Leesvordering:

Topwenke om by ’n nuwe omgewing aan te pas

Mei 23, 2023

Deur Hendrika Jooste

Heraclitus, die Griekse filosoof, het gesê: “Sedert die begin van tyd is verandering ’n konstante; die vrees vir verandering is egter ook ’n konstante.” Sedert antieke tye hou mense van roetine. Almal van ons reis of trek een of ander tyd. Of jy nou ’n toeris, gereelde sakereisiger, ekspat of immigrant is, die kans is goed dat jy tydens jou reise ’n mate van kultuurskok sal ervaar, en eensaamheid of angs is ’n onvermydelike gevolg.

Tot 1960 was kultuurskok sinoniem met ’n negatiewe ervaring soos ’n siekte. Die Kanadese antropoloog Kalervo Oberg wat verantwoordelik is vir die bekendheid van die term “kultuurskok” het dit beskryf as die “angs wat voortspruit uit die verlies van al jou bekende tekens en simbole van sosiale omgang”.

Waarom lyk dit of sommige mense gemaklik deur die vyf stadiums van kultuurskok seil terwyl dit vir ander ’n daaglikse gesukkel is? Tydens al ons internasionale reise en vele verhuisings het ek ses belangrike wenke vir ’n suksesvolle oorgang na en aanpassing by enige nuwe omgewing ontdek. Ek en my man het onlangs van Melbourne na Victoria op die Australiese platteland verhuis. Dit het nie dieselfde impak as immigrasie nie, maar selfs op hierdie mikroskaal gebruik ons steeds dieselfde wenke om by ons nuwe omgewing aan te pas.

Wees geduldig

Om by ’n nuwe omgewing aan te pas, neem tyd; wees dus geduldig met jouself. Jy mag dalk kultuurskok of heimwee ervaar, maar onthou dat dit normaal is en waarskynlik mettertyd sal oorwaai. Laat jouself toe om geleidelik by die nuwe omgewing aan te pas. Moenie moedeloos voel as jy ongemaklik is in jou nuwe omgewing nie. Onthou, jy het jou verwysingsraamwerk wat jy van geboorte af leer ken het en jou sosiale ondersteuningsnetwerk verloor.

Ons voorbeeld

Ons nuwe woonplek is nie van die beste nie. Ons het geen munisipale dienste nie en woon in ’n karavaan terwyl ons die skuur opknap vir tydelike akkommodasie voordat ons ons huis begin bou. Die weer is ysig en nat met minimale sonkrag en die beskikbare spasie baie kleiner as waaraan ons gewoond was. Ons herinner onsself voortdurend daaraan dat ons omstandighede sal verbeter; ons moet net leer om om die natuur se op- en afdraandes te werk. Dit is ‘n marathon, nie ’n resies nie.

Leer ken die plaaslike kultuur

Leer ken die plaaslike gebruike, tradisies en sosiale norme sodat jy die omgewing se mense en hul kultuur kan verstaan en respekteer en onnodige misverstande vermy. Neem klasse of woon werkswinkels by, lees boeke of gebruik aanlyn hulpbronne om jou en jou gesin voor te berei. Moenie aanvaar jy weet hoe dinge in jou nuwe omgewing of land werk nie. As jy na ’n land verhuis waar die inwoners ’n ander taal as Engels praat, sal ons sterk aanbeveel dat jy ’n paar taallesse neem voordat jy gaan.

Ons voorbeeld

Die platteland in Victoria verskil baie van die metropolitaanse Melbourne. Plattelandse mense praat anders en hulle interaksie met mekaar verskil van dié van stedelinge omdat hulle ander sosiale gebruike het. Ons het met plaaslike inwoners by die kroeg en in die winkels en apteek gesels en selfs die geleentheid gehad om ’n paar plaaslike (plattelandse) kwessies met ons parlementslid te bespreek.

Verken die omgewing en raak betrokke

Gaan uit en leer ken jou nuwe omgewing. Gaan stap, besoek plaaslike besienswaardighede en besoek nuwe restaurante. Op jou verkenningstogte sal jy nuwe mense ontmoet en dit sal jou help om ingeburger te raak. As die eienaar, barista of kelner jou op jou naam groet wanneer jy by jou nuutgevonde gunstelingrestaurant of -koffiewinkel instap, laat dit jou sommer tuis voel. Dink aan die temalied uit die sitkom Cheers:

Sometimes you wanna go
where everybody knows your name,
and they’re always glad you came.
You wanna be where you can see (ah-ah),
our troubles are all the same (ah-ah).
You wanna be where everybody knows your name.

Een manier om ’n nuwe omgewing te leer ken, is om by die gemeenskap betrokke te raak. Sluit aan by plaaslike klubs, woon geleenthede in die gemeenskap by, neem klasse om iets nuuts te leer of bied aan om as vrywilliger te werk. Dit sal jou help om nuwe mense te ontmoet en die kultuur te leer ken sodat jy kan tuis voel in jou nuwe omgewing.

Vrywilligerswerk hou soveel voordele in. Ons plaaslike OpShop (liefdadigheidswinkel) verwelkom nuwe vrywilligers. Jy maak nuwe vriende en doen terselfdertyd werkservaring in jou nuwe omgewing of land op. Dit is waardevol om plaaslike verwysings op jou CV te hê vir jou volgende werksaansoek.

Bly in kontak met jou geliefdes

Om met familie en vriende by die huis in kontak te bly, kan gerusstellend wees tydens die aanpassingsperiode. Maak video-oproepe en gebruik sosiale media of e-pos om gereeld in kontak te bly. As jy jou nuwe omgewing verken en by die gemeenskap betrokke raak, sal jy baie hê om vir familie en vriende by die huis te vertel en mettertyd sal jy hulle lus maak om vir jou te kom kuier.

Ons voorbeeld

Ons gaan steeds een keer per week Melbourne toe om by vriende en familie te kuier. Elke tweede naweek onthaal ons besoekers uit Melbourne om vir hulle te wys wat ons doen en sodat hulle ons klein stukkie hemel saam met ons kan geniet.

Sien om na jou en jou gesin

Maak seker jy kyk goed na jouself – fisies, emosioneel en geestelik. Sorg dat jy genoeg slaap. Ek kan dit nie genoeg herhaal nie. As jy gesond eet en oefening kry, sal jy jou liggaam se immuunstelsel versterk. Dit is ’n bekende feit dat mense siek word kort nadat hulle in ’n nuwe land aangekom het. Die spanning van die emigrasieproses en die opgewondenheid van die afskeidspartytjies voor jou vertrek eis ’n emosionele tol wat jou immuunstelsel ernstig beïnvloed. Die nuwe land se stuifmeel, lugbesoedeling en voedselbronne verskil ook van dit waaraan jy gewoond was en die aanpassing kan jou gesondheid benadeel.

Al is julle geld skaars, moet julle steeds deelneem aan aktiwiteite wat die hele gesin kan geniet. Soek op die internet na gratis geleenthede en aktiwiteite; dit hoef nie ’n fortuin te kos nie. Sorg goed vir jou en jou gesin.

Ons voorbeeld

Ons verhuising na die platteland was positief, want ons eet gesonder, gaan slaap vroeër en is fisies meer aktief. Maar omdat ons nader aan die natuur lewe, is ons stuifmeelallergieë erger, wat beteken ons moet die dokter en apteek meer gereeld besoek.

Jou fisiese en geestelike gesondheid bring my by die laaste belangrike wenk.

Kry professionele hulp indien nodig

Om by ‘n nuwe omgewing aan te pas, kan uitdagend wees, en dis nie ’n skande om hulp te vra nie! As jy sukkel met gevoelens van depressie, angs of ander geestesgesondheidskwessies, kry professionele hulp. Baie gemeenskappe het ondersteuningsgroepe, beradingsdienste en ander hulpbronne vir nuwelinge. Moenie bang wees om vir hulp te vra as jy dit nodig het nie.

Dit is nie ’n skande om ‘n gesondheidswerker te besoek as jy aan slapeloosheid, angs of depressie ly nie. Niemand is perfek nie, en jy het een van die mees ontwrigtende en drastiese stappe moontlik geneem. Gun jouself ’n blaaskans en kry die professionele hulp wat jy nodig het om oor die ergste kultuurskok te kom. Dit is net tydelik.

Volg hierdie ses wenke, en jy sal daarin slaag om by enige nuwe omgewing aan te pas. Die beste is dat dit van toepassing is op enige nuwe situasie – of dit nou ’n nuwe land, ‘n nuwe werkplek, ’n nuwe skool, ’n herontdekking van jouself of ’n verhuising na die platteland is soos in ons geval. Geniet die reis en voorspoed met die aanpassing.

Meer oor die outeur

Hendrika Jooste

Kontak Hendrika Jooste – The Migrant Whisperer, by www.facebook.com/themigrantwhisperer of besoek haar webtuiste by www.migrantwhisperer.com.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest