Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit Engeland

Mar 22, 2023

Uit en tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of daar gewoon en gewerk het en weer terug in Suid-Afrika is. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Charné Pereira wat in Engeland woon.

Hallo Charné, van waar in Suid-Afrika is jy en waarom het julle besluit om in Engeland te gaan woon?

Ek het my hele lewe in Gauteng gewoon, tussen Kempton Park en Benoni  – tot Oktober 2019. My broer en skoonsus het ’n paar jaar gelede na Engeland toe geëmigreer. In Desember 2018 het my moeder gaan kuier en met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy gesê sy dink ons moet dit oorweeg. Dit is ’n land waar hulle sisteme werk, dis soveel veiliger, en sy het verlief geraak op Engeland. Dit het my ses maande geneem om dit wat vir ons wink te aanvaar. Ek het eers teen die idee geskop omdat ek al my vriende en familie in Suid-Afrika moes agterlaat. My suster en haar man het ook besluit om te emigreer, oor die stygende misdaadsyfer en die werksgeleenthede wat minder begin raak het in Suid-Afrika.

Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees, wat was vir jou die vreemdste om aan gewoond te raak in die buiteland? 

  • Daar is ongelooflik baie verkeersirkels en ’n mens kan gou op die verkeerde pad beland as jy nie kophou nie.
  • Die punt waar die son opkom in die oggend en nooit bo jou is nie maar net bo die horison oorskuif tot sonsondergang en dat die son in die winter al 16:00 ondergaan.
  • Die kerke is meer ’n toeristeaantreklikheid as ’n bymekaarkomplek vir die gemeente, alhoewel daar sommige kleiner kerke is wat wel nog dienste hou.
  • “Chips” is “crisps” – die uitspraak van woorde is anders as wat ons dit uitspreek.
  • Daar is perde en ruiters in die strate.
  • Pizza word met ’n doopsous geëet en die Creme Soda is kleurloos.
  • Hier is nie ’n ding soos ’n petroljoggie nie. Jy moet jou eie petrol ingooi, bande oppomp en water nagaan.

Hoe vergelyk die verblyfopsies en lewenskoste in Engeland met die van Suid-Afrika?

Die verblyfopsies in Engeland is definitief duurder, hoe verder jy van Londen af bly hoe goedkoper, en ja, die huise is baie kleiner. Ons woon in ’n afgeleë dorpie en ek het altyd gedink aan Engeland as net geboue en nogmaals geboue omdat dit so ’n klein land is maar daar is soveel natuurskoon en staproetes in die woud net buite my deur. ’n Mens kan vir kilometers ry en daar is net oop vlaktes met natuur, woude en landerye.

Die lewenskoste is wel baie dieselfde as dié van Suid-Afrika, veral wat kruideniersware aanbetref. Ons betaal vir ’n gesin van drie so rofweg £150 (R3 300) ’n maand vir kruideniersware. Drank en sigarette is heelwat duurder.

Daar is baie liefdadigheidswinkels waar ’n mens goeie tweedehandse klere vir spotgoedkoop kan koop. Winkels soos H&M is meer bekostigbaar hier as in Suid-Afrika en Primark is baie gewild hier, wat soortgelyk is aan Mr. Price. Petrol se pryse styg en daal maar soos in enige ander land.

Daar is webtuistes wat jy op jou foon kan aflaai waar jy letterlik enigiets waaraan jy kan dink tweedehands verniet kan kry – soms splinternuut – van ’n soutpot tot ’n leersitkamerstel.

Tweedehandse motors is baie goedkoop. Jy mag glad nie sonder versekering ry nie, ’n mens betaal padbelasting en ’n padwaardigheidstoets word jaarliks gedoen.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika en wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas kon pak toe jy geëmigreer het?

Ek verlang vreeslik na my oumas en oupas, ek het nog nie die kans gehad om terug te gaan Suid-Afrika toe nie. As ek kon sou ek hulle almal in my tas gepak het. Ek het ongelukkig my een ouma aan die dood afgestaan in Oktober 2022 sonder dat ek die kans gehad het om haar te kon gaan groet.

Ons het met drie tasse elk die land verlaat op ’n eenrigtingvlug met ’n paar sentimentele goedjies en meestal klere, en ek sou graag ’n stukkie kultuur wou inpak, sowel as sonskyn vir die koue grys dae. Ja, ’n mens verlang baie keer na jou mense, maar gelukkig help tegnologie om ons “nader” te laat voel.

Is daar enige Suid-Afrikaanse winkels naby jou waar jy trooskos kan kry?

My broer het sy eie Suid-Afrikaanse aanlyn winkel, Taste of South Africa en ek kan al my trooskos daar vind. Mettertyd, soos ’n mens ander Suid-Afrikaners ontmoet, sal iemand iets noem wat hulle by ’n kruidenierswinkel gekoop het wat soortgelyk is aan ’n Suid-Afrikaanse produk.

’n Oorlewingslysie vir Engeland se winter:

  • Snoesige klein huisies hou die hitte binne.
  • Drink elke dag vitamien D.
  • Bly aktief en belê in ’n goeie winterbaadjie of twee en ’n lekker paar Wellington-stewels.
  • Spanje se Kanariese Eilande wat net bo Afrika is, is spotgoedkoop as jy ’n vinnige wegbreek van die koue af wil hê.
  • Die weer moet nie jou lewenstyl bepaal nie – ons braai nog steeds, maak nie saak of dit reën of sneeu nie.
  • Gaan stap, gaan winkels toe, hou aan om dinge te doen ten spyte van die weersomstandighede.

Watter interessanthede het jy ontdek van die land waar jy woon, wat jy nie vantevore geweet het nie?

  • Al die kastele … hier is kastele vir Afrika! Sommige soos Windsor Kasteel dateer terug na 1067.
  • Kleiner dorpies se mense is baie vriendeliker as dié in die groter stede.
  • Karre word meestal in die straat geparkeer en dit is veilig om dit oornag daar te los, daar is geen heinings of hoë mure nie.
  • Die binneland is min of meer ’n uur van die see af.
  • Vlugte na Europese lande is baie bekostigbaar, ’n mens kan vir ’n naweek Parys toe vlieg vir ’n appel en ’n ei.

Ek het ’n wonderlike lewensmaat ontmoet en ons het saam ’n gesonde, fris 17 maande oue baba. Ek het nooit gedink ek sou so geseënd wees nie. Ek leer hom Afrikaans praat ook sodat hy van mamma se kultuur kan hê. Hy is mal daaroor om Ouma-beskuit in my tee te doop, Afrikaanse musiek saam met my te luister en gelukkig hou hy van biltong en droëwors – wat ook ’n bonus is.

Vir enigiemand wat die skuif wil maak Engeland toe: Dit kan moeilik wees, maar jou kop en hart moet reg wees om met ’n nuwe boek te begin, nie net ’n blaadjie om te slaan nie.

Ek is dankbaar om my ouers, broer en suster, en ’n paar ander familielede saam met my op hierdie reis hier te kan hê, waar ek my nuwe land my tuiste maak.

LEES OOK: Uit en tuis: e-pos uit Abu Dhabi


Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

Die storiefabriek wat ons lughawens noem

‟Ek weet ek het belowe ek gaan dit nie weer op die lughawe verloor nie. Maar noudat die tyd aangebreek het, kan ek nie onthou hoe om beskaafd te groet nie. Hoe vreemd. Dat van die delikaatste oomblikke van afskeid en die rou, intieme emosies wat daarmee gepaardgaan,...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest