Leesvordering:

Wat is depressie? Alles wat jy moet weet

Jul 16, 2021

Deur Izel Kruger 

Depressie is ’n siekte wat jou hele liggaam, gemoedstoestand asook jou denke aantas. Dit affekteer jou eet- en slaappatrone, die manier hoe jy oor jouself voel (dit tas jou selfbeeld geweldig aan) asook die manier hoe jy oor die wêreld dink.

Depressie is nie dieselfde as die gewone alledaagse “blues” of hartseer wat ons almal partykeer voel nie. Dit is nie ’n teken van swakheid nie, en dit kan nie weggewens word nie.

Mense met depressie kan nie net “hulleself regruk” en beter word nie. Sonder behandeling kan simptome vir weke, maande of selfs jare aanhou. Dis is dus so belangrik om na die volgende simptome van depressie op te let en, indien jy van die onderstaande simptome ervaar, raadpleeg ’n berader, sielkundige of ’n dominee/pastoor. Moenie skaam wees om vir hulp te vra en oor jou depressie te praat nie. Dit help reeds om te praat met iemand na aan jou wat jou kan motiveer om hulp te kry.

Simptome

Nie elkeen wat depressief voorkom, sal elke simptoom hê nie. Party mense ervaar net ’n paar simptome, terwyl ander weer meer simptome sal toon. Simptome sluit in:

  • Gevoel van hartseer die meeste van die tyd.
  • Gevoel van angstig.
  • Gevoelens van hopeloosheid.
  • Stel nie meer belang in stokperdjies of aktiwiteite wat voorheen lekker was nie.
  • Vroeg wakker in die oggend, of slaap die hele dag om.
  • Gewigsverlies a.g.v. nie eet nie of gewigstoename a.g.v. te veel eet.
  • Minder energie as gewoonlik, moeg die hele tyd, “vertraagde” aktiwiteite.
  • Gedagtes van die dood of selfmoord, selfmoordpogings.
  • Rusteloosheid, prikkelbaarheid of woede.
  • Sukkel om te konsentreer, geheueprobleme en sukkel om besluite te neem.
  • Fisiese simptome wat nie reageer op behandeling, soos hoofpyn, maagpyn, rugpyn, pyn op die bors, selfs as dit deur ’n dokter behandel word.

Wat is die oorsake van depressie?

Depressie het baie oorsake en word veroorsaak deur verskillende faktore. Soms kan ’n spesifieke geval lei tot depressie, ander kere kom depressie voor vir geen oënskynlike rede nie, selfs by mense wat ’n gehaltelewe lei.

Enkele moontlike redes sluit in:

  • Eksterne gebeurtenisse:

Die opbreek van ’n verhouding, ’n traumatiese gebeurtenis, finansiële sorge, eensaamheid, regsprobleme, afdanking en hartseer kan alles lei tot depressie.

  • Familiegeskiedenis:

’n Lid van die gesin wat dalk depressie gehad het, kan soms beteken dat jy meer geneig is om ook aan depressie te ly. Daar word ook geglo dat depressie deur ’n wanbalans van breinchemikalieë veroorsaak kan word.

  • Mediese siektes, insluitende beroertes, MIV en VIGS, TB, COVID-19 en ander gesondheidsprobleme. Die gebruik van sekere medisyne, soos die vir die behandeling van hoë bloeddruk, geboortebeperkingspille en steroïede kan ook depressie veroorsaak.

Hoe kan jy jouself help as jy aan depressie lei?

Selfhelp kan jou help om probleme in die lang termyn die hoof te bied.

Hier is ’n paar dinge wat jy kan doen:

  • Verstaan wat depressie is – hoe meer jy weet, hoe beter. Gaan doen self navorsing en lees op oor depressie.
  • Doen dinge wat jou kan besig hou – dit help baie as die brein besig bly met ’n belangstelling of stokperdjie, lees ’n boek of kyk ’n TV-program of film.
  • Vermy dinge soos rook, dwelms en alkohol.
  • Verdeel groot take in kleiner takies en doen wat jy kan om elke dag iets kleins te doen.
  • Probeer jou omring met positiewe mense en praat oor hoe jy voel; dit is gewoonlik beter as om alleen en geheimsinnig te wees.
  • Moenie wegkruip en alleen bly nie, sien mense en doen dinge wat jou beter kan laat voel soos om te gaan fliek, ’n sportbyeenkoms by te woon of om saam met vriende te gaan tee drink. Gedurende die COVID-19-pandemie wat ons tans beleef, probeer om nog steeds in verbinding te bly deur familie en vriende telefonies te kontak, of deur Zoom/Teams.
  • Onthou: depressie is nie deel van jou nie; dit word veroorsaak deur simptome. Die simptome veroorsaak dat jy anders voel, dink en reageer.
  • Laat jou familie en vriende toe om jou te help of kry hulp by ’n professionele/gekwalifiseerde berader, dominee of pastoor.
  • Moenie bang wees om te vra vir hulp as jy dit nodig het nie – verwag dat jou gemoedstoestand stadig sal verbeter, om gesond te voel vat tyd, en moenie so hard op jouself wees nie en luister na daardie innerlike stemmetjie van jou. Dis slegs tydelik en daar is hulp.

Hoe om alleen te wees sonder om eensaam te voel

Beoordeel jouself:

  • Aan die einde van elke dag gee jouself ’n punt uit 10, waar 10 = die beste dag; 1 = slegste dag.
  • Kyk na ‘n paar dae hoeveel “goeie” dae jy ervaar het en hoeveel “slegte” dae.
  • Vra dan jouself hoe groot jou eie aandeel daarin is, en wat jy moontlik self kan doen om beter dae te ervaar.
  • Onthou niemand is konstant gelukkig nie. ALLES gaan oor balans!

Dit is nie maklik om eensaamheid te beveg nie, maar net jy het die mag om iets omtrent die situasie te doen.

Voel jy soms so – afgesny van die wêreld, eensaam, nutteloos en leeg? Indien wel, moenie moed opgee nie. Want al is dit nie lekker om eensaam te voel nie, is dit darem nie ’n dodelike siekte nie.

Eensaamheid – eenvoudig gestel is ’n waarskuwingsteken.

Honger waarsku jou dat jy kos nodig het.

Eensaamheid waarsku jou dat jy kameraadskap, innigheid en gemeensaamheid nodig het. Ons het kos nodig om goed te funksioneer.

Net so het ons ondersteuning/kameraadskap nodig om goed te voel.

Gesondheid dra by tot jou depressie:

  • Gee aandag aan jou eetpatroon. Eet genoeg proteïene, komplekse koolhidrate, vrugte en groente.
  • Voed jou liggaam die regte kosse asook jou brein. Let daarop om genoeg vitamienes in te neem, veral Omega 3, 6 en 12.
  • As jy nie genoeg slaap nie, ten minste agt ure ’n nag, probeer oefeninge in jou roetine inwerk. Dit doen wonders vir jou slaappatroon. Kom in die buitelig, gaan stap in die natuur, gaan ry fiets of draf.
  • Luister na jou liggaam as jy olik voel, rus. Sit ook gereeld vir jou rustige musiek in die agtergrond aan en ontspan. Gee aandag aan jouself. Vat ’n lekker lang warm bad en ontspan.
  • Verander hoe jy dink oor jouself en leer om jouself lief te hê en verander jou denke oor jou uitkyk op die lewe en ander mense.
  • Probeer ander mense help en bystaan. Wees dus daar vir jou medemens.
  • Verander jou negatiewe gedagtes met positiewe gedagtes. Al is dit een gedagte per dag.
  • Haal diep asem. Ons vergeet hoe kragtig asemhaling en diep asemhaling is. As jy angstig voel en jou spiere voel styf, haal diep asem en blaas hard uit. Herhaal dit 10 keer.

 

Vir enige navrae oor die AfriForum Trauma-ondersteuningseenheid of as iemand van die eenheid gebruik wil maak, kontak die eenheid deur 012 880 1954 of die noodnommer 064 870 8312 te skakel of deur ’n e-pos te stuur na trauma@afriforum.co.za.

Meer oor die outeur

Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: Meat Point Switserland

Onderneming in die Kollig: Meat Point Switserland

Wêreldwyd se Wêreldgids skep ’n suksesvolle netwerk om Suid-Afrikaners in die buiteland met mekaar in aanraking te bring sodat jy Suid-Afrikaanse ondernemings in jou omgewing kan ondersteun. Vat die kans en word deel van hierdie netwerk. Netwerke is nie net vir...

Leesgenot vir die jongspan: ʼn Boek vir Desember

Leesgenot vir die jongspan: ʼn Boek vir Desember

Hou die kinders besig gedurende die skoolvakansie! Briewe van Mieliepit Ontmoet vir Mieliepit: ’n baie pittige troetelhoender van Bloemfontein. ’n Bietjie lui (sal sy self erken), en baie lief vir gesels, skryf sy die allersnaakste briewe aan ene Liefsteling. Sy...

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Wêreldwyd vriende

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest