Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit Engeland

Sep 7, 2022

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Adriaan Laubscher wat in die New Forest-area aan die Suidkus van Engeland woon.

Hallo Adriaan, dit is baie lekker om met jou te gesels. Hoekom het julle juis gekies om na Engeland toe te emigreer?

Dankie vir die geleentheid. Sjoe, ons het behoorlik ondersoek ingestel oor verskillende plekke regoor die wêreld. Ons het maar lysies gemaak van die moontlikhede en besluit dat Engeland die beste sou wees. Ek het Engeland in die 1990’s besoek en regtig van die land gehou. Ek kom nou die dag af op ’n briefie wat ek vir Linda (my vrou) in die vliegtuig geskryf het. Op daardie stadium was ons beide Kovsie-studente in Bloemfontein. Ek het geskryf: “Hierdie is beslis ’n plek vir ons.” Nooit gedink ons sal wel hier eindig nie.

Die pluspunte vir ons was die taal, die nabyheid aan Europa en natuurlik omdat ons die land met vorige besoeke effens leer ken en daarvan gehou het. Aanvanklik het ons sterk oorweeg om in Skotland te gaan woon en ons het in 2015 ongeveer 5 000 km in die motor deurgebring om Skotland te verken.

Ons het in 2017 hierheen verhuis en vir ongeveer drie maande die land verken. Ons het ’n kortlys van moontlike areas gehad wat ons wou besoek en dit was vir ons lekker om die land op so ’n manier te leer ken. Dit het ook baie gehelp met ons konsultasiebesigheid wat riglyne gee vir mense wat hierheen wil verhuis.

Ons het op ’n pragtige skool afgekom hier in die Hampshire County en my seun Lihan was dadelik tuis en gelukkig. Daarom het ons besluit om ons naby die skool te vestig. Ek reken daar is drie groot punte wat moet bymekaar kom. Vir ons was dit ’n goeie skool vir ons kind, ’n mooi geografiese omgewing, en natuurlik ’n plek om ’n inkomste te verdien. Ons het ’n paar besigheidsidees gehad en daarmee begin.

Hoe het jy die emigrasieproses na Engeland ervaar?

Ek dink dit sal baie verskil vir verskillende mense. Dit hang baie af van die soort visum wat jy het. Ons het aansoek gedoen vir ’n entrepreneursvisum. Dit stel sekere vereistes waaraan ’n nuwe besigheid moet voldoen voordat die visum verstryk. Intussen het hierdie kriteria heelwat verander. Om ’n nuwe besigheid te vestig, was iets waarmee ons redelik bekend was, want ons het dit in Suid-Afrika ook gedoen. Ek dink ons grootste voordeel was dat ons van Breytenbachs Immigration Consultants se hulp gebruik gemaak het. Ons sou dit nie sonder JP Breytenbach se ondersteuning en bystand kon doen nie. En ten spyte daarvan het ons nog steeds ’n paar aande wakker gelê van bekommernis. Dit is seker maar deel van enige skuif, veral as dit ’n internasionale skuif is.

Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland?

Dit is nou ’n lekker vraag. Ek sal eers moet sit en selfondersoek doen. Ek dink nie dit is werklik een spesifieke ding nie maar moontlik verskillende klein aanpassinkies. Dit wissel ook maar soos ons tyd hier deurbring. Ons is ’n klein gesinnetjie en besef die waarde van familie om ons al meer. Ons mis natuurlik ons mense. Dit sal sekerlik elke persoon se grootste aanpassing wees. Die taal, nuwe plekke, die weer en ander reëls en regulasies is alles maar normaal van nuwe plekke en dit het ons nie werklik gepla nie. Die groot lekkerte van nuwe plekke is juis dit – nuwe dinge en nuwe ervarings.

Ek grap altyd en sê indien die weer die ergste ding is waarvan mense praat as hulle oor die Verenigde Koninkryk praat, is dit sekerlik nie te erg nie. Ek het in die Vrystaat grootgeword en reën was nog altyd vir my ’n seën en lekkerte. Hier aan die suidkus kry ons egter baie meer bloulugdae as wat ek verwag het. Die somers is wonderlik met lekker lang dae. Die winters is met tye koud, maar dit bring ’n ander bekoring. Die Kersliggies en markte is prentjiemooi in Desember.

Ek en ’n vriend in Suid-Afrika het ’n reëling dat ons elke keer wanneer ons brandstof ingooi vir mekaar ’n skietgebed doen. Ek neem dan altyd ’n foto om vir hom te wys. Dis wonderlik wat ’n foto of vinnige WhatsApp-boodskap kan beteken wanneer jy ver van jou mense is.

Vertel ons meer van julle gesin. Jy het genoem dat jou seun ’n ywerige krieketspeler is.

Ons voel werklik dankbaar vir die genade en seëninge wat ons beleef. Ons ondersteun mekaar baie en dit maak ’n groot verskil. Elke ouer sal sekerlik saamstem dat dit sommer met jou ook goed gaan as dit met jou kind goed gaan.

Ek en Linda het mekaar in Bloemfontein op universiteit ontmoet. Sy het in die Oos-Kaap grootgeword en ná ’n klompie jare in Bloemfontein het ons Jeffreysbaai toe verhuis. Ons het ongeveer 15 jaar daar gewoon voordat ons na die Verenigde Koninkryk verhuis het.

Met dankbaarheid vertel ek altyd graag van Lihan se prestasies. Hy vaar werklik goed op skool. Die skoolsisteem is wonderlik en die geleenthede oneindig.

Lihan is in Ballard School, ’n privaat (independent) skool. Hy geniet alle sport en dit bly lekker om te sien dat die Britte ons Suid-Afrikaners tog maar as goeie sportmense beskou. Hulle sal gereeld ’n grappie maak omdat hulle so gelukkig is om ’n Suid-Afrikaner in hulle span te hê. Soos die een afrigter tydens ’n prysuitdeling gesê het: “Every good England cricket team needs a South African.”

Foto: Lihan by Ballard School se speech day

Lihan is nou 13 jaar oud en is hierdie jaar gevra om vir die krieketklub se volwasse span te begin speel. Hy is dan ook in die onder 13A-span by die klub en is bevoorreg om deel van die Hampshire Cricket Player Pathway te wees. Dit is ’n program wat sorg dat jong talent goeie afrigting kry wat vir hulle die weg baan vir geleenthede vir professionele krieket in die distrik (county) en die land.

Die skole het natuurlik ook hulle eie sportprogramme, maar hier in Engeland word kinders dan genooi na die sportklubs wat junior programme en spanne het. Ons is gelukkig dat die klub se pragtige gronde reg langs die skool is. Krieketliefhebbers sal dit geniet om te hoor hoe mooi die klein dorpies en krieketvelde is. Lihan was ook bevoorreg om ’n paar krieketspelers soos Rilee Rossouw en AB de Villiers te ontmoet terwyl hulle hier distrikskrieket (county cricket) gespeel het by die Ageas Bowl-krieketveld. Ons is baie dankbaar vir die tyd wat hulle altyd maak om ’n paar woorde met hom te gesels.

Foto: Ageas Bowl-krieketveld

Ons as gesin geniet die pragtige natuur hier en die vryheid om in die woud te gaan stap. Die area waarin ons woon, word New Forest genoem en het in ongeveer 1079 ontstaan.

Ek geniet dit baie om deur New Forest fiets te ry en vir ons kliënte die mooi area te wys. Die Forest is bekend vir die ponies wat vrylik hier rondbeweeg. Ons grootste verkeersknope ontstaan wanneer die New Forest-ponies in die pad staan en die motors moet wag tot hulle padgee. Ons word ook baie oggende wakker met die klank van perde wat in die straat verbystap, want hier is heelwat mense wat perdry. Die kombinasie van die natuur, plaaslewe en besige stede is interessant.

Foto: ’n Bruggie in Roydon Woods waar ons gereeld fietsry

Ons is ongeveer 30 minute van twee groot stede: Southampton waar die Titanic se vaart begin het en Bournemouth. Ons is ook ongeveer ’n uur en 45 minute per trein van Waterloo-treinstasie in Londen af.

Ons besighede is in die dorpie Lymington. Ons twee winkels is in ’n mooi keisteenstraatjie. Kom kuier gerus as julle in Lymington is.

Foto: Lymington Quay

Hoe verskil die skoolsisteem in Engeland van dié in Suid-Afrika?

Ek moet nogal gereeld hierdie vraag tydens konsultasiesessies beantwoord. Ek het ook al gehelp om ’n artikel of twee daaroor te skryf. Daar is nie werklik ’n kort antwoord nie. Dit is anders, maar dit werk. Die goeie skole sal altyd sorg dat kinders wat nuut is en hierheen verhuis maklik inpas. Wat egter belangrik is, is hoe ons as ouers die skuif hanteer en ons kinders voorberei op hulle toekoms hier. Indien ’n mens dit met ’n positiewe ingesteldheid benader, is die geleenthede wonderlik. Hier is twee hoofstrome – independent (privaat) skole en staatskole. Almal het ’n Ofsted-graderingstelsel wat baie help om die standaard van ’n skool te bepaal.

Dit was interessant om gewoond te raak aan ’n skooljaar wat in Julie eindig omdat dit dan somer is hier. Die volgende skooljaar begin dan weer in September. Dan is daar ’n klompie ander verskille soos etes by die skool en lang skooldae. Skooldae by privaat skole duur gewoonlik van 08:30 tot 16:00, waarna die meeste kinders tot 17:00 aan ’n aktiwiteit soos sport of drama deelneem. In die wintermaande wanneer die dae kort is, word dit teen 16:00 al donker en gaan haal ek Lihan saans by die skool (of so voel dit!).

Julle is entrepreneurs van formaat en het reeds ’n paar besighede begin. Vertel ons meer.

Ons het ’n paar besighede in Jeffreysbaai ook gehad. Dit was nog altyd ons droom om besighede te vestig en aan mense werksgeleenthede te bied en hopelik lewens te verander. Dit bly alles genade en ons besef dit net al meer.

Ons het tans Soft Landings, ’n konsultasiebesigheid wat persone wat dit oorweeg om na die VK te immigreer, raad gee. Lees gerus meer op ons webtuiste by www.softlandingsuk.com.

Linda verkoop ook persoonlike geskenke aanlyn. Sy begin nou om namens mense in Suid-Afrika geskenke vir hul familielede in die Verenigde Koninkryk te stuur. Kontak haar gerus by linda@L3enterprises.co.uk of besoek haar webtuiste by www.aboutyou.gifts.

Ons het ook ’n agentskap vir die Hannon-produkreeks in die Verenigde Koninkryk omdat Linda dit in haar haarsalonne in Suid-Afrika gebruik het. Gaan loer gerus by www.hannonuk.co.uk.

Dan het ons ook nog ’n fietsverhuringsbesigheid, New Forest Bikes. Ons het die moontlikheid raakgesien omdat die omgewing baie toeriste lok en daar baie fietsryroetes in die New Forest is. Ons het dié besigheid nou al ongeveer drie jaar. Die webtuiste is www.newforestbikes.co.uk.

Ek het ongeveer tien jaar lank ’n fotografiestudio in Suid-Afrika gehad en ek geniet fotografie steeds, maar op dié stadium doen ek dit net op ’n ad hoc-basis wanneer iemand my vra.

Wil jy nog enigiets byvoeg?

Daar is so baie om te vertel. Dankie vir die geleentheid om so ietsie te mag deel. Ons probeer soveel moontlik plekke in die Verenigde Koninkryk besoek. Suid-Afrika sal natuurlik altyd na aan ons harte bly en ons mis sekere plekke en ons mense baie.

Die kus hier is anders as waaraan ons gewoond is, maar is ook op ’n ander manier mooi. Ons praat van boomtonnels, omdat die plantegroei en bome in die somer so ruig is dat die boomtakke op sekere plekke oor die paaie groei en tonnels maak. Die heinings groei so dig dat ’n mens soms op die nouste paadjies waarlik deur planttonnels ry. Ons geniet die geskiedenis, en hier is omtrent baie daarvan! Ons besoek gereeld kastele en die geskiedenis is amper tasbaar.

Foto: Die skermtoernooi by Arundel Castle

Van ons gunstelingplekke is die Jurassic Coast in Devon County, Bath, Cornwall, en natuurlik die Lakes District.

’n Mens ervaar die seisoensveranderinge intens. Die somers is puik, maar so ook die pragtige kleurverandering van die woud tydens herfs. Natuurlik is die winters effe koel, maar Desember is vir ons baie mooi met al die Kersliggies en markte. Ons ondersteuningsnetwerk hier in die Verenigde Koninkryk en in Suid-Afrika is vir ons baie belangrik! Ek het ’n paar baie goeie vriende wat ek gereeld as klankbord gebruik en hulle het my al met baie besluite gehelp. So waardevol. Natuurlik is ons familie se oproepe en kuiers van onskatbare waarde.

LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit Dubai

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

Ramaphosa se seremonie niks anders as die ondertekening van ’n gevaarlike verkiesingsfoefie Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel ten sterkste President Cyril Ramaphosa se besluit om die NGV-wetsontwerp Woensdag deur te druk. AfriForum is oortuig dat dié...

’n Padkaart vir jou geestesgesondheid

’n Padkaart vir jou geestesgesondheid

Deur Derika de Villiers Om oor geestesgesondheid te praat is nog steeds ’n uitdagende aktiwiteit vir baie mense. Ons het in ’n kultuur grootgeword in Suid-Afrika waar jy “gesien en nie gehoor moes word nie”, of “jou sokkies moet optrek” en jou “trane moet sluk”. Die...

Onderneming in die Kollig: AVW Media Worx

Onderneming in die Kollig: AVW Media Worx

Hierdie week se kollig is op AVW Media Worx. AVW Media Worx is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van reg oor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier raak hulle deel...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest