Leesvordering:

Nuut by LAPA in Maart

Mar 14, 2019

Jeanette Ferreira, Murray la Vita, Madelein Rust, Peter Church, Fanie Viljoen, Jaco Jacobs, Dina Botha, Malene Breytenbach, Vita du Preez …

FIKSIE

Bloedlelie

Jeanette Ferreira

Literêre fiksie

9780799393651

R295,00

Die bloedlelie bloei soos ’n mens wat liefhet of ly, vandaar die titel.

In die somer van 1838 vertrek die Voortrekkerleier Piet Retief en sowat 100 man na die Zoeloekoning Dingaan om oor grond vir die trekkers te onderhandel. In die laer by Doornkop wag sy vrou, Magdalena, op hul terugkeer, iets wat natuurlik nooit gebeur het nie.

Byna 180 jaar later is Hanna op soek na wat ook al Magdalena nagelaat het.

Bitter min is bekend oor Magdalena en haar lewe ná 1838, afgesien van haar brief in 1841 aan haar skoonfamilie, en in Pietermaritzburg staan haar huisie vandag nog; dit is nou ’n klerewinkel. Kort voor haar dood in 1854 besoek ’n handelaar die weduwee in Potchefstroom en staan in sy boek ’n paragraaf aan haar af.

Bloedlelie is ’n verwikkelde, literêre roman en speel op twee vlakke af: die hede en verlede.

In die hede ervaar die leser gesprekke en hofsake oor grondeise. In die verlede soek die Voortrekkers grond. Die afwisseling bring ’n eiesoortige dinamika na dié roman. Die eietydse karakter Adriaan verduidelik dit só: “Te veel mense, te min grond. Een groep wat ’n ander verjaag, wat maak dat die verjaagdes weer ’n ander groep aanval. Kos. Hongersnood.”

Bloedlelie is ’n polities eerlike roman. Daar word nie kant gekies tussen swart en wit nie; trouens, Ferreira slaag daarin om albei kante se sterk en swak punte gebalanseerd uit te beeld.

Helene de Kock, self ’n bekende skrywer, sê: “Bloedlelie is ’n merkwaardige en belangrike roman uit die pen van ’n vaardige, gesoute skrywer. Verskriklike en weersinwekkende gebeure, sowel as hedendaagse politieke kompleksiteite en strydpunte, word met ’n seker hand uitgebeeld. Tegelykertyd is hierdie roman die verhaal van Magdalena Retief, die grootliks onbesonge vrou van Pieter Mauritz Retief.”

Eggo’s

Vita du Preez

Fiksie

9780799393682

R285,00

Wanneer Bea Klinge as jong boervrou op Leliepan aan die soom van die Namib aankom, glo sy dat sy hier vir haar, Kurt en hul kinders ’n oase van liefde sal kan skep. Ná ’n skokontdekking meer as vier dekades later kry Bea ’n beroerte en beland in ’n koma in die hospitaal.

Haar herstel bring Bea voor nuwe keuses te staan. Sy besef sy het haar vier dogters elkeen op ’n manier gefaal deur by Kurt te staan, al het hy hulle hoe erg verontreg. Moet sy oop kaarte met hulle speel oor die donker geheim wat haar vasgevang gehou het in ’n liefdelose huwelik met ’n man wat haar soos ’n onderdaan behandel? Bowenal moet Bea besluit of sy die kans op geluk gaan aangryp waarop sy destyds haar rug gekeer het en een keer in haar lewe gaan doen wat reg is vir haar en nie vir ander nie.

Nel, Bea se rebelse laatlam, gaan soek haar heil in Johannesburg. Hier word sy as sukkelende aktrise met die donker kant van die vermaaklikheidsbedryf gekonfronteer. Sy raak betrokke in ’n toksiese verhouding met ’n invloedryke filmvervaardiger, Buks Bothma, en word die slagoffer van afspraakverkragting. Nel ontdek ook die skokkende waarheid omtrent haar herkoms.

Lex le Roux, ’n medeakteur en donkieboer, bied haar ’n kontrak aan om die gesig te wees van sy velsorgprodukte wat van donkiemelk vervaardig word. Nel gryp die geleentheid met albei hande aan. Ná die trauma waardeur sy is, het Nel tyd nodig om heel te word. Sy besluit om haar droom na te streef en ’n dramakursus in New York te gaan volg. Mettertyd ervaar sy die vreugde om haar pad boontoe te werk en nie net te wil slaap nie. Sy kry dit reg om aan haarself te bewys dat sy sonder hulp sukses kan behaal.

Eggo’s is ’n deerniswekkende verhaal van ’n ma en ’n dogter wat elkeen op hul eie manier weer hul voete moet vind; albei word voor moeilike uitdagings gestel voordat hulle emosioneel met mekaar versoen raak en uiteindelik ook liefdesgeluk vind.

Peter Church

Peter Church se Crackerjack vaar baie goed in die VSA, met ’n puik resensie in die New York Journal of Books. LAPA en Catalyst Press het pas splinternuwe kopieë van sy vorige twee boeke, Dark Video en Bitter Pill, ontvang.

Dark Video

Peter Church

Thriller

9781946395207

R245,00

’n Minibus-taxi val skouspelagtig om; twee tieners wat betrokke is by onwettige seks in ’n winkel­sentrum; ’n wilde tafeldans in ’n Kaapstadse ontkleeklub … Wat het hierdie tonele te doen met ’n pragtige jong vrou wat vroeg op ’n Sondagoggend deur Nuweland se bos gaan hardloop? Alistair Morgan is die sleutel. Hy is ’n begaafde regstudent met ’n potensieel glinsterende loopbaan. Alistair het skynbaar alles: Hy’s aantreklik, sjarmant en het geld – en die aandag van die mooiste meisies op die kampus. Sy bevoorregte leefstyl wankel egter wanneer hy dieper en dieper in die sinistere wêreld van die webruimte Dark Video ingelok word: daar waar die werklikheid vervaag en moraliteit ontrafel. Van Tafelberg se onheilspellende hange, die donker dieptes van Valsbaai tot ’n stowwerige Karoo-plaas en die kalksteenkranse van Arniston is Dark Video ’n intense riller wat jou aan die lees gaan hou.

Bitter Pill

Peter Church

Thriller

9781946395214

R265,00

Daar waar Kaapstad se partytjies pols, is iemand besig om op onskuldige jongmense die jag te maak. Te midde van bewerings dat drankies gedokter word en onwettige seks gereeld op die plaaslike kampus gebeur, probeer die universiteitsowerhede vinnig wal gooi om die skade te beperk.

Aan die ander kant van die wêreld, in Seattle, is Carlos De Palma, die skimoperateur agter Dark Video, besig met sy oorlewingstrategie in die immer veranderende internetlandskap. Sy kosbare kliënte wil al hoe meer opwinding hê, en só begin Carlos met ’n nuwe diens wat die grense tussen die regte en virtuele wêrelde vervaag.

Robbie Cullen, ’n oulike ou maar baie gemiddelde student, se meisie los hom en hy sukkel met sy punte. Maar wanneer daar ’n krisis is, tree Robbie nie terug nie. Dan ontmoet hy die pragtige en geheimsinnige Fallon. Met ’n kleindorpse bravade begin Robbie homself met magtige vyande omring.

NIEFIKSIE

Kanker schmanker!

Madelein Rust

Outobiografie

9780799384819

R245,00

’n Kale vlakte waar my regterbors eens was. Ek maak my oë toe en laat my brein toe om te proe aan hierdie monumentale ding. Kanker schmanker, besluit ek. Ek is nog net soveel vrou soos voor die operasie. My vroulikheid het toe al die tyd nie in my bors gesit nie. Dit sit in my kop, in my hart, in daardie onmeetbare, onaantasbare iets wat die gees genoem word.

Die naam Madelein Rust is baie bekend onder lesers van misdaadfiksie. In hierdie boek pak sy ’n moordenaar van ’n ander aard: kanker.

Rust deel die intiemste besonderhede van haar reis met borskanker. Dit is ’n brutaal eerlike vertelling oor haar lewe met die siekte; patos en humor loop saam-saam deur hierdie boek.

Kanker schmanker! is ’n boek van hoop en triomf wat die leser hardop laat huil én lag. Dis ’n verhaal vir elkeen van ons wat ’n stryd van enige aard stry. Meer nog: Kanker schmanker! rus borskankerstryders toe met inligting wat nie altyd geredelik beskikbaar is nie en help ook hul geliefdes om die reis met kanker beter te verstaan.

Alle inkomste wat die skrywer uit hierdie boek verkry, word aan mense geskenk wat hulp tydens of ná hul stryd met kanker nodig het. LAPA werk in hierdie verband saam met People Living with Cancer om die proses te fasiliteer. Ten spyte van hulle naam, is die meeste van hulle kliënte Afrikaans, en hulle bedien ook heelwat mense in Afrikatale. Vir meer inligting: https://plwc.org.za/

Boodskapper van die gode

Murray la Vita

Rubrieke

9780799393217

R230,00

Ek wou so graag hê een van daardie fone moet lui en die man moet (sonder om verbaas te lyk) omdraai en dit optel. Dan moet hy glimlag en in ’n stem wat al dekades lank aan miljoene mense bekend is, sê: “Hello, Elvis here.”

Boodskapper van die gode is ’n keur uit die veelbekroonde joernalis Murray la Vita se rubrieke, sketse en essays. Sy aangetrokkenheid tot dit wat ongewoon en aweregs is, vind in talle van die 104 stukke in hierdie bundel neerslag. Ervarings uit sy kinderdae en jeug word afgewissel met belewenisse tydens reise na stede soos New York, Parys, Rome en Amsterdam. Hy skryf oor waarom hy nie die Anne Frank-huis kon besoek nie, vertel van vergrype op eilande, beskryf hoe hy en sy nefie as vyfjariges oorlog ontdek het, gee ’n glimp oor eerste liefde op sy hartsplek, Hangklip, en deel met die leser hoe sy geliefde vriendin in ’n heks verander het. Hoewel die leser melancholie, weerloosheid en selfs gebrokenheid in hierdie stories sal aantref, is daar ook heerlike humor en absurditeite.

La Vita is ’n bekroonde Afrikaanse profiel- en rubriekskrywer. Hy skryf dikwels oor op die oog af klein gebeurtenisse en dinge, maar dit word dan ontgin op ’n wyse wat die leser twee keer laat kyk.

Antjie Krog sê die volgende: “Niemand kan soos Murray la Vita met feitlik geen besonderhede subtiliteite aandui nie (ek dink hy is ’n stilistiese sjamaan en ons behoort almal by hom te leer).”

Afrikaans+ Everything you need to obtain top marks

Liesbet Gelderblom, Kathie Viljoen, Marieta Nel, Adinda Vermaak, Alet Mihálik, Izak de Vries

Study guide

9780799391268

R340,00

Afrikaans+ is a learner-friendly study guide which caters for additional-language learners who want to achieve better marks in Afrikaans. This practical guide contains explanations in English and is filled to the brim with examples. It explains tests and exams used for both the Department of Basic Education (DBE) and the Independent Examinations Board (IEB), and was written by a panel of educational experts who understand the needs of additional-language learners.

This book is completely up to date. The Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) was recently re-issued, blindsiding many a teacher with the changes in Afrikaans grammar rules. While the AWS is seen as the touchstone for Afrikaans language practitioners, it could be a daunting book to use in the classroom. Afrikaans+ was written with the most recent changes to the AWS in mind, and presents these grammar rules in a clear, practical way.

Every chapter in the book also offers free online support – exercises, answers and examples – which will be kept up to date by the panel.

The book contains six sections:

  1. Begrip (comprehension): This section explains how you should approach a comprehension test, how to look for the answers, and provides tips on how to understand the questions. It also explains how to make summaries. Visual texts, such as cartoons, graphs and maps, are also explained.
  2. Taal (grammar): This section is a step-by-step guide to understanding the “how” and the “why” of Afrikaans grammar. You will be guided with English explanations and Afrikaans examples on things like word order, tenses, adjectives, adverbs, time, numbers, plural and diminutive forms, the negative, active and passive voice, pronouns, participles and abbreviations. There are sections offering basic knowledge to help the struggling learner through the exam. But there are also more advanced sections for the learner who wants to get an A, and for the teacher who wants to become familiar with all the changes in the AWS.
  3. Literatuur (literature): Everything you need to know about prose, drama, short stories and poetry. What is the difference between a metaphor and a simile? Who is the protagonist and who is the antagonist? We use simple explanations and good examples of all these and other literary terms.
  4. Mondeling (oral): The book contains practical pointers on how to prepare for different kinds of orals, such as interviews, prepared speeches, introducing and thanking a speaker, roleplay, how to make a vlog and how to discuss the booklist you have to read for grade 12. Examples of all these are given, and more are provided online.
  5. Woordeskat (vocabulary): You will always need vocabulary for essays and orals. With the most recent vocabulary on food, technology, life after school, sport and lots more, you will be well prepared.
  6. Skryfwerk (written work): This section starts with a step-by-step approach to writing: how to choose a topic, how to do your planning, what not to use in an essay and how to end your story. The examples of all the different types of written work (essays, long and short transactional writing) and tips on each, will help you to master each one. Online you will be able to read through more examples.

Afrikaans+ is ’n gebruikervriendelike studiegids vir leerders wat hul punte in Afrikaans as addisionele taal wil verbeter. Hierdie praktiese gids bevat verduidelikings in Engels en is propvol voorbeelde. Dit verduidelik telkens hoe toetse en eksamens in skole van die Departement van Basiese Onderwys (DBE) en die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) werk en is deur ’n paneel kundiges geskryf wat die behoeftes van die addisioneletaalleerder verstaan.

Die boek is op die hoogte volgens die heel nuutste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS). Die AWS is onlangs heruitgegee, wat heelwat onderwysers en taalpraktisyns onkant betrap het met splinternuwe taalreëls. Die AWS bly die hoeksteen van die Afrikaanse taal, maar vir talle is dit ’n moeilike teks om in die klaskamer toe te pas. Afrikaans+ is geskryf met die mees onlangse veranderinge van die AWS in gedagte, en bied hierdie taalreëls op ’n eenvoudige, praktiese wyse aan.

Elke hoofstuk bied ook gratis aanlyn hulp wat bestaan uit oefeninge, antwoorde en voorbeelde. Die aanlyn blaaie sal deurgaans deur ’n paneel kundiges bygewerk word.

Die boek bestaan uit ses afdelings: begrip, taal, literatuur, mondeling, woordeskat en skryfwerk.

Kinder- en Jeugboeke

Die Groot treë-reeks

Hierdie reeks boekies is ontwerp met die doel om ouers en hul kleuters te help om nuwe ervaringe en alledaagse dinge soos slaaptyd, kleuterskool, doktersbesoeke en goeie maniere op ’n positiewe manier onder die knie te kry. Speel saam! Daar is baie flappies en meganismes om enigeen besig te hou!

Hierdie reeks bevat verskeie nuttige wenke vir ouers en versorgers. Dit is saam met ’n ont­wik­ke­lings­kon­sul­tant, dr. Amanda Gummer, ontwikkel. Die kombinasie van prettige aktiwiteite en toepaslike temas maak hierdie reeks ideaal vir kleuters. Daar is ses titels in die reeks.

Ek wil nie slaap nie

9780799391763

R140,00

Gaan saam met Ned deur sy slaaptydroetine, al is hy glad nie slaperig nie. Hy en Mamma bêre saam sy speelgoed, bad, lees ’n storie en sing ’n liedjie!

Klaar met doeke

9780799391770

R140,00

Hierdie twee kleuters is klaar met doeke! Beleef die proses saam met hulle.

Ek gaan kleuterskool toe

9780799391787

R140,00

Bennie is baie hartseer toe Pappa hom by die kleuterskool aflaai – maar kort voor lank is hy besig om maatjies te maak en allerhande dinge te doen! Voor hy sy oë kan uitvee, is Pappa al terug.

Ons kry ’n baba

9780799391756

R140,00

Nancy kry ’n bababoetie! Oupa en Ouma kom bly by haar terwyl Mamma en Pappa hospitaal toe gaan. Verwelkom saam met Nancy die splinternuwe baba in die familie!

Ons gaan dokter toe

9780799391794

R140,00

Billy en Nell is op pad dokter toe. Lees saam hoe hulle ondersoek word en elkeen ’n inspuiting kry!

Kan jy asseblief sê?

9780799391800

R140,00

Tom en Nancy speel te lekker saam en leer hoe om te deel en goeie maniere te hê.

Die Groot Jaco Jacobs-storieboek

Jaco Jacobs

Illustrasies: Stephen Wallace, Chris Venter, Elsabé Milandri, Gerhard Cruywagen

Kinderfiksie

Ouderdom: 7+

9780799392401

R200,00

Jaco Jacobs is groot. Nee, nie so groot soos ’n gorilla nie. Ook nie so lank soos ’n luislang nie. Ook nie vet nie, want hy hardloop die Comrades. Nee, hy is groot, want hy het al meer as ’n miljoen boeke verkoop.

Daarom het LAPA besluit om Die Groot Jaco Jacobs-storieboek aan ons lesers te bring.

Dit is groot stories, vyf van hulle in een boek. Geniet hierdie fantastiese verhale oor onbeskofte feetjies, ’n geheimsinnige meermin, ’n superheldboetie, ’n baie stink poets en ’n klomp raserige dinosourusse!

Net een ding is klein: die prys. R40 per storie sal jou laat jou dink ’n luislang, of dalk ’n baie groot gorilla, het ons brein ’n bietjie gedruk.

Jaco is al met die Rapport/kykNET-prys bekroon en hy is in 2017 as een van die wenners in die internasionale In Other Words-projek aangewys. Verskeie van sy boeke is reeds in Engels uitgegee. Onder Jaco se talle ander bekronings tel die Tienie Holloway-medalje, die Alba Bouwerprys, die Elsabe Steenbergprys, die MML-letterkundeprys en 26 ATKV-Kinderboektoekennings. Jaco woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, sy twee dogters, Mia en Emma, drie honde, ’n kat en ’n troetelluislang. Almal van hulle hou van lees, behalwe die luislang; hý hou van drukkies gee.

Hier is iets meer oor die vyf fantastiese stories in Die Groot Jaco Jacobs-storieboek.

Pasop vir die feetjies: Is daar regtig iets soos feetjies? Natuurlik nie! Wie glo nou in piepklein meisietjies wat kamma kan vlieg en heeldag blomme verf? Beslis nie die ondeunde tweeling Dieter en Pieter nie. Lienke en Nonkwe glo wel in feetjies. Hulle glo daar bly feetjies in ’n ou boomstam in die biblioteek se tuin. Daarom besluit Dieter en Pieter om die meisies ’n poets te bak. Hulle maak ’n superstink Feetjie-Vlug-Formule en gooi dit in die ou boomstam! Kort voor lank kry die tweeling ’n nare verrassing – in die vorm van twee omgekrapte, ongemanierde besoekers! Dit is ’n prettige skaterlagstorie met ’n belangrike les: Moenie met ’n feetjie skoorsoek nie!

Borrels: Ontmoet vir Borrels! Sy is die nuwe meisie in Christo en Nelson se klas. Dit is nie net haar naam wat vreemd is nie; Borrels dra skulpe in haar hare. Sy bring haar goudvis saam skool toe en sy het ’n GROOT geheim. Ontdek hoeveel pret dit kan wees as die nuwe meisie in jou klas ’n meermin is! Dit is ’n verbeeldingryke storie met ’n bewaringstema, ideaal vir beginnerlesers.

Superboetie: Ryno Rademan is moeg daarvoor om die oudste broer van ’n superheld te wees. Ja, jy het reg gelees. Sy bababoetie is ’n superheld. Die nag toe hy gebore is, het ’n meteoriet die dorp getref. Dit het die boetie spesiale kragte gegee. Hy red mense uit brandende geboue en roei misdaad uit – al maak hy nog gereeld sy doek vuil. Op ’n dag besluit Ryno se ma om sy bababoetie vir ’n kompetisie in te skryf en hulle kom van aangesig tot aangesig met ’n babaskurk! Kan Ryno sy boetie uit die kloue van die boosaardige baba red – voordat dit te laat is?

Koebaai gorilla: WAARSKUWING! Hierdie storie STINK! Hein beland gedurig in die moeilikheid omdat sy beste pel, Morné, hom uitdaag om simpel goed aan te vang. Simpel goed soos om ’n asblik op sy kop skool toe te dra. Hein neem hom voor dat hy klaar is met hierdie soort grappies. Tog, teen sy sin aanvaar Hein wéér Morné se nuutste uitdaging … Hy moet ’n hele week lank oorleef sonder ’n tandeborsel. Of vlos. Of pepermente. Of van daardie aaklige groen gorrelgoed. Hoe moeilik kan dit nou eintlik wees? Kort voor lank ruk dinge hand uit. Dit is ’n stink storie wat jou sal laat skaterlag terwyl jy jou neus toeknyp!

Die probleem met dinosourusse: As jou vriende ’n klomp REUSE-, RASERIGE dinosourusse is, kan dinge nogal moeilik raak. Veral as hulle boonop saam skool toe gaan. Die probleem met dinosourusse is egter dat jy nooit lank vir hulle kwaad kan bly nie!

’n Kas vol monsters-omnibus

Jaco Jacobs

Illustrasies: Chris Venter

Kinderfiksie

Ouderdom: 7+

9780799392425

R185,00

In Denver se kas is ’n geheime ingang na ’n kasteel vol monsters – en hope avontuur! Maak die kasdeure wawyd oop met hierdie 6-in-1-omnibus van al die gewilde Kas vol monsters-boeke!

Jaco Jacobs se kas is propvol toekennings. Dit is waarom die monsters kwaad geword het en hulle deur in die karakter Denver se kas ingebou het. Buite sy kas, in sy huis, woon Jaco egter saam met sy vrou, twee oulike dogters, drie honde, ’n kat en ’n troetelluislang. Die kat is mal oor monsterstories, maar die slang raak bang en wil dan vir almal drukkies gee om hulle te troos.

Hier is meer oor elkeen van die ses stories in hierdie monsteragtige omnibus.

Die groen hand: Daar is iets vreemds aan die nuwe huis … In die middel van die nag hoor Denver iemand aan sy kasdeur klop. Toe hy ondersoek instel, ontdek hy iets wat sy hare laat regop staan! Gaan enigiemand hom glo as hy vertel wat hy gesien het?

Vampierfoto’s: Die kas in Denver se kamer is die geheime ingang na ’n kasteel vol monsters. Denver en Meyer kan nie wag om weer die monsters te sien nie. Hierdie keer het een van die monsters hulp nodig, maar om foto’s van ’n vampier te neem kan ’n pyn wees!

Hollywood-mummie: Dit is glad nie so maklik om ’n Hollywood-ster te word nie – veral nie as jy ’n mummie is nie. Sal Denver en Meyer vir Toets kan help om ’n rol in ’n fliek los te slaan?

Weerwolfprobleme: Denver en Meyer het al hope pret saam met die monsters gehad, maar daar is iets fout in die monsterkasteel. Flaffie die weerwolf is in ’n BAIE slegte bui. En as ’n weerwolf vies is, moet jy liewer nie met hom sukkel nie!

Die perfekte monster: Een van die monsters in die kas het Denver en Meyer se hulp nodig. Frank is eensaam. Daarom besluit hy dit is tyd om ’n meisie te kry, maar om die perfekte meisie vir ’n groot, groen monster te kry is glad nie so maklik nie!

Kinderspeletjies: Al die monsters is op pad na ’n musiekkonsert. Denver en Meyer bied aan om ’n aand lank baba-oppassers vir ’n oulike monsterbaba te wees. Hulle moet met hom speel, hom kosgee en hom in die bed sit. Hoe moeilik kan dit nou eintlik wees?

Zackie Mostert-omnibus 3

Jaco Jacobs

Illustrasies: Alex van Houwelingen

Kinderfiksie

Ouderdom: 9+

9780799391152

R150,00

LAPA bied nou nog vyf Zackie-avonture in een fantastiese omnibus aan! Ons het die boeke eers individueel uitgegee en dit het ontsettend goed verkoop. Deur dit in een bundel uit te gee kan ons die prys drasties verlaag.

Hoekom? Granaatstraat is ’n straat nes enige ander straat. Wel, nie heeltemal nie. Dis immers die straat waarin Zackie Mostert woon. En waar Zackie is, is daar altyd volop pret, avontuur en kattekwaad!

Kinders is versot op Zackie se skreeusnaakse avonture.

Sedert die verskyning van die eerste Zackie-boek in 2010 het dié gewilde karaktertjie en sy maats hope pret en humor na die Afrikaanse kinderboekwêreld gebring, en duisende aanhangers gekry.

Word deel van die opwinding saam met Zackie, sy beste vriend, Vincent, sy hond, Frankenstein, die kwaai buurtannie, mevrou Langenhoven – en natuurlik Anton die skoolboelie wat gedurig moeilikheid maak!

Jong lesers verslind hierdie stories, en daarom het LAPA nog vyf stories in een omnibus geplaas.

Stalmaats: Tweede kans

Lize Roux

Kinderfiksie

Ouderdom: 9+

9780799389432

R115,00

Al die Stalmaats-ruiters is in rep en roer oor die nuus dat ’n nuwe ryskool op die dorp oopmaak.

Josh, die eienaar se seun, is boonop saam met Anri, Megan en Karen in die klas – hy probeer almal ompraat om Hoefslae ’n kans te gee. Anri en die res van die Stalmaats is baie lojaal aan die Dagbreek-ryskool, maar die nuwe ryskool is baie goedkoper en die eienaar was op sy dag ’n bekende Suid-Afrikaanse ruiter. Kan dit dalk die einde van die Dagbreek-ryskool beteken?

Om dinge te vererger lyk dit boonop of Josh met sy seegroen oë en blonde krulhare ’n ogie op Anri het. Anri se kêrel, Jacques, is glad nie gelukkig daaroor nie. Josh se ma en pa is boonop die eienaars van Dagbreek.

Toe Anri-hulle van ’n geheim oor die nuwe ryskool uitvind, spat die vonke behoorlik!

Kom word deel van die pret en avontuur by die Dagbreek-ryskool saam met Anri, Megan, Karen en die ander Stalmaats.

Stalmaats: Tweede kans is die laaste boek in dié bekroonde en geliefde perdereeks waaroor jong perdeliefhebbers al jare lank gaande is. Meer as 100 000 eksemplare van dié reeks is reeds verkoop en LAPA is besig om die eerstes nou weer in omnibusse uit te gee.

SSS-omnibus 1

Nerine Ahlers en Alet Steenkamp

Tienerfiksie

Ouderdom: 11+

9780799389296

R200,00

Waar Lindie en haar vriendinne is, is daar altyd hope pret, avontuur en naelbyt-aksie! Die vyfstuks Lindie, Talita, Mia, Gina en Andrea beleef allerlei opwindende avonture saam in die Bergrif Meisieskool se koshuis. As daar nie gevaarlike skurke op hul spoor is nie, gebeur daar vreemde dinge op die skoolkamp, of kry een van hulle selfs die kans om dalk ’n TV-ster te word. Tussendeur is daar darem ook oorgenoeg kans vir koshuiskattekwaad aanvang, die nuutste modes en grimering uittoets … en natuurlik ’n bietjie romanse!

Vir die eerste keer verskyn drie van die gewilde SSS-boeke nou saam in een omnibus:

Selfone, skelms en sjokolade: Lindie en haar maats se skooltermyn skop af met allerhande probleme. Wie is die twee geheimsinnige mans wat agter Lindie en Talita aan is – en wat wil hulle hê? En dan is daar nog Gina se katastrofiese nuwe haarstyl, Matrone wat ’n sjampanjebottel ontdek het en vasbeslote is om die skuldiges uit te snuffel, en die aantreklike Diaan met die kuiltjies wat Lindie se bene lam maak …

SMS’e, skurke en spinnekoppe: Vier dae in die bos … Dit is wat vir Lindie en die res van die graadneges op die skoolkamp voorlê. Die enigste ligpuntjie is die luukse lodge met die Franse sjef van wie Mia praat. Maar voordat die kamp begin, is daar eers ’n nare onderwyseres wat ’n les geleer moet word. En iemand sorg daarvoor dat Diaan met die blou oë en die kuiltjieglimlag dalk nooit weer met Lindie gaan praat nie. ’n Verskriklike ding gebeur egter op die kamp wat hulle gou van al hierdie probleme laat vergeet …

Sepiesterre, sokkies en skobbejakke: Lindie en haar vriendinne is baie opgewonde oor die revue wat by die skool aangebied gaan word. Dit gaan fantasties wees en iemand gaan boonop gekies word om in ’n sepie te speel. Dink net, een van hulle kan dalk op TV wees! Ongelukkig kry hulle ’n nare verrassing toe hulle sien wie die nuwe dramajuffrou is …

SSS-omnibus 2

Nerine Ahlers en Alet Steenkamp

Tienerfiksie

Ouderdom: 11+

9780799391329

R280,00

Die SSS-reeks is uiters gewild. Die verkope is dus uitstekend. Ons plaas nou nog vier van die SSS-boeke in een omnibus en die leser wen, want ons kon die prys op R70 per storie hou. Hier is meer oor elke lekkerleesstorie in die omnibus.

Seesand, sonbrille en smokkelaars: Lindie-hulle kan nie wag om op Seesterbaai te gaan vakansie hou nie. Vyf dae van sand, see en son. Daar aangekom, ontmoet hulle boonop twee sexy lewensredders! Alles is egter nie pluis op Seesterbaai nie – iemand is met skelmstreke besig wat Lindie-hulle in groot moeilikheid kan laat beland.

Spoke, speurders en straatkafees: Parys. Die stad van romantiese straatkafees, aantreklike ouens en boonop die modehoofstad van die wêreld. Lindie en haar vriendinne kan nie wag vir die toer na Frankryk nie. Sommer op die lughawe begin dinge al skeefloop. Wie is die geheimsinnige donkerkopman op die vliegtuig? Hoekom voel dit of iemand hulle in Parys agtervolg?

Skaduwees, skatte en skelmstreke: Die nuwe skooljaar skop op ’n besige noot af. Lindie se pa trou binnekort. Haar vriende oefen vir ’n padwedloop. Almal is opgewonde oor die Valentynsbal wat voorlê. Soos gewoonlik probeer Danelle om dinge vir Lindie-hulle moeilik te maak. Natuurlik is dit haar skuld dat Lindie en Gina douvoordag een oggend by die koshuis moet uitglip en by die grillerige begraafplaas gaan rondsluip. Wat hulle daar sien, is genoeg om enigiemand nagmerries te gee – ’n oop graf, en ’n hand wat uit die graf te voorskyn kom. Wat is by die begraafplaas aan die gang? Sal Lindie-hulle hierdie nuwe raaisel kan oplos?

Soene, sonroom en seestrome: Gina smokkel twee oulike babakonyntjies in die koshuis in en dit is glad nie so maklik om hulle vir Matrone weg te steek nie. ’n Aand van skelm-fliek loop boonop skeef toe die kwaai nuwe wiskundejuffrou die vier vriendinne uitvang. Dan is daar die skreeusnaakse voorval met die luislang wat selfs op YouTube beland, maar ten minste lê daar vir Lindie-hulle ’n fantastiese wegbreeknaweek in Durban voor. Mia speel in ’n sepie en hulle gaan almal die kans kry om ekstras te wees – dit beteken hulle kan die hele naweek lank in hul swemklere op ’n luukse boot in die son rondlê. Toe Mia egter per ongeluk met ’n geheimsinnige pakkie opgeskeep sit, begin die moeilikheid hulle agtervolg.

Nova-omnibus 2

Fanie Viljoen

Wetenskapfiksie

Ouderdom: 11+

9780799393170

R220,00

Daar is geheime op Nova – gevaarlike geheime. Lucas en sy vriende word deur ruimtewesens ontvoer en daar is vreemde eksperimente in die Nova-eenheid se laboratoriums.

Die laaste twee titels in Fanie Viljoen se naelkou-wetenskapsfiksiereeks is nou in ’n omnibus beskikbaar.

Sterreloper (4): Lucas ken die Nova-eenheid se geheime. Hy het met sy eie oë die eksperimente in die laboratoriums gesien: die monstermense, die verskrikte ruimtewesens in die tenks. Hy verstaan nou waar sy en sy vriende se spesiale kragte vandaan kom. Hulle was ook eksperimente. Al verskil is: Hulle was die suksesverhale. Daar is egter geheime wat Lucas steeds nie ontrafel het nie. Wie is die geheimsinnige Sterreloper wat gereeld vir hom boodskappe stuur? Wat beteken die vreemde visioen wat hy in sy broer se oë gesien het? Waarom wil die grootkoppe van Nova-eenheid hom en sy vriende skielik met vakansie see toe stuur? Kan hulle werklik die vrede vertrou?

Eindspel (5): Lucas Niemand keer terug na Nova, maar dan kom die skok: Sy vriende onthou glad nie meer van hul ontmoetings met ruimtewesens of hul spesiale kragte nie. Hulle weet ook nie waar Lucas al die tyd was nie – vasgevang in ’n nagmerrieagtige, donker ruimteskip waar aaklige goed met hom gebeur het. Die Eindspel het reeds begin, besef Lucas. Sal hy uit die kloue van die donker ruimtewesens kan bly? Watter geheim dra Troy in hom? Waar kom die drie nuwe alien-tieners vandaan en wat wil hulle van Lucas hê? Hoekom vind Lucas nou eers van die Slaper uit – iemand wat nie is wie hy voorgee om te wees nie? Die belangrikste van al die vrae is: Sal Lucas Niemand die skrikwekkende Eindspel oorleef?

Meer as 42 000 kopieë van die gewilde Nova-reeks is reeds verkoop.

Strooisuikerliefde

Verskeie outeurs

Romansebloemlesing

Ouderdom: 16+

9780799393583

R160,00

Soek jy verhale wat jy met jou meisiekind kan deel? Wil jou ’n boek vir jou ma of tannie gee? Strooisuikerliefde bevat agt heerlike verhale wat vars, snaaks en speels is. Dit is liefdesverhale vir alle generasies, jy kan hulle geniet en deel sonder om te bloos!

Daar is boonop drie debuutskrywers wat hier ’n buiging maak. LAPA is altyd trots op enige nuwe stem.

Ilse Salzwedel beskryf die novelles as “lekker leesstof wat mens sommer so voor slaaptyd kan verslind”.

O, en die prys? Kyk ’n bietjie wat ons vra vir agt novelles en staan verstom! Hier volg iets meer oor elkeen.

Soos hout en konfetti – Jacolet van den Berg: Max is banger vir vroue en trou as die duiwel vir ’n slypsteen, maar sy hart werk oortyd as hy Sandra Sinclair sien. Sy maak hom ongemaklik, want hy weet: Sy kan dalk net sy ondergang beteken.

Net in stories – Rika Cloete: Altyd die strooimeisie, nooit die bruid nie. Dít is Maddie Schoeman. Totdat sy een keer opkyk in ’n strooijonker, Wynand Raath, se mooi oë. Skielik is liefde nie net vir storieboeke bedoel nie, maar ook vir haar.

Gelukkige nommer 13 – Corné La Camera (’n debuutskrywer): Hoeveel mislukte afsprake neem dit voor jy meneer perfek ontmoet? Ná twaalf wou Renate ’n ferm streep trek, want die opsies van ’n spiertier tot ’n IT-nerd is maar yl. Maar dalk is dertien haar gelukkige nommer?

Kersie bo-op – Bernette Bergenthuin: Marcelle se lieflingtante skryf haar in om deel te neem aan die werklikheidsprogram Baas-van-die-plaas. Eers is sy woedend, maar nadat sy Basjan Rademan ontmoet het, moet sy erken dat haar tante dalk van beter weet.

Net drie woorde – Nadia de Bruin (debuutskrywer): Janne wen rugbykaartjies oor die radio en gaan later die aand van die Springbokspelers in hul losie ontmoet. Haar hart maak wilde draaie toe Arend, een van haar ou skoolvriende, onder die groep rugbyspelers is.

Kakie, stewels en liefde – Lizelle von Wielligh (debuutskrywer): Craig hou nie van mooi vroue nie, Lauren vertrou nie mans wat van mooi vroue hou nie. Hulle behoort pasmaats te wees, maar onwelkome gevoelens hou hulle uitmekaar. Sal hulle ooit besef dis liefdesvonke, nie irritasie nie?

Net ons twee – Petronel Louw: Een kopverlooroomblik en Rozelle en Francois se verhouding verander vir ewig. Skielik is hy nie meer haar broer se beste vriend en haar “ander ouboet” nie, maar die man wat die vlinders in haar maag energie gee om amok te maak.

Om haar pinkie − Didi Potgieter: Willem loop draaie om Melissa nadat hulle ’n soen gedeel het, want hy kan homself nie rondom haar vertrou nie. Wat is dit aan dié pragtige brunet wat so met hom toor? Waarom kan sy hom moeiteloos om haar pinkie draai?

Romanza

Ligaman

Magdaleen Walters

Superromanza

9780799393712

R240,00

Annabeth woon in ’n klein huisie, ry ’n klein oranje karretjie en sy leer graadeentjies lees en skryf. Sy is egter, na haar eie mening, so groot soos ’n huis. Haar hart is seer, want haar pa verwyt haar, haar broer baklei met haar, haar ma wil haar gedurig op ’n dieet sit, en geen man vra haar ooit uit nie.

Haar skoolhoof, Markus Wienand, het darem ’n sagte plekkie vir haar en help haar graag; maar dan is daar weer die onderhoof in haar moeder-van-die-bruid-pakkies wie se hart ook op die spel is.

Daar stap die aantreklike Sybrand met sy adonis-lyf vol spiere in haar lewe in en hy kondig aan dat hy haar wil help om maer te word. Die arme Annabeth. Soveel manlike prag, maar hy is haar nie beskore nie.

Annabeth het ’n reis om te voltooi, ’n reis wat haar lewe stroop van appeltert en fudge en konfyttertjies, wat haar laat oefen tot sy bewe, wat haar die waarde van aanhou en moedhou leer ken. Dit is ’n reis wat van haar vra om te vergewe en dit bring haar by die man wat in sy eie liga speel.

Anders as gewone heldinne het Annabeth ’n ernstige gewigprobleem, maar met die nodige deursettingsvermoë slaag sy daarin om gewig te verloor. Dit sal vir baie lesers inspirerend wees.

Goue meisie

Mari Roberts

Romanza

9780799392227

R95,00

Die eerste persoon wat Melanie op die boot na haar nuwe lewe ontmoet is ’n ongeskikte Samaritaan, Thomas. Sy loop hom ook weer op die eiland raak, maar skielik is hy anders. Hierdie nuwe Thomas, spelerig en ontspanne, maak haar verbouereerd. ’n Befoeterde man kan sy eerder hanteer.

 

Elke dag vir altyd

Dina Botha

Romanza

9780 99392258

R95,00

Die aktrise Lea het drie punte op haar doenlysie: rus, vrede en ’n Afrika-sonbruin. Maar sy het ook ’n metgesel nodig vir haar grootouers se sestigste huweliksherdenking, dus klop sy by Human Coetzee se arbeidsburo aan. Sy vind hom uiters aantreklik, maar hy is duidelik die een man op die planeet wat nie vir haar bekoring val nie.

Toskane roep my hart

Malene Breytenbach

Romanza

9780799393521

R95,00

In Toskane ontmoet Daniela die kunstenaar Franco Farini, die kleinseun van ʼn oudkrygsgevangene in Suid-Afrika wat fresko’s teen die mure van haar droomkapel geskilder het. Hy is onweerstaanbaar en gesog, net soos sy voorvader.

Voor die donker kom

Salomé Schutte

Romanza

9780799393552

R95,00

Sewentien jaar gelede is Katrien en haar gesin gedwing om Kleinplaas te verlaat. Nou behoort dit aan die magtige Swart-gesin. Katrien droom daarvan om die plaas weer te sien, asook die befaamde skrywer Chrisjan Swart, wat al van kleintyd af by haar spook.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest