Leesvordering:

Uit en tuis: ’n e-pos uit Kelowna

Nov 9, 2023

Uit en tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Vandeesweek gesels ons met Francois Nortje wat in Kelowna, Kanada woon.

Hallo Francois, van waar in Suid-Afrika is julle en waarom het julle besluit om in Kanada gaan woon?

Ons is oorspronklik vanaf Johannesburg, Kempton Park maar het in Nelspruit gebly vir ’n jaar voor ons in Kanada kom woon het. Ons het besluit om die kant toe te kom vir werk nadat ek my werk verloor het in Suid-Afrika en ’n werksaanbod gekry het in Kanada.

Vertel ons ’n bietjie meer oor jou werk. Hoe verloop ’n tipiese dag?

Ek is ’n vliegtuigtegnikus, ons werk Woensdae tot Saterdae elke week vir tien ure ’n dag. Ons staan 05:00 op om 06:00 te begin werk en gaan dan om 16:30 huis toe. Ek werk vir ’n  maatskappy wat passasiersvliegtuie omskep in vragvliegtuie. Dit is harde werk en ons is baie besig. Ek is deel van ’n groep van vier Suid-Afrikaners wat oorgekom het en daar is so 11 Suid-Afrikaners wat vir my maatskappy werk in Kelowna.

Vertel ons meer van jou gesin.

Ek is gelukkig getroud, ek en my vrou het ook twee honde.

Hoe het jy die emigrasieproses na Kanada ervaar?

Dit was baie stresvol en daar was baie dinksessies oor die besluit om oor te kom. Die proses het so agt maande gevat vandat ek die werksaanbod ontvang het totdat ons gevlieg het. Dit was ook baie hartseer om ons vriende en familie te groet.

Kry julle kans om te reis?

Ons was al in paar lande oorsee voor ons Kanada toe gekom het, maar hier in Kanada het ons nog net hier rond beweeg. Hier is so baie om te sien en die land is baie groot. Ons bly in Brits-Columbiese provinsie wat basies so groot is soos Suid-Afrika. Hier is altesaam tien groot provinsies en Kanada het ook ses verskillende tydsones, so dit is werklik ’n baie groot land.

Is daar enige Suid-Afrikaanse ondernemings (winkels, restaurante, dienste) naby julle wat julle graag ondersteun?

Daar is in elke groot dorp van ons provinsie ’n winkel wat Suid-Afrikaanse produkte verkoop, van koekies, Jan Braai-sous tot verskillende speserye en blikkieskos. Ons het ’n klomp Suid-Afrikaanse dokters in ons dorp, dit help nogal om in Afrikaans te praat as jy die dokter besoek. Hier is ook al so baie Suid-Afrikaners in Kanada, jy kan maar amper weet jy gaan iemand hoor Afrikaans praat die week in die winkels, dis altyd lekker om mense op dié manier te ontmoet.

Het jy enige raad vir enigiemand wat wil emigreer?

Dink baie mooi oor julle besluit en onthou die gras is nie altyd groener aan die ander kant nie. Elke land het maar sy probleme. Kanada is ’n baie veilige land en hier is baie werksgeleenthede, maar daar is ook goed wat Suid-Afrika beter het as Kanada.

Wat is jou gunstelingherinnering van Suid-Afrika? Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Ons familie, vriende, kultuur, die weer en natuurlik ons natuurskoon en bosveld!

Die vriendelikheid van ons mense en die lekker kos in ons land is ook iets waarna ’n mens baie verlang.

Interessante feite oor Kanada

Jou Suid-Afrikaanse bestuurslisensie is net 90 dae geldig en dan vernietig hulle dit, ons moes weer ons bestuurslisensies in Kanada heeltemal oor doen. Dit was nogal ’n aanpassing om gewoond te raak om aan die ander kant van die pad te ry. Die dorp waar ons bly laat ons voel of ons naby Stellenbosch bly – die wynplase en platteland met berge om. Die groot meer, Okanagan Lake is net so mooi.

Sal jy ooit terugkeer Suid-Afrika toe?

Vir seker, as dinge kan verander in Suid-Afrika ten opsigte van veiligheid en werksgeleenthede, enige tyd.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Ek persoonlik dink die groot rede waarom mense ons land verlaat is oor die toekoms van hul kinders en werksgeleenthede waar daar regverdigheid betrokke is. Ek het al met ’n paar ouer mense gepraat hier in Kanada. Die meeste verlang terug na Suid-Afrika, maar byt vas oorsee omdat hulle kinders hier ’n beter toekoms het.

Skryf vir ons

Woon jy in die buiteland, of het jy dalk onlangs teruggekeer uit die buiteland? Jy kan ook vir ons ’n Uit en tuis-rubriek skryf. Stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za en ons stuur vir jou vrae om te beantwoord.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest