Leesvordering:

Uit en tuis: terug op tuisbodem

Nov 3, 2022

Uit en tuis is die rubriek waar ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of daar gewoon en gewerk het en weer terug in Suid-Afrika is. Ons verneem graag van enigeen wat hulle belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Elisabeth Lourens wat in die Verenigde Koninkryk gewoon het en weer terug is in Suid-Afrika.

Hallo Elisabeth, waar het jy in die buiteland gewoon?

In ’n dorp in Sussex genaamd Horsham. Ek het dit gekies want ek het gereken dis naby genoeg aan Londen en ’n mooi deel van Engeland.

Hoe voel dit om terug te wees op tuisbodem?

Oos wes, tuis bes.

Vertel ons van jouself en jou avonture in die vreemde. Wat was die lekkerste of slegste avontuur wat jy daar beleef het?

Ek is ’n spraakterapeut en oudioloog. As ’n 40-jarige is ek ongetroud en ’n mens wil graag groei en beweeg en vooruitgaan in die lewe. “A change is as good as a holiday” blykbaar …

Wel ná een jaar van beplanning en spaar (en vyf jaar van droom) word ek ook deur ’n agent genader om in Engeland te gaan werk as oudioloog. Ek was baie opgewonde en het net aan die pragtige sneeufoto’s gedink wat op my Facebook-blad gaan pryk. Ek het ook gedink aan hoe suksesvol ek gaan voel en sekerlik lyk. En dan was daar natuurlik die vooruitsig om finansieel beter te doen.

Van die begin tot die einde was die hele toer ’n groot emosionele uitdaging. Jy wag lank vir jou registrasie by die mediese raad en as jy dit dan het, gebeur baie dinge skielik gelyk. Ek moes binne een week verblyf vind en het toe maar aanlyn ’n woonstel gevind om te huur. Ek moes ook op die nippertjie ’n vliegtuigkaartjie bespreek. (Die agent se kastige lae fooi sou ek wou kanselleer – dit was toe later R10 000. Ek het toe maar nie gekanselleer nie en deurgedruk). Met my aankoms in Engeland by Heathrow Lughawe moes ek twee groot tasse rondkarwei. Die treine en aanwysings was baie verwarrend en alhoewel ek gewoonlik maklik en vol selfvertroue reis, was als van die begin af moeilik. Met my maer lyfie het ek nou nog geen idee hoe ek met twee massiewe tasse en vele treine suid gereis het na my dorp nie. Ek onthou net ek het in ’n stadium van die roltrappe afgeval met die tasse bo-op my. Plaas het ek tog maar ’n taxi bespreek.

Met my aankoms het die huisagent skielik van opinie verander en kon ek nie intrek in my plekkie nie. Ons moes eers doodseker maak die deposito en eerste maand se huur was deur aan Engeland se kant. Dankie tog dat ek ’n meisie van plan B’s is. Ek het by ’n dame in die kerk gewoon vir een week. Dit gaan sleg klink en dalk negatief, maar die slegste ervaring was basies alles daar. Die mense … die kos … die werk … Die gemis na Sakkie, die beste honde-kind ooit … die gemis na ordentlike vleis … die gemis na hartlike mense wat nie dink jy is vreemd as jy vriendelik is en geselsies maak nie … die gemis na hoe ’n mens oudiologie in Suid-Afrika doen. Die lekkerste ervaring was om sommer net die trein te kon vat en by vriende te kon gaan kuier in ’n mooi dorpie genaamd Arundel. Vriende is alles as ’n mens alleen oorsee gaan.

Wat het jy die meeste gemis van Suid-Afrika?

Die mense … my familie … spasie … vleis … my hond.

Wat was die grootste aanpassing vir jou in die buiteland?

Alles. Ek het een oggend benoud wakker geskrik. Ek kon skaars asemhaal. Ek was in die ontkenningsfase en kon nie glo ek was so dom om Engeland toe te gaan nie. Ek het die dag na ’n wynplaas gevlug in Dorking, alhoewel ek net mooi niks van wyn weet nie. Die spasie was medisyne vir my siel en het my daardie dag gered. Ek beleef God in die natuur en was so dankbaar.

Was dit vir jou ’n kultuurskok?

Ja, dit was ’n groot skok. Al het ek al ses keer vantevore daar vakansie gehou. Werk is anders.

Was die werkskultuur ’n aanpassing?

Ja. Ons was ’n spoedtrein, alles het oor geld gegaan. Ek het besef ek gaan ook so word … en my menslikheid verloor.

Enige lesse wat jy geleer het?

Die gras is nie altyd groener aan die ander kant van die draad nie. Sukses is nie geld nie. Dit is oukei as ’n mens foute maak. (Ek moes nooit gegaan het nie).

Is daar enigiets anders wat jy met ons wil deel?

As ’n Christen glo ek dat God elkeen van ons met ’n doel geskape het. Ons moet leeg word van onsself en ons drome aan God oorhandig. Ons moet fyn luister, en as ’n mens nie vrede het oor iets nie, moet ’n mens nie voortgaan en dit doen nie. Ek het baie geld verloor. Tog het ek ’n tweede kans gekry, want God is ’n God van tweede kanse. Suid-Afrika, hier is ek nou … net vir jou!

LEES OOK: Uit en tuis: ’n e-pos uit Botswana

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

AfriForum gaan unieke regstryd aanpak om NGV te beveg ná bekragtiging

Ramaphosa se seremonie niks anders as die ondertekening van ’n gevaarlike verkiesingsfoefie Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel ten sterkste President Cyril Ramaphosa se besluit om die NGV-wetsontwerp Woensdag deur te druk. AfriForum is oortuig dat dié...

’n Padkaart vir jou geestesgesondheid

’n Padkaart vir jou geestesgesondheid

Deur Derika de Villiers Om oor geestesgesondheid te praat is nog steeds ’n uitdagende aktiwiteit vir baie mense. Ons het in ’n kultuur grootgeword in Suid-Afrika waar jy “gesien en nie gehoor moes word nie”, of “jou sokkies moet optrek” en jou “trane moet sluk”. Die...

Onderneming in die Kollig: AVW Media Worx

Onderneming in die Kollig: AVW Media Worx

Hierdie week se kollig is op AVW Media Worx. AVW Media Worx is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van reg oor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier raak hulle deel...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest