Leesvordering:

Fotoverslag – Van Damhuis tot by Buffelsbaai

Mar 14, 2019

Pieter de Lange en sy vrou Mariaan bly in Kent, Engeland. Hulle het onlangs in Suid-Afrika kom vakansie hou. Pieter het hul avonture met Wêreldwyd gedeel.

Wanneer ʼn mens die nuus oor Suid-Afrika in die koerante lees is dit net moord, doodslag, korrupsie, betogings en haatspraak. Maar wanneer jy daar aankom vir ʼn langverwagte vakansie en agter die stuurwiel inklim, die langpad vat en vir die verre horison mik, kry jy sommer weer daardie lekker gevoel van avontuur en ontdekking. Ons het met ʼn lekker ontbyt by die Damhuis in Melkbosstrand afgeskop en was op pad terug Franschhoek toe toe iemand voorstel ons vat die R304 en stop sommer by die ou sendingstasie in Philadelphia ook. Dié kleurvolle plekkie tussen die koringvelde van die Swartland het ons dag gemaak.

Dit het alles in 1863 begin met ʼn NG kerk wat gebou is op ʼn stuk grond wat deur ʼn plaaslike boer geskenk is – vandaar die naam wat “broederliefde” beteken. Die ou meule, vroeër die blyplek van die kunstenaar Pieter van der Westhuizen, is nou De Malle Meul, ʼn gewilde plek vir troues en dinees, en hulle stal ook sommer Van der Westhuizen se kuns uit. Die Peppertree Art Stable & Coffee Shop, ʼn besige eetplek, koffiewinkel en kunsgalery, is geleë in die skaduwee van ʼn pragtige knoets van ʼn peperboom. As jy van edelgesteentes hou, dan is Magic Minerals jou plek.

Die Swartland is nou ook wynbouwêreld en lewer interessante karakters met ʼn internasionale wynagtergrond op, soos graaf Stephan von Neipperg van die Capaia-wynlandgoed by De Hoop.

Maar ons moes haas om by die Franschoek Motormuseum uit te kom. ʼn Kameraspan wou twee kosbare Ferraris in aksie afneem terwyl hulle om die museum se eie baan jaag, en ek was gelukkig genoeg om saam met my vriend Dawie Theron in sy F40 te ry. Die een jong kameraman was so entoesiasties, ons was bang hy val uit die bakkie terwyl hy afneem.

Die volgende oggend het ek afgekom aarde toe met ʼn Park Run op Franschhoek, sekerlik een van die mooiste plekke tussen die berge om jouself vir 5 kilo’s te straf.

Van links: Wayne Harley, die kurator van die Franschhoek Motor Museum; Dawie Theron, eienaar van die een F40; en Corenzo Farella, die museum se senior tegnikus.

Ons volgende roete was oor die Franschhoekpas via Vyeboom, Grabouw en Houwhoek. Ons het bo die Houwhoek-eetplek gestop en die name “Grabouw” en “Houwhoek” het ou herinneringe opgeroep. Ek was meer as 50 jaar gelede as kind saam met my pa, ʼn siviele ingenieur, in die streek toe hy gehelp het met die beplanning van ʼn padbouprojek. Ek het op die kaart na ons roete geloer, en toe spring die streek se pragtige plekname sommer uit: Floorshoogte, Rooiels, Riviersonderend, Akkedisberg, Papiesvlei, Baardskeerdersbos, Ratelrivier, Hotagterklip, Molshoop en Skilpadkop, om maar ʼn paar te noem. Dis geen wonder Nina en Frederik het destyds ʼn lied (Rietfontein) oor Suid-Afrika se plekname geskryf nie.

Ons het aangestoot Sedgefield toe. Net duskant Heidelberg ontdek ons Die Skeerhok Padstal, ʼn lekker koffieplek, en die Hooikraal Slaghuis, en ek koop sommer ʼn lekker stukkie bosvarkwors.

Ten spyte van die prominente “shark bite kit” op die strand bly ons lekkerste swemplek Buffelsbaai. By die RiverDeck Restaurant tussen die wilde vyebome op die Goukammarivier kan ons kies tussen potjiekos, braaivleis, bobotie en ander klassieke kuierkosdisse. Ons ontmoet ook ons oudkollega Frans Grobler en sy vrou Sophie daar. Ons kuier so lekker dat ek toe nooit by die roeibootjies uitkom nie.

ʼn Straatsanger op Knysna se Waterfront het ewe entoesiasties met De La Rey losgetrek.

Op Heroldsbaai braai ons lekker saam met oudkollegas Piet en Jolita Erwee. Is daar ʼn mooier plek by die see?

Drie klasmaats wat in 1974 saam gekwalifiseer het, kom op Babylonstoren bymekaar. Ek werk nog in Kent, Lourens de Jager het in Somerset-Wes gepraktiseer en Johann de Vries was dekaan by fakulteite in Kanada, Australië en Qatar.

Lizette de Vries en Mariaan, my vrou, geniet die kruietuine by Babylonstoren.

In Heroldsbaai kry ons die safaripak-ooms, meestal plaasboere van Rawsonville, wat met hulle pragtige, klassieke motors en bakkies op pad is na George se motorskou.

Drie pragtige, oorspronklike voertuie: Links is ʼn 1949-Chevrolet Delux, in die middel is ʼn groen 1954-GMC en die rooi bakkie is ʼn 1948-Ford F1 met ʼn gesonde V8-enjin.

Mooiste getypoel

Birds of Eden is ʼn voëlparadys van twee hektaar. ʼn Reusenet is bo-oor die woud van digte bome en struike gespan. Daar is meer as 220 voëlspesies, hoofsaaklik afkomstig van Afrika. Sommer met die instap word ek verwelkom deur ʼn Jardine-papegaai wat hom op my skouer tuismaak en die hele tyd wat ons daar is daar bly sit. Eers sit en slaap hy ʼn ruk, toe val hy amper af, en toe begin hy stout raak en hap stukke uit my horlosieband.

ʼn Amerikaanse ibis

ʼn Goue fisant

Naamborde wat uniek is aan Suid-Afrika – op Oliver Tambo lughawe, by ʼn tyddeeloord naby Krokodilbrug, en by ʼn afdraaipad na Hooikraal naby Heidelberg

Dié twee tekens het ons in Heroldsbaai gesien.

Pragtige naamborde van mooi huise in ʼn oord op die grens van die Krugerwildtuin

Meer oor die outeur

Pieter de Lange

Ek is in Kroonstad gebore neffens die rustige ou Valsrivier en matrikuleer aan die Hoërskool Kroonstad in dieselfde era as skrywers soos Antjie Krog en Max du Preez. Ek studeer op Tukkies, speel o.19-rugby vir hulle en boks vir die SA Universiteitespan, waarna ek Protea-kleure in dié sport verwerf. In 1974 begin ek in Londen praktiseer, word deur die Ferrari-gogga gebyt en keer ná drie jaar na Pretoria terug met ’n rooi Ferrari Boxer. In 1981 trou ek met Mariaan en ons verhuis Londen toe vir 18 maande. Ek begin in 1990 met ’n MBL-kursus en geniet die navorsingsprojek die meeste, en kry tot my verbasing die hoogste punte. Ek skryf baie artikels oor SA se Olimpiese bod vir die Sunday Times, Beeld, Business Day en Rapport. Ek publiseer ook my Olimpiese boek The Games that Cities Play, wat voorgeskryf was vir BA MBK (Menslike Bewegingskunde) asook B Com Sportbestuur se eerstejaars, (Sportgeskiedenis en Sportfilosifie) studente by Tukkies, vir 1999 tot 2003. In 1999 verhuis ons sak en pak Londen toe met ons kroos René, Christiaan en Simon. Ek begin ’n navorsingsprojek oor oorsese Suid-Afrikaners en skryf ’n reeks artikels vir The South African. Ons sien die wêreld saam met ons kinders, van ’n ysige St. Petersburg tot die snikhete Rooisee in Egipte. Ons het nou ’n pragtige kleinseun Arlo en woon in Kent, waar ek steeds praktiseer en gereeld aan parkwedlope deelneem om die ou karkas aan die gang te hou.

Soek

Volg ons op

Moet lees artikels

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Maroela Media: Nuushooftrekke van die week

Deur Suné van Heerden Maroela Media is ’n Afrikaanse internetkuierplek waar jy alles kan lees oor dit wat in jou wêreld saak maak – of jy nou in Suid-Afrika bly, of iewers anders woon en deel van die Afrikaanse Maroela Media-gemeenskap wil wees....

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Onderneming in die Kollig: Diamond Tree Jewellery Studio

Hierdie week se kollig is op Diamond Tree Jewellery Studio in Rockingham, Wes-Australië. Diamond Tree Jewellery Studio is gratis op Wêreldwyd se Wêreldgids gelys. AfriForum Wêreldwyd se Wêreldgids is waar Suid-Afrikaanse ondernemings van regoor die wêreld bymekaarkom...

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Op Wêreldboekedag eis AfriForum meer skoolbiblioteke

Deur Alana Bailey Jaarliks word Wêreldboekedag op 23 April, die sterfdag van onder andere skrywers Miguel de Cervantes en William Shakespeare gevier. Op hierdie dag wanneer die sleutelrol van boeke in die ontwikkeling van mense opnuut in die kollig kom, eis AfriForum...

AfriForum TV

Nuusbrief

Kontak ons

Maak 'n donasie

Jeugblad

Jy sal ook dalk hiervan hou…

Teken in op die Kollig-nuusbrief en bly betrokke

Nuusbrief/Newsletter

Jy het suksesvol ingeteken!

Pin It on Pinterest