Leesvordering:

Uit en Tuis: ’n E-pos uit Oostenryk

Apr 25, 2022

Uit en Tuis is ’n rubriek waar ons met mense gesels wat tans in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het. Hierdie week gesels ons met Ylodi Groenewald wat ons vertel van Oostenryk en hoe Suid-Afrikaanse happies by die kerk vir hulle ’n groot bederf is.

Hallo Ylodi, dankie vir die e-pos. Vertel ons bietjie waar woon jy en hoekom juis daar?

Ons gesin van vyf (ek, my man, dogtertjies vyf en drie jaar onderskeidelik en ons sewe maande oue seuntjie), woon nou al vir die afgelope drie en ’n half jaar in Wene, Oostenryk. Eintlik was daar net drie van ons toe ons hierheen verhuis het. Die jongste twee is hier in Wene gebore. Daar was sekere vereistes wat ons gehad het toe ons begin oorweeg het om te emigreer: die land moet veilig wees; dit moet in Europa wees; dit moet oor ’n goed gestruktureerde openbare vervoerstelsel beskik en die kultuur moet nie te vreemd wees vir ons nie.

Die vereiste vir ’n goeie openbare vervoerstelsel was veral vir my baie belangrik, omdat ek siggestremd is en nog altyd van ander mense afhanklik was om my rond te ry aangesien ek nie self mag bestuur nie. My man, wat ’n elektroniese ingenieur is, het  poste in onder andere Italië, Switserland en ander dele van Oostenryk oorweeg, maar het uiteindelik ’n kontrak met ’n maatskappy in Wene gesluit.

Oostenryk is ’n kultuurryke land, wat het vir jou uitgestaan toe julle eers daar land?

Die ryk kultuurgeskiedenis is een van die aspekte van Oostenryk wat ons die meeste waardeer. Ons almal is lief vir musiek, en veral klassieke musiek, waarvoor Oostenryk natuurlik baie bekend is. Ongelukkig is ons nie op die lughawe deur strelende musiek van Mozart of Strauss begroet nie, maar eerder deur ’n klomp “nors, onbehulpsame en onsimpatieke” Oostenrykers. Hierdie eerste indruk van Oostenryk is definitief nie hoe ons verwag het ons eerste oomblikke hier sou wees nie. Deur die jare het ons geleer dat die stereotipiese norsheid van die Oostenrykers eintlik maar net trots is –  op hul land, taal en kultuur.

’n Mens is deeglik bewus van die historiese geboue wat om elke hoek en draai die stad versier, geboue wat verhale en geskiedenis van honderde jare in hul mure bewaar.

As ons kinders ’n bietjie ouer is, sal ons na orkesuitvoerings en operas gaan kyk of ’n regte bal bywoon.

Maar vir eers is ons tevrede om die geboue van buite af te beskou en op te lees oor die ryk geskiedenis daarvan.

Hoe het jy die emigrasieproses beleef en watter emosies het jy ervaar?

Vir ons was dit eintlik ’n baie vinnige proses gewees – vanaf Mei tot Oktober. Al die logistieke reëlings tesame met die emosionele afskeid het sy tol geëis. Die eerste paar maande in Wene was baie moeilik gewees. Dit het begin by ’n 13 uur lange vlug met ’n kleuter, ’n sopnat Wene by ons aankoms, ’n taxibestuurder wat ons nie kon verstaan nie, tydsverandering van somer- na wintertyd op die dag nadat ons geland het, en ’n plotselinge verwisseling van Airbnb’s omdat die verhittingstelsel probleme gegee het.

Daar was ook die soeke na permanente verblyf, ons dogtertjie wat ’n paar maande ná ons aankoms gebore is, asook siekte, ’n yskoue winter en oneindige frustrasie met die taal wat ons nog nie kon verstaan of praat nie. Ons het eers later by ’n Afrikaanse kerk aangesluit en met hul ondersteuning het dinge baie beter begin gaan.

Is daar enige eg-Suid-Afrikaanse winkels naby jou wat jy besoek vir trooskos, soos biltong?

Ongelukkig is daar nie enige Suid-Afrikaanse winkels hier in Wene nie, maar daar is hier en daar ’n winkel waar ons ’n paar ou bekende produkte kan kry. My gunsteling is Mrs Balls-blatjang. Ek koop sommer ’n paar bottels op ’n keer wanneer ek die kans kry. Goed soos rooibostee is meer vrylik beskikbaar. Ons het maar geleer om klaar te kom met dit wat ons hier kan kry, maar dit is darem lekker om een keer ’n maand eg-Suid-Afrikaanse happies by die kerk te kan geniet wat deur die gemeentelede voorberei word. Ek self is nou nie ’n wafferse kok nie, maar ek het darem al bobotie en melktert gemaak.

Vertel ons bietjie watter werk doen jy en hoe verloop ’n tipiese dag in jou lewe?

Ek is tans ʼn tuisteskepper,  met ons jongste wat nou sewe maande oud is en my goed besig hou. Ek neem die oudste twee in die oggend kleuterskool toe, gaan doen inkopies en kom handel dan my huistake af voordat ek hulle weer by die kleuterskool gaan haal. Ek stap oral waar ek wil gaan of ek maak van die openbare vervoer gebruik.  Met die somer wat op pad is, is dit so lekker om net in die woonbuurt te gaan stap of laataand vinnig om die blok te gaan draf. Ek sal later weer my studies in Sielkunde voortsit. Dit is gelukkig baie goedkoop om hier te studeer.

Hoe het jy ingeskakel en vriende gemaak in die proses?

Ons is tans by ’n Afrikaanse kerk (wat een maal per maand ’n diens het), asook ’n Duitse kerk ingeskakel waar ons met mense ’n verhouding kan bou. Omdat die Oostenrykers baie privaat mense is, is dit nie so maklik om met hulle blywende vriendskappe te smee nie, maar ons kon al goeie verhoudings bou met ons bure en van die ouers by die kleuterskool. Dit is uiters belangrik dat ’n mens die taal kan praat van die land waar jy bly.

Dinge het soveel makliker geraak vir ons toe ons in Duits begin kommunikeer het.

Die Oostenrykers waardeer dit as hulle sien ons probeer darem Duits praat al maak ons nog baie taalfoute. Ons was gedwing om baie vinnig Duits onder die knie te kry, aangesien die meeste Oostenrykers geensins Engels praat nie.

Hoe vergelyk die verblyfopsies in Oostenryk met die van Suid-Afrika?

Dit is vreeslik duur om in Wene te woon. Die meeste mense bly in woonstelle en deel ’n tuin. Die gemiddelde woonstel het twee tot drie slaapkamers, ’n klein sitkamer, kombuis, badkamer en voorkamer. ’n Mens betaal gemiddeld 100 euro per 10 m2. Verblyf in die kleiner dorpies is natuurlik goedkoper, maar dan neem dit weer langer om in die middestad te kom. Daar is ook baie verskuilde kostes waarvan ons nie geweet het toe ons hier gekom het nie. Hier betaal die huurder die eiendomsagent se kommissie wat gewoonlik so twee maande se huurbedrag is. Die gas en elektrisiteit is ook nogal duur en dan moet  ʼn mens elke jaar bedryfskoste betaal (dit is onder andere vir die instandhouding van die gebou).

Is dit duur om in Oostenryk te woon?

Die meeste goed in Oostenryk is duurder as in Suid-Afrika. Belasting hier is baie hoog, maar ons kry soveel voordele ook. Openbare gesondheidsdienste en onderwys is gratis en daar is ’n groot verskeidenheid plekke met gratis toegang, byvoorbeeld parke, buitenshuise speelplekke en  natuurreservate. Ek sou sê dat ’n mens meer waarde vir jou belastinggeld hier kry as in Suid-Afrika. Enige privaat dienste is baie duur en so ook private kleuterskole of skole.

Wat mis jy die meeste van Suid-Afrika?

Alhoewel ons baie gelukkig is in Oostenryk, is daar tog sekere dinge van Suid-Afrika wat geen ander land vir ’n mens kan bied nie. Ons mis die see en die wilde diere, braaivleisvure en lekker boerekos. Ons mis die donderweer en Wimpy-koffie. Ons mis ons familie en vriende en om spontaan Afrikaans te kan praat met mense om ons. Ons mis die feit dat ons nie vir ons kinders kan sê hierdie is ONS land nie. Maar ons is besig om wortel te skiet in hierdie nuwe grond wat vir ons geleen is en ons hoop en glo dat ons en ons kinders ons Afrikaanse kultuur hier ver in ’n vreemde land sal behou en sal oordra aan die generasies ná ons.

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

Emigrasie vir ons was soos om weg te stap uit ’n verhouding en te weet dat dit tyd is om daardie hoofstuk van ’n mens se lewe af te sluit. ’n Mens wil gereeld terugkeer na dit wat jy ken en waaraan jy gewoond is, maar dan besef ons dat die vreemde en die nuwe lewe ’n beter opsie is vir ons. Dit is so lekker om te weet ons kinders is veilig en het soveel geleenthede om buite te wees. Ons is omring deur woude al woon ons in die stad. Ons kan binne 10 minute se stap in die woud wees. Dit is veral vir my lekker om vir die eerste keer in my lewe onafhanklik te kan rondbeweeg en te kan gaan waar ek wil. Ek wens dat elke gestremde persoon in Suid-Afrika hierdie vryheid en onafhanklikheid kon beleef. Ek kan myself nie indink om weer terug te gaan Suid-Afrika toe nie. Hierdie is nou ons tuiste, al is dit net ’n geleende tuiste.

LEES OOK: Uit en Tuis: ’n E-pos uit Phuket

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest