Leesvordering:

Unieke maniere hoe Kersfees in verskillende lande gevier word

Des 10, 2023

Deur Alize Scholtz

Die woorddeel “kers” in Kersfees kom van die Griekse woord vir Christus, naamlik “Kristos”. Deur klankomruiling het “Kris-” in “Kers-” verander. Die woord Kersfees beteken dus eintlik Christusfees. Dit is ook waarom samestellings met “Kers-”  gewoonlik met ’n hoofletter gespel word.

Hier volg ’n paar weergawes van verhale oor Kersvader:

Sint Nikolaas (Sinterklaas) was ’n biskop in Turkye. Nie veel is oor hom bekend nie, behalwe dat hy goed was vir arm kinders. Van sy geskenke aan arm gesinne het hy soms in skoorstene afgegooi. Toe hy ’n biskop word, het hy ’n rooi hoed en mantel begin dra, vandaar die klere wat met Kersvader geassosieer word. Daar is baie legendes oor sint Nikolaas, maar ons weet nie of enige daarvan die waarheid is nie. Volgens oorlewering word Kersfees in verskillende lande op die volgende maniere gevier:

Land
Só sê jy “Geseënde Kersfees” in die plaaslike taal

Frankryk

“Joyeux Noël!”

Tradisies in Frankryk het al baie verander, maar die heersende een bly dat almal saam aansit op 24 Desember en smul aan ’n luukse ete wat réveillon genoem word. Dit begin vroeg saans en duur tot middernag of selfs later. Kalkoen bly ’n gewilde dis om te bedien, maar jy kan ook kreef, slakke en oesters op die tafel kry. Vir nagereg word ’n sjokoladerolkoek gevul met bessiekonfyt (buche de Noël) bedien. Al hierdie ryk kos word natuurlik vergesel met goeie wyn of sjampanje vir daardie ekstra bederf.

Italië

“Buon Natale”

Kersvader het kompetisie in pastaland en haar naam is Befana, ’n heksagtige, bejaarde vrou wat elke huis besoek en lekkers vir soet kinders agterlaat. Met hierdie vrygewigheid doen sy eintlik boete – sy wou die drie wyse manne glo nie kos en blyplek gee toe hulle op pad was om Jesus as baba te besoek nie en nou wil sy daarvoor vergoed. Hier word geskenke eers op 6 Januarie uitgedeel, omdat daar tradisioneel geglo word dat dit die dag is waarop die drie wyse manne by die baba Jesus aangekom het. Anders as in Frankryk, eet die Italianers op Oukersaand ’n ligte seekosmaaltyd. Die soorte vis en hoe dit bedien word verskil tussen verskillende streke in Italië.

Oostenryk

“Frohe Weihnachten”

Hierdie nasie is bekend vir hulle erns. Op Oukersaand omstreeks 16:00 sluit die winkels. Die meeste kroeë, restaurante en nagklubs word ook gesluit. Elke stad het hul eie Kersboom op die dorpsplein en hier word liggies aangesteek waar gesinne bymekaarkom om Kersliedere te sing op Oukersaand. 

In die eerste week van Desember vier Oostenrykers die bestaan van Krampus, ’n dieragtige wese wat in strate rondloop en stout kinders straf. Jong mans trek dan soos Krampus aan en maak kinders bang met kletterende kettings en klokke. Gelukkig kom St. Nicolas die dag daarna en beloon soet kinder met lekkers!

Nederland

“Vrolijk Kersfeest”

In Nederland is daar tradisioneel ’n tradisie gevier wat baie kritiek verduur het. Vroeg in Desember is die Swarte Piet-fees gehou. Hy is glo Kersvader se helper en was deur mense voorgestel met swart geverfde gesigte en rooi lippe. Hy hou boek van al die dinge wat kinders die afgelope jaar gedoen het. Goeie kinders sal geskenke van Sinterklaas kry, maar stout kinders sal deur Piet gesteel word. Die afgelope paar jaar het ’n groot verandering in houding en praktyk met betrekking tot Swarte Piet plaasgevind weens die rassistiese aard daarvan. Die aanpassing was onvermydelik en alternatiewe word deesdae vir hierdie helper gebruik.

Die Nederlanders se Kersdag self is egter baie stiller. ’n Kerkdiens en gesinsete is aan die orde van die dag.

Venezuela

“Feliz Navidad”

In Caracas, die hoofstad van Venezuela, gaan die jongklomp op 25 Desember op rolskaatse kerk toe. Party strate word selfs tot agtuur in die oggend gesluit sodat hulle na hartelus daar kan skaats. Ná kerk gaan hulle huis toe om ’n Kersete te geniet wat bestaan uit ’n mengsel van vleis wat in mieliemeeldeeg toegedraai word. Dit word met toutjies soos ’n pakkie vasgebind en word dan gekook of gestoom. Hierdie Latyns-Amerikaanse nasie is baie kleurvol en vuurwerkvertonings is baie gewild oor Kersfees.

China

“Shèng Dàn Kuài Lè”

In ’n land waar bykans een persent mense Christene is, weet die meeste mense net ’n paar dinge oor Kersfees. Hier word Kersfees dikwels slegs in die groot stede gevier met liggies en versierings. Al meer jongmense in China vier Kersfees met partytjies, en paartjies gee vir mekaar geskenke soos op Valentynsdag. Dis vreemd om te dink dat die meeste plastiek-Kersversierings in China gemaak word, maar dat hulle dit nie self in hulle huise opsit nie. Kersvader word hier Dun Lhe Dau Ren genoem. Dit beteken “ouman-Kersfees”.

Japan

“Meri Kurisumasu”

In Japan word Kersfees nie as ’n godsdienstige vakansiedag of viering gesien nie. Dit word eerder gevier as ’n tyd om geluk te deel. Die meeste sakeondernemings sal 25 Desember as ’n “gewone” werksdag hanteer. Verskeie Westerse gebruike het egter begin gewild raak in Japan. Dit sluit in die stuur en ontvang van Kerskaartjies en -geskenke. Gebraaide hoender word dikwels op Kersdag geëet en vir restaurante soos KFC is dit die besigste tyd van die jaar. Daar word selfs ’n spesiale Kersdagspyskaart deur hierdie kitskosrestaurant gemaak en mense kan vooraf hulle bestellings vir die dag plaas.

Rusland

“’s rah-zh-dee-st-VOHM’ (C рождеством!)”

Kersfees was as ’n godsdienstige vakansiedag verbied deur die Sowjetunie. Ná die ineenstorting van die Sowjetunie in 1991 kon mense weer Kersfees vier. Dit was egter ’n privaat en godsdienstige geleentheid. Volgens legende is een van die bekendste dinge oor Kersfees in Rusland die verhaal van Babuschka (dit beteken ouma in Russies). Dit vertel die storie van ’n ou vrou wat nie saam met die wyse manne wou reis om Jesus te sien nie. Daarom soek sy nog na Hom en laat geskenke vir kinders agter, net ingeval dit Baba Jesus is. Die meeste mense in Rusland het egter nog nooit van hierdie storie gehoor nie en meen dat dit ’n fiktiewe verhaal is wat deur ’n Amerikaner geskryf is.

Die Russe is vandag eerder bekend met Ded Moroz (Oupa Vries) en hy dra ’n blou pakkie. ’n Unieke kenmerk van die Russe se weergawe van Kersvader is dat sy kleindogter, Snegurochka (Sneeumeisie) sy helper is. Sy is die enigste vroulike metgesel van soortgelyke karakters in ander kulture.

Zimbabwe

“Muve neKisimusi”

Hier begin Kersdag  met ’n kerkdiens, maar ná die formaliteite hou almal partytjie. Mense gaan van huis tot huis en besoek familie en vriende. By elke huis sal jy iets kry om te eet en soms word daar geskenke ook uitgeruil. Die grootste stereoluidsprekers word uitgehaal en aan die voorkant van die huis geplaas waar hul gunstelingmusiek kliphard gespeel word. Almal dra hulle beste klere vir hierdie partytjies. Vir sommige gesinne is dit die enigste tyd wanneer hulle nuwe klere kry en so ’n partytjie is ’n goeie plek om daarmee te spog.

Hoe vier jy Kersfees in die buiteland?

As jy ’n Suid-Afrikaner in die buiteland is, is AfriForum Wêreldwyd jou tuiskomplek hierdie Desember. Deel met ons die interessante Kersgewoontes van die land waarin jy jou nou bevind. Stuur asseblief resepte van die kos wat julle daar maak asook foto’s van hoe julle die huis versier. Lewer gerus ook enige kommentaar op die bogenoemde legendes en tradisies hier of stuur ’n e-pos na wereldwyd@afriforum.co.za.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest