Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit Bishkek, Kyrgyzstan

Nov 28, 2023

Uit en tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het en weer terug is in Suid-Afrika. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Carmen Prinsloo Ebersohn, wat saam met haar man Jacques in Bishkek, Kyrgyzstan woon.

Hallo Carmen, van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het julle besluit om in Bishkek, Kyrgyzstan te gaan woon?

Ek en Jacques is albei van Pretoria. Ons het besluit om Bishkek toe te gaan nadat ons albei in Korea skoolgegee het en Bishkek een van die eerste plekke was wat ons ’n aanbod gemaak het.

Vertel ons meer van julle gesin.

Ons het pragtige tweelingdogters wat in Januarie 2023 in Suid-Afrika gebore is. Ons gesin bestaan ook uit vyf honde en agt visse, terwyl ons ook ’n mierplaas gehad het laas jaar!

Vertel ons watse werk julle doen en hoe die werkskultuur in Kyrgyzstan verskil van dié in Suid-Afrika.

My man is die onderhoof van die skool, en hoof van die hoërskool by die skool waar ons albei werk. Ek is die hoof van die skool se kleuterskool is en ek gee ook voltyds klas.

In terme van werkskultuur word Suid Afrikaners gesien as baie hardwerkende mense in vergelyking met die plaaslike werkskultuur wat meer reaktief is en op kort kennisgewing funksioneer, waar Suid-Afrikaners meer ’n kultuur het van beplanning.

Was dit moeilik om daar aan te pas of het julle maklik nuwe vriende gemaak en by die gemeenskap ingeskakel?

Kyrgyzstan se kos, kultuur, en mense is merkwaardig soortgelyk aan Suid-Afrikaanse gemeenskappe. Die algehele veiligheid is ook baie spesiaal hier aangesien kinders wat skaars kan loop tot laataand buite in die straat speel sonder toesig. Ons gemeenskap is maar merendeels verbonde aan die skoolgemeenskap aangesien daar relatief min buitelanders hier is en die sosiale sirkel maar klein bly. Alhoewel ons vriendekring klein is, is dit baie divers met mense van Frankryk, Serwië, Nepal, Brittanje, en Japan.

Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag? Is die lewe rustiger daar en het jy meer tyd om te ontspan/reis?

My klasse loop tussen 07:45 en 15:30 elke dag met addisionele leierskap- en administrasieverantwoordelikhede wat my besig hou. Ek is mal oor my werk aangesien ek betaal word om heeldag te speel en kinders te verhoed om alles in hul monde te probeer druk.

Vandat Jacques nie meer klasgee nie, begin sy dag van 07:45 tot 16:30. Sy skedule is gewoonlik gevul met twee tot drie ure se vergaderings elke dag, klasobservasies, beplanning en om beskikbaar te wees om sy span te ondersteun met die diverse gevalle wat opduik in die skool.

Wat rustigheid aanbetref, het ons skaars tyd vir ontspan met skool, die tweeling, en die dieretuin in ons huis. Ons reis gewoonlik gedurende skoolvakansies terug Suid-Afrika toe vir Kersfees maar ons roetine sal verander met die dogters wat nou saamreis. In die verlede het ons gereeld Rusland en Turkye besoek, aangesien dit die toeganklikste en bekostigbaarste opsies was met Suid-Afrikaanse paspoorte.

Om in ’n nuwe land aan te pas kan uitdagend wees. Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland?

In Korea was die grootse uitdagings die taal, sosiale kultuur, en kos. Koreane werk baie hard en hul kinders woon skool by sowel as ekstra klasse tot 22:00 die aand. In terme van kos, is als óf soet óf brandkos, maak nie saak wat dit is nie. Heuning op pizza en soetpatat in die korsie van pizza is ook algemeen.

In Kyrgyzstan was die uitdagings hoofsaaklik die taal en die tekort aan basiese voedselitems soos kaas, speserye, en al die goed wat ’n mens in Spar kon kry in Suid-Afrika. Hierdie het wel drasties verander in die laaste drie jaar met invoere.

Hoe vergelyk die verblyfopsies in Kyrgyzstan met dié van Suid-Afrika?

Mense bly hoofsaaklik in woonstelle, alhoewel die woonstelle hier baie groot is in vergelyking met Korea. In die laaste paar jaar het daar baie nuwe ontwikkeling plaasgevind met moderne woonstelopsies sowel as huisuitbreidings aan die buitewyke van die stad. Vir huise is dit algemeen om 80% van die erf te gebruik vir die huis self met min huise wat tuine of selfs swembaddens het. Dit is verstaanbaar as ’n mens in ag neem dat jy net so vier maande ’n jaar die buite-area kan gebruik voor die winter intree en die sneeu val. Die huise is ook groot en gewoonlik gebou met meer as een verdieping, aangesien uitgebreide families saam in die huis sal bly. Dit beteken daar kan maklik tien tot vyftien mense in een huis bly.

Hoe verskil die leefwyse en lewenskoste van dié in Suid-Afrika?

Die leefwyse is baie stadiger as in die meeste dele van Suid-Afrika, aangesien die stad net so een miljoen mense het, maar die kultuur meer ontspanne is. Mense in Bishkek gaan gereeld berge toe vir staptogte, ski, en vars lug. In terme van lewenskoste, is Bishkek tans 25% goedkoper as Pretoria ten spyte van drastiese inflasie in die laaste 18 maande.

Was die werkskultuur ’n aanpassing?

