Leesvordering:

Kersfees in die vreemde

Des 10, 2023

Deur Rolien Hattingh

Hierdie jaar is my sesde Kersfees hier in die suide van die Verenigde Koninkryk, in Engeland.

Kersfeestyd is nou weer hier. Die meeste winkels het al vanaf einde Oktober begin versierings opsit en Kersfeesvoorraad uitgepak. Die mooiste mooi feestelike truie hang langs die lelikes. Fair Isle in rooi, groen, wit en goud, en veelkleuriges met bokke, klokke, worshonde en Kersbome op. Hulle is baie gewild – ek het self so ’n halfdosyn of meer in my kas. Stringe liggies kom aan by elke huis en party voortuine het so baie versierings, ek is seker hulle kan van die maan af gesien word. Dis te pragtig, mense ry rond ná aandete, karre volgepak met kinders in pajamas. Saam met familie en vriende loop hulle straat op en straat af om hulle aan al die liggies en huisversierings te vergaap. Nuus van ’n nuwe beligte huis versprei soos ’n veldbrand op sosiale media. Huiskomplekse en buurmanne kompeteer teen mekaar vir die beste liggietentoonstelling.

Koffiehuise bied ’n gratis eetdingetjie aan saam met elke koppie koffie vir ’n donasie aan een van die baie liefdadigheidsinstansies. Die groter afdelingswinkels speel net Kersfeesmusiek en kry selfs ’n groep dansers of tromspelers wat buite hulle deure optree. Die musiek en die veelkleurige en beligte dansers trek baie aandag.

Elke dorpie het uitsonderlike straatliggies in hulle hoofstrate. Dit is vreeslik feestelik om dit te sien as jy deur die strate ry. Van die winkels bly oop tot tienuur elke aand, behalwe Sondae. Dis nou tog te lekker om jou inkopies rustig te kan doen, geen gejaag nie. Behalwe daardie laaste twee aande voor Oukersaand. Dan bly jy ver weg van alles af. Alhoewel die kroeë – of locals, soos hulle hier genoem word – nie almal se kuierplek is nie, is daar nie baie ander Kersdagetes wat beter smaak nie.  

Mense smul aan geroosterde of spitgebraaide kalkoen, vark, bees en skaap, met of sonder vulsel. Die beste braai-aartappels, en natuurlik Yorkshire-poeding wat nie poeding is nie, tot my skok. Dit is ’n tipe bakkie wat van pasteideeg gemaak word en wat jy vol bruin sous gooi. Daar is pampoen, patats en bosbessiesous (cranberry sauce), selfs bo-oor die groen ertjies. Restaurante kan al ’n hele jaar vooruit bespreek word vir die etes op Kersdag en Welwillendheidsdag. Natuurlik kom familie eerder bymekaar en kuier as wat hulle uitgaan.

Die gelowiges woon ’n kerkdiens om middernag en dan weer so tienuur die oggend by. Kerkklokke lui elke uur. Jy kan by enige kerk instap en die dienste bywoon. Hulle verskaf iets om te drink en te eet ná die Kersdagdienste. Reg deur die jaar word daar na die armes en behoeftiges omgesien. Vele sopkombuise en instansies waardeer alle bydraes. Nie net benodigdhede en kos nie, hulle waardeer jou tyd. Jy kan gaan help groente skil, ietsie bak, of die kos bedien.

My gunsteling- Kersoggendtradisie is ’n wandeling in een van die baie woude naby my of langs die Teemsrivier sodra dit lig word, wat omtrent so 07:30 tot 08:00 is. Koffie in die een hand en ’n Kersfeesvrugtetertjie (Christmas mince pie) in die ander. Met Kershoede op, Kersserpe om en Kersfeestruie aan, groet al die oggendstappers mekaar, seënwense oor en weer. Honde en kinders hardloop en speel. Rooi wange en oë wat blink van die koue stop nie die blydskap in hulle gelag nie.

Omtrent almal het een of meer honde. Dié slaap binne-in die huis en daar word twee of drie keer ’n dag met hulle gaan stap. Hondeoppassers en hondestappers is volop, dit is die meeste mense se enigste bron van inkomste. Die honde kry gewoonlik komberse, winterbaadjies om hulle warm te hou as hulle gaan stap, en ’n wildsbeen as Kersgeskenk wat voor die kaggelvuur gekou word.

Op Kersdag en Welwillendheidsdag (Boxing Day) is al die winkels toe. Daar is so een of twee kafees oop vir brood en melk, maar dit is al. Almal bly by die huis in hulle pajamas en eet kos wat oorgebly het Kersdag. Die dag ná Welwillendheidsdag is al die winkels weer vol mense. Hulle ruil geskenke om, koop kos en klere.

Skole en universiteite begin in September, ná die lang somerskoolvakansie. Die Kersfeesvakansie is net tussen Kersdag en Nuwejaarsdag. Die meeste besighede is net toe vir daardie week, en dan keer alles terug na normaal teen 2 Januarie.

Hier is dit -2° vanoggend en daar in Suid-Afrika al klaar 34°. Daar braai julle, hier is almal “out and about”, al is dit so koud. Iemand het lank terug vir my gesê dis te koud hier in die vreemde. Nee man, dit is nie, dit is wat jy daarvan maak … en ons gaan lekker Kersfees hou!  

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest