Deur Ilze Nieuwoudt
Op 27 Junie 1900 kom sowat 550 vroue op die Paarlse plaas Laborie byeen. Die verwoestende oorlog wat in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en die Oranje-Vrystaat (OVS) woed en die swak behandeling van Kaapse Rebelle wat hulle in dié stryd gewerp het, vorm die fokus van die vroue se protesvergadering. Telegramme van onder andere Olive Schreiner (Suid-Afrikaanse Engelse skrywer van die boek The Story of an African farm) en die Kaapse aktivis Maria Koopmans-De Wet is ontvang en by dié vergadering voorgehou.
In die maande wat op dié vergadering volg, het verskeie verdere vergaderings in die Kaapkolonie plaasgevind en op 10 November 1900 kom die ontstoke vroue wéér op Laborie bymekaar. Dié keer ruk nagenoeg 1 500 vroue op vir die vergadering “onder die blaarryke eike” op Laborie.
Uit die vroue se optrede spruit onder meer ’n vredespetisie met meer as 16 700 handtekeninge, wat Koopmans-De Wet aan die Britse koningin Victoria probeer voorlê het.
Koopmans-De Wet se optrede uit protes teen die verskroeideaardebeleid, sowel as die deportasie van krygsgevangenes, het die Britse owerhede in die Kaap erg ontsenu. Sy is onder meer as ’n Kaapse rebel bestempel en sekere media het na haar verwys as die “Queen of the rebel ladies”.
In die omgewing waar die eikebos-piekniekterrein eens was, is ’n monument opgerig ter herdenking van die Kaapse Rebelle wat aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het. Die monument is in September 2005 onthul.
Foto: Maria Koopmans-De Wet.