Om eerlik te wees, daar was minimale aanpassing in terme van ons verwagtinge vir wanneer dinge gebeur en hoe lank vooraf jy kennis ontvang van dit. Dit kan beskryf word as ’n “Maak gou en wag”- kultuur.

Hoe verskil die skoolsisteem in Kyrgyzstan van dié in Suid-Afrika?

In plaaslike skole roteer studente in blokke van 08:00–12:00 of 13:00–17:00 omdat daar nie genoeg skole bestaan om die studente te akkommodeer nie. Hierdie situasie word geblameer op die val van die Sovjetunie en die politieke onstabiliteit wat gelei het tot ’n tekort aan beplanning en belegging in die onderwysstruktuur.

Plaaslike skole is ook gratis alhoewel die ouers baie fondsinsamelingsverantwoordelikhede het om skole te help funksioneer. In internasionale en privaat skole gaan kinders skool van 08:00 tot 15:30 met addisionele buitemuurse geleenthede tot 18:00. Die sisteem is ook gebaseer op eksterne kurrikulums, en studente word volgens internasionale maatstawe geassesseer. Die rede hiervoor is dat studente maklik oorgeplaas kan word na ’n soortgelyke skool in ’n ander land of aansoek doen vir universiteitstoelatings in enige land in die wêreld.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika? Wat is die een ding wat jy wens jy in jou tas
kon pak toe jy geëmigreer het?

Die moontlikheid om almal om jou te verstaan en besigheid of persoonlike goed te kan doen sonder vertalingsagteware of moontlike misverstande. Die een ding wat ons wel sou wou saamvat, is spesifieke kos of smake insluitende sout-en-asyn-skyfies, vars seekos, en ’n oneindige voorraad van biltong en boerewors. Alhoewel ons op tye self biltong hier gemaak het en aan ons kollegas verskaf het (hulle was baie beïndruk).

Kry julle kans om te reis?

Ons het 56 dae verlof per jaar en dit gun ons meer tyd om rond te reis as waarvan ons gebruik maak. Ons probeer om een keer ’n jaar terug te gaan Suid-Afrika toe, sowel as na ’n ’n nuwe bestemming elke jaar in ons area.

Is dit anders om inkopies te doen in Kyrgyzstan in vergelyking met Suid-Afrika?

Definitief. Die verpakking van dieselfde produkte is anders, die taal is anders, en baie produkte kan jy op die plaaslike mark gaan koop wat nie naastenby lyk soos Woolworths-pakkies nie. Alhoewel, die verskeidenheid invoerprodukte in spesialiswinkels laat ons toe om gewilde items van regoor die wêreld te geniet. Ons het ook selfhelp-kasregisters waarby jy jou produkte inlees, verpak, en met jou kaart betaal sonder enige toesig.

Wat doen julle vir ontspanning in Bishkek?

Ons probeer gereeld berge toe gaan, ek ry perd en besoek die vele parke in die stad tydens lente en somer, en Jacques neem deel aan plaaslike sokkergeleenthede.

Enige lesse wat julle geleer het?

Ons het geleer om meer geduldig te wees met die plaaslike kultuur in terme van geskeduleerde afsprake wat meer ’n geval is van ’n voorstel as ’n vaste tyd. Ons het ook geleer om ons gunstelingprodukte van Suid-Afrika self te maak, insluitende goed soos speserymengsels, biltong, Marmite, en koeksisters.

Interessante feite oor Kyrgyzstan

Die nasionale sport, kok boru, kan opgesom word as polo met ’n skaapkarkas. Die mense is ook mal oor perdevleis, perdemelk, en ’n uitgedroogde perdemelkpeuselhappie, kurut. Ongelukkig is daar nog steeds gevalle van “bridenapping” waar ’n jong dame ontvoer word en forseer word om met die man te trou, alhoewel dit darem drasties verminder het in die laaste dekade.

Wat is jou gunstelingherinnering van Suid-Afrika?

Die algemene reuk van braaivleis en die geluide van hadidas. Jacques mis die skolesportkultuur in Suid Afrika.

Praat julle nog Afrikaans met mekaar? Watter Suid-Afrikaanse tradisies leer julle vir julle kinders?

Ja, ons praat nog Afrikaans by die huis en die skool met mekaar en ons kinders. Ons kinders is mal oor mieliepap en een liedjie van Carike Keuzenkamp – Die Paddakonsert (te danke aan hul oupa wat dit herhaaldelik gespeel het toe hul gebore was).

Watter interessanthede het julle ontdek van Bishkek en Kyrgyzstan , wat jy nie voorheen geweet het nie?

Die luggehalte in die winter is die slegste in die wêreld, Bishkek is een van die “groenste” hoofstede in die wêreld, die stad staan stil as die president tussen sy huis en sy kantoor beweeg, die land het een van die grootse binnelandse mere in die wêreld (Issyk Kyl – 6 236 km²), en daar is onlangs uitgevind dat die Swart Plaag moontlik sy oorsprong in 1338 by die Issyk Kyl-meer gehad het.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Vir enigiemand wat belangstel om Bishkek te besoek, Suid-Afrikaners kan ’n visum kry by die lughawe as hulle land. Dit is verskriklik veilig en goedkoop om hier te reis, en daar word na die berge verwys as die Switserland van Sentraal-Asië as gevolg van die natuurskoon.

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: KuierKos

Onderneming in die Kollig: KuierKos

Hierdie week se kollig is op KuierKos in Nederland. KuierKos is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier raak hulle deel...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest