Leesvordering:

Vier jou Afrikaans-wees

Des 4, 2023

Deur Alize Scholtz

Dit is nou hier waar jy kan besluit watter eienskappe en nalatenskap jy van vorige geslagte sal behou en koester sodat dit nie vir die volgende geslag verlore gaan nie. Dit klink bewonderenswaardig, maar hoe voer mens dit prakties uit?

Afrikaans is in ons DNS en bevat al die informasie oor wie ons is, waar ons vandaan kom, en hoekom ons sekere waardes belangrik ag. Die lekkerte van Afrikaans is dat dit jou tuis maak in ’n gemeenskap, maak nie saak waar jy nou bly nie. Hierdie wêreldwye Afrikaanse gemeenskap het die voorreg om ’n gedeelde nalatenskap van Afrikaans te vier.  

Ou ensiklopedieë is gevul met inligting oor die stryd van die behoud van ’n eie taal vir die Afrikaner in die vroeë 1900’s. Reeds in 1893 word die eerste Bybelboek, Genesis, in Afrikaans vertaal omdat die Nederlandse Bybel nie meer vir die Afrikaner verstaanbaar was nie. Dit word onder die beskerming van die Genootskap van Regte Afrikaners gepubliseer. Die verlange na ’n eie skryftaal het toe reeds onder die Afrikaanssprekende geleef. Spoedig sou Eugène Marais met sy gedig “Winternag”, in 1905, die moontlikhede van Afrikaans as kultuurtaal aantoon. Marais se gedig het gewys dat Afrikaans ’n kultuurtaal is wat nie so maklik deur ’n vreemde taal vervang sal kan word nie. Onthou, in hierdie tyd was Afrikaans nog ’n geradbraakte Hollands en nie in alle opsigte dieselfde Afrikaans wat ons vandag gebruik nie. Die mense was verslae om te sien watter mooi gedig daar in die taal wat so dikwels verag was, geskryf kan word. Die Afrikaners het sommer weer moed gekry om met die stryd om eie taal voort te gaan.

Manne soos Gustav Preller, J.H.H. de Waal en ds. Willem Postma het baanbrekerswerk verrig om Afrikaans as skryftaal te bevorder. ’n Volk wat met wapengeweld verslaan was, was vasbeslote om nie uit te sterf nie: hy wou sy tradisie en sy taal behou. Spring slegs ’n paar dekades vorentoe op die tydlyn en Afrikaans word as amptelike taal erken in 1925.

Ons taal het besonders vinnig ontwikkel. Tale verander voortdurend, maar die veranderinge vind onder normale omstandighede baie stadig plaas. Die verskille tussen sewentiende-eeuse Engels, Duits, Frans en Nederlands en hoe hierdie tale vandag lyk, is uiters gering in vergelyking met die verskille tussen die sewentiende-eeuse Hollandse volkstaal en Afrikaans. Waarom het Afrikaans dan so vinnig ontwikkel?

Die aanneemlikste teorie is dat Afrikaans nie uit natuurlike ontwikkeling uit Nederlands verklaar kan word nie. Dit is beïnvloed deur Frans, Duits, Khoisan-taal en Maleisies. Hoe dit ook al sy, die kragtige en soetklinkende Afrikaans wat ons vandag ken, is ons erfenis en moet aanhou ontwikkel word vir nuwe geslagte.

Vandag is ons steeds ’n vasbeslote volk wie sy erfenis wil behou. Daarom kan jy met trots jou Afrikaanse kultuur vier. Dit eis egter soms inspanning om dit doelbewus te doen. Hier is ’n paar idees wat jy prakties kan toepas wanneer jy oorweldig word met die mooi van jou eie kultuur:

  • Sing in Afrikaans

Met ou Volksliedjies soos “Sarie Marais”, “Aanstap Rooies” en “Bobbejaan klim die berg” raak almal vinnig plesierig. Jy sal verbaas wees hoe die melodie en woorde (wat jy gedink het jy al vergeet het) weer terugkom na jou toe. Ons Afrikaanse musiekskatkis is propvol saamsingliedjies van legendes soos Lucas Maree en Koos du Plessis tot Ruan du Toit en Die Heuwels Fantasties.

  • Kook in Afrikaans

Stof ’n ou resep af wat jy met jou Afrikaans-wees assosieer. Indien jy gelukkig is om ’n uitgawe van S.J.A. de Villiers se Kook en geniet te hê, kan jy vir jouself die uitdaging stel om iets daaruit te maak. Indien nie, kontak ’n familielid en herinner mekaar weer aan tradisionele geregte wat julle geniet het om saam te skep. Kyk of jy kan uitwerk wat was ouma se geheime bestanddeel in haar melktert.

  • Kuier in Afrikaans

Ja, in Suid-Afrika word Erfenisdag dikwels oorskadu deur Nasionale Braaidag, maar ’n braai is die perfekte geleentheid om bymekaar te kom en in jou moedertaal sommer net te gesels. Deel stories met jou kinders van Racheltjie de Beer en Japie Greyling of bespreek die Springbokke se slim plaasvervangerstrategieë. Hetsy die gesprek by die braai diep, insiggewend of net ligte geskerts is, doen dit in Afrikaans!

Raak betrokke in Afrikaans

Wanneer jy lief is vir iets wil jy dit uiteraard oppas. As jy oorloop van trots vir jou taal kan jy nie anders as om dit ook te beskerm nie. Raak betrokke by netwerke soos AfriForum Wêreldwyd – Jou tuiskomplek in die buiteland! Jy kan ook aansluit by Vriende van AfriForum of Maroela Media lees en deel word van die Solidariteit Beweging. Luister na Pretoria FM oor die internet of geniet ’n verskeidenheid van Afrikaanse inhoud op AfriForumTV selfs al woon jy in die buiteland! Jy kan ook inteken op nuusbriewe sodat jy op hoogte van alles Afrikaans bly!

Foto: Unsplash – Priscilla Du Preez 🇨🇦 

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest