Leesvordering:

Nuut by LAPA in Mei

Mei 11, 2017

Daar is ’n nuwe jeugboekskrywers op die rakke: Noleen Nolte. Om te dans vertel van grootword se seer en se soet. Verder is LAPA trots op ’n nuutjie vir ons – Elsa Hamersma se roman, Die mense langsaan, val in die kategorie ‘domestic noir’. Ons het ook uitstekende liefdesverhale, ’n lekker breiboek, ’n kookboek met lipleklekkerresepte vir die winter en heelwat vir die jongspan.

Die mense langsaan
Elsa Hamersma
R230.00
ISBN: 9780799383508

Christine wil van Frikkie, haar man, ontslae raak. Moord maak meer sin as egskeiding, veral nadat hy baie geld op die Lotto wen wat hy nie met haar deel nie, maar dan trek daar ’n geskeide man met ’n volwasse dogter langs haar in. Wanneer Frikkie op ’n onverklaarbare wyse by die trap in die huis afval, is die speurders en Christine suspisieus oor haar nuwe buurman. Christine, nou die ryk weduwee, trou gou weer en trek saam met haar nuwe man na ’n veiligheidslandgoed.

’n Eertydse kollega van Christine, Zebith, is haar nuwe buurvrou. Mettertyd kom Christine agter dat die huis waarin sy en haar nuwe man bly, ’n bloedige geskiedenis het. Zebith ken die geskiedenis en was betrokke by die inwoners. Sy ly aan postraumatiese stres en wroeg omdat sy skuldig voel oor wat in die huis langs hare gebeur het. Saam met die skuldgevoel moet sy ook die pyn van haar gebroke hart hanteer.

Die twee buurvroue het albei die mans saam met wie hulle gewoon het, verloor en albei het skouers geskuur met gewelddadige dood. Daar kan tog nie nog onvoorsiene tragedies vir hulle voorlê nie?

*

Domestic noir: Elders het boeke soos The girl on the train, wat as domestic noir bekendstaan, opslae gemaak. Hamersma val ook in die kategorie. Die versmorende effek van die huishoudelike alledaagse is die hoofbron van konflik. Hamersma se boek het egter ’n unieke storie, reg vir die Suid-Afrikaanse mark.

Chanette Paul, LAPA Uitgewers se manuskripontwikkelaar, sê: “Dis altyd verblydend wanneer skrywers nuwe genres in Afrikaans aanpak. Die noir-genres, en spesifiek domestic noir, is deesdae baie gewild. Ek is dus bly Elsa het hierdie tendens op die proef gestel.”

Jeanette Ferreira, teksredakteur, sê: “Dit is die beste van Elsa se romans wat ek ooit gelees het. Die bisarheid, die droefheid, die sameloop van omstandighede het my so geboei dat ek nie die teks wou neersit nie. Well done!”

Helende liefde
Anna Penzhorn
R230.00
ISBN: 9780799383515

Andrea Basson se lewe verander onomkeerbaar toe sy met die ondenkbare gekonfronteer word. Ná dertien jaar van getroude lewe met Dewald, die liefde van haar lewe, ontdek sy hy is ’n rondloper. Sy maak kennis met die slinksheid van ’n Jesebel en gaan deur al die fases van ’n vrou wat owerspel eerstehands beleef – ontkenning, verwerping, woede, wraak en intense hartseer.

Die pad na herstel is lank, uitdagend en vol slaggate, maar die storm staan nie stil nie en sy kom ook nie dieselfde mens anderkant uit nie. In die proses ontdek sy ook heling lê daarin om na ander in nood uit te reik. Egskeiding verwoes, maar die liefde maak heel.

*

Anna Penzhorn is die skrywersnaam van Anni Niewenhuis. Helende liefde is haar 44ste boek.

Chanette Paul, LAPA se manuskripontwikkelaar, sê: “Wat ʼn heerlike, deurleefde manuskrip! En boonop so vlot geskryf en goed versorg. Anni lewer hier werk van uitstekende gehalte. My hart wou breek vir Andrea. Ek het saam met haar swaar gekry. Haar seerkry het in my geëggo, haar verwarring en die ontreddering wat sy voel, het my diep ontroer.”

Jeanette Ferreira, teksredakteur sê: “Hierdie is knap hantering van ʼn sensitiewe tema deur ʼn ervare skrywer van romanses en liefdesromans. Die leser lag en huil saam met die hoofkarakter, word op ʼn reis geneem wat emosionele geweld in sy rouste vorm uitspel. Maar Andrea kies die pad wat na heelheid en uiteindelik ook ’n nuwe liefde lei. Anna Penzhorn het ’n fyn aanvoeling vir die psige van die vrou en die verwikkeldheid van verhoudings.”

Ontembare bruid
Dina Botha
R200.00
ISBN: 9780799383560

Vir die pragtige en sprankelende Jacqueline de Péronne is die lewe aan die Kaap ’n lied. Nie eens haar gereëlde huwelik met haar uiters onaantreklike stiefneef, kaptein don Miguel Cortés, ’n groot, vet en onaantreklike slawehandelaar, kry haar onder nie. Miguel is vort met sy vrag slawe en Jaqueline hervat haar ongebonde lewe van pret en partytjies.

Christoban Hernández, ’n uiters aantreklike reisiger en gas aan haar tante se huis, het egter ander idees oor die huwelik, soos hoe ’n getroude vrou haar behoort te gedra. Hy onderneem om haar vryhede in te perk. In te staan vir haar man.

Niemand regeer oor Jacqueline nie. Allermins ’n vreemdeling. Sy tart hom. Treiter hom. Maak haar rokke se halslyne nog laer. Jaag sy bloeddruk doelbewus op. Keer op keer beland sy in Christoban se arms, maar swig kan sy nie. Sy is en bly ’n getroude vrou.

Miguel se terugkeer verander alles. Christoban het ’n ou appeltjie met Miguel te skil. Christoban was ’n roeier op Miguel se galeiskip en dra die letsels oor sy lyf. Miguel moet sterf. Nie eens Jacqueline kan Christoban keer nie. Maar vir wie se lewe moet sy vrees? Haar man s’n of die man wat sy liefhet?

Niefiksie

Vrouekeur 50 Breipatrone
Christa Swanepoel
R275.00
ISBN: 9780799382877

Vrouekeur 50 breipatrone bied ’n breibonanza vir die ywerige handwerker.

Christa Swanepoel en Vrouekeur bied 50 splinternuwe breipatrone in een boek, opgedeel in vyf temas: Babas, Meisies, Seuns, Mans en Troeteldiere. Die moeilikheidsgraad van die patrone en tegnieke wat gebruik word wissel, so die boek is ideaal vir beginners en brei-entoesiaste met meer gevorderde vaardighede.

Projekte wat aangepak word, wissel van skattige babamussies en -truitjies tot truie, serpe en musse vir kinders en mans. Troeteldierliefhebbers sal bly wees oor die hoofstuk wat items soos hondejassies, ’n drasak, ’n katbedtjie en troeteldierspeelgoed, bevat!

Die boek bevat ook ’n lys brei-afkortings in Afrikaans én Engels.

50 Sop- en broodgeregte
LAPA Uitgewers
R150.00
ISBN: 9780799382785

Tuisgemaakte sop en brood is een van die beste maniere om liggaam en siel te voed gedurende die koue wintermaande. Al die resepte maak gebruik van bestanddele wat reeds in jou koskas is, of maklik bekombaar is by jou plaaslike supermark.

Die resepte sluit treffers in soos:

  • Hoender-en-noedelsop
  • Romerige blomkool-en-aartappelsop met spek
  • Oom-en-tantesop
  • Kruiebrood in ’n blikkie
  • Olyf-en-spekbroodwiele

Kinder- en jeugboeke

Om te dans
Noreen Nolte
R140.00
ISBN: 9780799380194

Skaars drie maande terug was Lisa se lewe nog normaal. Hulle was ’n gesin, sy het vriende gehad en sy het geléwe vir ballet. Toe verander alles.

Ná die bom bars, gaan haar ma vir drie maande oorsee, en Lisa moet by haar eksentrieke ouma gaan bly wat pienk tekkies dra en glo in lysies maak. Sy moet probeer aanpas in ’n nuwe skool, waar alles onbekend is; en sy moet probeer vrede maak met wat gebeur het.

Lisa is nie seker of sy kans sien vir hierdie nuwe begin nie. ’n Mens kan egter nie ’n “delete-knoppie” druk en al die aaklige dinge in jou lewe uitvee nie.

Sy is vasbeslote om nóóit weer te dans nie en sy weier om met haar pa te praat, ná wat daardie vreeslike dag gebeur het. Die enigste ligpunt is Jaco, haar ouma se buurseun met die donker oë.

Sal Lisa die moed kan bymekaarskraap om ooit weer alleen op ’n verhoog te stap en die wêreld in die oë te kyk?

Om te dans is ’n vars, boeiende debuutroman vir tieners oor die opdraandes én die lekkertes van grootword.

Cowboy Koekemoer van die Klein-Karoo en die Petrolpadda
Henry Ferreira
Illustreerder: Alistair Ackermann
R90.00
ISBN: 9780799380071

Doer ver op die horison kom ’n stofstreep oor die vlakte nader. Die stofstreep word ’n stofwolk wat vinnig groei en al hoe groter en groter word. Dit is niemand anders nie as Cowboy Koekemoer van die Klein-Karoo wat op sy getroue kameelperd, Shorty, aangery kom!

Dit is ’n verbeeldingryke storie oor die avonture van ’n eg Suid-Afrikaanse cowboy wat die skelms laat les opsê. Wanneer gevaar hom in die gesig staar, is Koekemoer die kalmste cowboy in die hele Klein-Karoo!

Die Fantastiese avonture van Theo die kat
Wendy Hartman
Illustreerder: David Theron
R130.00
ISBN: 9780799379891

Theo bly saam met sy ma, sy broer en sy suster reg langs die biblioteek. Die ander katte stel net belang in kos, kattekwaad en kattemaai. Nie Theo nie, hy hou van lees. In hierdie omnibus verskyn drie lekkerleesstories oor Theo se avonture.

In Theo die biblioteekkat is hy die enigste een wat ’n rot ruik toe die aaklige mevrou Zuurpruim al die katte nooi om by haar te kom woon.

In Theo en die kattedief is al die katte in Huis Kietziekatzie dol daaroor wanneer Theo vir hulle stories lees, maar op ’n dag verdwyn die katte skielik spoorloos. Waar kan hulle wees?

In Theo en die sirkus is daar op ’n dag ’n plakkaat in die biblioteek opgeplak. Alle diere word genooi om by die sirkus aan te sluit. Almal is opgewonde en oefen om toertjies te doen, maar Theo lees iets wat sy snorbaarde laat kriewel …

Z is vir Zackie 5: Die pretpark
Jaco Jacobs
R85.00
ISBN: 9780799380156
Illustreerder: Alex van Houwelingen

Zackie en Vincent kan nie wag nie. Hulle gaan vandag pretpark toe! Daar is ’n Groot Wiel, ’n Wilde Wipwa en ’n Spooktrein.

Anton, die skool se grootste boelie, is ook by die pretpark. Toe hy vir Vincent begin terg, besluit Zackie om hom ’n les te leer!

Z is vir Zackie 6: Die tentavontuur
Jaco Jacobs
R85.00
ISBN: 9780799380163
Illustreerder: Alex van Houwelingen

Zackie en Vincent is opgewonde. Hulle gaan saam met Zackie se pa kampeer. Die hele naweek lank gaan hulle visvang, voëls kyk en om die kampvuur kuier.

Anton en sy pa gaan ook vir die naweek kampeer. Anton is ’n boelie en hy terg graag ander kinders. Gaan hy dit regkry om Zackie en Vincent se naweek te bederf?

Romanza

Dans met ’n maangodin
Rosita Oberholster
R85.00
ISBN: 9780799383386

Lilly is oortuig dat haar buurman Matt ook gevoelens vir haar het. Maar dan trek sy eks-vrou oornag by hom in en boonop praat hy gereeld van die nimlike “Selene” wie sy nog nooit met die oog gesien het nie.

Lank en gelukkig
Magdaleen Walters
R85.00
ISBN: 9780799383393

Om skielik jou huis met ’n vreemdeling te deel, is moeilik. Veral as dié vreemdeling jou eks-verloofde se broer en onmeetlik aantreklik is – en jou boonop gekoester en beskermd laat voel. Dit is die dilemma waarmee Larita sit.

Ridder van die branders
Rika Du Plessis
R85.00
ISBN: 9780799383409

Duart red Dineke van die diepsee se branders. ’n Ridder, dink sy. Maar vanaf sy eerste woorde vryf hy Dineke verkeerd op. Duart dink sy is bedorwe en sy dink hy is ongemanierd. Waarom vind hulle mekaar dan onweerstaanbaar?

My hart se keuse
Ria Richards
R85.00
ISBN: 9780799383416

Ná haar eks-man se verraad glo Saskia nie haar hart kan weer herstel nie, totdat sy die sproetgesigseuntjie in haar speelgroep se aantreklike pa, Quintin, ontmoet. Hy maak teenstrydige emosies in haar wakker: een oomblik laat hy haar hart bokspring, die volgende wil sy hom vermoor.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest