Leesvordering:

Nuut by LAPA in September

Aug 31, 2018

Twee nuwe drukname op ons lys!

Ja, September, die mooiste, mooiste maand bring ook pragtige boeknuus. LAPA het pas twee nuwe drukname tot ons lys gevoeg. Ons gaan voortaan selektief ook goeie boeke uit die VSA en uit eie bodem onder ander drukname versprei.

Catalyst Press en Story Press Africa is die eerste twee nuwe drukname wat ons sal versprei.

LAPA is trots om nog meer stories oor ons mooi kontinent te vertel.

LAPA beteken “huishouding” in Sotho. Ons huis brei dus uit. Deur vennootskappe soos hierdie aan te gaan, kan ons uitgewers konsentreer op die uitstekende werk waarvoor ons dekades lank bekend is: Om ’n trotse leestuiste te skep in Afrikaans.

Enige navrae hieroor moet asseblief direk aan Izak de Vries gerig word: izakd@lapa.co.za.

Fiksie

Al wat oorbly

Santie van der Merwe

9780799390322

R265.00

Julia Meiring het haar ma verloor toe sy ses jaar oud was. Haar pa is dadelik weer getroud, en sy is deur ’n ongenaakbare stiefma grootgemaak wat byna die teenoorgestelde was van haar liefdevolle ma. Die stiefma het feitlik al haar aandag aan haar laatlammetjie gewy.

Julia vind die liefde van haar lewe in haar buurman, Wynand du Toit. Hy is ‘n geskeide man, en die pa van twee kinders maar Julia laat haar deur die verhouding meesleur, want Wynand se kinders woon in die Kaap by hul ma, en sy kan hulle heeltemal vermy.

Omstandighede dwing Wynand se eks en haar gesin terug Gauteng toe, en Julia verbreek summier hulle verhouding. Sy sien nie kans om ʼn ma te wees nie, en nog minder ʼn stiefma.

Haar drakoniese stiefma sterf, en Julia besef weer eens hoe min sy van haar eie ma weet. Sy probeer ʼn beeld van haar ma saamflans uit die herinneringe wat haar veel ouer sibbe half onwillig met haar deel. Stadig maar seker besef sy dat haar ma nie ʼn engel was nie, dat haar stiefma nie inherent boos was nie, en dat sy dalk vir Wynand weer ’n kans moet gee.

Al wat oorbly is Santie van der Merwe se sesde roman. Wat maak die boek anders?

  • Die roman spreek die dilemma van ’n jong vrou aan wat moet besluit of sy haar verhouding met ’n geskeide man, én sy twee kinders, wil voortsit.
  • Die hoofkarakter moet diep in haar verlede delf om ten volle te verstaan waarom sy teë is daarop om kinders te hê.
  • Vergifnis en die delikaatheid van verhoudings is ’n deurlopende tema.

The Lion’s Binding Oath and Other Stories

Ahmed Ismail Yusuf

9781946395078

R220.00

Leer die Somaliese landskap en mense ken deur die kortverhale van Ahmed Ismail Yusuf. Hy sal jou meevoer met vertellings van die alledaagse, die gemeenskap en menswees, hy neem jou ook tot in die donker landskappe van oorlog en terreur. Yusuf verweef bekende volksverhale en legendes baie kunstig met sy eie verhale. Dit begin met ’n seun wat sy gesin se vee teen roofdiere moet beskerm en die bundel eindig wanneer ’n seun met ’n leeu vriende word. Tussenin lê verhale oor klas en oorlog. In die VSA het The Lion’s Binding Oath and Other Stories reeds ’n Kirkus Ster ontvang.

Kinder- en Jeugboeke

Shaka Rising: Legend of a Warrior Prince

Author and Illustrator: Luke W. Molver

Age: High-school learners to adults

9781946498984

R180,00

Vasgevang in die politieke magspel tussen Europese besetting en slawehandel moet die jong prins Shaka sy gemeenskap beskerm deur oorlog, onderhandeling en alliansies. Hierdie grafiese roman kyk noukeurig na die oorlewering van die bekende Zoeloekryger, maar ondersoek ook die briljante leier wat sy kultuur en gemeenskap moet beskerm teen die aanslae van die vreemde. Shaka se aangrypende verhaal resoneer met hedendaagse kwessies. Molver verduidelik as volg: “I believe that people are inherently the same: we feel the same emotions, burn under the same sun and bleed the same red.”

As mens geluk kon proe

Zelda Bezuidenhout

13+

9780799389470

R175,00

Toe Arnelia en haar ma van Kaapstad na Potchefstroom verhuis, besluit sy dit is die ideale geleentheid om die draaiboek van haar lewe te herskryf. ’n Nuwe dorp en ’n nuwe skool is die perfekte geleentheid om haarself te herontwerp, om ’n nuwe blaadjie om te slaan.

Operasie Nuwe Arnelia.

Oprah sal trots wees.

Ongelukkig loop haar planne sommer uit die staanspoor skeef toe sy by die skool se entrepreneursdag pens en pootjies neerslaan met arms vol kos. Boonop is daar ’n groepie meisies wat duidelik vasbeslote is om die lewe vir haar moeilik te maak.

Dankie tog vir nuwe vriende, soos Dineo en Ilana, wat die daaglikse dramas van haar lewe ietwat draagliker maak.

Dan is daar Dewald. Hy is die donkerkop-boerseun met die skewe glimlag wat weet hoe om crêpes suzette, tiramisu en uiekonfyt te maak. Hy laat Arnelia se hart vreemde dinge doen, al weet sy hy sal nie twee keer na ’n meisie soos sy kyk nie.

Toe Dewald se lewe egter onverwags op sy kop gekeer word, gryp Arnelia en haar vriende in. Danksy ’n ou goudgeel kombi, ’n winkelpop, genaamd Saartjie, en ’n klomp fantastiese resepte, begin hulle ’n mobiele snoepie by die skool. Die Snoeperheroes het die skool op hol met allerlei opwindende pousekos en prettige idees.

Toe Arnelia egter uit die bloute ’n groot rol in die skool se produksie van Hairspray losslaan, word haar nuwe vriendskappe tot die uiterste beproef en sy word gedwing om haar moeilike verhouding met haar pa reguit in die oë te kyk.

As mens geluk kon proe is ’n heerlike tienerverhaal propvol humor en deernis, wat bewys dat geluk dikwels in die klein dingetjies skuil. Dit was ’n naaswenner van LAPA se Jeugromankompetisie van 2017.

Keshia Davids, superheld

Alesha Dixon

Illustrasies: Pe Grigo

9+

9780799388763

R150,00

Keshia Davids se hare mince. As jy nie weet wat dit beteken nie, is jou hare nie woes en wild en onbeheerbaar soos Keshia Davids s’n nie.

Keshia Davids is eintlik net ’n doodgewone (gaap) skoolmeisie. Behalwe vir haar hare, hulle is nie glad en reguit nie, maar Keshia praat nie graag daaroor nie, so die storie gaan nie daaroor nie.

So? Behalwe vir haar hare, is daar is niks spesiaals aan haar nie. Sy kan nie eens ’n behoorlike wawiel doen nie. Alles verander toe sy op ’n dag sien hoe ’n boelie op haar kleinsussie pik – en die vonke begin spat! Ja, regtig. Daar skiet ligstrale uit Keshia se vingers. Wat op aarde is aan die gang?

Dit is tyd dat haar ouers oop kaarte speel – en Keshia se lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie. Sy vind uit haar ma lei ’n dubbele lewe as ’n geheime superheld wat misdaad regoor die wêreld bestry, terwyl haar pa by die huis bly en na die kinders omsien. Die tyd het aangebreek dat Keshia by haar ma aansluit en deel word van die wêreldwye stryd teen skelms.

Terwyl Keshia se superkragte begin sterker word, moet sy ’n balans probeer vind tussen haar superheld-opleiding en haar skoolwerk. Hoe op aarde gaan sy haar geheim vir haar vriende wegsteek? Boonop: toe haar ma se bose tweelingsus haar opwagting maak, begin Keshia wonder of dit nie dalk meer pret is om ’n super-SKURK te wees nie?

Keshia Davids, superheld is ’n skreeusnaakse, aksiebelaaide avontuurverhaal vir jong lesers. Die humoristiese swart-wit-illustrasies dra by tot die pret.

Hierdie boek het alles: ’n superheldin, gesinsbande, groepsdruk, boelies en ’n supersterskrywer.

Sanri Steyn: Die rustelose mummie

Theresa van Baalen

Illustrasies: Johann Strauss

9+

9780799383850

R125,00

Sanri Steyn droom daarvan om eendag ’n joernalis te word. Nie sommer enige joernalis nie. Haar naam sal op almal se lippe wees: Superjoernalis Sanri Steyn.

Sanri hou nie juis van grillerige goed soos mummies nie, maar sy is nogtans opgewonde toe sy hoor ’n rondreisende uitstalling met artefakte uit antieke Egipte gaan Raaiselfontein se museum besoek. Uiteindelik gebeur daar iets waaroor sy in haar koerant kan skryf!

Kort voor lank begin daar egter vreemde dinge gebeur. Hoekom lyk die mummie so vreemd op foto’s? Waarom draai iemand snags die dorp se standbeelde in toiletpapier toe? Ook; waarom raak die kurator van die museum en sy dogter elke aand onverklaarbaar aan die slaap?

Sanri se neus begin kriewel. Kan dit wees dat die mummie lewend word? Wat wil hy hê? As Sanri se neus kriewel, moet jy weet hier kom ’n storie…

Die aweregse humor, lekker grillerige temas en fantastiese illustrasies in hierdie reeks sal seuns en meisies vasgenael hou!

Dit is die agste boek in dié reeks. Meer as 20 000 kopieë van die Sanri Steyn-reeks is al verkoop. Dit is ’n gewilde reeks stories vir seuns en meisies in die intermediêre fase. Elke boek in die reeks kan ook as alleenstaande titel gelees word.

Stalmaats: Omnibus 1

Lize Roux

9+

9780799389326

R185,00

Die eerste vyf boeke in die Stalmaats-reeks verskyn nou vir die eerste keer saam in een lekkerlees-omnibus. Elkeen van hierdie verhale het op hulle eie reeds meer as 11 000 kopieë verkoop. Nou bondel ons hulle saam, wat beteken die stories word verkoop teen ongeveer R37,00 elk – alles pogings van LAPA om kinders aan die lees te hou in benarde ekonomiese tye.

Anri se lewe word onverwags op sy kop gekeer toe haar pa verplaas word en hulle moet verhuis. Sy mis haar beste maat en haar ou ryskool. Gelukkig ontmoet sy vir Megan en Karen, twee ruiters by haar nuwe ryskool. Sommer gou word Anri deel van die opwinding by die Dagbreek-ryskool waar sy gekies word om saam met die res van die Stalmaats die beginnerruiters te help. Daar wag hope avonture vir haar saam met Sugarplum, die spierwit merrie wat dadelik diep in haar hart kruip, en al die ander ongelooflike perde wat deel is van die ryskool. Die katterige Vinette is gedurig besig met allerlei planne om die lewe vir Anri, Megan en Karen moeilik te maak. Dan is daar Jacques, die ryskooleienaars se seun met sy blou oë, wat net so mal is oor perde en Anri se hart vinniger laat klop. Word deel van die pret en opwinding by die Dagbreek-ryskool saam met Anri en die ander Stalmaats!

Hierdie omnibus bevat die volgende vyf titels:

  1. Perdedrome
  2. Totsiens, Sugarplum (ATKV-kinderboektoekenning 2007)
  3. Anri se plan
  4. Die spookperd (ATKV-kinderboektoekenning 2008)
  5. Die beroemde ruiter

Helde van Suid-Afrika 2

Wendy Maartens

Illustrasies: Alex van Houwelingen

7+

9780799389210

R125,00

Ontmoet ’n paar van die dapperste Suid-Afrikaanse helde! Leer ken die helde van die Westdene busramp en ’n dapper mynwerker wat kaalvuis teen tonne rots baklei het om sy kollegas te red; lees die storie van Klara Majola wat een nag in die Koue Bokkeveld na haar blinde pa gaan soek het; en ontdek die ongelooflike verhaal van Hector Pieterson wat die wêreld se oë oopgemaak het vir die gruwels van apartheid.

Die stories word op ’n toeganklike manier met eenvoudige taalgebruik vertel sodat beginnerlesers dit maklik self kan baasraak!

Hierdie boek bevat ses verstommende ware heldeverhale:

  1. Sultan, die koning van sy baas se hart

Sultan is ’n dapper hond wat sy baas gered het toe hy op ’n dag deur ’n elektriese kabel geskok is.

  1. Die bushelde van Westdene

In 1985 beland ’n skoolbus in ’n rivier – en terwyl die bus in die water wegsink, word ’n paar skoolkinders helde.

  1. Hector Pieterson maak die wêreld se oë oop

’n Onskuldige skoolseun se dood het wêreldnuus geword – en gehelp om ’n einde aan die gruwels van apartheid te maak.

  1. Duisend kilometer deur die wildernis

Ontmoet die dapper John Ross wat selfs koning Sjaka se respek gewen het nadat hy meer as 1 000 kilometer deur die wildernis gereis het om hulp vir sy mense te ontbied.

  1. Kaalvuis teen tonne rots

Ná ’n rotsstorting in die City Deep-myn het Richard Simelane besluit om nie moed op te gee nie – hy het die rots met sy kaal hande begin weggrawe.

  1. Klara Majola, kind van die kapok

Een stormnag het ’n dogtertjie genaamd Klara Majola die ysige koue van die Koue Bokkeveld getrotseer om haar blinde pa te gaan soek.

Dierehotel Omnibus

Kate Finch

Illustrasies: John Steven Gurney

7+

9780799389555

R155,00

Goeie nuus vir jong diereliefhebbers: Die gewilde Dierehotel-reeks is nou vir die eerste keer in ’n omnibus beskikbaar! Troeteldiereliefhebbers is versot op die tweeling Liela en Dirkie se avonture in die Dierehotel! In elke boek maak ’n nuwe vierpotige of geveerde kuiergas sy opwagting in die hotel – en dit sorg vir hope opwinding! ’n Prettige, snaakse reeks vol oulike troeteldiere en lawwe avonture!

LAPA het hierdie boeke eers individueel uitgegee, maar die aanvraag daarna was so groot, dat hierdie omnibus saamgestel is om die prys af te bring.

Die drie stories wat nou saam verskyn is:

1: Alle diere welkom!

Die tweeling Liela en Dirkie kan nie glo hulle gaan in hulle tante se hotel bly nie. Die hotel lyk nou wel oud en afgeleef – maar daar wag sommer hope verrassings op hulle! Die hotel is vol ou kamers en daar is ’n daktuin en selfs ’n hysbak. Daar is ook een GROOT probleem – daar is geen gaste nie.

2: ’n Groot verrassing

Die volgende kuiergas by die Dierehotel is ’n gestreepte grys kat genaamd Matilda. Maar Liela en Dirkie is bekommerd, want Matilda wil glad nie speel nie – sy wil net die heeltyd wegkruip en slaap! Wat op dees aarde is fout met haar?

3: Snuf in die neus

Almal is verras om te sien hoe fluks die Dierehotel deesdae sake doen! Liela en Dirkie het hope troeteldiere om op te pas – katte, honde, konyne, marmotte en voëls. Maar toe ’n afgetrede polisiehond genaamd Watson kom inloer, snuffel hy allerlei moeilikheid uit. Kan Liela en Dirkie met sy hulp die Dierehotel se heel eerste geheimsinnige raaisel oplos?

Professor Fungus en die gekloonde konyn

Jaco Jacobs

Illustrasies: Johann Strauss

7+

9780799389234

R115,00

Professor Fungus het ’n probleem: Sy nuutste uitvinding wil glad nie werk nie! Die Dupliserende Infrarooi Trippel-Turbo Omsetter (kortweg sommer D.I.T.T.O.) is veronderstel om dinge te kloon… maar dit doen net mooi niks!

Bennie, Jenny en Edison die robot dink dit is hoog tyd dat die professor ’n blaaskans neem en ’n slag uit sy laboratorium kom om vars lug te kry. Dalk is ’n uitstappie na neef Naas se plaas net die regte medisyne!

Maar op die plaas loop dinge onverwags skeef – en kort voor lank is daar ’n KONYN-KATASTROFE met konyne net waar jy kyk!

Jong wetenskapliefhebbers (en almal wat mal is oor snaakse stories!) verslind Jaco Jacobs se Professor Fungus-reeks – en die ongelooflike illustrasies deur Johann Strauss sorg sommer vir dubbel die leespret! Elke storie is propvol fantastiese karakters en wilde, skreeusnaakse avonture. En by Einstein se snor, agterin elke boek is daar boonop ’n eksperiment wat jy tuis kan doen!

Professor Fungus en die onsigbare skurk

Jaco Jacobs

Illustrasies: Johann Strauss

7+

9780799389227

R115,00

Professor Fungus is besig met ’n fantastiese nuwe uitvinding in sy laboratorium – en Bennie en Jenny kan nie wag om dit op die proef te stel nie.

Professor Fungus noem dit sy Vloeibare Energie-Reduserende Dubbel-Weerkaatsende Ydelheid-Neutraliseerder … of kortweg sommer net V.E.R.D.W.Y.N.

En die beste van als? Dit kan jou onsigbaar maak! Dit klink sommer na vet pret!

Maar dan kry ’n skurk die formule in die hande – en Bennie en Jenny moet help om van die wêreld se kosbaarste juwele te probeer red …

Jong wetenskapliefhebbers (en almal wat mal is oor snaakse stories!) verslind Jaco Jacobs se Professor Fungus-reeks – en die ongelooflike illustrasies deur Johann Strauss sorg sommer vir dubbel die leespret! Elke storie is propvol fantastiese karakters en wilde, skreeusnaakse avonture. En by Einstein se snor, agterin elke boek is daar boonop ’n eksperiment wat jy tuis kan doen!

Niefiksie

Beatrix sê: Raak Tunisiese hekel baas

Beatrix Snyman

9780799367478

R285,00

Tunisiese hekelwerk is ’n baie ou hekeltegniek wat tans ’n oplewing beleef. In die verlede was Tunisiese hekel sinoniem met dik, swaar komberse, maar deesdae breek hekelaars weg van dié tradisionele styl en eksperimenteer met opwindende nuwe steke en tegnieke. Nou bestaan Tunisiese hekel uit fraaie kantpatrone, interessante vorms en kleurryke ontwerpe!

Beatrix sê: Raak Tunisiese hekel baas is ’n volledige gids wat jou leer om dié gewilde hekeltegniek te bemeester. Met die hulp van pragtige volkleurfoto’s leer jy stap-vir-stap sowat 40 verskillende steke en ander hekelkunsies ken.

Beatrix sê: Raak Tunisiese hekel baas verduidelik onder meer:

  • Hoe om verskillende hekelpenne vir Tunisiese hekelwerk te gebruik
  • Hoe om patrone te lees en diagramme te verstaan
  • Waarvoor afkortings en simbole in Tunisiese hekel staan
  • Hoe om probleemareas raak te sien en reg te maak
  • Hoe om 40 verskillende steke te maak
  • Hoe om kleure en fatsoene in patrone te verweef
Romanza en RomanzaLiefde

Dans met my

Cynthia Robertson

9780799390353

R225.00

Miranda, ’n skrywer, se adrenalienverslaafde-verloofde Lukas sterf net voor hul troue in ’n motorfietsongeluk. Sy ontmoet Lukas se ewebeeld, Markus, ’n wildvanger en wildplaaseienaar, op die Kaapstadse lughawe net ná albei uitgevind het dat hul maats ontrou was.

Later ontmoet hulle weer in die Kruger Wildltuin, en die vonk tussen hulle is ooglopend, maar beide is so bang vir seerkry dat hulle nie sien wat reg voor hulle is nie.

Liefde kom nie altyd in die pakkie wat jy bestel het nie, en hul paadjies skei. Albei moet deur hul eie vrese werk om te besef dat dit erger is om sonder daardie persoon te wees as om jou vrese in die oë te kyk.

Die boek skep ook ’n baie goeie venster op die lewe van ’n wildboer in Alldays. Renosterstropery word ook aangeraak en daar is irriterende familie. Uiteindelik handel hierdie boek oor die seer wat hierdie twee mense ervaar het toe hulle nie ‘genoeg’ was vir hul charismatiese maats nie, asook die pad na hulle onderskeie plekke van heling.

Net myne

Susan Olivier

9780799390162

R90,00

Nadia het haar oog op ’n gewone outjie. Sy soek standvastigheid en reken hy sal dit kan bied. Human kom gooi egter al haar plannetjies deurmekaar. Gaan hy slegs tydelike opwinding bied, of is hy die een vir haar?

Reg vir my

Marilé Cloete

9780799390193

R90,00

Vir ’n tinktinkie met ’n groot bril en ’n ewige boek onder die blad het Henk Rademeyer sekerlik geen trek nie. Net soos die res van die wêreld se mans, dink Essie. ’n Reuseverrassing wag op haar toe Kupido betrokke raak.

Krummelpap in Parys

Ciska Olivier

9780799390223

R90,00

Christelle kon nog altyd kies en keur onder die mans en het nie ’n tekort aan selfvertroue nie. Vir die eerste keer in haar lewe kan sy nie kry wat sy die graagste wil hê nie: Michael le Grange!

Ciska is ’n debuutskrywer.

Ridder van haar hart

Madelein Stoltz

9780799390254

R90,00

Lorenzo Esposito sal nie ‘nee’ neem vir ’n antwoord nie. Shaylee sal met hom trou, want dan kry haar oorlede suster en sy oorlede broer se dogtertjie, Amy, ’n goeie tuiste. Dis ’n doodgewone saketransaksie, maar toe ontwikkel Shaylee gevoelens!

Reënmeisie

Nerine le Roux

E-Pub @ LAPA Uitgewers: https://bit.ly/2n71BGi

R29,99

Mobi @ Amazon: https://amzn.to/2LM2F18

Op ’n reënerige aand ontmoet Klara ’n man met treffende oë. Hy daag weer op terwyl sy werk as ‘Jai’ by die Chinese restaurant. Dalk is dit toeval, dalk nie, maar Ben verstaan haar hart se taal.

Bonuskortverhaal: Lokteks: Toe ontmoet ek jou – Ildé Grové

Sayeed het die vrou van sy drome ontmoet, maar hy nou moet haar aan die ander vrou in sy lewe voorstel, sy ma. Hy hoop dis nie die einde van hul pad saam nie.

Dié verhaal gaan oor liefde oor die kleurgrens. Sayeed word op die Kaapse vlaktes groot, sy verloofde is ’n wit vrou.

Nog altyd jy

Madelein Stoltz

E-Pub @ LAPA Uitgewers: https://bit.ly/2OGtL7I

R29,99

Mobi @ Amazon: https://amzn.to/2LUMSwi

In die ou Kaap moet Sidonie alleen oor begin. Danksy Aubin. Hy het haar familie verraai, maar alles wat ’n man en vrou na mekaar toe aantrek bestaan tussen hulle. Sy bewaak haar hart, maar haar liefde vir Aubin hou aan groei. Nog altyd jy is ’n historiese romanse!

Bonuskortverhaal: “Haar Valentynsgeskenk” – Bets Smith

Dit is die dag voor Valentynsdag. Mandie het nie eens tyd om haar hare te kam nie, wat nog te sê, om haar te bekommer oor waarom James, haar man van meer as ’n dekade, nie meer aandag aan haar skenk nie. Sy het veral nie tyd of lus om te wonder of James se vergeetagtigheid twee lang bene en ʼn sexy lyf het nie.

 

 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest