Leesvordering:

Weerstaan. Staan weer.

Mar 28, 2022

Daar is min dinge wat so uniek teleurstellend is as om ’n deur te probeer toeklap om ’n punt aan die einde van ’n gesprek te sit, en dan uit te vind die ding het een van daai kannieklapnie-vere aan.

Of soos die tweejarige vloermoergooier wat uitgeput aan die slaap raak wanneer al sy skreeue klaar geskreeu is en niks het nog verander nie. 

Wie van julle het ten minste nog een Pyrex-bak in jou kombuiskas? Daardie staatmaker-glasware uit jou ouma se ouma se era wat ’n goeie val kan oorleef sonder om in ’n duisend splinters te spat, en veilig in ’n baie warm oond kan gaan sonder om te smelt.

Beelde soos hierdie het die afgelope week my kilometers volgemaak toe ek nog ’n keer dink aan Mattheus 4:

“The test was over. The Devil left.”

Hy het vir Jesus eers aanhoudend getempteer, nie net één keer nie…

Uitendelik het hy besef hy gaan nie daar regkom nie, hy kan maar net sowel die aftog blaas.

Dit is hoekom Jakobus so onomwonde in die vierde hoofstuk van sy brief kan sê:

“Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug.”

Want Jakobus, die boetie van Jesus, het eerstehands gehoor dat dit moontlik was.

So ’n paar jaar gelede sou ek en ’n liewe vriendin in Ladybrand vroeg-vroeg op lekker soel somersoggende ’n paar balle gaan slaan. Haar dodelikste wapen op die tennisbaan, na my mening, is dat sy elke bal sou terugslaan.

Elke. Liewe. Bal.

Helena: Die Muur.

Of die vyand nou probeer om die deur van jou Godsgeleentheid op jou vingers toe te klap, of jou mal probeer maak met sy klipharde gekerm dat jy nie goed genoeg is nie …

Of hy jou Pyrex al hoe nader aan die rand van die kombuiseiland skuifel, of die hitte opdraai in jou werksverhoudings …

Toets, sal hy jou toets.  Of daar nou ’n moontlikheid van sukses is of nie.

As hy jou nie kan kry om die soom van Jesus se kleed te los deur jou gesondheid te vat nie, sal hy jou rykdom probeer vernietig.

As dit nie werk nie, sal hy jou hande wat krampagtig aan Jesus vasklou probeer losbeur om eerder jou stukkende hart van die vloer af op te tel.

Sou jy steeds nie bereid wees om jou rug op Jesus te draai nie, sal hy jou laat probeer verstaan dat geen God van liefde jou ooit kan liefhê nie.

En so hou die leuens en bedrog net aan en aan en aan en aan.

Maar, ver van perfek af, het sy geduld ook perke.

Wanneer hy eers besef dat jy elke aanval van hom weerstaan met jou nuwe ritme van aanhoudende en onweifelende uithouvermoë, sal hy makliker teikens gaan soek.

Nou, hoe weerstaan ’n mens so aanhoudend en onweifelend?

“En hulle het hom self oorwin

op grond van die bloed

van die Lam

en die boodskap

waaroor hulle getuig het.”

Openbaring 12:11 NLV

“And they overcame and conquered him because of the blood of the Lamb

and because of the word of their testimony…”

Revelation 12:11 AMP

Jesus het geweet sy bloed sou uiteindelik oorwinning bring, maar die Woord uit sy mond sou in daardie huidige wildernisoomblik die vyand dwing om van Hom af weg te gaan.

Laat ons leer by die Beste.

Jou inspirasie vir die week: 

LEES OOK: Nog ’n kans

Meer oor die outeur

Maxie Heppell

Maxie Heppell woon saam met haar man Èmil in Newbury in die Verenigde Koninkryk. Besoek gerus Maxie se blog Genade is ’n dag lank: https://genadeisndaglank.wixsite.com/genadeisndaglank/blog

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Kollig-nuusbrief: 2 Mei 2024

Hiermee die nuutste Wêreldwyd Kollig. Die nuusbrief bevat inligting oor allerlei interessante sake, maar ook noodsaaklike kwessies vir ons mense in die buiteland. Stuur hierdie nuusbrief gerus aan. Enigiemand kan gratis daarop inteken. Klik hier om die nuutste...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Erfenisjuwele 1 – Mostert se Meule maal weer

Alana Bailey Erfenisjuwele is ’n nuwe reeks waarin AfriForum die lig werp op erfenisbakens in die land waar gemeenskappe self inspring om ons unieke kultuurhistoriese nalatenskap te bewaar.  Daar is baie negatiewe berigte oor erfenis – dink maar aan die nasionale...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest