Leesvordering:

Vier Kersfees saam met jou familie, al is hulle vêr

Des 10, 2023

Deur Alize Scholtz

Kersfees kan om baie redes ’n besige, stresvolle en moeilike tyd vir enige iemand wees. Veral vir diegene wat in die buiteland woon. Geen ander geleentheid vra soveel stamina, kreatiewe denke en organisasie van jou soos Kersfees nie. Daar is op-die-nippertjie-take by die werk, ’n inkopielys van geskenke, spyskaarte en reisreëlings. Wanneer jy Kersfees sonder jou familie moet deurbring, omdat hulle vêr in afstand is, kan eensaamheid vinnig posvat. Al bevind jy jouself in ’n pragtige land waar hulle feesvier op unieke maniere, kan dit moeilik raak om in die feesgees te kom.

Kersfees is gewoonlik ’n tyd van bymekaar wees, maar hoe gemaak as dit net eenvoudig nie moontlik is nie? Hier is ’n paar wenke vir as die gemis gedurende Krismis net te erg raak.

Moenie jou tradisies laat vaar nie

Net omdat jy in ’n ander land is, beteken dit nie dat jy hoef op te hou om die vakansiedae op ’n eg Suid-Afrikaanse wyse te vier nie. Sing Kersliedere soos Koos du Plessis se Somerkersfees in jou moedertaal. Maak daardie spesiale gereg wat jou aan Suid-Afrikaanse somers herinner (hallo kleurryke, alkohol-deurdrenkte koekstruif).

As jou mense tuis altyd iets op ’n sekere manier gedoen het (soos om byvoorbeeld geskenke op Oukersaand oop te maak) – hou aan om dit so te doen. Jy sal meer tuis voel en in ritme met jou geliefdes wees. Baie mense voel dat dit van jou verwag word om oor Desember gelukkig en vrolik te wees. In werklikheid vind baie mense die feestyd iets om te verduur eerder as om te geniet, omdat angs of depressie kop uitsteek.

Tradisies en rituele bied struktuur in ons lewens en verrig belangrike sielkundige funksies om angs te bestuur. Die nostalgie van ou Kersfeestradisies kan die gevoel van sosiale verbondenheid versterk. Navorsing het bewys dat nostalgie, angs en eensaamheid kan verlig. Deur met jou eie familie se tradisies vol te hou, al bevind jy jouself in die buiteland, kan jou algehele welstand verbeter.  

Maak virtueel kontak

Met vandag se onbeperkte tegnologie-opsies was dit nog nooit so maklik om in kontak te bly nie. Die geheim lê daarin om betyds te beplan wanneer familie of vriende bymekaar sal kom om dan virtueel by hulle aan te sluit. Daar bestaan reeds baie platforms om video-oproepe in ’n groepformaat te maak. Ondersoek die opsies hier. Al is jy nie in dieselfde dorp of land as jou geliefdes nie, kan enige konneksie – selfs ’n vêr een – help om jou meer tuis te laat voel.

Dit word nie verniet sosiale media genoem nie. Deel in die feestelikheid en speel saam ’n speletjie soos byvoorbeeld stomstreke. Maak gebruik van ’n aanlyn woordopwekker of kies woorde wat meer relevant is vir jou groep. Elkeen kan ’n paar woorde voorstel en dit met mekaar deel. Stuur dit net in ’n persoonlike boodskap op die videokonferensieplatform sodat die raaiers nie vooraf die woord kan sien nie! Kry nog idees van virtuele saamdoendinge hier.

Indien jou mense nie vaardig genoeg is vir so ’n video-oproep nie, of internetverbinding ’n probleem is, kan julle altyd net saam ’n heildronk op die vakansiedag instel. Vra vir elkeen om ’n selfie van hulle vakansie-opset en drankie van hul keuse op julle sosiale media groep te deel. Die foto’s sal vir ’n paar glimlagte sorg en enige eensaamheid verdryf. 

Eensaamheid het ’n negatiewe impak op jou gesondheid. Navorsing het bewys dat om sosiaal verbind te voel een van die sterkste teenmiddels vir depressie is en kan simptome van angs verminder. Die Covid-19-pandemie het ons ook geleer dat virtuele verbinding met geliefdes ’n puik plaasvervanger is wanneer jy nie in persoon bymekaar kan wees nie.  

Wat saak maak

As Kersfees nie in jou hart is nie, gaan jy dit nie onder ’n boom kry nie. Daarom is Kersfees nie ’n datum nie, maar ’n ingesteldheid. Vergeet van die spanning wat soms met hierdie tyd gepaard gaan. Hou by die mooi dinge, die vreugde om die einde van nog ’n jaar met geliefdes te deel (al is dit virtueel) en die voorreg om Sy geboorte te vier. Jou tyd en liefde is die beste geskenk wat jy kan gee.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest