Leesvordering:

Entstowwe: doeltreffend en veilig, maar elkeen moet kan kies

Jul 12, 2021

Die Solidariteit Navorsingsinstituut het in ʼn omvattende wetenskaplike verslag bevind dat entstowwe ʼn doeltreffende en veilige manier is om die Covid-19-pandemie te beëindig. Die verslag ondersteun ook mense se vryheid om self te kan kies. Sterk kritiek word ook op die regering se sentrale beheer van die entstofprogram gelewer en gevolglik is daar ook bevind dat die privaat sektor op groot skaal betrokke moet raak.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gaan groot getalle van die Solidariteit Beweging se lede en ander Suid-Afrikaners binne die volgende weke ʼn keuse oor entstowwe moet maak. “Ons wil ons lede en ander Suid-Afrikaners in staat stel om verantwoordelike keuses te maak. Covid-19 tref ons almal swaar en almal smag daarna om ʼn einde aan die pandemie te bring. Met al die menings, fopnuus en politieke agendas wat die rondte doen, is goeie wetenskaplike navorsing noodsaaklik. Uit die bevindinge in die verslag kan ons ons lede aanmoedig om wel die entstowwe te gebruik, maar op voorwaarde dat elkeen self ʼn  verantwoordelike besluit moet neem en sy eie unieke omstandighede in ag sal neem. Die data wys een risiko uit wat baie groter is as entstowwe vir die meeste mense: dit is om nié entstowwe te gebruik nie.”

Volgens die verslag, waarin ’n behoorlike internasionale studie gedoen is, is bevind dat entstowwe wel doeltreffend is. In lande soos Israel, die Verenigde Koninkryk en Hongarye is daar ʼn regstreekse verband tussen die toediening van entstowwe, ’n afname in infeksies en veral ʼn afname in hospitalisasie en sterftes. Pfizer, Moderna, AstraZeneca en Johnson & Johnson is effektief. Dit is ook op grond van bevindinge in die betrokke verslag dat die Solidariteit Beweging nie die Chinese entstof SinoVac asook nie die Russiese Sputnik V-entstof kan aanbeveel nie. Die beskikbaarheid van bestaande data is onvoldoende, wat tot gevolg het dat geen gevolgtrekking tans oor die doeltreffendheid van hierdie twee entstowwe gemaak kan word nie.

Daar is ʼn grondige ondersoek gedoen na data van aanmeldings van newe-effekte, soos deur Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, gestel. “Behoorlike wetenskaplike navorsing is gedoen en oorspronklike data is gebruik sodat afleidings waterdig is. Daar is bevind dat die entstowwe wel in ʼn groot mate veilig is. Soos ander medikasie is daar newe-effekte, maar vir die meeste mense is die risiko wat Covid-19 inhou baie hoër as die risiko wat die entstowwe inhou.”

Mulder sê ook dat nie een van die entstowwe totale beskerming teen Covid-19 kan bied nie, maar dat dit wel omvattende beskerming teen ernstige simptome en sterftes bied. Dit is waarskynlik nie nodig dat kinders die entstof ontvang nie, maar ouers kan goeie mediese advies by dokters inwin.

Die data wys dat die aansprake dat groot getalle mense weens die toediening van die entstof doodgaan, eenvoudig nie waar is nie. Die risiko vir bloedklonte en hartverwante newe-effekte is klein. Die meeste newe-effekte wat aangemeld is, is lig en stem ooreen met dié van enige ander entstof.

Die navorsers het ook  bevind dat dit belangrik is dat individue wat reeds gesondheidsprobleme ondervind, tans siek is en voorheen newe-effekte van entstowwe ondervind het, eers met hul dokter moet skakel om seker te maak of dit veilig is om teen Covid-19 ingeënt te word.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, moet mense wat ʼn keuse wil maak, ʼn keuse kan maak. “Die regering se sentralisasie van entstowwe veroorsaak ʼn bottelnek in die entstofproses. Dat die proses gemonopoliseer word, is onaanvaarbaar. Die privaat sektor moet op alle vlakke van die waardeketting op ʼn groot skaal betrokke raak. Dit is nie net belangrik dat mense moet kan kies of hulle ʼn entstof wil ontvang nie, maar ook watter entstof hulle wil ontvang.”

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, word Solidariteit se lede, soos talle ander Suid-Afrikaanse burgers, tans ernstig deur die derde golf van die Covid-19-pandemie getref. “Ons lede is moeg vir inperkings en wil daaruit kom. Inenting kan beslis ʼn groot rol speel om uit die pandemie te kom. Vertrouensvlakke in die regering is met reg baie laag. Daar is ʼn fyn lyn tussen vertroue in die regering en vertroue in entstowwe. Die regering het sy mag tydens die inperking misbruik, vryhede weggekalwe en ʼn teelaarde vir skeptisisme oor entstowwe geskep.

“Wat ons nou moet doen is om na die feite te kyk. Ons moedig almal aan om hul omstandighede te evalueer en hul besluit (verantwoordelik) te neem en hul vryheid van keuse uit te oefen,” sluit Hermann af.

Laai die verslag hier af.

Meer oor die outeur

AfriForum Wêreldwyd

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest