar en dat ons altyd met mekaar kan eerlik wees,” verduidelik sy.

Hierdie besonderse liedjie word dan ook gekomplementeer deur ’n treffende musiekvideo, wat deur Dry Ink Films in Langebaan verfilm is. Die storielyn is eenvoudig gehou om klem te plaas op die besonderse aantrekkingskrag en band wat tussen die paartjie bestaan en volgens hulle die wenbestanddeel in hulle verhouding is.

Dis eerlik. Na al die jare is dit nogsteeds vir ons maklik om in mekaar se oë te kyk. Ons is eintlik baie bevoorreg, want musiek hou die “spark” tussen ons lewendig!,” sê sy. “In ’n tyd waar mense sukkel deur die lewe en negatiewe ervarings moet deurgaan, is die boodskap van die liedjie vars en opreg! Ons sal aanhou werk aan ons verhouding en aanhou om ons huwelik en mekaar eerste te plaas. Dis immers nie te moeilik nie, want na al die jare is ons nogsteeds beste vriende. Ons is mekaar se steunpilare wat mekaar regop hou deur die lewe.”

HIERDIE HART VAN MY is die derde enkelsnitvrystelling vanaf haar nuutste album, wat bestaan uit dertien snitte wat deur die kunstenaar self, asook ander gesoute liedjieskrywers soos Rudi Claase, Vaughan Gardiner, Hugo Ludik, Michael Lindt, Tony Ridgway en Roux Cloete, geskep is.

Dit volg in die suksesvolle voetspore van die titelsnit, uit die pen van Rudi Claase, en die popliedjie, Praat, wat deur Vaughan Gardiner en Hugo Ludik vervaardig is.

Chereé tree al professioneel op sedert sy nege is en het haar debuut-album op die ouderdom van negentien opgeneem. “My ouers het my talent op ’n jong ouderdom ontdek. Dit beteken dat ek vir dertig jaar in die musiekbedryf werk,” vertel sy. “Musiek was nog altyd ’n belangrike deel van my lewe. Ek vind vetroosting en geluk daarin. Ek is dankbaar vir die mense wat, oor die jare, my gehelp het en in my geglo het. As daar nou een les is wat ek geleer het, is dat jy nooit moet opgee nie.”

’n Musiekloopbaan wat oor drie dekades strek, sluit natuurlik baie hoogtepunte in en Chereé lys die oomblikke wat vir haar uitstaan soos volg: Die huldeblykvertoning wat sy vir Carike Keuzenkamp gedoen het by die SAMA-toekenningseremonie in 2010 – waartydens Carike by haar aangesluit het op die verhoog; ’n duet met Toni Wille van die groep Pussycat by Aardklop; en om Albert Hammond se vertoning te kon open by Aardklop. “Dit was ongelooflik om die verhoog met sulke groot name te deel,” sê die musikant.

Oor haar planne vir die toekoms, verklap dié meisie met haar fluweelstem: “Ek gaan aanhou hard werk en sing! Alhoewel daar baie uitdagings is, is ek passievol oor musiek en wil ek aanhou doen waarvoor ek lief is.”

Sy voeg verder by dat sy dit steeds vreeslik geniet om voor mense op te tree: “As ek net een persoon se hart kan raak tydens ’n vertoning, is my werk gedoen. Dit is juis vir die mense wat ons aanhou ondersteun en drukkies en komplimente deel, wat ek aanhou sing. My familie kom egter eerste. Ek wil vir my kinders leer dat as jy hard werk en passie het vir wat jy doen, jou drome kan waar word.”

Wynand, wat in Pretoria grootgeword het, meen dat hy eers nadat hy sy onderwysgraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf het regtig sy sangtalent ontdek het. Musiek is egter in sy gene, want daar is heelwat musikante in sy familie, soos Kupido, Alan Lad, Karen Wessels en Koos van der Merwe. “Om my vrou, Chereé, te ontmoet was voorwaar een van die grootste hoogtepunt van my lewe. Dis lekker om my musiekreis met iemand te deel wat dit verstaan en sy is my grootste aanhanger, beste vriend en lewensmaat,” vertel hy met ’n vonkel in sy oog. Hy en Chereé, wat twee pragtige kinders het, het reeds drie duet-albums saam opgeneem en ’n nuwe een word vir die nabye toekoms beplan.

Oor die afgelope agtienjaar, het hy vir homself ’n stewige plek in die Afrikaanse musiekbedryf gevestig en het hy al die verhoog met bekende name gedeel en by die grootste musiekfeeste opgetree. Sy vorige album, Skielik Is Ek Vry, is ’n treffende huldeblyk aan Koos du Plessis en is baie goed ontvang.

HIERDIE HART VAN MY is nie net ’n bewys van beide sangers se uitsonderlike talent nie, maar sal aanhangers ook herinner hoekom dié paartjie Suid-Afrika se lieflinge is en bly.  Die liedjie is ook beskikbaar op Chereé se album Wilde Waters op alle digitale platforms hier https://umgafrica.lnk.to/wildewaters

VOLG HAAR OP SOSIALEMEDIA

Facebook: https://www.facebook.com/Cheree-146481635369938/

Twitter: @chereestrydom

Instagram: @chereestrydom

VOLG HOM OP SOSIALAMEDIA

Facebook: https://www.facebook.com/wynandstrydomvol/

Twitter: @wynandstrydom

Instagram: @wynand_strydom

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest