Leesvordering:

Raad vir Suid-Afrikaanse burgers wat in die buiteland reis

Mar 15, 2023

Wees voorbereid en doen navorsing oor jou bestemming.

Wanneer jy na die buiteland reis, moet jy tyd neem om die nodige navorsing te doen oor die finansiële, politieke, kulturele en ekonomiese omgewing van jou voorgenome bestemming.

Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (DIRCO) raai reisigers aan om ten minste ’n paar sleutelfrases in die gasheerland se taal te leer. Selfs al is dit ʼn middelmatige bemeestering van die plaaslike taal, kan dit jou ver bring. Dit is ook goeie praktyk om te weet hoe om iemand in hul eie taal te groet of dankie te sê. Wanneer jy na ’n land reis waar die kultuur beduidend van joune verskil, moet jy jou huiswerk doen om nie daardie land se inwoners onnodig aanstoot te gee nie.

Dit is belangrik om te onthou die wette van die vreemde land waarheen jy reis is op almal in daardie land van toepassing, ook op jou en ander toeriste terwyl julle in die land is. Niemand word vrygestel van die gasheerland se wette nie en jy kan ook nie spesiale behandeling verwag nie.

Ons raai jou aan om voor jou vertrek DIRCO se webtuiste dop te hou aangesien hulle belangrike wetgewing in die verskillende lande daagliks bywerk.

Moenie op die staat staatmaak nie.

Volgens die internasionale reg is ’n staat onder geen verpligting om sy burgers altyd te hulp te snel nie. Hulp gaan van verskeie kwessies afhang, byvoorbeeld waarom jy in die buiteland is, of daar enige verdrae bestaan tussen jou land en die land waarin jy is wat sodanige hulp moontlik maak of voorkom, of hulp prakties uitvoerbaar is en of jou land die kundigheid of hulpmiddele het om op te tree wanneer jy hulp benodig. Bereken jou risiko’s voor jy vertrek en as jy nie gemaklik voel nie, moet liewer nie gaan nie.

Hier is ses wenke om in ag te neem voor jy jou paspoort laat stempel:

Kry reisversekering en lees die polis.

As jy reisversekering uitneem, is dit jóú plig om na te gaan watter noodgevalle gedek word. Sorg dat jy die proses verstaan sodat jy weet wat om te doen indien jy ’n eis moet instel of van mediese dienste moet gebruik maak.

Belê in kommunikasie.

Dit is baie belangrik om te kan kommunikeer terwyl jy in die buiteland is. Belê in ’n draagbare laaier vir jou selfoon en verseker dat jy internasionale minute of genoegsame data op jou slimfoon beskikbaar het. In noodgevalle sal jy dalk die plaaslike polisie, ambulans of jou ambassade moet bel. Maak seker jy en jou kinders het toegang tot al die nodige noodnommers.

Maak seker jy verstaan die verkeersreëls.

Openbare vervoer en motorongelukke is die grootste oorsaak van Suid-Afrikaanse sterftes en beserings in ander lande. Die webtuiste www.asirt.org lig mense in oor die gehalte van paaie en openbare vervoer in verskillende lande. Dit gee ook deeglike verslae oor padtoestande, ongelukke in sekere omgewings en veranderings in verkeersregulasies. Sorg dat jy ingelig is oor die padreëls – nie net om jou eie lewe te beskerm nie, maar ook om onnodige onderonsies met die plaaslike polisie te vermy.

Moenie vir enigeen pakkies saamneem nie.

Al meen jy dat jy 100% seker is wat daarin is, bly dit die beste om dit nie te doen nie. Smokkelaars is soms die mense van wie jy dit die minste verwag.

Neem ekstra medikasie saam.

As jy chroniese medikasie gebruik, sorg altyd dat jy ’n paar dae se ekstra voorraad saamneem. Vlugte kan vertraag word of stakings kan openbare vervoer lamlê en dan moet jy ekstra medisyne hê. Neem ook jou voorskrif en die medikasie se inligtingspamflet saam. Dieselfde medisyne het nie altyd dieselfde naam oraloor nie en as ’n apteker die pamflet het, kan ’n plaasvervangende middel makliker gevind word. Onthou, ongelukke kan ook gebeur. Jou medisyne kan dalk uitval en dan moet jy nog kry al het jy voorsorg getref.

Wees versigtig vir slange in die gras.

Of jy na China op pad is vir vakansiewerk of bloot toere in Rome wil bespreek, wees maar bedag op mense wat jou ’n rat voor die oë wil draai. As jy die geleentheid kry om vakansiewerk oorsee te doen, maak seker dat jy sélf ook die land se indiensnemingsregulasies en visumvereistes ken. Gaan die naam en adres van die maatskappy deeglik na om slenters uit te skakel en probeer met meer as een kontakpersoon praat. Die kanse op ’n lokval is groot as:

  • jy ’n werksaanbod kry sonder dat jy ’n onderhoud gehad het;
  • daar van jou verwag word om betalings te maak voordat jy meer inligting mag kry;
  • die posbeskrywing baie abstrak is;
  • die proses té maklik is en die pos of salaris té goed is om waar te wees; en
  • jy geen werkvisum voor jou vertrek ontvang nie.

Daar is ook natuurlik die taxibestuurder wat jou met ’n ompad na jou bestemming neem, die goeie Samaritaan wat aanbied om jou bagasie te dra en dan ’n stewige fooitjie eis of toeragente wat die prys van hulle uitstappies laai net omdat jy ’n toeris is. Hou maar jou oë oop en maak gebruik van verwysingsdienste soos TripAdvisor om jouself touwys te maak.

AfriForum Wêreldwyd wil mense bemagtig om sorgeloos oor die wêreld heen te kuier. Die belangrikste bestanddeel om jou reis te geniet, is om voorbereid te wees!

Daar is vele ander reiswenke oor hoe om veilig in ’n ander land te reis. Deel asseblief jou wenke met ons.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest