Leesvordering:

Daardie gevoel wat jy kry as jy Afrikaans in die buiteland hoor – Deel 2

Jan 17, 2024

Die gevoel wat jy kry as jy Afrikaans in ’n vreemde land hoor, is iets wat ’n mens nie maklik kan beskryf nie. Jy spits eers vinnig jou ore net om seker te maak jy hoor reg, dan begin jou hart vinniger klop as jy die rol van die r en die growwe g-klank herken. En dan stap jy vinnig en sonder enige huiwering nader om jou mede-Afrikaanssprekende te groet soos net Afrikaanse mense kan.

Ons het onlangs ons AfriForum Wêreldwyd-vriende op Facebook gevra of hulle al Afrikaans in die buiteland gehoor het. Ons deel graag van hulle stories hier.

  • “Ek het in Costco met my toe 10-jarige baklei oor ek elke jaar moet skoolgoed koop, hy kon drie jaar se penne, potlode, uitveërs en lêers in ses maande opgebruik. Toe tik ’n man my op my skouer en sê: “Jy is darem maar kwaai so vroeg in die oggend”. – Linda Kukard-Smith
  • “Laas Saterdag is ek in ’n winkel hier in Southampton, toe ek ’n groep mans hoor gesels. Ek sê vir myself “dit is mos die Kaap se mense en taal”. En so is dit dat ons groet, en lekker saamlag in Afrikaans!” – Shawn Morom Rabe
  • “Ek het wel een keer in die VSA sleg gevaar toe ek nog ’n au pair was … jare gelede. Ek het op die trein in Afrikaans geskinder oor mense, en ’n tannie klop so op my skouer en vertel mooi vir my dat sy als verstaan het, maar oor die algemeen is dit die lekkerste gevoel om mense te hoor Afrikaans praat en lekker met hulle te begin gesels.” – Martie van Zyl
  • “Een van my vroeëre verjaarsdae in die buiteland: Ons het ’n vriend uit Suid-Afrika in Budapest onthaal. Ons besluit toe ons ry vir my verjaarsdagsnaweek Wene toe om Oostenryk vir hom te wys en by ’n hotel daar oor te bly. Die oggend van my verjaarsdag stap ek af eetkamer se kant toe vir ’n oggend koffie en rokie. Ek sit so op my eie en hoor toe iemand verbyloop en Afrikaans praat. Ons loop toe by die eetkamer in en dis ’n gedruis van Afrikaans soos by Mugg & Bean op ’n Saterdag in Clearwater Mall! Ek het so tuis gevoel in die vreemde. Dit was blykbaar ’n Suzuki-bonustoer wat vir toppresteerders gereël is, maar my beste verjaarsdag geskenk tot dusvêr in die vreemde!” – Izak Furstenberg
  • “Ons woon in Amerika en was nou die dag in Wallmart toe my vrou skielik noem “Ek is seker ek het daai twee vrouens hoor Afrikaans praat”. Ons agtervolg die twee vrouens toe versigtig om seker te maak en, so wragtig, hulle praat Afrikaans. Die ontmoeting was ’n wedersydse plesier – dit het gevoel of ons mekaar al jare lank ken.” – Danie Jacobs
  • Een dag in ’n winkel, ons het nog in East Molesey naby Kingston gebly, vra ’n klein dogtertjie vir haar ma of sy maar van die sjokolade kan eet wat hulle besig was om te koop. Die ma sê toe ja, maar eers later die aand, toe ek van die kant af toevoeg: “en ook net as jy baie soet is”. Ons het almal lekker gelag. – Anton van Zyl
  • “Ek was in London, by ’n lawaaierige Speaker’s Corner in Hyde Park, toe die vreemdeling langs my skielik skree, “Jou blerrie betoger!”. Ek was oorstelp van vreugde en het hom daar en dan omhelsSlegs drie woorde en ek was terug in Suid-Afrika.” – Helene Leë

    Lees ook: Daardie gevoel wat jy kry as jy Afrikaans in die buiteland hoor
  • “Ons woon in Beachlands, Auckland en hier is ’n hele paar Afrikaanse gesinne wat hulle ook hier kom vestig het. Ons praat Afrikaans met ons kinders in die huis. Ek is baie trots op ons Afrikaanse herkoms, ons kultuur en ons taal!” – Jaco van Zyl
  • “Ek was alleen op Seattle-lughawe en stap verby ’n tafel met ’n groep jong mense wat rustig sit en gesels in Afrikaans. Ek was op pad terug van Hawaii af en hulle was weer op pad soontoe vir ’n ystermankompetisie. Ons het baie lekker gesels – hulle was ’n klomp sterre.” – Amanda Landman
  • “Ons het op Frankfurt-lughawe gewag en ’n persoon het so gestaan en luister, toe begin hy ons in Afrikaans terugantwoord. Dis die heerlikste gevoel om Afrikaans te hoor.” – Anne-Marie de Villiers
  • “Hier in Perth is baie Suid-Afrikaners veral Afrikaners. Vanjaar, 24 Januarie 2024, sal ek amptelik al 23 jaar in Australië wees. Ek is ’n pastorale koördineerder in my gemeente – Deo Gloria Rockingham, en elke Sondag en met verskeie ander funksies wat deur etlike duisende mense besoek word soos die jaarlikse basaar, word Afrikaans volstoom gebesig. Een van die stadsrade in Perth gebruik Afrikaans in sy korrespondensie sowel as op sy webtuiste: www.wanneroo.wa.gov.au.” – Marius le Grange

Skryf vir ons

Het jy al ’n vreemdeling gehoor Afrikaans praat in die buiteland? Wat was jou reaksie? Deel jou staaltjies met ons in die kommentaar of skryf vir ons by wereldwyd@afriforum.co.za.

Foto: Courtney Cook op Unsplash

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Onderneming in die Kollig: KuierKos

Onderneming in die Kollig: KuierKos

Hierdie week se kollig is op KuierKos in Nederland. KuierKos is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom om ’n gemeenskap te vorm. Op dié manier raak hulle deel...

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest