Leesvordering:

Tallinn, juweel van die Baltiese See

Jan 30, 2019

deur George de Bruin

In die noordooste van Europa (of amptelik Noord-Europa) is drie klein lande wat aan die Baltiese See grens en dus as die Baltiese state bekend staan: Estland, Letland en Litoue. Die mooiste hiervan is Estland. En die mooiste stad in Estland is Tallinn.

Hoewel mense hul al 5 000 jaar gelede hier gevestig het, is dit een van die modernste stede in Europa. Dit is een van die top 10-wêreldstede wat digitale dienste betref, dit is die hoofkwartier van die Europese Unie se IT-agentskap en Skype het hier sy ontstaan gehad. Moet egter nie dink Tallinn is stad slegs van glas en beton nie – dit is ook ’n UNESCO-wêrelderfenisterrein en spog met een van die bes bewaarde Middeleeuse stadskerne in Europa.

Hoe kom mens daar?

Omdat Tallinn nie een van die besigste lughawens het nie, moet jy bereid wees om met ’n paar vlugte daar uit te kom. Ons het byvoorbeeld op Frankfurt geland en via Wene na Tallinn gevlieg. Daar aangekom het ons egter besef dat daar ’n uitstekende, redelik goedkoop veerbootdiens tussen Tallinn en Helsinki (in Finland) is – mens sou dus kon oorweeg om direk na Helsinki te vlieg en die veerboot te neem. Doen egter jou navorsing en besluit op die maklikste en goedkoopste opsie. Tallinn is nou nie die duurste stad in Europa nie, maar mens moet maar jou sente twee keer omdraai (en daar is baie om te sien!).

Wat kan jy verwag?

Tallinn is ’n juweel. Die Ou Stad se stegies en pleine is pragtig, volg geen patroon nie en bied die een winkeltjie na die ander vir snuisterye, goedkoop eet- en drinkgoed en hope aandenkings. Daar is veral twee plekkies wat ons terdeë geniet het. Die eerste is Kompressor, ’n pannekoekrestaurant wat heel billik is. En onder die ou stadsaal is ’n lieflike middeleeuse kroegie (wat ook tradisionele eetgoed verkoop): III Draakon. Die bier is uitsonderlik, word in kleibekers bedien en kom met ’n gratis ingelegde agurkie (wat jy self uit die balie moet vis!). Boonop is die herbergier (’n vrou) in karakter: Sy dra middeleeuse klere en praat met ’n tipiese Middeleeuse Engelse aksent as sy jou bedien. En moenie skrik as sy van jou kleingeld terughou nie – sy verduidelik mooi dat dit “haar gedeelte” is (die fooitjie), want haar man is ’n arme pastoor wat nie genoeg verdien nie! Ek het elke oomblik daar geniet.

My grootste hoogtepunt? Toe ek die wêreldberoemde komponis Arvo Pärt ontmoet het. Hy is die lewende komponis wie se werke die meeste uitgevoer word. Net buite Tallinn is die nuwe Arvo Pärt-sentrum, waar mens meer oor hierdie beroemde, dog nederige man kan leer. Dis hiér waar ons hom raakgeloop het.

Kyk uit vir die staptoere wat vanaf die toeriste-inligtingsentrum naby die Ou Stadsaal deur vrywilligers aangebied word – geen makliker manier om die stad te verken en die geskiedenis daarvan te leer ken nie. Die gidse is deeglik ingelig, vlot in Engels en baie vriendelik. Trouens, die mense van Tallinn is baie vriendelik en kan Engels praat.

Daar is eeue se geskiedenis wat mens op jou eie of tydens die staptoer kan leer ken; dis nie verniet ’n UNESCO-terrein nie. Die argitektuur is asemrowend – daar is die Middeleeuse stadskern, die Russies-Ortodokse Alexander Nevski-katedraal, en gerestoureerde fabrieke buite die ou stad wat as moderne hotelle en kunsgalerye dien. Gepraat van – Tallin spog met meer as 60 museums en kunsgalerye, waarvan die Estiese Geskiedenismuseum (in die Ou Stad), die Tallinnse Stadsmuseum (in die Ou Stad agter die Ou Stadsaal), die Estiese Kunsmuseum (net buite die Ou Stad) en die Estiese Natuurgeskiedenismuseum die gewildstes is en beslis besoek moet word.

As jy tegnologies ingestel is en aan Facebook, Twitter en Instagram verslaaf is, sal Tallinn jou nie teleurstel nie. Trouens, ek glo nie daar is ’n plek in Tallinn wat nie Wi-Fi het nie.

Dis maklik om in Tallinn rond te beweeg. Die Ou Stad is klein genoeg om per voet te verken (trouens, daar word nie voertuie in die Ou Stad toegelaat nie), en as mens verder wil dwaal, is Tallinn se Uber-dienste net wat jy soek. Dis ook heel billik. (Ek moet erken, ons het gestap of ge-Uber – ek kan my dus nie oor die openbare vervoer uitspreek nie).

Sal ek weer na Tallinn terugkeer? Beslis! Daar is té veel wat ek nog wil sien of wéér wil sien.

Alle foto’s deur Dirk Scholtz, tensy anders vermeld.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest