Leesvordering:

Wat onderwys in verskillende lande my geleer het

Apr 24, 2019

So lank as wat ek kan onthou, wou ek ’n onderwyser wees, maar omdat ek goed presteer het op skool het baie mense my afgeraai om vir ’n onderwyser te studeer. Ek het ‘n BSc-graad behaal en sewe jaar in die sakewêreld gewerk, en toe besluit om my droom na te jaag. Ek was nog nooit spyt nie.

Ek het ses jaar lank in Suid-Afrika by ’n openbare Afrikaanse hoërskool skoolgehou, en toe vir sewe jaar by ’n Katolieke meisieskool. Gelukkig was die akademiese verwagtinge in beide skole hoog. In die openbare skool het leerders hulle redelik goed gedra en in die private skool baie goed.

In 2014 is my man deur sy maatskappy Brittanje toe verplaas en ons het daarheen verhuis. Ek het twee jaar by ’n openbare hoërskool ongeveer ’n halfuur se ry van Oxford af skoolgehou. Die eerste paar maande was baie moeilik, want die leerders se gedrag was baie swak, veral in jare 7-11 (gelykstaande aan graad 6-10 in SA). Lesse moet ook in ’n baie spesifieke formaat gestruktureer word en aanvanklik wou ek nie die verandering aanvaar nie. Ek het besluit om aan die diep kant in te duik en sommer al die eerste jaar my Qualified Teacher Status deur Reading University af te handel. Dit was baie harde werk, maar dit het my gehelp om die stelsel te verstaan en vir myself te bewys dat ek ’n suksesvolle onderwyser in die Verenigde Koninkryk kon wees.

Om in die VK te woon, is uit ’n historiese perspektief en ter wille van die baie geleenthede om te reis wonderlik, maar vir my man en seun was die klimaat en grys weerstoestande baie neerdrukkend. Ons het besluit om Australië toe te gaan. My man het in Darwin werk gekry en ons het van die een uiterste na die ander gegaan, want Darwin het ’n tropiese klimaat met nat en droë seisoene. Temperature daal selde onder 30 grade en die humiditeit is baie hoog in die nat seisoen. Ek het gelukkig onmiddellik na ons aankoms in die vierde kwartaal van die akademiese jaar ’n pos gekry. As gevolg van leerders se gebrek aan respek en hulle swak gedrag het ek vinnig ander werk begin soek. Ek het net die akademiese jaar voltooi en toe geskuif na ’n plaaslike private hoërskool wat bekend is vir akademiese uitnemendheid en goeie gedrag. En ek is nog steeds hier.

So… Wat het ek geleer uit die afgelope 18 jaar se onderrig in 5 verskillende skole in 3 verskillende lande? (Vrywaring: My waarnemings is bloot op persoonlike ervaring by die skole waar ek gewerk het gebaseer. Dis baie moontlik dat ander onderwysers in my posisie se ervaring baie van myne verskil.)

Goeie openbare en private skole in Suid-Afrika is glad nie minderwaardig aan skole in die VK en Australië nie.

In die junior hoërskooljare (graad 8-10) word van SA leerders verwag om meer te bereik en harder te werk as hul eweknieë in die VK en Australië.

Die kurrikulum in die senior jare (graad 11 en 12) is ryker en het meer diepte as in Suid-Afrika, maar leerders het minder vakke en kan die gevorderde kurrikulum dus makliker baasraak.

Suid-Afrikaanse leerders en onderwysers is baie hardwerkend en gewoonlik baie suksesvol as hulle na skole in ander lande skuif.

Leerders in SA spandeer baie meer tyd aan huiswerk as in Australië en die VK. In albei hierdie lande verwag my leerders slegs een keer per week een geskrewe taak vir huiswerk. Om soos in SA elke dag huiswerk te doen, is ongehoord en sal moontlik as kindermishandeling beskou word (tong in die kies)!

In Wiskunde is ’n C in Suid-Afrika 60%, in die VK kan dit so laag as 29% wees (nee, dit is nie ‘n tikfout nie), en in Australië is ’n C 55% in die junior hoërskooljare en 50% in die senior jare.

In die onderwysstelsel wat ek tans werk, mag leerders assesserings herhaal om hul punte te verbeter, en onderwysers moet voorbeeldopdragte nasien en vir leerders terugvoer gee sodat hulle die beste moontlike punte kan behaal. In die VK moet alle leerders van een rapport na die volgende verbeter.

Suid-Afrikaanse leerders is baie meer gemaklik met geskrewe eksamens, aangesien hulle van vroeg af daaraan gewoond raak. In die VK word die eerste eksamens op GCSE-vlak geskryf wanneer hulle 16 jaar oud is. Hier in Australië skryf hulle ’n paar eksamens vanaf ongeveer 14, maar slegs in 3-4 vakke en almal in een week.

Leerders in SA hanteer swaar werkladings en besige buitemuurse programme baie beter. Hierdie aktiwiteite is nie juis deel van die skooldag in die VK en Australië nie, en word dikwels privaat en by sportklubs gedoen.

Onderwysers in die VK en Australië vind redes om leerders altyd vir klein prestasietjies of verbeteringe te prys, terwyl ons in Suid-Afrika altyd hoë standaarde gestel het om sukses te behaal.

Volgens my het SA leerders baie meer uithouvermoë as hul Britse en Australiese eweknieë.

In beide Australië en die VK word die onderwysberoep veel hoër aangeslaan as in SA. Onderwysers word gerespekteer en goed betaal, en skole probeer om onderwysers ’n gebalanseerde lewe te gee, hoewel dit altyd moeilik is om dit reg te kry.

As onderwyser het ek geleer jy is nooit te oud om te leer nie! Ek het SA as ’n ervare onderwyser verlaat, maar moes sekere gewoontes afleer en leer om aan te pas by nuwe onderrigmetodes. In die VK het ek baie nuwe tegnieke geleer wat ek sedertdien baie suksesvol gebruik het, en daarvoor is ek baie dankbaar.

Ek het ook geleer jy moet gewillig wees om in ’n nuwe stelsel van onder af te begin. Ek het SA as hoof van ’n hoërskool verlaat en moes in die VK weer voltyds vir 11 tot 12-jariges klasgee, wat baie uitdagend was! Ek het nooit in die twee jaar in die VK genoeg selfvertroue gehad om aansoek te doen vir bevordering nie. Daar was nog te veel wat ek moes leer! Na twee en ‘n half jaar in Australië is ek vertroud met die plaaslike onderwysstelsel en het weer kans gesien om aansoek te doen vir ’n pos as departementshoof; ek het die pos gekry en sien baie uit daarna.

Ten slotte: SA, jy hoef nie terug te staan vir leerders en onderwysers in ander lande nie. Glo in jouself en werk hard om jou doelwitte te bereik.

Meer oor die outeur

Estia Sales

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest