Leesvordering:

SA-belastinginwoners wat in die buiteland werk, het steeds belastingverpligtinge

Jan 31, 2023

Deur Amanda Visser

Baie Suid-Afrikaners verkeer onder die wanopvatting dat finansiële emigrasie gelykstaande is aan belastingemigrasie. Die amptelike beleid van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is egter dat goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Reserwebank om finansieel te emigreer, nie meer op ’n individu se belastingverpligtinge of belastinginwonerstatus betrekking het nie.

As Suid-Afrikaners belastinginwoners in SA bly, het hulle belastingverpligtinge, soos die verpligting om ’n belastingopgawe by die SAID in te dien. Versuim om dit te doen kan kwaai boetes tot gevolg hê.

Hugo van Zyl, belasting- en valutabeheerspesialis, sê die beslissende faktor oor belastinginwonerstatus is steeds of ‘n individu nie meer “gewoonlik woonagtig” is nie of vir belastingdoeleindes “geag word kragtens ooreenkoms ’n nie-inwoner te wees” as gevolg van bepalings van die dubbelbelastingooreenkoms tussen SA en die gasheerland.

“Die verstekposisie vir Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon en werk is om ’n belastingopgawe in SA in te dien totdat die belastingbetaler deur die SAID onaktief verklaar word of nie meer ’n opgawe hoef in te dien nie.”

Dis nie so eenvoudig nie

Suid-Afrikaners wat besoldiging van ’n Suid-Afrikaanse maatskappy verdien terwyl hulle in die buiteland woon en ’n inkomste van minder as R500 000 uit ’n enkele bron verdien, het ’n verpligting om ’n belastingopgawe in te dien.

Die individu kan deur die SAID aan ’n automatiese aanslag onderwerp word, en as hy nie die akkuraatheid van die aanslag nagaan nie, kan hy werknemersbelasting op die bedrag betaal al is dit vrygestel. Die Inkomstebelastingwet maak voorsiening vir ’n belastingvrystelling op inkomste van tot R1,25 miljoen wat in die buiteland verdien is.

Die belangrike punt volgens Van Zyl is dat alle inwoners wat besoldiging verdien uit dienste wat in die buiteland gelewer word, belastingopgawes moet indien.

Dwaling oor deregistrasie

Van Zyl beklemtoon dat iemand wat belastinggewys geëmigreer het, nie sommer kan aanvaar dat hy by die SAID “gederegistreer” is nie. “Ek weet nie waar hierdie idee vandaan kom nie. Dit is eenvoudig nie waar dat die beëindiging van belastinginwonerstatus outomaties jou belastingnommer sluit nie. Al wat gebeur, is dat jou klassifikasie van belastinginwoner na nie-inwoner verander, maar jy bly ’n belastingbetaler.”

Wanneer jy die brief ontvang waarin jou belastingemigrasie bevestig word, moet jy nogtans die SAID versoek om die belastingnommer onaktief te maak. Dit kan gebeur slegs as daar geen inkomste soos huurgeld, rente, dividende of pensioenfondsuitbetalings uit ’n Suid-Afrikaanse bron is nie.

Suid-Afrikaners wat reken dat hulle nie-inwonerstatus as belastingbetalers in SA het, moet self ’n onafhanklike inwonertoets doen, het Van Zyl gesê tydens ’n webinaar wat teen die middel van verlede jaar deur The Tax Faculty aangebied is.

Dinge verander

Hy het verduidelik hoe iemand wat gedink het hy is ’n nie-inwoner, wel ’n belastinginwoner in SA geword het al het hy alle bande met die land verbreek. Die persoon het al baie jare lank in Doebai gewoon en het geen permanente woning tot sy beskikking in SA gehad nie. Sy oorlewende ouer is skielik oorlede en het ’n woning in Kaapstad aan hom nagelaat.

Die permanentewoning-valbylreël in die belastingooreenkoms tussen SA en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) het misluk omdat hy nou ’n permanente woning in albei lande gehad het. Die volgende toets was om te oorweeg waar sy “sentrum van lewensbelange” was.

“Hy het ’n Suid-Afrikaanse werkgewer wat hom te eniger tyd kan terugroep, en sy gewese vrou woon in SA met sy kinders. Om die SAID te oortuig dat sy sentrum van lewensbelange in die VAE is, sal moeilik wees.”

Outoregistrasieproses

Teen die einde van verlede jaar het die SAID begin met ’n outoregistrasieproses vir mense wat vir belasting geregistreer moet wees maar nie geregistreer is nie. Deur hierdie proses het mense wat “onaktief” was, gevind dat hulle terug op die register is. Die rede kan wees dat hulle ’n belang in ’n eiendom het of dat hulle ’n benoemde bevoordeelde van ’n trust is. Mense het skielik kennis geneem van administratiewe boetes as gevolg van agterstallige belastingopgawes.

Van Zyl sê Suid-Afrikaners in die buiteland moet daarop let dat as hulle ’n benoemde bevoordeelde van ’n trust, ’n trustee, ’n direkteur van ’n SA maatskappy, ’n lid van ’n uittreefonds of ’n mede-eienaar van eiendom in SA is, dit tot SA belastinggevolge kan lei.

Mense moet met die SAID skakel as hulle onseker is oor hulle indieningsverpligtinge, aangesien die SAID boetes kan oplê selfs al is net een jaar se belastingopgawe agterstallig.

Meer oor die outeur

Amanda Visser

Amanda Visser werk sedert 1986 as ’n joernalis vir radio en televisie, asook gedrukte en aanlyn media. Sedert 2003 lê sy haar op finansiële joernalistiek toe en was nog nooit spyt nie. Sy spesialiseer in belasting en het al oor handelsreg, mededingingsreg en regulatoriese kwessies geskryf.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest