Leesvordering:

Natuurhoekie – Nuwejaar vir die nuwejaarsvoël

Jan 11, 2023

Deur Alana Bailey

In die eerste week van die nuwe jaar, vind ek toe op Facebook uit daar is ’n nuwejaarsvoël ‒die gestreepte nuwejaarsvoël (Oxylophus levaillantii) om meer presies te wees. In Engels staan dit as Levaillant’s cuckoo bekend. Dit is vernoem na die Franse ontdekkingsreisiger, François le Vaillant (1753-1824).

Mannetjies en wyfies lyk eenders. Volwasse voëls het ’n swart rug met ’n groenblou glans. Op die wit bors, keel en ken is daar swart strepe, maar die maag is net roomwit. Die voëls het ’n kuif van swart vere en ’n lang stert wat herinner aan dié van ’n kwêvoël. Jonger voëls se rûe is roesbruin. Hulle word tot 40 sentimeter lank en kan tot 140 gram weeg.

Nuwejaarsvoëls kom wyd oor Afrika suid van die Sahara voor en migreer binne die kontinent. Hulle verkies ’n beboste gebied, savanne met doringbome, rivierwoud of area met struike as habitat. Hulle word nie tans as bedreig beskou nie.

Hulle broeityd is in die reënseisoen, wat waarskynlik verklaar waar die Afrikaanse naam vandaan kom: hulle word veral om Nuwejaarsdag gereeld gesien. Soos ’n mens uit die Engelse naam koekoek kan aflei, is hulle broeiparasiete. Hulle bou self nie neste nie, want die wyfie lê haar eier in katlagters se nes terwyl die mannetjie die arme niksvermoedende voëls se aandag aflei en hulle van hulle nes weglok. Soms sal die wyfie selfs ander eiers in die nes breek of uitstoot om ’n beter kans vir haar kuiken se voortbestaan te skep. Wanneer die kuiken uitbroei, sal dit meestal vreedsaam saam met ander kuikens in die nes bly, tot dit 9 of 10 dae later die nes verlaat. Die pleegouers moet dit vir tot ’n maand lank aanhou voer voordat dit self begin kos soek.

Nuwejaarsvoëls se vernaamste bron van voedsel is ruspers en ander insekte, maar jonger voëls eet ook plantmateriaal. Mannetjies sal soms ruspers vir wyfies bring om hulle aandag te trek. Hulle is nogal baie raserige voëls – soos wat dit maar gaan met gaste by ’n nuwejaarspartytjie!

Meer oor die outeur

Alana Bailey

Alana Bailey is Hoof van Kultuursake by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

Wêreldgids in fokus: Nederland

Wêreldgids in fokus: Nederland

AfriForum Wêreldwyd is hier om jou te help deur al die uitdagings om aan te pas in ’n nuwe land. Die beste manier om te verseker dat jy die beste jy is wat jy in ’n nuwe omgewing kan wees, is deur ’n netwerk te bou. Netwerke is nie net vir sakelui nie; dit is ook ’n...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest