Leesvordering:

Vir oumas met kleinkinders wat ver bly

Okt 4, 2023

Deur Adéle Changuion

“Hallo, Ouma se poppie! Jy het so groot geword. Kan julle my hoor? Ag nee, ek kan julle nie hoor nie.”

Hierdie is maar net ’n paar van die frustrasies wat oumas beleef wanneer hulle met kleinkinders kommunikeer wat ver bly. Nuwe tegnologie is soms ʼn gesukkel, maar die meeste oumas doen baie moeite om die lang afstande tussen hulle en hul kleinkinders te verkort.

Hoe vorm of behou jy ’n verhouding met jou kleinkind as hy ver bly?

Ans Pelser van Parys se kleinkinders is reg oor die wêreld verstrooi en woon in Kaapstad, Dubai, Pretoria en Korea. Vir haar is persoonlike kontak nog die beste manier, maar sy weet omstandighede laat dit nie altyd toe nie. “Dis baie moeilik, maar mens probeer maar soveel moontlik kontak behou. Ons bel en Whatsapp mekaar. Ek geniet ook die foto’s wat hulle op Facebook laai.” Vir Ans is dit belangrik dat haar kleinkinders hul eie lewens lei, maar sy sê hulle moet altyd weet sy stel in hul lewens belang. “As hulle sien jy doen moeite, sal hulle ook moeite doen.”

Margaretha Kruger van Pretoria het twee kleinkinders wat in Australië bly. Sy doen graag moeite met spesiale geleenthede soos verjaarsdae en Kersfees. “Dis ongelooflik moeilik as hulle ver is, maar ek stuur maar betyds pakkies vir spesiale geleenthede.” Margaretha is ook dankbaar vir vandag se tegnologie en sy sê dat haar kinders gereeld oulike video’s van die kleinkinders stuur. “Ek kon sien hoe my kleinseun vir die eerste keer kruip en ek kan dit oor en oor kyk.”

Nog’ n ouma met ’n kleindogter in Nieu-Seeland stuur graag Afrikaanse boeke en kinderreekse vir haar “blom”. “Ek skryf altyd die datum en ’n boodskap in die boeke wat ek stuur. Hopelik is dit iets wat sy sal waardeer as sy bietjie groter is.”

Maroela Media het ook aan ’n paar idees gedink om ’n goeie verhouding met kleinkinders wat ver bly, te handhaaf:

  • Maak weekliks ’n dag en tyd vas om met jou kleinkind oor die foon te praat. Probeer om so na as moontlik aan hierdie dag te hou sodat dit ’n gewoonte raak.
  • Probeer om by te hou met tegnologie soos Skype. Dit kan soms ’n uitdaging wees, maar oor die langtermyn is dit al die frustrasie werd. Skype laat jou toe om van aangesig tot aangesig met jou kleinkind te praat.
  • As jou kleinkinders tieners is, doen moeite om hulle kommunikasiemiddels te leer ken. Vandag se tieners gebruik graag Whatsapp, Facebook en Instagram. Dit gee jou toegang tot foto’s en video’s – ’n lekker manier om deel te wees van hul daaglikse lewe.
  • As jy graag geskenke stuur, gee dit ’n persoonlike gevoel sodat hulle altyd aan jou sal dink: Maak ʼn fotoalbum van jul gesin met ’n kort beskrywing by elke foto. Of stuur iets wat jy met die hand gemaak het – ’n trui, kombers of iets wat jy geskilder het.
  • Raak kreatief met spesiale geleenthede: Neem ’n video waar jy en oupa vir kleinseun wys hoe om te dans as dit matriekafskeid-tyd is. Of stuur ʼn stemopname waar jy “Lekker verjaar” sing. Dis iets wat hulle vir ewig kan hou.
  • Jy kan ook ’n e-posadres skep as jou kleinkinders nog baie klein is. Stuur briewe en foto’s na dié adres en gee vir hulle wagwoord sodra hulle oud genoeg is.
  • Daar is sekerlik niks lekkerder as om jou kleinkind styf vas te hou nie – probeer om ten minste eenkeer per jaar by hulle te gaan kuier. As dit kan, reël dié kuier sommer naby ’n geleentheid soos ’n verjaarsdag. Dit maak die geleentheid sommer meer spesiaal.

Hierdie artikel is aan AfriForum Wêreldwyd verskaf deur Maroela Media. Besoek Maroela Media se webtuiste vir nuus wat gratis is.

Foto: ekaterina-shakharova-unsplash

Meer oor die outeur

Sue-Ann de Wet

Sue-Ann de Wet is die Hoof van Diaspora by AfriForum.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: KuierKos

Onderneming in die Kollig: KuierKos

Hierdie week se kollig is op KuierKos in Nederland. KuierKos is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier raak hulle deel...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest