Leesvordering:

Nuut by LAPA in Mei

Mei 10, 2018

Nuusflits

Volg @DeproSkaap op Facebook en Instagram

Meer hier onder.

***

 

Uit die bloute

Chanette Paul

9780799388947

R310,00

… _ _ _ …

Suider-Afrikaanse VVV-bulletin

Soek op Google om meer besonderhede oor elke gebeurtenis te kry

1956: ‘n Reeks foto’s van VVV’s deur Elizabeth Klarer. Klarer beweer sy het ‘n kind gehad by ‘n buiteruimtelikewese genaamd Akon. Omgang en geboorte het op ‘n planeet naby Alpha Century plaasgevind. Foto’s blykbaar vernietig, die Suid-Afrikaanse regering weier om kommentaar te lewer.

1974: Peter en Frances MacNorman ontvoer naby Beitbrug, oortreders nie menslik nie. Geen optrede van die Suid-Afrikaanse of Rhodesiese regerings nie.

1979: ‘n Krugersdorp-ma en haar seun word genooi deur vreemde wesens om na ‘n nuwe planeet te vlieg. Geen kommentaar van owerhede nie.

1982: Suid-Afrikaanse troepe op die Mosambiekse grens skiet op ‘n inkomende tuig, want hulle dink dit is ‘n MiG. Die tuig stort neer, is totaal onbekend. Insittendes dood, liggame is nie menslik nie. Lyke gevlieg na Ysterplaat in Kaapstad voordat die CIA hulle na die VSA neem. Sommige offisiere verbreek die stilswye, maar word nie deur hul seniors ondersteun nie.

1989: Suid-Afrikaanse Lugmag-vlieëniers skiet ‘n vreemde tuig af. Dit val in Botswana. Insittendes lewendig in hegtenis geneem; blyk nie menslik te wees nie. Botswana-regering reik geen verklaring uit nie.

1995: SANW se spesiale magte gevlieg na die toneel in Lesotho waar ’n tuig neergestort het. Drie insittendes word lewendig in hegtenis geneem; ooggetuies beweer hulle was nie menslik nie. Lesotho-regering maak geen kommentaar bekend nie.

2005: Verskeie koerante en sosialemediabladsye publiseer foto’s, video’s en ooggetuieverslae van groen flitse in die atmosfeer rondom Kaapstad. Die SA regering bly stil.

2018: Chanette Paul publiseer Uit die bloute, ‘n omvattende stuk navorsing deur die navorser Jojo Richter oor ontvoerings, moorde en vreemde, mensagtige wesens in die Akkedisberge naby Hermanus. Tot dusver het die Suid-Afrikaanse regering nie ‘n woord gesê nie.

 

PERSVRYSTELLING: Jojo Richter is terug

Deur Izak de Vries van LAPA: kolkolkol streepstreepstreep kolkolkol

Jojo Richter, die heldin van Siende blind, Raaiselspieël, Ewebeeld en Paaiboelie is terug.

Vrae gevra deur Jojo: Wat maak die groep vroue in die Akkedisberge wat wag vir ʼn moederskip vanaf die Pleiade-sterrestelsel? Is hulle stapelgek, of steek daar iets in hulle bewerings dat die regering die feite oor kontak met ruimtewesens verdoesel?

Daardie regter wat deur ʼn boogskutter op rolskaatse vermoor is: Hoekom lyk die moordenaar soos iemand uit die buitenste ruimte?

Is die vroue van die VVV-groep vredeliewende vegetariërs, of koelbloedige moordenaars? Hoekom word Jojo word deur ’n hommeltuig dopgehou?

Uit die bloute is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar.

JOJO is tans om veiligheidsredes nie vir onderhoude beskikbaar nie.

EINDE:

Jeugboeke 

Dinge wat ek nie van skape geweet het nie

Jaco Jacobs

Jeugroman

9780799384512

R155.00

Hier is iets wat Luan van skape geleer het: Glo my, as jy op die ingewing van die oomblik ’n skaap by ’n kerkbasaar steel, sal jou lewe nooit weer dieselfde wees nie…

As straf moet Luan op ’n road trip gaan saam met sy eksentrieke fotograaf-ouma wat ’n fotoboek oor windpompe wil publiseer. Straf? Ja, maar jy wil nie weet nie.

Op pad deur die Karoo ontmoet hy vir Lana, wie se pa al die pad van Bloemfontein na Kaapstad met sy fiets ry om geld vir kankernavorsing in te samel. Lana eet nie vleis nie en sy mal is oor boeke. Lana is ook mal oor Luan. So, sonder dat sy dit weet, oortuig Lana vir Luan om ’n skaap te bevry van die kerkbasaar se veiling. Dis net, wel, hy betaal nie vir die skaap nie.

Dinge ruk hand uit: Die skaap raak bekend, die polisie kry snuf in die neus en… Lees maar self wat als op die Karoo se stil agterpaaie kan gebeur.

Danksy al dié drama, leer ken Luan vir die eerste keer sy ouma – daardie hardekwas-predikantsvrou wat al jare lank ’n baie diep geheim saam met haar ronddra.

Hy leer oor ook vir Lana beter ken. Sommer BAIE beter. Maar die belangrikste van als: Hy leer homself ken. Kort voor lank verander ’n vervelige rit deur die Karoo in ’n onvergeetlike avontuur.

Dié tienerboek uit die pen van Jaco Jacobs sal jou anders laat kyk na die lewe, of jy nou elf of 111 is.

Word dadelik deel van Depro Skaap se lewe! https://www.facebook.com/DeproSkaap

Sy is ook op Instagram: @deproskaap

Dans, Jenna

Noreen Nolte

Kinderfiksie

Ouderdom 9+

9780799384475

R120,00

Jenna is versot op dans.

Die afgelope paar weke kan sy voel haar dansskoene is amper te klein, maar sy het nie die moed om haar ma vir nuwe skoene te vra nie. As ’n mens se pa oorlede is en jou ma twee werke doen net om kop bo water te hou, is balletklasse eintlik ’n onbetaalbare luukse. Om vir nuwe skoene te wens, is so goed soos dagdromery. Sy moet maar net hoop die skoene hou nog ’n ruk – om nie eens van haar voosgedansde pointes te praat nie. Hopelik gebeur daar ’n wonderwerk!

Toe die Kaapse Balletgeselskap ’n kompetisie loods om talentvolle jong dansers die kans te gee om ’n winterskool in die Kaap én ’n vertoning van die fantastiese Russiese Balletgeselskap by te woon, begin Jenna se hoop opvlam.

Maar sy hou nie rekening met die jaloerse Mineke en haar ma se onderduimse planne nie…

Dans, Jenna is ’n deernisvolle, avontuurbelaaide storie wat bewys dat wonderwerke kan gebeur as jy in jou drome glo.

Kate in harmonie

Jacolet van den Berg

Tienerfiksie

Ouderdom 13+

9780799388756

R170,00

Kate se hele lewe is op sy kop gekeer.

Nadat haar pa sy werk verloor, trek hulle gesin sak en pak na ’n plaas naby die Paarl. Dit beteken Kate moet haar hele lewe in Johannesburg en die Fab-susters, haar beste vriendinne, agterlaat om graad elf in ’n nuwe skool te begin, terwyl sy probeer aanpas by die rustige plaaslewe. Haar broer moet in sy matriekjaar sy plek in die eerste rugbyspan en sy leerlingraadsbalkie prysgee.

Sommer die eerste dag op Uitkyk trek een van die perde Kate se aandag. ’n Wit-en-bruin hings met vurige donker oë. Die perd se naam is Harmonie, maar dit pas glad nie by hom nie – hy is in harmonie met net mooi niks. Wanneer iemand dit naby hom waag, raak hy wild en hy laat nie ’n saal op sy rug toe nie.

Will, die plaaseienaars se seun, bied aan om vir Kate perdrylesse te gee, maar hy maak geen geheim daarvan dat hy reken dié stadsmeisie, wat vir perdemis gril, nie die mas gaan opkom nie.

Hy hou egter nie rekening met Kate se vasberadenheid nie.

Iets aan Harmonie trek haar aan en lok haar elke keer terug na sy kamp waar sy ure lank sit en die perd se grasieuse lyne in haar sketsboek teken. Hoe meer sy oor Harmonie se verlede uitvind, hoe sterker word die band tussen hulle.

Toe Harmonie se toekoms in die weegskaal beland, moet Kate die dapperste ding van haar lewe doen…

Kate in harmonie was op die kortlys van LAPA Uitgewers se jeugromankompetisie in 2017. Dit is ’n aangrypende lekkerlees-jeugverhaal oor tweede kanse en die kragtige band tussen ’n spesiale ruiter en ’n spesiale perd.

Vakansiepret 1 ’n Piekniek op die strand

Theresa van Baalen

Illustrasies: Zinelda McDonald

Kinderfiksie

Ouderdom 7+

9780799384529

R110,00

Jana en Alisha is beste vakansiemaats! Hulle sien uit na ’n heerlike vakansie propvol pret op Duinebaai.

Die meisies besluit om piekniek te gaan hou op die strand – maar ongelukkig wil Jana se irriterende kleinboetie, Tiaan, en sy maatjie, Rudie, saamkom.

Jana weet sommer die twee seuns gaan hulle piekniekplanne bederf!

Maar dan hoor die twee meisies ’n vreemde tjankgeluid tussen die duine. Toe hulle ondersoek gaan instel, ontdek hulle ’n klein hondjie wat seergekry het en hulle hulp dringend nodig het.

Sal hulle die hondjie se eienaar kan opspoor?

Vakansiepret 2 Vlieërs en filmsterre

Theresa van Baalen

Illustrasies: Zinelda McDonald

Kinderfiksie

Ouderdom 7+

9780799384536

R110,00

Jana en Alisha is verveeld. Dit is veels te koud en winderig om te gaan swem. Maar dan ontdek hulle twee vlieërs… Dit is die perfekte dag om daarmee op die strand te gaan speel!

Ongelukkig besluit Jana se boetie, Tiaan, en sy maatjie, Rudie, hulle wil saamkom. Kort voor lank veroorsaak die twee seuntjies chaos. Hul vlieër raak met Jana s’n verstrengel en die tou breek!

Jana en Alisha is desperaat om hulle vlieër terug te kry en sit dit agterna. Dan beland hulle heel onverwags op ’n filmstel waar die beroemde tienerakteur Clint du Bell besig is om sy nuutste fliek te verfilm. En die filmspan is op soek na meisies om as ekstras in die fliek te speel…

Skielik lyk dit of vandag die beste dag óóit gaan word!

Romanza

Andolet

Petronel Louw

SuperRomanza

9780799388978

R220,00

Dit is 1899. Oorlede Simon, Andolet se aanneempa, bemaak haar, soos ʼn besitting, as bruid aan ʼn onbekende pionierboer, Christian Nitze, woonagtig op sy plaas in die verre Duits-Suid-Wes-Afrika. Sy reis saam met haar diensmeisie, Leila na die vreemde, nuwe land. Christian daag nie op om haar in Walvisbaai te ontmoet nie, maar stuur sy nors neef, Ferdinand, om ʼn proksiehuwelik met haar te sluit. Die uitmergelende tog met die ossewaens van Walvisbaai, deur Swakopmund na Windhoek, leer haar oor meer as net die barre Dorsland waardeur hulle trek. Dit laat ʼn vlam tussen haar en Ferdinand ontspring, maar dit mag nie. Sy is, ná alles, ʼn getroude vrou.

Andolet maak vroeg kennis met die onrus tussen die Herero’s en die boere. Dit noop haar en Leila om by Dawid se mense, die Boesmans, in die wildernis te gaan wegkruip totdat Ferdinand haar uiteindelik na Heimat, Christian se plaas, toe vergesel. Haar skuldgevoel toe Christian haar verwelkom, laat haar haar liefde vir Ferdinand sonder sukses onderdruk.

Haar lewe is in gevaar toe dit bekend word dat die hoofman van die Herero’s haar wil ontvoer. Die aankoms van haar sogenaamde Franse familie begin egter stadig haar ware identiteit ontbloot.

Die proksiehuwelik, ook genoem ’n handskoenhuwelik, was meer algemeen as wat ons in die moderne tyd besef. Toegang tot kerklikes wat bevoeg was om mense in die huwelik te bevestig was nie altyd moontlik in die bos nie, en die kuisheid van toentertyd het gemaak dat ’n ongetroude vrou nie saam met haar aanstaande sou kon vertrek sonder ’n chaperone nie.

Onvoorspelbare harte

Mari Roberts

Omnibus

9780799389005

R220,00

Hierdie omnibus is ’n samestelling van drie van Mari Roberts se vorige Romanzas, Dans in die reën, Sprokiesprinses en Fasade van die hart.

Dans in die reën: Ná vier jaar kuier Lillie weer by haar tante-hulle op die plaas. Nick du Toit is ook daar. Haar kleintydse mentor, die man wat sy liefhet. Hy’s onvoorspelbaar, verwar Lillie, en sy weet sy moet padgee.

Sprokiesprinses: Die stappery in die Outeniqua moet Zoë se kop skoonkry. Haar selfbeeld is daarmee heen. Om amper met ’n gay man te trou was erg, maar Kian Richards is erger. Koelkop kan sy hóm nie hanteer nie.

Fasade van die hart: Sy verfoei hom, weet hy’t voete van klei. Van kleintyd af al. Maar Beate moet saam met Derrick de Winter in die helikopter wild jaag. Andersins vermy sy hom, tot die verpestelike rooi rok haar deeglik pootjie.

Alles begin met ’n soen

Dina Botha

Romanza

9780799387902

R90,00

Martiné hou van bont en vrolike uitrustings terwyl Stefan vervelige grys pakke dra. Hy sê sy is ’n hippie en sy meen weer hy is vervelig en verstok. Maar wanneer hy haar soen is verveling glad nie ter sprake nie.

Liefdesafari

René van Zyl

Romanza

9780799387933

R90,00

Franci von Lelieveld is ’n rekenmeester en in haar lewe is daar vir alles ’n tyd en plek. Toe die wildbewaarder Gavin Michaels haar soen, voel sy hoe sy beheer oor haar lewe verloor. Maar hulle gaan op mekaar moet staatmaak, want ’n skynhuwelik is hul voorland.

 

Die diva en die dokter

Trudy Reinhardt

Romanza

9780799388886

R90,00

Van opera weet oor-, neus- en keelspesialis Justin Fincham bloedweinig, maar hy ken ’n mooi vrou wanneer hy een sien. En wanneer sy vra dat hy haar bystaan om van ’n lastige man ontslae te raak, kan hy niks anders as instem nie.

Dié keer en vir altyd

Elsa Drotsky

Romanza

9780799388916

R90,00

As tiener het Isabeau slegs oë vir die buurseun Wouter gehad. Maar skielik is die ouer en wyser vriend van haar sus, Neil, weer op die dorp en sy kan net lag oor haar tienerverliefdeid van destyds. Dit wat sy vir Neil voel, is meer as net kalwerliefde.

Hartsman

Rosita Oberholster

ePub: http://bit.ly/2HLb9nb

9780799389081

R29.99

“Jy sal ’n hartsman vind.” Hierdie woorde deur haar moeilikste kliënt klink vir Karli profeties. Maar toe sy Phillip Hartsman ontmoet, is hy reeds iemand anders s’n. En wanneer hy nader kom, jaag sy hom die harnas in.

Bonuskortverhaal! (‘In ouma Naomi se strik” – Sonja Brown) Jan-Adriaan is seker geen vrou sal saam met sy passie om spinnekoppe te bestudeer kan saamleef nie. Maar sy ouma Naomi het ’n plan en hy weet sommer dit beteken moeilikheid…

Na hoër hoogtes

Marijke Greeff

ePub: http://bit.ly/2KzIKy8

97807993891041

R29.99

Ná ’n liefdesteleurstelling doen die internasionale model, Sasha Winckler, haar voor as ’n bibliotekaresse en vlug na haar broer se plaas in die Drakensberg. Hier ontmoet sy die aantreklike buurman wat ná sy egskeiding ’n afkeer aan beeldskone modelle het. Hy weet egter nie wie Sasha werklik is nie.

Bonuskortverhaal! (“Juweel onder sy neus” – Miriam Telanie) Met ’n besigheid en seun, het Danfred nie tyd vir liefde nie. Maar geen man kyk ’n juweel onder sy neus mis nie. En Jo Ann, is sy onverwagte skat.

Niefiksie 

Grootdrukblokraai 1

9780799371604

R90,00

Dis ’n ou, bekende gevoel: Jy brand om jou blokkiesraaisel in te vul, maar kan om die dood nie uitmaak wat in daardie blokkies staan nie, maak nie saak hoe ver of hoe naby jy die boek hou nie! Hier is nou uiteindelik ’n oplossing, en dit het niks met ’n bril uit te waai nie: Ons eerste grootdrukblokraaiboek!

Grootdrukblokraai is ’n bielie van ’n blokraaibundel. Dit bevat al die heerlike bestanddele van jou gunsteling-blokraaiboeke, behalwe vir een ding: Elke blokraai en elke leidraad is twee keer so groot! Nou kan jy die blokraaie met gemak lees en invul sonder om jou oë te vermoei. Dalk doen jy dit nog sonder jou bril!

Die boek bestaan uit 27 woordraaisels wat jou brein sal laat uitdaag, maar nooit jou oë nie.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest