Leesvordering:

Só leer jy ’n nuwe taal aan

Mar 8, 2022

Ons vergeet soms hoe belangrik dit is om te verstaan wat iemand sê. Ons loop by die huis in en praat Afrikaans en ons weet die reaksie gaan in Afrikaans wees. By die werk of in die winkel praat iemand Engels en ons verstaan wat gesê word sonder om twee keer daaraan te dink. Maar wat as jy jouself in ’n vreemde land bevind waar Engels nie sommer gepraat word nie en Afrikaans glad nie gepraat word nie? Dan hakkel jy maar deur ’n gebroke “parlez vous anglaise?” of “tu habla ingles” totdat jy iemand kry wat jou in gebroke Engels in die regte rigting kan beduie. Dit is reeds ’n uitdaging tydens ’n oorsese vakansie om jou weg deur die land te vind met ’n mengsel tussen die vreemde taal en gebroke Engels, maar wat as jy nou nog daar woon en nie die taal kan praat nie?

Om ’n nuwe taal aan te leer neem tyd en harde werk maar jy hoef nie vir ure lank met CD’s of woordeboeke te sit om die taal te probeer ontsyfer nie. Ons leef in ’n wonderwêreld vol hulpbronne wat dit makliker maak om nuwe dinge te leer en om ’n nuwe taal aan te leer was nog nooit so maklik soos nou nie. Sonder om verder uit te stel, hier is my topwenke om ’n nuwe taal aan te leer.

Laai ’n toepassing af

Ons skop sommer die lys af met die vinnigste manier om aan die gang te kom met ’n nuwe taal – deur jou selfoon! Daar is talle toepassings wat geskep is met die doel om tale maklik en toeganklik te maak. Die toepassings is ontwerp om gemaklik in jou skedule in te pas en benodig so min as vyf minute per dag om ’n paar nuwe woorde en frases aan te leer. Die twee beste toeps in hierdie opsig is Duolingo, wat gratis is tensy jy die uitnemende opsie kies, en Babbel, wat die eerste les gratis bied waarna ’n maandelikse fooi van R150 betaalbaar is. Duolingo is ’n goeie toepassing wat meer fokus op woordeskat en informele taalleer, terwyl Babbel meer gefokus is om jou so gou as moontlik aan die praat te kry.

Luister musiek

Een van die beste maniere om gemaklik met ’n taal te raak en die woordeskat op ’n meer ontspanne manier aan te leer, is deur musiek. Die beste genre hiervoor is popliedjies omdat dit baie herhalings bevat en ballades insluit wat stadiger is. As jy Frans leer is iemand soos Carla Bruni ’n goeie opsie en vir Nederlands is Guus Meeuwis, Nick & Simon en Kenny B behulpsaam. Oefen om saam te sing en lees die lirieke se vertalings sodat jy ’n idee kry van wat jy sing. Die saamsing help nie net om jou woordeskat te oefen nie, maar ook om die uitspraak onder die knie te kry.

Praat die taal

Hierdie wenk is natuurlik makliker vir mense wat omring word deur die taal wat hulle wil aanleer. Dit is ook makliker gesê as gedaan, want ons as mense is oor die algemeen maar skrikkerig om ons name met ’n plank te slaan. Om vol selfvertroue voor te kom en jou beste aksent uit te haal en jou hard geoefende woordeskat ten toon te stel, net om later agter te kom dat jy iets heeltemal anders gesê het as wat jy wou, is genoeg om enigeen te laat wens die aarde gaan oop en sluk hulle net daar in. Maar dit is deel van die leerproses. Kry ’n kollega of vriendin wat die taal praat en vra hulle om jou te help om jou taalvaardighede te oefen. Praat in die toekoms met mekaar in die taal en vra vir hulp wanneer jy vashaak.

Kry ’n penmaat (of e-posmaat)

Daar is verskeie webtuistes wat aan diegene wat daarvan hou om briewe te skryf – of e-posse te tik – die platform bied om nie net ’n penmaat te vind nie, maar ook iemand wat jou kan help om ’n vreemde taal aan te leer en wie jy in ruil kan help om Afrikaans of Engels aan te leer. My Language Exchange is ’n goeie wegspringplek as hierdie opsie vir jou aantreklik klink. Indien jy briewe skryf kan jy selfs verwag om oulike geskenkies soos plakkers of lapelwapens van regoor die wêreld te ontvang wat ’n bonus sal wees!

Oefen, oefen, oefen

Soos enigiets wat bemeester moet word, lê die geheim in die leer van ’n nuwe taal in die oefening daarvan. Jy moet bereid wees om die tyd in te sit om die taal aan te leer. As jy desperaat is om ’n taal so vinnig as moontlik binne ’n sekere tydperk aan te leer, is dit dalk ’n goeie idee om by ’n ambassade aan te klop en uit te vind oor die moontlikheid van ekstra klasse. Die Koreaanse ambassade bied byvoorbeeld kursusse vir beginners aan, asook gevorderde kursusse in Koreaans.

Die aanleer van ’n nuwe taal is ’n avontuur en kan ’n nuwe wêreld vir jou oopmaak. Dit gaan soms frustrerend wees en soms gaan jy nie lus wees om te oefen nie, maar as jy eers die taal begin verstaan is dit die beste gevoel ooit. Geniet elke oomblik!

LEES OOK: Die vreemdste dinge om aan gewoond te raak in die buiteland

Meer oor die outeur

Chante Kelder-Jansen van Rensburg

Chanté Kelder-Jansen van Rensburg is 'n mediaskakelbeampte by AfriForum. In haar vrye tyd hou sy daarvan om boek te lees en ook om self so bietjie te skryf.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest