Leesvordering:

Van Pretoria tot Otjiwarongo: Akademia-student volg roeping vir die Regte na

Nov 27, 2023

Akademia-student, Charlize Slabbert (33), is ʼn Namibiër in murg en been en hoewel sy haarself meer as 1 500 km van Akademia se hoofkantoor in Centurion, Gauteng, af bevind, dra sy met trots die naam Fontie as ʼn internasionale student.

Slabbert is ʼn finalejaar-LLB-student en volg die nauurse afstandsmodel. Sy vertel dat die Regte vir haar ʼn roepingsaak is, en dat sy haarself aanvanklik as ʼn biokinetikus bekwaam het. “Ek het my werk as biokinetikus in Pretoria geniet, maar ek was altyd bewus van ʼn dieper begeerte om myself in die regswêreld te vestig,” sê Slabbert. Sy voeg by dat sy dié droom byna laat vaar het omdat sy met onsekerheid geworstel het. Hierdie onsekerheid is veral aangevuur deur die realiteit dat nauurse regstudies op daardie tydstip in Suid-Afrika hoofsaaklik in Engels aangebied is.

Sy beskryf haar kennismaking met Akademia as niks minder as ʼn wonderwerk nie. “Die Here het ʼn pasiënt, wat by Solidariteit gewerk het, in dié tyd oor my pad gestuur en hy het my aangeraai om by Akademia aan te klop. Vyf dae ná ons gesprek kondig Akademia aan dat hulle vanaf 2020 die LLB-program op die nauurse afstandsmodel gaan aanbied,” vertel Slabbert. Sy onthou dat sy op ʼn Maandagaand haar studieaansoek voltooi het, en dat sy die daaropvolgende Woensdag meegedeel is dat haar aansoek suksesvol was. Twee dae later was sy ʼn geregistreerde Akademia-student. Die nauurse afstandsmodel het dit vir Slabbert moontlik gemaak om steeds ʼn inkomste as ʼn biokinetikus te verdien en só finansieel tot haar huishouding te kon bydra.

As sy terugkyk oor haar studiereis tot op hede, is dit veral 2020 wat in haar gedagtes opkom. Die opwinding van dié jaar in terme van ʼn nuwe studiereis staan in skrille kontras met die uitdagings wat met die aanvang van die koronaviruspandemie gepaard gegaan het. Slabbert kon in hierdie tyd, soos baie Suid-Afrikaners, nie werk nie én die gesin het in die middel van die jaar sak en pak Namibië toe verhuis nadat haar man ʼn nuwe betrekking hier aanvaar het.

In dié tyd het Slabbert veral die waarde van die nauurse afstandsmodel besef. “Ek kon van een land na ʼn ander verhuis en na slegs ʼn enkele e-pos na Akademia kon hulle my van die sentrum-netwerk (ek was deel van die Centurion-sentrum) na die e-leeropsie oorplaas,” sê Slabbert. Sy voeg by dat sy sonder enige moeite haar eerste eksamen in Namibië kon aflê.

Slabbert, het ten tye van haar tweede studiejaar ʼn betrekking as ʼn farmaseutiese pakhuisbestuurder aanvaar en meen dat selfs te midde van hierdie omwenteling, sy onverpoosd met haar studies kon voortgaan. Sy vertel dat sy sedertdien voltyds gewerk het, en soms eers na 18:00 by die huis aankom. Sy het egter vir haar ʼn baie effektiewe studieprogram uitgewerk en vroegoggend, wanneer die wêreld en die Slabbert-huishouding stil is, skuif sy agter die boeke in. Naweke ruim sy ekstra tyd in om aan haar studies te spandeer en luister sy graag weer na opnames van kontaksessies terwyl sy opsommings maak en opdragte voltooi.

“Ek kan Akademia vir enigiemand aanbeveel. Die administrasieprosesse is vinnig en effektief en spaar nie net tyd nie, maar doen ook weg met die gevoelens van frustrasie wat met administratiewe rompslomp gepaard gaan,” meen Slabbert. Sy is verder vol lof vir die instelling se dosente en betuig haar dank in besonder teenoor prof. Hermie Coetzee (dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid), Lichel Helmchen (dosent in Privaat- en Handelsreg), dr. Willem Gravett (dosent in Publiek- en Prosesreg), dr. Llewelyn Curlewis (deeltydse dosent in Publiek- en Prosesreg) en dr. Birgit Kuschke (dosent in Privaat- en Handelsreg).

Slabbert sluit af deur te sê dat alhoewel nauurse studies by tye uitdagend mag wees, dit ongetwyfeld die moeite werd is. “Ek verwerf binnekort my LLB-kwalifikasie en ek gee aan God al die eer. Ek is dankbaar vir die ondersteuning wat Akademia bied, terwyl die onderskraging, hulp en sorgsaamheid van vriende en familie nie ongesiens verbygaan nie. Méér nog, ek jubel en juig oor die vooruitsig om ʼn roepingsgedrewe regspraktisyn te wees!” sê Slabbert.

Charlize Slabbert verwerf eersdaags haar LLB-kwalifikasie aan Akademia. Sy droom daarvan om ʼn roepingsgedrewe regspraktisyn te wees.

Vir meer inligting besoek Akademia se webtuiste.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: KuierKos

Onderneming in die Kollig: KuierKos

Hierdie week se kollig is op KuierKos in Nederland. KuierKos is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier raak hulle deel...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest