Die vyfhoekige klipkasteel in Kaapstad is, net soos Tafelberg, ʼn onmiskenbare baken in Kaapstad. Dit is in 1679 voltooi, 13 jaar nadat die eerste steen gelê is en het die fort wat Jan van Riebeeck in 1652 gebou het,  vervang. Die Kasteel die Goeie Hoop is gebou uit vrees vir ʼn aanval op die Nederlandse halfwegstasie deur Brittanje en planne vir die oprigting van die fort is volgens die webwerf NuweGeskiedenis waarskynlik deur die Nederlandse militêre argitek, Menno van Coehoorn, in Amsterdam, opgetrek. Teen Augustus 1665 kies kommissaris Isbrand Goske die terrein suidoos van die Van Riebeeck-fort waarop die kasteel gebou moet word.

Nagenoeg 300 soldate en ʼn groot aantal slawe het teen die tweede helfte van 1665 boumateriaal vir die kasteel bymekaargemaak. Die materiaal het houtwerk, stene en teëls uit Nederland ingesluit, maar ook rotse vanaf Tafelberg van so groot as 1,5 m³ . Dan is daar ook skulpe vanaf Robbeneiland gebring waarmee sementkalk gemaak is, asook boomstompe vanaf Houtbaai.

Die vier hoekstene van die eerste bastion is op Saterdag Januarie 1666 gelê. Die bou van die fort is in 1667 opgeskort toe daar ‘n bevel van die VOC in Nederland gekom het dat bouwerk gestaak moet word, aangesien die Britse vloot verslaan is. Maar teen Februarie 1672 het die opdrag weer gekom dat die bouwerk weer weens hernieude vrese vir aanvalle voortgesit moes word.

Teen 1674 het die garnisoen uit die ou Fort na die Kasteel getrek, en teen 26 April 1679 is die Kasteel amptelik voltooi. ʼn Jaar later trek Simon van der Stel, goewerneur aan die Kaap in die Kasteel as sy amptelike woning in.

Die vyf punte van die kasteel – ook genoem die bastions – is in 1679 as Leerdam, Buuren, Catzenellenbogen, Nassau en Oranje gedoop. Catzenellenbogen het gou die naam as die gerugte “Swart gat” gekry, aangesien dit ’n donker sel, asook ander tronkselle gehuisves het.

Hoewel die ingang van die Kasteel vroeër aan die seekant geleë was – tussen Buren en Catzenellenbogen – is die ingang teen 1682 verskuif na die klipmuur tussen Buren en Leerdam.  Teen 1684 is die kloktoring bo die hoofingang aangebring. Die oorspronklike klok is in Amsterdam gegiet en is gebruik om tyd aan te dui en om burgerlikes in gevalle van gevaar te waarsku, asook om inwoners en soldate vir belangrike aankondigings byeen te roep. Die klok kon volgens bronne tot 10 km ver gehoor word.

Die imposante ingang stem ooreen met die van ʼn Nederlandse stadshek. ʼn Geweldriehoek bo die ingang dra die wapenskild van die Verenigde Nederlande en die hoofbalk daaronder die stadswapens van Amsterdam, Rotterdan, Delft, Zeeland, Hoorn en Enkhuizen. Die VOC se monogram is aan weerskante van die wapens aangebring.

Die binneplein van die kasteel is met ʼn 12 m hoë muur verdeel en is “die Kat” genoem.

In 1936 is die Kasteel tot ʼn nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Dit bly vandag nog een van die stad se belangrikste toeristeaantreklikhede. Besoekers kan onder meer ook besoek aflê by die William Fehr-versameling waar verskeie geskiedkundige skilderye en antieke meubels uitgestal word. By die Kasteel se militêre museum kan besoekers ʼn unieke blik op die Kaapse militêre geskiedenis kry, en  ook een van die land se interessantste swaardversamelings besigtig.

Ilze Nieuwoudt
Ilze Nieuwoudt
Ilze is die publikasie bestuurder by Kraal Uitgewers.

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest