Leesvordering:

Weet hulle wat ons weet van die suksesse in ons taal?

Feb 20, 2024

Deur Alize Scholtz

Die legendariese Afrikaanse sakeman en entrepreneur Anton Rupert het een maal opgemerk dat hy as internasionale sigaretvervaardiger kon slaag omdat hy sy eerste sukses onder Afrikaners gehad het. “Hulle is die kritiesste klante ter wêreld, veral teenoor produkte van mede-Afrikaners” het hy gesê. Afrikaners is maar net anders aanmekaargesit. As Anton Rubert vandag gelewe het, sou hy dalk volkome saamgestem het met die nuwe UFC-middelgewigkampioen, Dricus du Plessis, wat gesê het: “Hulle weet nie wat ons weet nie.”

Du Plessis, die Afrikaanse gemengdegevegskunskampioen, het vir die wêreld gewys dat Afrikaanssprekendes beskik oor deursettingsvermoë, dryfkrag en die vermoë om vas te byt. Alhoewel hierdie “Springbok”-sportman en die vader van die Rembrandt Group wêrelde van mekaar verwyder is, weet hulle albei dat Afrikaanssprekendes nie sommer tou opgooi nie. Hulle wéét dat Afrikaners nie skroom om hard te werk nie en oor die vermoë beskik om vriend en vyand te verras.

Dit is dan g’n wonder dat daar so baie suksesverhale van Afrikaanssprekendes is nie. Ons is – soos Rupert gesê het – ons eie grootste kritici, en dan is ons boonop ook nes Dricus ’n mag waarmee daar rekening gehou moet word. Daarom wil ons graag so bietjie spog met net ’n paar ander suksesstories.

Afrikaanse sukses in die sakewêreld

As jong Afrikaanse seun van Bronkhorstspruit het Faan van der Walt ’n motorfiets gekoop, dit herstel, gepoets en teen ’n wins weer verkoop. Faan is vandag die stigter en uitvoerende direkteur van WeBuyCars, ’n multimiljoenrand-onderneming. Hierdie maatskappy het vinnig die manier waarop Suid-Afrikaners motors koop en verkoop verander en die bedryf op sy kop gedraai. Ná daardie eerste motorfiets wat hy verkoop het, het die gogga gebyt en vir baie jare het Faan saam met sy broer, Dirk, alles self by die besigheid gedoen. Hulle het baie geleer oor die motorbedryf en die diversiteit van rolspelers in hierdie mark. Binne slegs ’n paar jaar, met die hulp van tegnologie en aggressiewe bemarking, het WeBuyCars ’n huishoudelike naam geword wat miljarde rande se inkomste genereer. Hierdie Afrikaanse manne het gewys hoe passie en harde werk tot sukses kan lei.

Nog ’n Afrikaanssprekende wat oor dekades knap entrepreneurskap gewys het, is Johan Ferreira sr. en sy seun, Johan Ferreira jr. van die busdiens Intercape. Met ’n nederige begin van slegs een pendelbus wat tussen die Kaapstadse lughawe en die middestad bedryf was, het Johan sr. Intercape opgebou tot die grootste interstedelike passasiersvervoerdiens wat in Suid-Afrika bedryf word. Met die grootste netwerk van diensdepots en kantore in Suid-Afrika is dit hulle missie om ’n veilige, betroubare en bekostigbare padvervoerdiens aan passasiers te bied. Johan jr. het die onderneming na nog hoër hoogtes geneem en Intercape is nou die eerste interstedelike busdiens wat roetes na Namibië, Botswana, Zimbabwe, Zambië, Malawi en Mosambiek bedryf. Dit wil gedoen wees vir Afrikaanse manne wat nie net praat nie, maar ook daad by die woord voeg.  

Entrepreneurskap is nogal eie aan ons Afrikaanssprekendes. Dit mag dalk wees omdat ons jong taal volgens party mense vanuit die staanspoor bedreig was. Maar een ding is seker, die taal se sprekers is veerkragtig en vindingryk. Daarvan getuig Virseker, ’n handelsmerk wat besluit het om hulle dienste in Afrikaans aan te bied vir hul Afrikaanse kliënte.

Hierdie versekeringsmaatskappy het besluit om nie net te sê hulle is trots Afrikaans nie, maar ook prakties daaraan iets te doen. Wanneer jy jou versekering by Virseker uitneem, verseker jy nie net jou motor en huisinhoud nie, maar ook ’n jongmens se toekoms. ’n Deel van hul kliënte se premies word elke maand oorbetaal aan die Virseker Trusten so word daar met die hulp van die polishouers bygedra tot Afrikaans se voortbestaan deur moedertaalonderwysinisiatiewe te ondersteun.  Meer as R20 miljoen is al geskenk aan Akademia, ’n Afrikaanse privaat hoëronderwysinstelling asook aan studiebeurse. Dís nou vindingryk en voorspoedig!

Afrikaanse sukses in die vermaaklikheidswêreld

Die suksesse in ons taal strek veel wyer as net die besigheidswêreld. Wanneer ons kyk na die vermaaklikheidsbedryf en literatuur in Afrikaans kan jy nie die sukses miskyk nie.  

Vir meer as ’n dekade al fokus die kykNET Silwerskermfees op Afrikaanse talent in die vermaaklikheidsbedryf. Oorspronklik het dit ontstaan weens ’n behoefte aan vars, opwindende talent en inhoud vir kykNET. Vandag is die inskrywings van die vollengte speelfilms, kortfilms en kort dokumentêre van uitnemende gehalte en staan dit glad nie terug vir enige internasionale films nie. Die gehalte van die produksies hou kers vas by dié van Cannes en Sundance. Die filmmakers van die  beste kortfilm van 2022 se Silwerskermfees, Leemtes en leegheid, het ons taal en ons mense se vlag hoog laat wapper by verskeie feeste dwarsoor die wêreld waar dit ook talle toekennings verower het. Ons unieke Afrikataal bied eindelose potensiaal vir films en inhoud, juis omdat dit verteenwoordigend is van ’n baie diverse gemeenskap.

Noem die leesstof speurromans, misdaadfiksie, spanningsverhale of krimi’s. Hoe jy ook al na die genre verwys, die kaliber van ons Afrikaanse skrywers is van die beste ter wêreld. Om ’n goeie krimi te skryf is baie uitdagend, omdat daar so baie storielyne, legkaartstukke en karakters is wat die skrywer bymekaar moet uitbring. ’n Goeie krimiskrywer moet kan kophou en die leser geboei hou.

Afrikaanse skrywers soos Rudie van Rensburg, Irma Venter, en Chris Karsten is nie net meesterlike woordsmede nie, maar ook gewild in die buiteland. Die romans uit die krimikoning Deon Meyer se pen het al in meer as 27 tale wêreldwyd verskyn. In Frankryk het hy twee groot pryse ingepalm vir sy spanningsromans Feniks en Orion.  In Amerika was die Engelse vertaling van Proteus as een van die tien beste spanningsromans gelys. Hy was die eerste Suid-Afrikaner om die Deutsche Krimi Preis te ontvang – dit word beskou as een van die oudste en gesogste Duitse literêre toekennings vir misdaadfiksie. Hy is self betrokke by die Engelse vertalings van sy boeke, maar erken dat dit vir hom beter is om in sy moedertaal, Afrikaans, te skryf. Die sukses van Deon Meyer se boeke in al die ander vertalings is iets waaroor alle Afrikaanse boekliefhebbers trots kan wees.

Diaspora van Afrikaans

Afrikaans is deesdae ’n internasionale taal (al het Charlize Theron in ’n onderhoud in 2022 nie so gedink nie.) Buite Suid-Afrika word Afrikaans deur honderdduisende mense gepraat, waarvan die oorhoofse meerderheid in Namibië is met noemenswaardige verteenwoordiging in Australië, Nieu-Seeland, Kanada en die VSA. Die diaspora of “verstrooiing” van Afrikaanssprekendes neem geweldig toe, soms tot groot bekommernis vir Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika. Die geheim is egter om dié diaspora van Afrikaners se suksesse so ver moontlik te deel. Ons moet die suksesse in Afrikaans vier en deel, sodat die wêreld kan “weet wat ons weet,” soos Dricus du Plessis sou sê.

Foto: Chichi Onyekanne


Lees ook: Bly só in voeling met Afrikaans, al is jy in die buiteland

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis: ’n e-pos uit Nederland

Uit en tuis is ’n rubriek waarin ons gesels met mense wat in die buiteland woon, of wat daar gewoon en gewerk het, maar weer terug is in Suid-Afrika. Ons hoor graag van enigeen wat hul belewenisse met ons wil deel. Vandeesweek gesels ons met Natasha Viljoen wat al ses...

Kuberafknouery – Wat ouers moet weet

Kuberafknouery – Wat ouers moet weet

Deur Leandie Bräsler Tegnologie ontwikkel op ’n daaglikse basis. Dieselfde kan gesê word van kinders se vermoë om te boelie: Boeliegedrag wat eens net op die skoolterrein of op die skoolbus plaasgevind het, het nou beweeg na boeliegedrag deur die gebruik van...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest